Monday, November 9, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 08 November 2009

Openbaring Ontsluit - 17 (Die Eerste Vier Trompette) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons kom nou by die derde “wentelbaan” van die Gesig wat Johannes gesien het en dit sluit hoofstukke 8 tot en met 11 in (Eerste “wentelbaan” = hoofstukke 1-3; Tweede “wentelbaan” = hoofstukke 4-7).

Hoofstuk 7, het ons gesien, was ’n “tussenvisioen” – ’n visioen van troos en dit was nodig sodat elke gelowige wat die eerste 6 hoofstukke gelees het, eers weer opgebeur en bemoedig kon word – só asof die gelowiges eers ’n sug van verligting kon slaak, voor die volgende seël gebreek word. Maar nou, hier in hoofstuk 8, breek die Lam van God (Jesus Christus) die laaste seël van God se raadsbesluite oop. Die ongelowiges wat nog in die bevoorregte posisie is om hoofstuk 7 te kan lees, behoort ook moed te skep, want “waar daar nog lewe is, is daar nog hoop!”

Met hierdie sewende seël word die oordele vanuit die hemel op die aarde voortgesit (vanaf hoofstuk 6 dus).

Wanneer ons nou die openingsverse van hoofstuk 8 gaan lees, sal u die sentraliteit van die gelowiges se gebede opmerk. Ons sal hier sien dat die vervolgers van Christus se kerk nie ongestraf sal bly nie – God se geregtigheid sal dus geskied en wat meer is, hierdie straf word voltrek op grond van en in direkte reaksie op God se kinders se gebede.

Ons sal ook sien dat daar ’n nou verband bestaan tussen die sewe seëls en die sewe trompette of -basuine. Wat ook interessant is, is die feit dat hierdie twee “tonele” hulle gelyktydig afspeel – ter gelykertyd, terwyl die vyande van God, Christus se kerk hier op aarde vervolg (in hoofstuk 6), is God terselfdertyd besig om die sondige wêreld te oordeel (hoofstukke 8-11) – ’n fenomenale samehang van gebeure.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
Met die oopmaak van die sewende seël, sien ons dat gewone engele ’n belangrike rol speel, maar wat veral belangrik is, is dat verskeie gebeure nou een na die ander plaasvind.

Die Sewende Seël (Openb.8:1-5):
· Openb.8:1 ~ Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. Die oomblik toe die Lam van God die sewende seël oopmaak was daar ’n oomblik van verbasing en verwondering. Dit laat ’n mens dink aan die woorde in Hab.2:20 ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! En Sef.1:7 ~ Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! Hy het ’n maaltyd voorberei, en dié wat Hy genooi het, gewy. Die verbasing en verwondering was só groot, dat daar vir ’n oomblik, doodse stilte in die hemel geheers het en dan, met die breek van die sewende seël, breek God se oordeel los en dit geskied in reaksie op die gelowiges se uitroep in Openb.6:10~ Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”
· Openb.8:2 ~ En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. Hier verskyn nou ’n baie spesiale groep engele op die toneel, wat oënskynlik ’n baie groot voorreg geniet en in ’n baie nouer verhouding tot God staan. Aan hierdie sewe bevoorregte engele word ’n baie spesiale taak gegee om in opdrag van God uit te voer en daar word terselfdertyd sewe trompette aan hul gegee. Die simboliek van ’n trompet is om enersyds uit te roep en aan te kondig en andersyds, ’n waarskuwing te laat hoor – en dit is presies wat hierdie engele dan ook doen. Die feit dat daar sewe engele met sewe trompette is, dui vir ons daarop dat (in hierdie geval) die waarskuwings en oordele, volkome is.

Dit moet ook net vermeld word, dat selfs die bevoorregte en verhewe hemelwesens, steeds onderworpe is aan Hom wie hulle opdragte gee, nl. God – hulle is dus niks meer as blote diensknegte nie. Hulle het hulle bestaan te danke aan die feit dat hulle God heeltyds en tot in ewigheid moet dien en verheerlik (Terloops: Wie is die mens dan dat hy homself aanmatig om God NIE te dien en te verheerlik in en deur sy lewe nie!).

· Openb.8:3-4 ~ ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. Die taal en simboliek wat ons hier kry, word ontleen aan die Ou Testamentiese Tabernakel of Tempel en die Allerheiligste in die Tempel. Daar was ’n goue bak waarin wierook geplaas was om te brand en dit was simbool van Christus se voorspraak en middelaarswerk. Die altaar is die plek waar God en die mens ontmoet. Die feit dat hierdie altaar van goud gemaak is, is teken van die volmaaktheid van hierdie ontmoeting.

Die engel hier in vers 3, is niemand anders as Christus nie, en die wierook is die gebede van die gelowiges wat “opgaan” na die Vader. Die feit dat gelowiges se gebede hier opgestyg het, dui daarop dat hulle gebede op die punt staan om beantwoord te word.

Let daarop dat die wierookbak, drie verskillende dinge bevat het, nl. vuur (vermeld in v.5), wierook en gebede. Let verder daarop dat daar nie in v.3 staan, AL die gebede van die gelowiges nie, maar daar staan, die gebede van AL die gelowiges. Dit beteken dus dat dit nie sondermeer elke gebed is wat op die punt gestaan het om beantwoord te word nie. Hierdie gebede wat dus opgaan na die Vader, is baie spesifieke gebede wat deur die eeue opgegaan het na die Vader – dit is daardie gebede wat gegaan het oor die eer en verheerliking van God – oor Sy heerlikheid; Sy eer en Sy majesteit. Dit gaan egter ook oor ons gebede wat nie volledig God se eer in die oog het nie en wat eers deur Christus gereinig word (in die wierookbak) voor dit voor die troon van God kom (Rom.8:34). Hierdie behoort vir ons ’n geweldige bemoediging te wees om te volhard in gebed, want ons swak, sondige gebede wat hier van onder uit die aarde opstyg, word eers deur die versoeningswerk van Christus in die wierookbak by die altaar gelouter. En daar word al ons gebede met die heerlike reukwerk van die wierook vermeng om as ’n aangename geur voor die aangesig van God op te styg. Maar oomblikke nadat ons gebede in die wierookbak voorberei is, gebeur daar ’n verskriklike ding – vers 5!

· Openb.8:5 ~ Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. Die wierookbak word omgekeer op die aarde – God se oordele breek los op die aarde! Verskriklike dinge gebeur – donderslae, dreunings, weerligstrale en aardbewings – die begin van die verwoesting van die natuur op aarde en hierdie is in antwoord op die gebede van die gelowiges soos ons reeds gesien het. Hierdie is egter maar net die voorloper van nóg verskrikliker dinge wat gaan plaasvind.

Die Eerste Vier Trompette (Openb.8:6-13):
· Openb.8:6-7 ~ Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas. 7 Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ’n Derde van die aarde is verbrand, ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand. Nadat die wierookbak op die aarde omgekeer is, is die trompette gereed om geblaas te word. Met die blaas van elk van hierdie trompette word ’n gedeelte van die natuur vernietig – die natuur waarop die mensdom so sterk steun vir oorlewing. In God se groot genade word slegs ’n derde van die aarde verwoes. Hierdie rampe word herhaal deur die loop van die mens se geskiedenis, maar met groter intensiteit gedurende die tydperk na Christus se hemelvaart en hierdie intensiteit word nog meer intens hoe nader Christus se wederkoms is (ervaar ons dit nie in ons dae nie!). Ons sien dat hierdie natuurrampe vanuit die hemel gereguleer word en ons sê dit op grond van die feit dat hierdie rampe volg, direk nadat die eerste engel sy trompet blaas. Hierdie rampe is ’n baie direkte waarskuwing deur God aan die mensdom, dat die goddeloses gestraf gaan word, daarom dat ons hier lees dat die hael en die vuur gemeng is met bloed.

Net so terloops – ons kan die verwoesting van die reënwoude en die gevolglike “aardverwarming”, sien as deel van hierdie proses wat deur God se soewereine wil toegelaat word en daarom is dit dus deel van sy voorsiene oordeel. Die vraag is egter of die mensdom hieruit leer – leer dat hierdie verwoesting van die natuur verantwoording teenoor God gaan verg? Indien wel, gaan dit baie groter verantwoordelikheid en bestuur van die natuur, deur die mensdom verg. Probleem is egter dat die natuurkundiges en almal wat oplossings aan die hand doen, nooit hierdie faset (DIÉ faset) eers in gedagte het wanneer hulle seminare hou en oplossings vir die probleem soek nie – daar is steeds geen verootmoediging nie en God word steeds nie verheerlik nie.

Die eerste vier trompette verwys na die sigbare heelal en elke trompet in Johannes se visioen word deur een van die engele geblaas.

Trompette, of “Sjofar-trompette” (wat gewoonlik van ramshorings gemaak was) is algemeen in die Joodse geskiedenis gebruik om bepaalde boodskappe of tekens aan die volk deur te gee. So het die ramshorings bv. oorlog aangekondig of wanneer gevaar gedreig het; of dit het vrede aangekondig; of die koms van die nuwe maan. Dit is ook gebruik om die aanbreek van die Sabbat of die dood van ’n belangrike persoon aan te kondig. Trompette is ook gebruik om die vyand die skrik op die lyf te jaag – bv. Rigters 7:19-20 ~ Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. 20 Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!” Die gebruik van die trompet as eskatologiese teken om bv. die Dag van die Here aan te kondig, of die wederkoms van Christus, ens., is ook welbekend in die Woord, bv. Jes.27:13 ~ Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word. Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was, ook dié wat na Egipte toe verjaag is. Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem. Joël 2:1 ~ Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby. Of Matt.24:31 ~ Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af (sien ook: Sef.1:16; 1Kor.15:52; 1Tes.4:16).

· Openb.8:8-9 ~ Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos ’n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword, 9 ’n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe het vergaan. Die tweede trompet kondig die vernietiging aan van ’n derde van die oseane se dierelewe en die vernietiging van ’n derde van die seevervoerstelsel deur iets wat vir Johannes soos ’n groot, brandende berg lyk. Hierdie berg (of vulkaan, of wat dit ook al mag wees) spreek van intensiteit en van verskrikking – dit herinner ’n mens nogal aan Ps.46:2-3 ~ God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. 3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see.

Hierdie maritieme ramp het geweldige vrees by seevaarders ingeboesem, maar dit is nie alleen hulle wat geraak word nie. Om in huidige konteks te dink, tref hierdie ramp of rampe ook die mense op vaste grond – dink maar aan die Tsunami van 24 Des.2004, om maar een voorbeeld te noem. Ook raak hierdie rampe die seelewe en dit kom in allerlei vorme voor – dink maar net aan kernbomtoetse in die see, of oliebesoedeling, wat gelei het en steeds lei tot duisende vrektes onder die seelewe en dink maar net aan die oorontginning van die vissery bronne (visvangkwotas en hengelpermitte), ens.

God maak die mensdom van tyd tot tyd nederig en dwing hulle tot verootmoediging en uiteindelik gaan ’n nog groter ramp die oseane van die aarde tref – maar steeds buig die mensdom nie hul knieë voor die lewende God nie.

· Openb.8:10-11 ~ Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. ’n Groot ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op ’n derde van die riviere en op die waterbronne geval. 11 Die ster se naam is Bitterals. ’n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was. Met die derde trompet val daar ’n bandende ster soos ’n fakkel uit die hemel op ’n derde van die aarde se varswater bronne geval – die riviere en fonteine word bitter en baie mense sterf. Meteens is ons weer terug by die Ou Testamentiese Mara tydens die Israeliete se omswerwinge in die woestyn op pad na die Beloofde Land (Eks.15:25). Die volk het gemurmureer en eers toe hulle hulself verootmoedig, het die Here weer die bitter water soet gemaak. Hierdie bitter water neem ons ook na die kruis van die Here Jesus Christus. Dáár het hulle vir Hom asyn en bittergal gemeng en vir Hom gegee om te drink (Matt.27:34). Die wilde-als; die bitter gal; die Mara in die woestyn en die bitter water van die ster van Alsem, is alles deel van God se toorn. Ons verstaan iets daarvan as ons bv. lees van die radio-aktiewe water nadat die atoombom op Hirosjima in Japan in 1945 geval het – duisende mense het daarvan gesterf. Dink aan die kernreaktorontploffing by Chernobyl (26 Apr. 1986) – en dit is so ironies: Die betekenis vir die Russiese naam “Chrnobyl” is “Bitterals”! (“Toeval”? Beslis nie!) – Klaagliedere 3:19 ~ Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my.

· Openb.8:12-13 ~ Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. ’n Derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle donker geword het. ’n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie. 13 Toe het ek ’n arend hoog in die lug sien vlieg, en ek het hom met ’n harde stem hoor skreeu: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette gaan blaas.” Hierdie “trompet” is so ’n bietjie moeiliker om te interpreteer, maar dit wil voorkom asof hier sprake is van ’n wanfunksionaliteit van hemelliggame en natuurverskynsels – minder sonskyn; tye van vreemde donkerheid en sterre wat minder helder skyn en dit het bepaalde klimaatsveranderinge op aarde tot gevolg – alles dinge waaroor mense behoort te wonder en mense selfs vreesbevange sal maak, maar meer belangrik nog – dinge wat mense daartoe behoort te dryf om die Here se aangesig te soek.

3. TER AFSLUITING:

En dan? Dan kom ’n arend en hy waarsku dat nog erger rampe oppad is.

Iets wat so duidelik uitstaan in hierdie gedeelte wat handel oor die eerste vier trompette, is die genade van God wat Hy telkens oor die aarde uitstort – let op: elke keer word net een derde van die see, of die hemelliggame ens. verwoes – nie een keer alles nie – wat ’n genadige God aanbid ons nie!

Ons moet ook net besef, dat daar soveel dinge is, wat in Openbaring geskryf staan wat ons nie regtig kan verklaar nie, maar dit moet ons nie moedeloos maak nie – ons moet eerder sorg dat ons al hierdie tekens ken, sodat wanneer dit gebeur, ons dit kan herken en verstaan en God se aangesig eerder soek en lof en eer aan Hom bring.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 08 November 2009