Monday, December 7, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (05 Desember 2009)

Die Brief aan die Efesiërs - 10 ('n Waardige Lewenswandel) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.4:1-6 ~ Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5 Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6 één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

2. INLEIDING:
Met Paulus wat hier in vers 1 sê ~ Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien, kom ons by ’n ingrypende keerpunt in die brief aan die Efesiërs, want tot nou toe, het Paulus in hierdie brief, al sy aandag gewy aan die teologie, maar nou begin hy hierdie teologie in die praktyk verduidelik – hy raak dus prakties. Hierdie is natuurlik tipies van Paulus se styl – ons sien dit ook in die Romeinebrief (12:1 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen) en ook in Kolossense (3:5 ~ Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is...).

In hoofstukke 1 tot 3 het Paulus dinge soos die uitverkiesing en regverdigmaking en verlossing aangeroer. Ook die werking van die Heilige Gees, wedegeboorte; die liggaam van Christus (die kerk), ens. Maar soos reeds gesê, Paulus se brief aan die Efesiërs eindig nie hier nie, want hy gaan nou oor na die praktiese toepassing van hierdie teologiese waarhede.

3. ’N WAARDIGE LEWENSWANDEL:
Paulus se praktiese wending kom dan ook, wanneer hy ’n oproep doen op die Efesiërs, dat hulle lewenswandel in ooreenstemming (sal) wees met die roeping wat (hulle) van God ontvang het (v.1b).

Toe ons wederbaar is en Christus as Saligmaker ontvang het, het ons burgers van God se Koninkryk geword, asook lede van Sy gesin. Tesame met hierdie wonderlike seën wat ons ontvang het, kom daar ook baie pertinente verantwoordelikhede daarmee saam – die Here Jesus verwag nou van ons om op te tree soos die nuwe mense wie ons geword het in Hom. Hy verwag dat Sy norme en waardes en standaarde, ook ons s’n sal word. Sy doelwitte moet ook ons doelwitte word; Sy begeertes, ons begeertes en ons karakter moet gelykvormig word aan Sy karakter. Die Christelike lewe is dus ’n proses om te word, dít wat Christus van ons verwag om te wees – om te word soos wat Hy is.

Hernuwing in enige gemeente, kom nié deur allerlei programme en geboue en strukture en bedieninge en metodes, ens. nie. Nee, Paulus sê in Ef.4:23-24 ~ Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24 lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Elke lidmaat moet dus individueel, vernuwe word en volkome begin lewe volgens God se wil, nl. Sy Woord.

4. ONS ROEPING:
Paulus stel vir ons die voorbeeld hier in die openingsverse van hoofstuk 4, wanneer hy sê dat hy ’n gevangene is. Hy wil dus enersyds vir ons sê dat dit ’n prys vra om ’n Christen te wees – die Evangelie wat ons aanhang, is nie ’n goedkoop Evangelie nie – ’n gelowige moet dus die koste bereken voor hy sê dat hy ’n dissipel van Jesus Christus is. Paulus sê egter andersyds, dat hy ’n gevangene is, nié om simpatie te soek nie, of om sy omstandighede te gebruik ten einde die Efesiërs en daarom ook ons, verleë te maak nie. Hy wou net sy lesers weer daaraan herinner dat hy geheel en al onderdanig is aan Christus – soos ’n gevangene aan sy bewaarder. Paulus het ’n gevangene van Christus geword toe hy Christus die eerste keer op die Damaskuspad ontmoet het en hy gered en geroep is. Na hierdie voorval was Paulus, tot sy dood toe, geheel en al uitverkoop aan sy Meester en het hy sy lewe gegee vir diens aan die Here – hy het oor die vermoë beskik om alles eers vertikaal te sien, voor hy horisontaal daarna gekyk het. Paulus was voorwaar ’n dissipel van die Here Jesus Christus

Met hierdie entoesiasme en roepingsbewustheid waaroor Paulus beskik het, kom hy en doen hy ’n beroep op sy lesers om nét so uitverkoop te wees aan Christus, daarom dat hy sê ~ Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het (v.1). Die O.A.V. sê ~ EK vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.

Die eerste woord wat ’n mens hier opval, is die woord “roeping”. Ons moet eerstens besef dat die woord “roeping” nié beteken dat ons kan doen wat ons graag wil nie. Nee, dit impliseer dat ons deur God gekies word vir ’n bepaalde taak of opdrag. Ons vind hierdie selfde gedagte in die Griekse woord wat vir die kerk gebruik word, nl. “ekklesia” wat letterlik, die “uitgeroeptes”, of “geroepenes” beteken. Die klem val dus op wat God gedoen het. Dit was Paulus se betoog van die eerste verse van Efesiërs af, nl. dat God Sy hand op ons geplaas het en ons geroep het en deur hierdie roeping, het Hy ons verander van dit wat ons was, tot dit wat ons nou is, nl. uitverkorenes in Jesus Christus wat geroep is om as gelowiges in hierdie wêreld te lewe.

Ons sien dus dat hier twee fasette vervat word in hierdie roeping:
· Eerstens, sê 1Pet.2:9 ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Ons word dus vanuit die duisternis na die lig geroep. Dit beteken dat ons begrip en insig deur die Heilige Gees ontvang het – insig in en begrip van God se Woord. Voor ons die lig ontvang het was ons soos die blinde man van Johannes 9 – ons het Christus nie gesien nie, inteendeel, ons was nie eens bewus daarvan dat ons blind was nie. Ons was onder die indruk dat die wêreld en die dinge van die wêreld, vir ons die lewe is, maar toe Christus ons oë geopen het, het ons die waarhede van die Woord begin sien en verstaan en het die lewe meteens vir ons sin begin maak. Die eerste faset van ons roeping het dus begrip tot gevolg.

· Die tweede faset van ons roeping, word in Ef.2:4-5 beskryf, nl. ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ons is dus deur God uit die dood na die lewe gebring. Dit impliseer dus ook dat Hy ons die krag gegee het om nou te lewe.

Dit is dan ook juis op grond van hierdie lewe wat ons van God in en deur Jesus Christus ontvang het, dat Paulus ’n beroep op ons doen, dat ons waardig moet wandel aan die roeping waartoe ons geroep is (O.A.V.). Ons is dus “geroeptes”.

Kom ons kyk dan ook net kortliks na die betekenis en implikasies van hierdie oproep van Paulus:
· Eerstens sê hy dat ons lewenswandel in ooreenstemming met ons roeping moet wees, of dat ons waardig aan ons roeping moet wandel.

Die woord wandel of loop word gereeld in die Nuwe Testament gebruik en verwys na ons daaglikse lewe, of te wel ons daaglikse lewenswandel – die woord “wandel”, of “lewenswandel” dui vir ons dus op ons alledaagse en dag tot dag optrede in die wêreld.
· Tweedens moet ons ook net kortliks kyk na wat beteken die woord waardig. Die wortelbetekenis van hierdie woord is dié van ’n skaal wat in balans verkeer – wat op die een kant van die skaal is, is ook op die anderkant – m.a.w. die woord word dus toegepas op enige iets wat in ooreenstemming is met iets anders. Iemand wat bv. ’n dag se werk wat van hom verwag is, gedoen het, sal betaling kry wat in ooreenstemming is met die werk wat hy gedoen het. ’n Gelowige wat dus waardig wandel aan sy roeping, is ’n gelowige wat elke dag, op so ’n wyse lewe en optree, dat dit in ooreenstemming is met dit wat die Woord van hom vereis – dít wat dus van ’n mede-erfgenaam van Jesus Christus verwag word.

Paulus doen dus ’n beroep op ons as geroepenes, om elke dag in hierdie wêreld op so ’n wyse op te tree, dat dit strook met dít waartoe Christus ons geroep het en wat Hy deur Sy Woord van ons vereis. As ons nie so optree nie, is die weegskaal nie in balans nie – dan tree ons dus nie waardig ons roeping op nie.

Nadat Paulus dan hierdie oproep tot die Efesiërs gerig het, ontwikkel hy nou twee temas in die res van sy brief, wat alles te doen het met hierdie waardige lewe waartoe ons geroep is: (1) Eenheid onder die gelowiges en (2) ’n Godvrugtige lewe en dan spesifiek t.o.v. verhoudinge. Die eerste word in Ef.4:4-16 aangespreek en die tweede in Ef.4:17 tot en met Ef.6:24. Paulus hanteer egter baie kortliks, beide hierdie temas in verse twee en drie van Ef.4, deurdat hy sê ~ Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Dit is dan na hierdie oorkoepelende, of samevattende gedagte waarna ons vanoggend sal kyk. En wanneer ons dit doen, moet ons versigtig wees om nie andere aan hierdie eienskappe te meet nie, want dan spreek dit van hoogmoed – nee, lê hierdie toets teen jouself aan.

5. NEDERIGHEID:
Hierdie eenheid wat Paulus dan eerstens aanspreek, het te doen met die gelowige se karakter, daarom dat hy sê ~ Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Al hierdie karaktereienskappe kan dus saamgevat word onder een woord, nl. nederigheid. Ons weet almal dat dit van ons as gelowiges verwag word om nederig te wees – nederigheid is die teenoorgestelde van trots. As ons kyk na Ef.2:8-9 sien ons dat ons as gelowiges geen rede het om trots te wees nie ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Paulus sê ook in Fil.2:3 ~ Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Om beskeie te wees en daarom nederig te wees en so op te tree, is egter geen maklike opdrag nie, want ons kry tog so gou seer wanneer iemand anders, volgens ons oordeel, verkeerd optree teenoor ons. Nederigheid is egter om te weier om daarop aan te dring dat my regte erken moet word – andere se regte kom dus altyd eerste. Dit is dan ook waarom Paulus sê dat ons beskeie moet wees; dat ons vriendelik moet wees; dat ons geduldig moet wees en dat ons mekaar in liefde moet verdra – dít is die toppunt van nederigheid.

Dwight Pentecost vertel die verhaal van ’n kerkskeuring wat plaasgevind het en toe daar na ’n lang ruk, nadat twee kerke reeds gestig is, gekyk is na wat die oorsaak van die skeuring was, het hulle gesien dat dit ontstaan het by ’n ouderling wat tydens ’n gemeente-ete, ’n kleiner stukkie ham gekry het, as ’n jong seun wat langs hom gesit het! Die wortel van hierdie optrede wat tot ’n kerkskeuring gelei het, het gelê in selfgesentreerdheid en ongeduld en onverdraagsame liefdeloosheid – daar was dus geen sprake van beskeidenheid en vriendelikheid en geduld en verdraagsaamheid en liede nie.

Ons moet ook verstaan, dat om mekaar in liefde te verdra, veel-veel meer is, as om net uit te hou met mekaar – dit is veel swaarder gelaai as dit – die Griekse woord hiervoor, is “anechomai” en dui op o.a. geduldige en liefdevolle volharding. Hierdie verdraagsaamheid moet die olie wees wat ons onderlinge verhoudinge smeer. Die Apostel Petrus wat eens ’n trotse, rowwe en ongeduldige man was, sê in sy eerste brief, dat ons, ons broers, ... ongeveins lief (moet) hê – opreg en eerlik met ander woorde (1:22). Hy sê verder, dat ons, alle mense (moet) respekteer en (ons) medegelowiges lief moet hê (2:17); Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig (3:8) en laastens sê hy ~ Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes (4:8).

Wat Paulus dus vir ons hier in vers 2 van Ef.4 wil leer, is dat eenheid nie in uitwendige dinge begin nie, maar in die gesindheid en hart van elke geroepene.

6. SAGMOEDIGHEID:
Paulus sê tweedens dat ons vriendelik moet wees. Die O.A.V. praat van sagmoedigheid en die meeste Engelse vertalings, vertaal dit met “gentleness”. In die Grieks, is die woord, "praotes", wat dui op ’n nederige en sagmoedige en onderdanige gesindheid, wanneer die persoon verneder word, of as daar aanvallend, beledigend, aanstootlik, ergerlik, kwetsend, of walglik opgetree word teen die persoon. Ek sou dus, veral in die konteks van hierdie gedeelte, die woord “sagmoedigheid” hier wil gebruik.

Baie mense sal ’n sagmoedige mens as ’n swakkeling beskou – dit is egter hoegenaamd nie die geval nie. As ons na Num.12:3 kyk, sal ons bv. sien dat Moses ’n sagmoedige mens was ~ Moses was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde en ons weet dat Moses alles behalwe ’n swakkeling was, inteendeel, hy was sterk genoeg om by meer as een geleentheid voor die magtige Farao te verskyn en hom selfs te dreig en uit te daag.

Jesus was self net so sagmoedig. Hy het van Homself gesê ~ Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matt.11:28-29). Jesus het ook vir Sy dissipels in Matt.5:5 gesê ~ Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Die enigste manier om sagmoedigheid aan te leer, is om ons eie onwaardigheid en sondegeneigdheid te besef en daarom lê ware sagmoedigheid in die daaglikse belydenis en bekering van sonde. Tweedens lê ware sagmoedigheid opgesluit daarin dat ons aan Christus gelykvormig sal word, daarom dat 1Joh.2:6 sê ~ Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. En derdens sal ons sagmoedigheid aanleer wanneer ons meer en meer bewus raak van God se heiligheid, soos in die geval van die profeet Jesaja ~ ...ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2 By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. 3 Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” 4 Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. 5 Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige (Jes.6:1-5).

God verfoei hoogmoed en arrogansie en daarom dat Jesus in Luk.18:14b sê ~ Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.

7. GEDULD:
In die derde plek sê Paulus dat ons geduldig moet wees. Geduld vloei gewoonlik voort uit nederigheid en sagmoedigheid.

Abraham het ’n wonderlike belofte van God ontvang, maar hy moes baie jare wag voor hy die vervulling daarvan gesien het. Die Hebreërskrywer skryf van Abraham ~ En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is (Hebr.6:15). God het aan Abraham ’n groot nageslag belowe, maar dit was eers nadat hy amper ’n honderd jaar oud was, dat Isak vir hom gebore is (Gen.12:2) en hoor wat sê Paulus van Abraham se geduld in Rom.4:20 ~ Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Dink aan Noag wat 120 jaar gebou het aan die ark. Dink aan Moses wat die volk geduldig gelei het, omdat hy aan God se belofte vasgehou het. So is daar talle voorbeelde vir ons van Bybelse figure wat geduldig was.

Hoor net wat skryf H.M. Stanley wat in 1871 saam met David Livingstone deur Afrika gereis het – en let op, Livingstone het nooit die Evangelie met Stanley gedeel nie: When I saw that unwearied patience, that unflagging zeal, and those enlightened sons of Africa, I became a Christian at his side, though he never spoke to me one word.

Die geduldige gelowige aanvaar God se plan vir sy lewe in elke besonderheid, sonder om dit te bevraagteken of daaroor te mor. Hy kla nie wanneer sy roeping minder glansryk as andere s’n nie, of as die Here hom na gevaarliker of moeiliker plekke stuur as andere nie. Die geduldige mens onthou dat God se Seun, Sy hemelse tuiste van liefde en volmaaktheid en heiligheid en heerlikheid, verlaat het om hier op aarde verag te word; gehaat te word; verneder te word; om op gespoeg te word; om gekruisig te word – sonder om een keer kwaad met kwaad te vergeld.

Dit is ongelukkig so dat baie van ons sukkel met geduld en dit is nie iets wat maklik aangeleer word nie en dit is ook so dat ons baie dikwels eers geduld aanleer, wanneer ons beproewing ervaar – dit is waarom Rom.5:3 sê ~ Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding.

8. VERDRA MEKAAR IN LIEFDE:
Die tweede laaste eienskap waaroor ons moet beskik, sê Paulus, is dat ons mekaar in liefde moet verdra. Hierdie eienskap hang baie nou saam met die voriges, behalwe dat dit spesifiek gaan oor verdraagsaamheid wat ons teenoor medegelowiges moet openbaar – spesifiek, medegelowiges wat liefdelose gedrag teenoor ons openbaar.

1Pet.4:8 sê ~ Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. En Spr.10:12 sê ~ ... liefde bedek alles wat aanstoot gee. Liefde en vergewensgesindheid gooi die spreekwoordelike kombers oor andere se sonde – nie om hulle sonde te regverdig of om hulle sonde in die duisternis te help hou nie, maar verdraagsame liefde verduur medegelowiges se liefdelose gedrag, terwyl jy hulle steeds lief het.

Hierdie verdraagsame liefde kan net “agapé” liefde wees, omdat “agapé” liefde aanhoudend en onvoorwaardelik gegee word – dáárdie liefde wat selfs jou vyand lief het.

9. EENHEID:
Laastens kom Paulus in vers 3 en hy sê dat ons, ons daarop moet toelê om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf.

Dit is opmerklik dat al vier die vorige eienskappe wat deur ons as gelowiges nagejaag moet word, uiteindelik lei tot eenheid onder gelowiges.

Die woorde “lê julle daarop toe” is in die Grieks – “spoudazo”, wat letterlik beteken, “om gou te maak”, of om “met ’n heilige toewyding, na te jaag”. Dit impliseer dus dat elkeen van ons, die handhawing van onderlinge eenheid, met ’n heilige toewyding sal najaag, deur ’n waardige lewenswyse na te volg en wel deurdat ons nederigheid, sagmoedigheid, geduld en verdraagsaamheid aan die dag sal lê. Daar is dus geen plek in die kerk van die Here Jesus vir haat, of tweedrag, of onvrede nie. En hoe word dit bewerkstellig in ’n gemeente? Die antwoord lê o.a. opgesluit in 1Joh.1:3 ~ Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Wat hierdie vers vir ons sê, is dat hoe meer ons aan Christus gelykvormig word, hoe nader groei die gemeente in eenheid aan mekaar.

Geestelike eenheid kan nie deur die leierskap van ’n gemeente geskep word nie – dit is reeds deur die Heilige Gees in elke gelowige individueel geskep, daarom dat Paulus in 1Kor.12:13 en 20 sê ~ Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. En ~ Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam. En in Rom.8:9 sê hy ~ Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. In die lig hiervan is dit dus verstaanbaar waarom Paulus in vers 1b sê ~ Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Elkeen van ons het dus individueel ’n roeping en verantwoordelikheid om hierdie eenheid te koester en te handhaaf.

9. TEN SLOTTE:
Die vraag wat ons as gelowiges vandag vir mekaar en vir onsself moet vra is of ons in eenheid met mekaar verkeer. Indien nie, of indien ons die eenheid wil verbeter, moet ons vier dinge doen:
· Ons moet eerstens besef dat ons eenheid in die Drie-Enige God verankerd is. Net so min as wat die eenheid tussen die Drie-Enige God verbreek kan word, net so min kan die eenheid tussen ware gelowiges wat opregte eenheid najaag, verbreek word.
· Ons moet voortdurend op Christus fokus, daarom behoort ons 1Joh.1:3-4 gereeld te lees ~ Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.
· Ons moet voortdurend die Heilige Gees vra om ons te help om eenheid te bewerkstellig en uit te bou in die gemeente en in my individueel – ’n gees dus van nederigheid en sagmoedigheid en geduld en liefdevolle verdraagsaamheid.
· Laastens moet ons vredemakers wees (v.3).

Ons moet ons elke oomblik van elke dag vir ons die vraag afvra: Wandel ek in ooreenstemming met die roeping waartoe God my geroep het?

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 06 Desember 2009