Die Brief aan die Efesiërs - 09 (Paulus se Gebed) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.3:14-21 ~ Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
2. INLEIDING:
Vers 14 begin weer met die woord “daarom” en weer moet ons vra waarom Paulus “daarom” sê. Natuurlik verwys Paulus terug na die voorafgaande 13 verse, waar hy o.a. die geheimenis van die heidene se redding bespreek en verder ook noem dat alle gelowiges deel uitmaak van een familie en dat alle gelowiges deel in God se belofte van redding.
Net soos verlede Sondagaand tydens ons studie van Openb.7:9-17, wil Paulus ook nie hier in vers 14, wanneer hy sê: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader, ’n spesifieke liggaamshouding vir ons voorskryf, wanneer ons bid nie. Inteendeel, die Woord verwys na verskeie liggaamshoudings van gelowiges wanneer hulle in gebed verkeer het. Bv.: Gen.18:22 ~ ...maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. Toe Dawid oor die bou van die Tempel gebid het, het hy volgens 1Kron.17:16, voor die Here gaan sit en bid. Jesus het weer gekniel en op Sy aangesig teen die grond gebid (Matt.26:39).
Om die knie te buig in aanbidding het tog ’n paar betekenisse in die Woord en is dit die moeite werd dat ons net kortliks daarna sal kyk.
· Eerstens dui dit op ’n gesindheid van onderwerping – van erkentenis dat jy in die teenwoordigheid van iemand veel-veel belangriker as jy is. Dit is dan ook, nadat die Psalmdigter in Ps.95:1-6, God verheerlik het en o.a. verklaar het dat God die Rots is by wie ons redding vind, dat hy sê ~ Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
· Ons sien tweedens dat mense hulle knieë gebuig het voor God ten tye van intense lyding en emosies. So het Esra bv. op sy knieë neergeval in gebed, nadat hy gehoor het van die Joodse kinders wat met heidene getrou het (Esra 9:5-6). Ook het Daniël drie keer op ’n dag op sy knieë gegaan om te bid, nadat hy gehoor het dat koning Darius ’n edik onderteken het wat enige ander vorm van aanbidding verbied het, behalwe die aanbidding van die koning self (Dan.6:10). Behalwe hier in Ef.3, sien ons ook dat Paulus neergekniel het toe hy die laaste keer saam met die ouderlinge in Efese gebid het (Hand.20:36).
Soos wat Paulus hier in vers 14 vir die Efesiërs bid, voel hy gelei om te kniel voor die Vader in gebed – nie omdat hierdie knielende posisie meer heilig is as ’n ander posisie nie, maar omdat dit ’n spontane reaksie is wat spruit uit sy eerbied vir God.
3. PAULUS SE GEBED:
Net voor ons in meer besonderheid na Paulus se gebed vir die Efesiërs kyk, net ’n opmerking of wat oor vers 15. Die Ou Vertaling vertaal vers 15 met ~ ...van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang. Die E.S.V. vertaal dit met ~ ...from whom every family in heaven and on earth is named. In hierdie geval is die N.A.V. ’n goeie vertaling ~ ...aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Hierdie vers kan baie maklik, indien dit in die O.A.V., of heelparty Engelse vertalings gelees word, verstaan word dat God die geestelike vader van alle wesens in die heelal is – dit is dan ook wat die moderne liberaliste vir ons wil leer.
Die Woord leer ons egter baie duidelik, dat daar twee geestelike vaders is, nl. God en Satan. God is die hemelse Vader vir diegene wat hul vertroue in Hom plaas en Satan is die geestelike vader vir diegene wat God die hemelse Vader nie aanbid nie. Nêrens in die Woord word hierdie feit beter belig as in Joh.8:39-42 en 44, toe Jesus vir die ongelowige Jode gesê het dat God nie hulle Vader is nie, maar dat hulle kinders van die duiwel is.
In die geval van vers 15 dan, praat Paulus van al die gelowiges deur die eeue heen en is die N.A.V. hier die beter vertaling.
Maar terug dan by Paulus se gebed. Paulus bid dat die Vader aan die lesers van hierdie brief, bepaalde gawes sal gee en hy bid dat die Vader dit deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan hulle sal skenk.
Paulus se gebed gee aan ons ’n baie duidelike riglyn wáárom ons moet bid en vir wié ons moet bid, nl. alle gelowiges, maar dit gee ook aan ons ’n baie duidelike riglyn en raamwerk vir hoe ons behoort te bid.
John Stott noem hierdie gebed van Paulus ’n “gebedsleer”, of ’n “stel trappe” waarmee hy al hoër en hoër klim en hierdie “gebedsleer” of “gebedstrappe” beskik oor vier trappe wat genoem kan word, “krag”, “diepte”, “begrip” en “volheid” – daar is dus progressie.
· Die eerste trap dan: Paulus bid hier in vers 16, ...dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. Paulus het vroeër gepraat oor beproewing en swaarky en dit is waarskynlik wat hy hier in gedagte het wanneer hy sy gebed vir die Efesiërs met hierdie woorde begin. Hy bid dan ook dat Christus waarlik deur geloof in elke gelowige sal leef en dat die gelowiges derhalwe Christus meer lief sal hê en meer op Hom sal vertrou, sodat die woorde van Gal.2:20 waar sal wees in hul lewens, nl. ~ ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Dit is juis wanneer Christus ons lewe meer en meer beheer en Hy sentraal in ons lewens staan, dat ons ook Sy krag sal ervaar en ons op ’n stewige fondasie geplant sal hou – veral ten tye van beproewing en vervolging, sodat Kol.1:11 ook waar sal wees in ons lewe, nl. ~ Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Fil.4:12; 2Kor.11:21b-12:10).
Ons as gelowiges moet verder, altyd ’n sensitiwiteit jeens ander gelowiges se geestelike behoeftes hê – vir die redding van die ongelowiges en die geestelike beskerming en groei van die wedergeborenes. Terselfdertyd moet ons sensitief wees vir die geestelike behoeftes van ons mans en vrouens; ons kinders; ons herders en leraars; ons medelidmate, ens. Ons behoort vir almal met wie ons in aanraking kom, te bid, maar ook vir talle ander, soos die regering, sendelinge ander kerkleiers, ens.
Gebed behoort dus ’n daaglikse aktiwiteit vir elkeen van ons te wees, daarom dat Jesus in Luk.21:36 gesê het ~ Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang.... Ten minste twee van Jesus se gelykenisse verwys ook na onophoudelike gebed, wanneer hy in Luk.11:5-10 praat oor die man wat om middernag aan sy buurman se deur klop om kos te vra vir ’n onverwagse gas. Ook in Luk.18:1-8 sinspeel Hy hierop, wanneer Hy vertel van die weduwee wat in ’n regsgeding betrokke was en wat die regter herhaaldelik gevra het om aan haar reg te doen in haar saak en hoe hy uiteindelik ingestem het om haar te help en dan lees ons in verse 4-8 die volgende woorde van Jesus ~ ’n Tyd lank wou hy (die regter) nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, 5 maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” 6 Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7 Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8 Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!
Paulus self het dikwels gesê dat hy in voortdurende gebed vir andere verkeer ~ ...vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie (Ef.1:15-16).
· Die tweede sport van Paulus se “gebedsleer”, is “diepte” – vers 17 ~ ...dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Paulus gebruik drie beelde in hierdie tweede petisie van sy gebed, nl.: woon; gewortel en gegrondves, vandaar dan die uitdrukking “diepte”.
Die werkwoord wat vir “woon” gebruik word, beteken letterlik om jou op ’n plek te vestig en tuis daar te voel. Paulus se gebed is dus dat Christus tuis sal voel in ons harte. Daar is m.a.w. ’n verskil tussen woon en tuis voel en dit is presies wat Paulus bid, dat Christus nie net in ons harte sal woon nie, maar dat Hy ook tuis sal voel daar – dus nie ’n oppervlakkige verhouding nie en dat hierdie verhouding, steeds ’n dieperwordende verhouding sal wees.
Abraham se lewe was ’n illustrasie van hierdie waarheid. Toe God met Abraham in Gen.18 & 19 gepraat het oor o.a. die sonde in Sodom en Gomorra en dat Hy die stede gaan uitdelg. God het twee engele by Hom gehad en hierdie twee engele het so tuis gevoel by Abraham, dat hulle saam met hom geëet het. God het nie op dieselfde wyse tuis gevoel in Lot se huis nie. Is ons lewens van so aard dat God tuis sal voel by ons?
Die tweede werkwoord wat Paulus hier in vers 17 gebruik is “gewortel”. ’n Boom moet sy wortels behoorlik in die grond afstuur ten einde voldoende voedsel te kan inneem en dit is presies wat hierdie werkwoord aan ons wil kommunikeer. Ps.1:1-3 is ’n uitstekende beskrywing van hierdie werkwoord ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. 3 Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. En Jer.17:5-8 is ’n baie goeie verduideliking hiervan ~ So sê die Here: Daar rus ’n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai; 6 hy is soos ’n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; ’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan, in ’n brak wêreld waar niemand woon nie. 7 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is; 8 so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.
Een van die belangrikste vrae wat ons as gelowiges vir onsself kan vra, is: Waaruit put ek my voeding en standvastigheid – waarin is ek gewortel en hoe diep strek my wortels? Ons wortels moet dus al dieper en dieper in Christus se liefde wortelskiet.
Die derde werkwoord wat Paulus hier gebruik is “gegrondves”. Hierdie woord verwys na die fondasie waarop ’n gebou, gebou word. Ons weet dat die fondasie die heel belangrikste komponent van enige gebou is – in Engels is daar ’n uitdrukking wat sê: If you don’t go deep, you can’t go high. As ons nie stewig gegrondves is in Christus Jesus nie, kan ons nie die storms van hierdie lewe deurstaan en oorleef nie – dink maar net aan Jesus se gelykenis oor die twee huise in Matt.7:24-29, waarvan die een op sand gebou was en die ander op rots.
Paulus se tweede versoek wat hy rig tot die Here, is dan dat die Efesiërs só sal lewe, dat Christus tuis sal voel in hul harte en dat hulle meer en meer sal groei in Christus se liefde. En laastens, dat hulle stewig in Christus ingeplant sal wees, sodat hulle die aanslae van hierdie lewe die hoof sal kan bied.
· Die derde sport van Paulus se “gebedsleer”, is “begrip” – vers 18-19a ~ Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan.... Hierdie beskrywing van Paulus t.o.v. van Christus se liefde, is nie ’n volledige beskrywing nie, maar sy motief was egter ook nie om ’n omvattende beskrywing van Christus se liefde te gee nie. Wat hy eintlik hier doen, is om vir ons te sê dat Christus se liefde oneindig omvangryk is. Paulus se gebed hier is ’n versugting dat ons waarlik die liefde van Christus sal ken en ervaar en wanneer ons Christus se liefde waarlik verstaan, sal ons ook nooit twyfel oor Christus se voorsiening en beskerming en vergifnis en genade, in ons lewe nie en sal Fil.4:13 ’n realiteit in ons lewe wees ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. En wat is die gevolg hiervan? Paulus se vierde sport in sy “Gebedsleer”, nl. “volheid”.
· Vers 19b ~ ... en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Die gedagte wat hier deurgegee word is soos iets uit die natuur uit (’n natuurwet), nl. dat lug of water bv., altyd na ’n vakuum sal vloei en dit is wat Paulus hier bid – hy vra dat ons gevul sal word met die Heilige Gees – Ef.5:18 ~ Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul. Ons moet dus vol van die Heilige Gees wees en hoe kan ons vasstel tot watter mate ons gevul is met die volheid van God? Ons moet onsself toets aan Ef.4:11-16 ~ En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. Hierdie “volheid van God” kom dus tot volle uitdrukking en vervulling in en deur die Liggaam van Christus – die plaaslike gemeente.
T.w.v. volledigheid moet ons besef dat ons posisioneel reeds ten volle gevul is met God deur Christus – Kol.2:9-10 ~ In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10 en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. Ons moet egter prakties, steeds meer en meer gevul word met die Gees – Ef.5:18 ~ Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul.
4. AFSLUITING VAN DIE GEBED:
Paulus kom nou in verse 20 en 21 by die einde van sy gebed, wanneer hy bid en sê ~ Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Wanneer die Heilige Gees ons gevul en bekragtig het en Christus waarlik in ons harte woon en God ons gevul het met Sy volheid, dan kan God oneindig meer doen as wat ons bid of dink. Voor hierdie vereistes nie tot vervulling gekom het nie, is God se werk in ons, menslik gesproke, beperk, maar indien ons aan hierdie vereistes voldoen, is God se werk in ons onmeetbaar. Joh.14:12-14 ~ Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. Dit is so hartseer dat ons glo en bely dat God tot alles in staat is, omdat Hy almagtig is, maar waarom ervaar so min van ons die werklikheid wat in hierdie verse vermeld word?
Daar is geen situasie waar die Here ons nie kan gebruik nie, op voorwaarde dat ons, ons onderwerp aan Hom. Hierdie almag van Hom is dieselfde mag en krag wat Christus uit die dood opgewek het en laat opvaar het na die hemel.
Paulus bid dat ons hierdie liefde en hierdie krag van God in ons lewe sal ervaar. En hierdie liefde en krag wat God beskikbaar stel vir ons, moet deur ons aangewend word om deur en in ons aanbidding; ons lewe; ons gedagtes, ens. eer aan God te bring – anders is dit alles te vergeefs.
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 08 November 2009