Monday, October 19, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 18 Oktober 2009

Openbaring Ontsluit – 15 (God se Volk en die Oordeelsdag) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het in Openb.6:17 te doen gekry met die volgende vraag ~ Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly? Wie sal op daardie verskriklike Dag van die Here, staande kan bly? Ons het ook die vorige keer ’n paar keer verwys na o.a. Joël se profesie en as ons Joël 2:32 lees, vind ons genadiglik ’n antwoord op die vraag wat in Openb.6:17 gevra word ~ Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is. Let op wat hier presies staan – Elkeen wat die Naam van die Here aanroep... en reg teenoor dit – Dié wat deur die Here geroep is.... In lyn met dit, asook die vraag wat in 6:7 gevra is, vind ons ’n verduideliking en antwoord.

Wat verder interessant is, is dat ons hier in hoofstuk 7 ’n “mini”- of aparte-, of tussengesig vind, wat tussen die sesde en sewende seëls geskied.

Hierdie hoofstuk kan voorts in twee dele verdeel word, nl. verse 1 tot 8 en dan 9 tot en met 17. Ons gaan vanaand net eers kyk na die eerste deel, nl. verse 1-8.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:

· Openb.7:1-8 ~ Daarna (na die visioen van die sesde seël) het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie. 2 Ek het ook ’n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3 en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.” 4 Ek het die getal gehoor van dié wat gemerk is: daar was honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel: 5 uit die stam van Juda is daar twaalf duisend gemerk, uit die stam Ruben twaalf duisend, uit die stam Gad twaalf duisend, 6 uit die stam Aser twaalf duisend, uit die stam Naftali twaalf duisend, uit die stam Manasse twaalf duisend, 7 uit die stam Simeon twaalf duisend, uit die stam Levi twaalf duisend, uit die stam Issaskar twaalf duisend, 8 uit die stam Sebulon twaalf duisend, uit die stam Josef twaalf duisend, en uit die stam Benjamin is daar twaalf duisend gemerk.

Wie dan, is die mense wat bewaar gaan bly van die verskriklike Dag van die Here? Ons vind die antwoord in verse 2-3, 4, 9 en 14.
- Verse 2-3 ~ ...die dienaars van ons God.
- Vers 4 ~ ...honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel.
- Vers 9 – Wat ons ’n bietjie later, meer volledig sal hanteer ~ ...’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.
- Vers 14 – Waarna ons ook later sal kyk ~ ...(Dié) wat uit die groot verdrukking kom.

Ons sien dan in vers 1, dat vier engele op die toneel verskyn; éérs vier wat op die vier hoeke van die aarde (staan). Hulle hou die winde vas sodat géén wind op die aarde of op die see of teen enige boom sal waai nie. Daar sal dus ’n pynlike stilte heers – stilte voor die groot Dag van die Here.

In die boek van Openbaring word daar van twee stiltes gepraat. Eers kry ons die stilte as die stormwinde vasgehou word voor dit weer losgelaat word, net voor die opening van die sesde seël. Hierdie windlose stilte is op die aarde. Die tweede stilte vind in die hemel plaas vóór die oopbreek van die sewende seël. Ons lees daarvan in Openb.8:1, toe daar stilte in die hemel gekom het. Die stilte vóór die storm van die oordeelsdag het die betekenis dat dit die tyd is wanneer die getal van God se diensknegte verseël word.

Terwyl die vier engele van die vier windstreke nog die winde vashou, tree ’n vyfde engel op die toneel. Met sonsopkoms kom hierdie engel met die seël van die lewende God. Dieselfde son wat nog sy helder strale oor die aarde laat val het, word weldra donker soos ’n “harige sak”. Terwyl die son nog skyn beveel die vyfde engel egter sy makkers om eers te wag voor hulle toelaat dat die aarde of die see of die bome beskadig word deur stormwinde, want die verseëling of seël as teken van die 144 000 moet eers op hul voorhoofde geplaas word.

Wat is hierdie seël?

Die seël in die Bybel is die merk van God se eienaarskap en God se bewaring. Dit is nie ’n letterlike merk wat op die voorkop aangebring gaan word nie, maar ’n herinnering dat, in die woorde van 2Tim.2:19 ~ Die Here dié (ken) wat aan Hom behoort.... God se kinders is gemerkte mense en hulle is gesertifiseer as behorende aan God. Hierdie seël is ook teken van God se beskerming teen dít wat voorlê tydens Die Dag van die Here.

Dit is interessant om te sien dat die volgelinge van die Antichris ook ’n seël gaan ontvang, nl. die seël van die Antichris – bv. Openb.13:16-17 ~ Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17 en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam, maar genadiglik, soos ons so pas gesien het, gaan die volgelinge van God ook Sy seël ontvang – Openb.14:1 ~ Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe.

Ons sien dan ook dat hierdie verseëling geskets word teen die agtergrond van die twaalf stamme van Israel, waarvan 12 000 uit elke stam verseël word – 144 000 dus. Wie presies is hierdie 144 000 egter? Wys dit heen na Israel as volk – ’n etniese Israel dus, of verwys dit na ’n geestelike Israel?

In die kerkgeskiedenis is daar veral drie standpunte:
- Hulle wat sê dat dit alleen die uitverkorenes van die Joodse volk is en dat dit ons wat uit ’n heidense agtergrond kom, dus nie raak nie. M.a.w., hierdie verseëling is slegs van toepassing op die Ou Testamentiese gelowiges (bv. Abraham en Moses, ens.). Hierdie standpunt laat ons egter met ’n probleem, want ons het met ’n histories realiteit te doen, deurdat ons weet dat bv. tien van die twaalf stamme in Assirië, bykans heeltemal verdwyn het, terwyl die stamme van Benjamin en Juda, met die val van Jerusalem in 70n.C, hul nasionale bestaan verloor het.

As ons na die geskiedenis van die stamme van Israel kyk moet ons besef dat daar allerweë aanvaar word dat Israel uit 13 stamme bestaan het. Ook moet ons weet dat Manasse en Efraim deel was van die stam van Josef. Verder was die stam van Levi afgesonder vir die Tempeldiens en het hulle dus nie ’n woongebied ontvang nie. Met hierdie agtergrond uit die lys van stamme in ons Skrifgedeelte in ag genome, laat dit ons dus met 10 stamme. Verder was daar die stam van Dan wat nie hier in ons teksgedeelte genoem word as een van die “uitverkore” stamme nie, want die waarskynlikheid is groot dat niemand in die stam van Dan gered is nie, omdat hulle voortdurend in goddeloosheid en eiewillige godsdiens verval het. Dit lees ons o.a. in Rigters 18 en 1Kon.12.

In Dan se optrede skuil daar dus ’n duiwelse gees. Dan se vader Jakob sê dan ook op sy sterfbed die volgende ~ Dan is ’n slang op die pad, ’n horingslang op die grootpad.... (Gen.49:17). Dieselfde geld vir Efraim wat nie in ons lys genoem word nie. Indien ons dan aanvaar dat almal uit die stam van Dan verlore was, laat dit ons met net 10 stamme en indien daar slegs 10 stamme was, weet ons tog dat 1 000 maal 10 beslis nie vir ons 144 000 gee nie. Dit kan dus nie die etniese Israel wees waarna hier verwys word nie.

Net interessantheidshalwe: Die stam van Juda word eerste in ons lys genoem, omdat die Messias uit hierdie stam gekom het.

- Tweedens is daar diegene wat sê dat hierdie 144 000 die “spesiale deel” van die kerk is, nl. die “frontsoldate”, of die martelare van die kerk. Ook hiervoor kan daar geen getuienis in die Woord voor gevind word nie en berus hierdie standpunt bloot op emosies en ongegronde aannames.

- Die derde standpunt is die mees aanneemlikste en in die konteks van Openbaring en die ganse Woord, kan ons nie anders as om hierdie standpunt heelhartig te ondersteun nie. Hierdie standpunt sê dat die 144 000 verwys na al die uitverkorenes op aarde en deur die eeue heen (wat natuurlik al die martelare insluit). Hoe kom ons dan by die getal 144 000 uit? Ons moet besef dat hierdie profesie in hoofstuk 7, ’n profesie van die volledigheid van die ware kerk is. 1 000 word saamgestel uit 10 x 10 x 10 en dit is die getal van volkomenheid. 3 is die getal van God en 4 is die getal van die wêreld (daarom die vier windstreke). 3 x 4 is gelyk aan 12. En dan kry ons laastens die 12 stamme wat die kerk van die Here Jesus Christus verteenwoordig. Hieruit volg die volgende dan: 10 x 10 x 10 x 12 x 12 en dit is gelyk aan 144 000. Dit is dus ’n volkome harmonie, ’n komplete totaliteit. Dit is die volledige kerk te midde van die oordeel. Die 12 stamme verteenwoordig dan m.a.w. die volledige, verloste Israel (Ou- en Nuwe Testament) met elke stam se 12 000 verseëldes. In die lig van hierdie verduideliking is dit dus ook duidelik, dat die uitverkorenes nie nét uit 144 000 gelowiges sal bestaan nie, maar veel-veel meer as dit, want al is daar ook 200 of 2 biljoen gelowiges, dit sou en sal steeds as 144 000 uitgedruk word. Die taal van hierdie gesig is dus figuurlik en nie letterlik nie.

Ons moet altyd in gedagte hou, dat die Nuwe Testament voortdurend verwys na die Kerk van die Here Jesus Christus, as die ware Israel, waarvan die Ou Testamentiese Israel, ’n argetipe was (’n oertipe of -beeld, of prototipe). Rom.2:28-29 bv. ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God (sien ook Rom.9:6), of Gal.3:29 ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (sien ook Gal.6:15-16 en Openb.2:9). En dan sien ons ook in Kol.3:11, dat ...dit nie van belang (is) of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Omdat hier met ’n baie spesifieke getal (144 000) gewerk word, is daar enkele dinge wat ons ook vanuit hierdie feite vir mekaar moet sê:
- Die getal van die ware lidmate van Christus se Kerk is vasgestel – God weet presies hoeveel dit op Die Dag van die Here gaan wees..
- Die mense wat hierdie vasgestelde getal van Christus se kerk uitmaak, is soewerein deur God gekies en daarom is hulle uitverkies en gekies om Hom te dien, reeds lankal aan God bekend, omdat Hy hulle gekies (uitverkies) het om Hom te verheerlik (wat ’n voorreg! – EK van alle mense Here?!).
- God se kinders sál tot die einde volhard. Selfs gedurende vervolging en allerlei beproewing word hulle in stand gehou en bewaar deur Sy genade.
- Die oordele wat oor die wêreld gaan losbars word nie gerig op en tot die gelowiges nie, maar op en teen die goddeloses, as straf op hul sonde. Dit is hartseer dat die res van die skepping ongelukkig ook gebuk sal gaan onder hierdie oordele van God (v.2-3) – geen wonder dat Paulus die volgende oor die skepping skryf nie ~ Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20 Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21 die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22 Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23 En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Rom.8:19-23).
- Wanneer die finale vernietiging van die wêreld gaan plaasvind, sal God se kinders – dié wat verseël is, weggeneem wees na ’n plek van ewige veiligheid, nl. die hemel.

Die betekenis vir die kerk vandag is baie duidelik. Die gesigseinders van die wêreld word donker. Die horisonne van die politiek raak beneweld. Die mensdom kom al hoe meer onder die greep van die Antichris. Maar die wêreldstorm van God se toorn kom ook nader, Die tekens van die oordeelsdag word baie duidelik. Jesus se eie woorde word in Openb.7 vervul ~ Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af (Matt.24:31). Hulle word voor die storm van die oordeelsdag verseël. Onder die grootste gevare; onder die totale verwoesting van alles, as die son swart word en die maan soos bloed en die sterre val – sal God se kinders bewaar word, want hulle het God se seël ontvang op hul voorhoofde.

Die Here het dit nog altyd gedoen en Hy sal dit weer doen. Tydens die oordeelsdag van die sondvloed het Hy Noag en sy mense bewaar. Hy het dit met Israel in die donker nag van die plae oor Egipte gedoen. In die bitter swaar tyd van koning Agab en die goddelose Isébel het God Sy kinders nie vergeet nie. In die oordeel van Israel met die ballingskap van Babel het Hy Sy oorblyfsel bewaar. Die Here ken Sy eiendom – Sy uitverkorenes soos wat Jesus hulle noem. Dit is ons heerlike troos as die duisternis van die toekoms oor ons toesak – dit sal ons nie raak nie, want ons het God se seël ontvang wat ons bewaring verseker!

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)Sondagaand 18 Oktober 2009