Monday, November 2, 2009

Openbaring Ontsluit - 16 ('n Kosmopolitiese Groep) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons kry die eerste duidelike uiteensetting in Openbaring van wie gered gaan word in 7:1-17, nl. 144 000 (7:4-8). Ons het dan ook die vorige keer gekyk na hierdie getal, wat eintlik op ’n groot menigte dui – soos die sterre aan die hemel leer Gen.15:5 ons ~ Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” Die 144 000 het ons dan ook gesien, moet simbolies verstaan word, maar dit is tog ook ’n spesifieke getal soos dit deur God bepaal is – Hy het dus al voor die grondlegging van die aarde, presies geweet wie Hy uitverkies het – by die naam!

Alle gelowiges het dus ’n vaste sekerheid t.o.v. hul redding, omdat hul name opgeskryf staan in die Boek van die Lewe (3:5; 13:8; 17:8; 20:12; 15; 21:27). Hierdie Boek bevat die name van die mense wie die genade van die ewige lewe ontvang het en wat meer is, hulle name sal nooit uit hierdie Boek verwyder word nie!

Dit is ook belangrik om te besef dat hierdie redding vir alle gelowiges gegee word – en nie net vir die martelare soos baie teoloë beweer nie. Al die gelowiges staan voor die Lam (7:9), almal se klere word in die bloed van Christus gewas (7:14) en die Lam laat hulle almal wei (7:17). Die hele skare gelowiges staan dus voor die Lam en volgens 14:4 volg almal die Lam omdat hulle uit die mensdom losgekoop is vir God en die Lam ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam.

Ons het ook gesien dat diegene wie die seël van God ontvang het, staande sal bly te midde van al die verskriklike dinge wat aan die einde van die dae, of te wel op die Dag van die Here, gaan gebeur.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
· Openb.7:9 ~ Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.

Hier vind ons bevestiging dat die 144 000 van 7:4-8 dui op ’n groot menigte. Ons vind verder hier, die gevolg van Jesus se opdrag in Matt.28:19 ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld, asook Mark.16:15 ~ Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Johannes sien God se menigte uitverkorenes wat, versamel is vanuit al die volke en tale van die wêreld – voorwaar ’n kosmopolitiese groep – en hy sien hulle, volgens vers 9b, in die teenwoordigheid van God, want God het hulle aanvaar op grond van Christus se soendood aan die kruis en daarom beskik al die gelowiges oor die ewige lewe.

Die feit dat hierdie gelowiges almal wit klere aan het is ’n baie belangrike punt, want dit simboliseer oorwinning en redding en elkeen het sy of haar wit kledingstuk ontvang nadat dit in die bloed van Christus gewas is (v.14). Hierdie wit kledingstukke dui verder daarop dat hulle die ware ontvangers van Christus se verlossing is, in teenstelling met ander wat, al het hulle Christus bely, nie ware oorwinnaars is nie – Openb.3:5 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. En Openb.3:18 ~ Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.

Die feit dat hierdie Oorwinnaars, palmtakke in hul hande gehad het, is teken van hul oorwinning. Daar word net op een ander plek in die Nuwe testament verwys na palmtakke en dit is Joh.12:13 ~ Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Moses het reeds in Lev.23:40 opdrag gegee dat palmtakke gebruik moet word tydens die Fees van die Tabernakels. Palmtakke is egter ook later by ander feesgeleenthede gebruik. Joodse muntstukke wat dateer uit 140 v.C. tot 70 n.C. het afbeeldings van palmtakke bevat, met die inskripsie “Vryheid vir Sion” daarop. In Joh.12 is die palmtakke simbool van Christus se triomf en hier in Openb.7 is dit simbool vir alle gelowiges se oorwinning. Die palmtakke word egter ook gebruik om eer aan Christus te bring en ook as teken van God se finale oorwinning oor die bose en die sonde.

· Openb.7:10 ~ Hulle (die 144 000) het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”. Die uitverkorenes wat voor die troon en in die teenwoordigheid van Christus staan, het pas deur die Dag van die Here gekom en met God se reddende genade wat hulle van daardie verskriklike dag gered het, bars hulle uit in lofprysing en die kern van hul lofprysing, is aanbidding. Hulle gee erkenning aan God vir redding aan hulle geskenk.

· Openb.7:11-12 ~ Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12 en gesê: “Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!”

Die gelowiges is nie alleen wanneer hulle eer aan God bring nie, want saam met hulle kniel ook die engele en die ouderlinge en die vier lewende wesens. Net so terloops: Let daarop dat wanneer al die verskillende dele van die kerk in een sin vermeld word, word die getal “24” nie saam met die ouderlinge (of te wel die universele kerk) gebruik nie. In sulke gevalle word net die ongekwalifiseerde uitdrukking “ouderlinge” gebruik (bv. ook 14:3). Die rede hiervoor is dat ons moet besef dat die kerk vanuit verskillende perspektiewe beskou kan word.

Die hemelwesens wat saam met die gelowiges, God aanbid, betoon geweldige eerbied teenoor God, wanneer hulle op hul aangesigte voor Hom val in aanbidding. Hierdie liggaamshouding tydens aanbidding, is ’n tipiese eienskap van die aanbidding van die Gerubs en die verheerlikte heiliges – bv. Openb.7:11 ~ Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid (sien ook 5:8, 14; 11:16).

Terwyl die hemelwesens hulle dan op hulle aangesigte voor God bevind, ego hulle die lofprysing en aanbidding van die uitverkorenes, deur “Amen” uit te roep.

Hulle roep egter meer uit as net “Amen”. Hulle gee ook erkenning aan God en sê daardeur, dat Hy die enigste Een is aan wie lof en heerlikheid (God se verhewe majesteit) en dank en eer toekom – Hy die ewige, Almagtige en Alwyse God!

Daar is heelwat mense wat dan ook n.a.v. hierdie teksgedeeltes voel dat dit die wyse is waarop ons as gelowiges in gebed voor God moet kom, maar dit is te betwyfel of so ’n posisie (op ons aangesigte) regtig van ons verwag word, want dan sou die Woord homself baie eksplisiet daaroor uitgespreek het en sou Jesus dit hoogs waarskynlik ook in Matt.6:5-13 (“Die Onse Vader”) dit vir ons voorgeskryf het – en Hy het nie. Wat wel belangrik is wanneer ons in gebed verkeer, is die inhoud van ons gebed – dit moet in gees en in waarheid geskied. Verder is ons gesindheid belangrik; ons fokus (God se verheerliking dus); dat ons ontsag sal hê vir God en bewus sal wees van Sy heiligheid. “Lyftaal” is slegs belangrik in so verre dit ons opregtheid van hart en ons ontsag vir God demonstreer.

· Openb.7:13-14 ~ Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” 14 “Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.” Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.

Iets baie interessants vind nou hier in vers 13 plaas. Dit is slegs hier en ook in Openb.5:5 waar dit gebeur dat slegs een ouderling praat. Hierdie ouderling vestig Johannes se aandag op die mense in die wit klere, deur vir hom te vra wie hulle is. Natuurlik weet hierdie ouderling wie hulle is, maar hy wil deur hierdie vraag Johannes bewus maak van wie hierdie mense is wat heel laaste toegetree het tot die hemel. In reaksie hierop sê Johannes dan dat hy nie weet nie, waarop die ouderling vir Johannes sê dat hierdie uitverkorenes, die laastes is wat die laaste stryd op aarde deurstaan het en dat hulle, ... sonder vlek of rimpel en heilig en onberispelik is (n.a.v. Ef.5:27). Hierdie laaste uitverkorenes om die hemel te betree, het nie hul heiligheid en vlekloosheid eers in die hemel ontvang nie – nee, hulle het dit reeds, soos al die ander uitverkorenes wat hulle vooruit gegaan het, hier op aarde ontvang, deur die reiniging van Christus se bloed.

Die “verdrukking” waarvan die ouderling hier praat, moet nie gesien word as een enkele verdrukking, of “Groot Verdrukking” nie, maar eerder as die eindpunt of klimaks van die Nuwe Testamentiese era se verdrukking – dit is die era, of dispensasie van die Heilige Gees dus – tussen die eerste en die tweede koms van die Here Jesus. Gedurende hierdie tydperk gaan die Kerk van Christus voortdurend gebuk onder die aanslae van die satan en moet ons as gelowiges voortdurend waaksaam wees en ons gevegsmondering voortdurend aanhou – Ef.6:11-13 ~ Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

Ek het gesê dat die geveg waaruit hierdie laaste gelowiges gekom het, die eindpunt of klimaks was van die Nuwe Testamentiese era, maar dit beteken allermins dat hierdie laaste geveg makliker, of dalk net so moeilik was as die waarin ons, onsself tans bevind – alle aanduidings is daar dat hierdie laaste “hekkie” voor die Groot Dag van die Here, uiters moeilik en fel sal wees, omdat die satan die Antichris in hierdie tyd sal vrystel teen God se kinders en hierdie laaste wilde en wrede aanslag, sal waarskynlik die grootste hoeveelheid martelare van alle tye oplewer.

Dit is dan ook waarom dit nodig is dat die diensknegte van God n.a.v. 7:3 ’n merkteken, of te wel seël op hul voorhoofde moet ontvang, want met daardie seël op hul voorhoofde sal nie een van hulle verlore gaan nie, maar volhard tot die einde toe.

Die voorafgaande klompie verse van hoofstuk 7 (1-8) is dus vir ons ’n aanduiding van hoe noodsaaklik dit is om hierdie seël te ontvang en vanaf vers 9 sien ons dan die eindresultaat van hierdie seël.

· Openb.7:15-17 ~ Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Johannes sien dat hierdie gelowiges wat voor die troon en in die teenwoordigheid van Christus is, oorspoel word met allerlei voorregte en seëninge.

Eerstens ervaar hulle die onuitspreeklike voorreg om voortdurend in die teenwoordigheid van God te wees en mag en kan hulle Hom dag en nag dien. Daar sal nooit verveeldheid wees nie; daar sal nooit eensaamheid wees nie – nooit, ooit nie, want hulle sal gemeenskap met God hê – Hy sal altyd by hulle wees! Die woorde “dag en nag” dui op die permanensie; die ewigheid waarin die gelowiges hulle sal bevind. En die gebruik van die woord “tempel” dui vir ons daarop, dat die ganse hemel; die ganse nuwe skepping, God se “woonplek” is en dit is waar alle gelowiges by Hom sal wees – in Sy woonplek – in Sy tempel.

Alle fisiese behoeftes wat hier op aarde bestaan het, sal daar nooit weer wees nie – die uitverkorenes sal nooit weer honger of dors hê nie. Hulle nuwe liggame wat hulle ontvang het sal nooit weer blootgestel wees aan allerlei beproewing of swaarkry nie, want Christus die Lam van God sal vir hulle ’n Herder wees en in hul behoeftes voorsien. God sal hulle so oorweldig met Sy blote teenwoordigheid, maar ook met Sy volmaakte liefde, dat daar geen trane in die hemel sal wees nie.

Dit is interessant om hier te sien dat Christus beide Lam en Herder sal wees. As Lam van God was Hy geslag ten einde ons met Sy bloed te koop, sodat ons saam met Hom in die hiernamaals kan wees (waar Hy nou reeds besig is om vir ons ’n plek voor te berei). As Herder voorsien Hy in al ons behoeftes en versorg en beskerm Hy ons.

As Herder lei Christus ons na fonteine met die water van lewe – in die Woord dui “water” meestal op die ewige lewe en redding. Die feit dat ons hier herinner word daaraan dat Christus ons na hierdie fontein van lewende water lei, dui vir ons daarop dat die fokus van ons teenwoordigheid in die hemel, op ’n ewige geestelike lewe en -seën gevestig word.

God sal dus altyd by ons wees en ons sal God altyd dien en loof en prys; sonder om moeg te word; sonder om honger te word; sonder om dors te word. In kort: Ons sal nooit gelukkiger kan wees as wat dit daar gaan wees nie en ons sal nooit gelukkiger in ons “werk” kan wees as in God se teenwoordigheid en in Sy tempel nie. Dit laat ’n mens dink aan die woorde in Hooglied 2:4 ~ Hy vat my na ’n feesplek toe; hy straal van liefde vir my.

3. TEN SLOTTE:
Wanneer hierdie pragtige prent vir ons geskilder word, wil ons nie eers dink aan wat met diegene gaan gebeur wat nié deur die bloed van die Lam van God vrygekoop is en wat met Christus se tweede koms, getref gaan word deur Sy verterende vuur nie. Genadiglik gaan ons as gelowiges hierdie voorsmaak van die hel vryspring, omdat ons God se seël ontvang het.

Openbaring 7 is dus vir ons ’n groot troos, voordat die ontsettende gebeurtenis van die sewende seël gaan losbreek. Dit is die innige, sterk versekering van ons veiligheid, voordat die gordyne vir die laaste bedryf van die slotdrama oopgetrek word.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 01 November 2009