1. INLEIDING:
Bitter
min mense indien enige hou van krisisse, of gebeurtenisse wat nie te wagte was
nie. Ons verkies om in ons "hokkies" te bly sit, eerder as dat ons
"hokkies" geskud word. As verandering moet plaasvind, hou ons daarvan
om bekend te wees met die detail van die verandering, maar wanneer die uitkoms
daarvan onseker is, raak ons ongemaklik en selfs angstig en baie mense is
dikwels geneig om altyd die ergste uitkomste in enige onbekende situasie te voorsien.
Ek
luister die afgelope week na ’n bespreking op RSG oor die gevolge vir blankes
in Suid-Afrika, wanneer Madiba te sterwe sou kom. Een ou tannie van iewers op
die platteland het ingebel en vertel hoe sy in angs die afgelope paar maande al
leef oor die gevolge wat Madiba se afsterwe gaan inhou vir haar en die blankes
in die breë; kort-kort word die "Nag-van-die-langmesse", wat
verkeerdelik toegedig word aan Siener van Rensburg, opgehaal en kon jy agterkom
hoeveel mense in vrees leef – vrees vir die onbekende.
Die
vraag is, hoe moet ons as gelowiges die onbekende hanteer? Hoe moet ons reageer
as iets negatiefs; iets onaangenaams ons moontlik in die gesig staar? Kom ons
kyk wat die Psalmdigter aan die hand doen om sulke krisisse die hoof te bied.
2. SKRIFLESING:
Psalm
25:1-22 ~ Van Dawid. Tot U, Here,
rig ek my, 2my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie
tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3Niemand
wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou
nie, hulle kom in die skande. 4Maak my u wil bekend, Here, leer
my u paaie. 5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U
is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6Dink aan
die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7Moet tog
nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u
trou, Here, omdat U goed is. 8Die Here is goed en regverdig: Hy
wys selfs vir sondaars die pad aan, 9Hy laat aan hulpeloses reg
geskied en Hy leer hulle sy pad. 10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11Ter
wille van u Naam, Here, vergewe my, my sonde, want dit is groot. 12As
iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13sodat
hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14Die
Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle
bekend. 15My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my
voete uit die vangnet sal hou. 16Sien my in genade aan, Here,
want ek is eensaam en verstote. 17Ek verkeer in die allergrootste
nood; bevry my tog uit my ellende. 18Kyk hoe sleg gaan dit met my
en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19Kyk hoe baie
vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20Beskerm my en red my,
laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21Laat
onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22O
God, red Israel uit al sy nood.
3. AGTERGROND:
Hierdie
Psalm is ’n "Akrostieke Psalm". Dit is ’n Psalm wat in die vorm van
’n naamdig, of te wel ’n alfabetiesegedigsvorm, geskryf is. Dit beteken dat, in
die geval van ’n Hebreeuse Naamdig Psalm ("acrostic
psalm"), elke vers
met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Die Hebreeuse
alfabet bestaan uit 22 letters, vandaar die 22 verse in hierdie Psalm – hoewel
3 van die letters weggelaat is en 3 herhaal word. Daar is in totaal, 9 sulke
naamdig Psalms, waarvan Ps.119 waarskynlik literêr die beste vorm daarvan is (die
ander is Ps. 9, 10, 34, 37, 111, 112 en 119).
Daar
is verskeie verklarings waarom dit in hierdie vorm geskryf is, maar die mees
aanvaarbare verklaring is dat die Psalmdigter dit só geskryf het, sodat hierdie
Psalm makliker gememoriseer kon word, wat hierdie Psalm dus ’n "bloudruk
vir dissipelskap" maak, want bykans elkeen van die verse in hierdie Psalm
het te doen met leiding en daarom kan ons hierdie Psalm ’n
"teksboek-psalm" noem, omdat dit vir ons ’n pragtige voorbeeld stel
van hoe om te leef ten einde God te verheerlik en derhalwe deur Hom geseën te
word.
Die
skrywer van hierdie Psalm, wat volgens oorlewering, Dawid was, skryf van ’n
dubbele krisis wat verandering in sy lewe tot gevolg gaan hê. Eerstens, is daar
’n militêre dreigement van buite – Juda se vyande is aan die opmars teen hulle
en tweedens ervaar Dawid ’n innerlike krisis, want hy word gekonfronteer met sy
eie sonde.
Wat
doen Dawid om hierdie twee probleme die hoof te bied? Hy bid tot God. Hy maak
nie maar net vinnig sy eie plannetjies om hierdie twee krisisse te hanteer nie – hy
vra die Here watter pad hy moet kies en wat hom te doen staan, want hy besef
dat watter keuse hy ook al maak, dit nie ’n maklike pad vir hom sal wees nie,
veral nie as hy die weg kies waar hy sonder die vriendskap en ondersteuning van
God loop nie en daarom kies hy om die Goddelike pad te bewandel, wat tot gevolg
het dat hy baie ernstig tot Sy Skepper bid. Waarskynlik het Dawid Ps.1 hier
ingedagte gehad, omdat Ps.1 vir ons baie duidelik daarop wys dat ons die regte
pad moet kies en daarom kan Ps.25 ook, net soos Ps.1, gesien word as ’n wysheidspsalm.
4. DAWID
SE GEBED:
Kom
ons kyk dan na Dawid se gebed in meer besonderheid.
Die eerste gedeelte (vv.1-7) begin waar Dawid sy fokus vestig op
die Here – hy spreek sy geloofsvertroue in God uit, asook sy afwagting op ’n
antwoord en leiding van die Here. Hierdie gedeelte van sy gebed word afgesluit
met sy versugting daarna dat die Here sy nood sal onthou, maar nie sy sonde en
rebellie nie.
In die tweede gedeelte van sy gebed (vv.8-15), fokus hy op die feit dat indien hy
nederig en gehoorsaam is; indien hy berouvol oor sy sonde is; indien hy God eer
en eerbied teenoor Hom betoon en indien hy in afwagting is op God se leiding, sal
die Here hom lei en beskerm.
Die
finale gedeelte van Dawid se gebed vind ons in vv.16-22. Hy erken die feit dat
wanneer hy die Here aanbid en dien, hy noodwendig vyande in hierdie lewe sal hê
en daarom het hy die Here se liefde en genade soveel meer nodig in sy lewe en
daarom is dit vir hom só belangrik dat ’n intieme verhouding tussen hom en Sy
Skepper gehandhaaf sal word.
4.1 Afhanklikheid
(vv.1-3):
In die openingsverse van hierdie kosbare
Psalm kom Dawid en hy bely sy afhanklikheid van God ~ Tot U, Here, rig ek my, 2my God,
op U vertrou ek (v.1-2). Die feit dat die Psalmdigter hier
begin met die woorde, .... Tot U,
Here... en dan, ... rig ek my
– eers die Here en dan eers Dawid – dit is nie bloot net stilisties van aard,
of ter wille daarvan dat die gebed poëties van aard moet wees nie – dit is spesifiek
in hierdie volgorde geskryf nie, ten einde die fokus op God te vestig en nie op
Dawid nie. Dieselfde volgorde vind ons in v.2, waar die skrywer weer God eerste
noem en daarna homself.
Dawid gebruik die woord
"beskaam" in v.3, op 'n ander manier as waarop ons deesdae die word
"skaam" gebruik ~ Niemand
wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou
nie, hulle kom in die skande.
Paulus gebruik ook hierdie woord in Rom.8:24 en wel as "hoop", wanneer
hy sê ~ Ons is immers gered, en
ons het nou hierdie hoop....
Van watter hoop praat Paulus hier? Die hoop van verwagting – daardie verwagting
wat ons as gelowiges het, nl. dat ons ’n vaste verwagting het dat Christus gaan
terugkeer en dat ons in ewigheid met Hom verenig gaan word – Hy sal ons dus nie
in die steek laat nie – ons sal nie beskaam word nie!
Die tema en die betekenis van hierdie
uitdrukking "beskaamd", is nie om verleentheid uit te druk nie, maar
om te sê dat iemand wat Sy vertroue in God stel, nie teleur gestel sal word
nie, juis omdat God betroubaar is – letterlik staan hier dus dat God ten alle
tye vertrou kan word en Hy Sy kinders, wie hul vertroue in hom plaas, nie sal
verwoes, of ruïneer nie. Ons kry dieselfde gedagte in Ps.31:2 wanneer Dawid sê
~ By U, Here, skuil ek. Laat my
tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. Hierteenoor, rig die Psalmdigter ’n
waarskuwing tot alle mense wat nie die Here in alles vertrou nie, wanneer hy sê
~ Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
Hier verwys hy natuurlik na sy vyande wat in opmars is teen Juda en maak hy ’n
geloofsverklaring en sê hy dat sy vyande wat nie op God vertrou nie, bedroë
daarvan gaan afkom wanneer hulle Juda probeer aanval. Sy vyande het geen hoop
op oorwinning nie, maar hy wat Dawid is, het ’n vaste vertroue dat God aan sy
kant is.
Dawid sê dus in v.3, dat niemand wat sy
verwagting, of sy vertroue in die Here stel, teleurgestel sal word nie.
4.2 Leiding (vv.4-10):
In vv.4-10 gaan hy nou voort met sy gebed
en hy vra vir die Here, dat Hy hom nou sal "wys", "leer" en
"lei".
▪ Eerstens
dan, vra Dawid dat God, Sy wil aan hom sal "wys", of te wel sal openbaar.
Dit is dieselfde gebed wat Moses in Eks.33:13 bid ~ As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer
ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk. Wat is die wil van God waarvoor
Dawid en Moses bid en kan ons ook daarvoor vra? Hierdie wil en waarheid
waarvoor hulle vra, is dieselfde as dit waarvan die Here in Jes.55:8-9 praat ~ My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en
julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër
is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo
julle gedagtes. Hierdie
gedagtes en optrede van God wat ver verhewe bo ons gedagtes en optrede is – dít
is waarvoor Dawid en Moses vra, nl. God se Waarheid.
▪ Dawid
vra in Ps.15:2-5 dat God hom sal leer om in hierdie Waarheid te wandel, sodat
hy ...onberispelik (kan) wandel en (sal) doen wat reg is, (en dat hy) met sy
hele hart die waarheid (sal) praat, 3nie kwaad (sal) praat nie, sy
medemens nie kwaad (sal) aan doen nie en niemand (sal) beledig nie; 4(om
te verag) dié wat deur God verwerp is, maar almal (te) eer wat die Here dien;
(om) sy woord (te) hou, selfs tot sy eie skade, 5sy geld nie op
rente uit (te) leen nie en hom nie (te) laat omkoop om die onskuldige te
kort te doen nie.
▪ Dawid vra ook dat die Here hom in
hierdie Waarheid van God sal lei, sodat hy daarvolgens kan wandel en lewe, want
dan sal hy ...nooit wankel nie (v.6).
Hierdie Waarheid is ook vir ons
beskikbaar, want dit is opgeteken in God se Woord en daarom moet ons ook saam met
Dawid en Moses daarvoor vra, sodat ons ook nooit sal wankel nie.
In v.6 vra Dawid dat die Here Sy liefde
en trou aan hom sal bewys. Hierdie liefde, of in Engels,
"compassion", asook God se trou is in die Hebreeus in die
meervoudsvorm geskryf. Wat hy dus vra, is dat God sal onthou om Sy oorvloedige
trou en lojale liefde aan hom te bly betoon – dat God in ooreenstemming met Sy oorvloedige
liefde en genade aan hom sal bly dink.
In teenstelling met v.6, vra Dawid in v.7 dat God nié aan sy
sonde van die verlede en sy rebellie van sy jeug, moet dink nie – dit laat ’n
mens nogal dink aan Job wat in Job13:26 sê dat God hom laat boet vir die sondes
van sy jeug.
Genadiglik kan ons ook vra dat die Vader nie die sonde van ons
jeug sal onthou nie, want Jesus Christus het juis vir al ons sonde gesterf en
volkome vergifnis vir ons aan die kruis verkry. In vv.6-7 vra Dawid dus dat God
nie sy sonde moet onthou nie, maar eerder na hom sal kyk deur die
"bril" van God se oneindige en oorvloedige genade en liefde.
In die volgende vier verse (vv.8-11) gaan die Psalmdigter voort om
vergifnis te vra, deur homself en God aan ’n paar van God se attribute (karaktereienskappe) te herinner. Eerstens sê hy en
bepeins hy die feit dat die Here goed en regverdig is – so goed en regverdig,
dat Hy selfs aan sondaars die pad wys. Dit impliseer nié dat die Here, sondaars
eensydig vergewe nie – daar is ’n voorwaarde, nl. dat Hy die sondaars wat na
Hom in nederigheid (v.9) kom en hulle voor Hom verootmoedig en Sy verbond en verordeninge bewaar (v.10), m.a.w. wat aan Hom en Sy Woord
gehoorsaam is, die regte pad sal aanwys – juis omdat Hy oorvloedig genadig en liefdevol
is. Hierdie pad wat Hy vir ons aanwys, is ook nie ’n gedetailleerde padkaart
vir ons lewe nie. Nee, die fokus is op die Waarheid soos vervat in God se Woord
– daardie Waarheid wat ’n lig vir ons voet en ’n lamp op ons pad is.
4.3 Genade en Vergifnis (v.11):
In v.11 vra Dawid
weer dat die Here hom sal vergewe, maar die keer sê hy iets baie interessants –
hy sê ~ Ter wille van u Naam,
Here, vergewe my my sonde.
Waarom vra Dawid dat sy sonde vergewe moet word t.w.v. God se Naam? Ps.130:4 ~ Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag
word (OAV). Ons word in die eerste en laaste
plek vergewe, sodat God gevrees en verheerlik kan word!
4.4 Eerbied (vv.12-14):
Die OAV vertaal v.12 as volg ~ Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande
die weg wat hy moet kies. Die
Meeste Engelse vertalings vertaal v.12 op dieselfde wyse en gebruik ook die
woord "vrees" ("reverence"). Hierdie teksvers fokus dus op die
man wat die Here vrees en as Dawid vra wie hierdie persoon is wat die Here
vrees, dan antwoord hyself en sê, dat dit diegene is wie deur die Here geleer
word en wát leer die Here hulle? Hy leer hulle watter weg om te kies, of soos
die NAV sê ~ ...watter pad hy moet
kies, nl. die beste pad –
daardie pad wat die Here sal eer en as hy daardie pad kies, sál hy voorspoed
geniet – wat meer is, ook sy nageslag, sê v.13, sal hierdie voorspoed geniet.
Hierdie feit is in ooreenstemming met
Eks.20:12 wat sê ~ Eer jou vader
en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir
jou gee. Die vraag wat ons
dadelik vir onsself ook moet vra, is of hierdie voorspoed op materiële en/of geestelike
dinge dui? Ek is van mening dat dit beide impliseer. Eerstens verwys v.13
uitdruklik na die land wat sy nageslag sal bly bewoon. Lev.26 is ook duidelik
hieroor ~ As julle my voorskrifte
nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, 4sal Ek vir julle
reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte
sal dra...,
ens. (vv.3-4)
– dit dui dus op die
materiële. Natuurlik kan ons nie nou wild en wakker begin rondloop en allerlei
rykdom en materiële voorspoed van die Here opeis nie. Nee, die voorwaarde is deurgaans - As julle my voorskrifte nakom, my gebooie
gehoorsaam en daarvolgens lewe.
Hiermee saam moet ons egter ook onthou, dat die Here ons ook deur tye van
beproewing kan neem en dat dit nie noodwendig altyd net "maanskyn en
rose" sal wees nie – of anders gestel, wanneer ons God se voorskrifte
nakom en Sy gebooie gehoorsaam en dit gaan terselfdertyd met ons sleg, lê die
"fout" nie noodwendig by my nie, maar kan dit wees omdat God besig is
om ons te beproef (sien ook Deut.4:1).
Vers 14 sê egter vir ons, dat hierdie
belofte van voorspoed beslis ook op geestelike vlak lê ~ Die Here neem dié wat Hom dien, in sy
vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.
In v.4 het Dawid gevra dat die Here vir hom, Sy weë sal bekend maak en nou
bevestig hy dat die Here dit wel doen, as hy wat Dawid is, die Here dien. Die
feit dat God hom in Sy vertroue neem en Sy hart met Dawid deel, dui verder op
’n intieme verhouding tussen Dawid en die Here en dit is die voorwaarde wat God
ook aan ons stel, indien ons Sy geestelike seën wil ervaar – ’n intieme
verhouding en dan sal Hy ons deur Sy Woord en die Heilige Gees lei.
4.5 Afwagting (vv.15-21):
Dawid wil in v.15 vir ons leer dat indien
ons begeer om deur die Here geleer en gelei te word,
ons, ons oë gedurig op die Here moet rig. Oë in hierdie geval dui op ons
geestelike fokus en waar dit moet wees – ons moet dus in die gewoonte kom, om tydig
en ontydig in gebed tot die Here te verkeer ~ Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos
die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë
gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (Ps.123:2). Paulus sê dus nie verniet vir ons in
1 Tes.5:17 ~ Bid gedurig nie.
In vv.16 tot 20 neem Dawid ons terug na wat hy aan die begin
gesê het, t.o.v. sy innerlike stryd oor sy sonde, asook die uiterlike
bedreiging van sy vyande wat teen hom optrek. Hy vra die Here om te kyk ~ ... Kyk hoe sleg gaan dit met my (v.18) en ~ ... Kyk hoe baie vyande het ek
(v.19).
Om die Here te vra om te kyk, dui daarop dat hy wil hê dat God moet ingryp in
sy situasie. By implikasie erken hy dan ook dat sy bedreigings – beide innerlik
en uiterlik is as gevolg van sonde in sy lewe en daarom vra hy ter gelykertyd
dat die Here hom moet vergewe.
Nou wil ek net dadelik weer sê, dat ons weereens nie moet doen
wat die mense wat die "voorspoedteologie" aanhang, doen nie, nl. om
iemand anders, of onsself, konstant daarvan te beskuldig dat wanneer dit met
ons sleg gaan, dit altyd is a.g.v. sonde in ons lewe nie (Job
is tog ’n goeie voorbeeld hiervan).
Ja, dit kan a.g.v. sonde in ons lewe wees, maar dit kan ook wees dat ons
beproef word deur die Here. Hier in Dawid se geval, weet hy egter dat die innerlike
en uiterlike bedreigings wat hy ervaar, die vrug van sonde in sy lewe is – ons
sal ook weet wanneer ellende ons tref, of dit is a.g.v. sonde in ons lewe en
dan moet ons ook sê wat Dawid sê ~ Sien
my in genade aan, Here (v.16a) en ~ ... Vergewe tog al my sondes
(v.18b).
Ons moet egter ook doen wat Dawid gedoen het ~ ... want by U skuil ek (v.20b).
4.6 Voorspraak (v.22):
Dawid sluit sy gebed af met die woorde in
v.22 ~ O God, red Israel uit al sy
nood. Hierdie vers volg nie
die Naamdig volgorde van die Hebreeuse alfabet nie en was moontlik ’n
liturgiese byvoegsel deur Dawid self gewees, maar dit is ’n gebed vir
uiteindelike en volkome verlossing. Dit is ’n tydlose gebed wat ons ook gedurig
behoort te bid in ons afwagting op die finale dag van verlossing ~ Die skepping sien met gespanne verwagting
daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die
skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar
omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die
skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om
so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel
sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die
pyne van verwagting (Rom.8:19-22) en in die woorde van Johannes in
Openb.22:20 ~ Kom Here Jesus!
5. AFSLUITING:
Psalm 25 dien vir ons as riglyn oor hoe om te bid wanneer ons
innerlike en uiterlike bedreigings en stryd ervaar; wanneer ons die onbekende
in die gesig moet staar. Kom ons maak dit prakties op ons lewens van
toepassing, deur daarop te let dat ons moet staatmaak op God se getrouheid (v.3)
en die feit dat Hy ons
altyd in die Waarheid lei (vv.4-5).
Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat Hy ons
Redder is (v.5) en
in Sy groot genade en liefde ons vergewe (vv.6-10). Ons groot Beskermer is ook die Een
wat ons in Sy vertroue neem, deur ons voortdurend in die Waarheid te lei (vv.15-20).
My vraag is, waar staan jy en ek t.o.v. hierdie riglyne? Maak
ons staat op Hom? Vra ons Hom na Sy Waarheid? Verlustig ons daarin dat Hy ons
lief het?
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 Junie 2013.