Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 38 (Dit is Verby! - 01)

Tot nou het ons na ’n reeks van visioene gekyk wat ’n duidelike waarskuwing was oor die komende oordeel oor Jerusalem as gevolg van die afvalligheid van die volk Israel. Hier in Openb.16 lei die waarskuwings nou na die implementering van hierdie oordele. -

Openbaring Ontsluit - 38
(Dit is Verby! - 01)

1. INLEIDING:
Tot nou het ons na ’n reeks van visioene gekyk wat ’n duidelike waarskuwing was oor die komende oordeel oor Jerusalem as gevolg van die afvalligheid van die volk Israel. Hier in Openb.16 lei die waarskuwings nou na die implementering van hierdie oordele.

Openb.16 is in baie opsigte ’n herhaling van die "trompet-oordele", maar in baie vinniger opeenvolging. Soos in Openb.15 het hierdie hoofstuk ook ’n "Eksodus-motief". Op dieselfde wyse as wat Israel van ouds uit Egipte gelei is, net so word die Nuwe Israel verlos van die Nuwe Egipte, of te wel die afvallige Judaïsme. Israel het nou net soos die Egipte van ouds geword. Die volk wat eens God se volk was, verdien nou God se oordele – nes Egipte van destyds.

In Openb.15 was daar iets van ’n verposing voor die uitstorting van die oordele in Openb.16 – God se toorn (Eng. = wrath) gaan egter nou in volle aksie beleef word. Teen die tyd dat die sewende engel sy bak in die lug leegmaak, sal ’n stem uit die hemel gehoor word wat sê ~ Dit is verby! (Openb.16:17). Dit is voorwaar verby, want God se oordeel is volledig afgehandel. Al volg hoofstukke 17-19, wat beskou kan word as matige hoofstukke, kan dit amper gesien word as iets van ’n groep "opruimingshoofstukke" na die oordeel.

Ons sal meer as net hierdie sessie gebruik om na hierdie hoofstuk te kyk. Namate ons hierdie verse bestudeer, is my bede dat elkeen van ons, God waarlik en opreg sal vrees, omdat afvalligheid en geloofsversaking, nie iets is wat ons ligtelik moet opneem nie. Mag ons self gewaarsku word en mag ons toegerus word om andere te waarsku.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.16:1-2 ~ Toe het ek uit die tempel ’n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” 2Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. Die toorn van God volg in hierdie hoofstuk, kort op die hakke van die beskrywing van God se toorn in 15:8, waar ons gelees het van die Tempel in die hemel wat met God se heerlikheid gevul is (in die vorm van rook) en dat geen mens die Tempel kon binnegaan as gevolg van God se teenwoordigheid nie – dit kon eers gebeur nadat die sewe plae van die sewe engele vervul is nie. In ons verklaring van hierdie visioen, het ons gesien dat daar geen voorbidding (of intersessie) vir Israel gedoen kon word toe die oordeel van God op die stad geval het nie. Die Tempel van die Ou Verbond was ’n plek van voorbidding, maar elke keer wat God se heerlikheid die Tempel gevul het, kon die priesters nie in die Tempel gaan om voorbidding te doen nie. Daar was dus gedurende daardie kort tydjie, geen moontlikheid van voorbidding vir enige iemand deur die priesters nie en kon die volk of die individu nie versoening vir hul sondes ontvang nie. Op dieselfde wyse sien Johannes in hierdie visioen, dat daar ook geen kans vir voorbidding sal wees wanneer God se oordele oor Jerusalem en die Tempel uitgestort word nie, trouens daar sal geen voorbidding gedoen kan word totdat die engele se plae vervul is nie. Die eerste paar verse van Openb.16 praat dan ook van hierdie plae.

Die oordele word deur God se Woord self beveel. Die "harde stem" wat Johannes uit die Tempel hoor kom, is onmiskenbaar die stem van God self, want dit is net God alleen wat die Tempel binne kan gaan ~ Die tempel het vol rook geword vanweë die heerlikheid en die mag van God, en niemand kon in die tempel ingaan voordat die sewe plae van die sewe engele hulle einde bereik het nie (15:8).

In die volgende verse van hoofstuk 16, vind ons geweldige en grusame tonele: Tonele van demoniese aktiwiteite; van militêre optrede – in kort, bose optrede teen en aktiwiteite in Jerusalem. Tog sit God agter dit alles! Hierdeur wil die Woord nie sê dat God Homself ophou met onheilige en bose aktiwiteite nie! Nee, in God se soewereine voorsienigheid laat Hy toe dat bepaalde booshede plaasvind, ten einde Sy plan en wil te volvoer.

Ook is dit belangrik om daarop te let dat hierdie oordele nie vae, ondeurdagte, of universele oordele was nie. Toe God Sy verbond met Israel aangegaan het, het Hy hulle gewaarsku dat Hy hierdie spesifieke oordele oor hulle sou laat kom indien hulle nie gehoorsaam bly aan die verbond nie ~ As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref....... (Deut.28:15) (sien ook: Deut.28:21-22; 25, 27-29,35). Uit hierdie verse blyk dit duidelik dat hierdie oordele nie universeel van aard was nie, maar slegs op Israel van toepassing, omdat lg., wat in verbond met God gestaan het, Hom verwerp het.

Vir alle Israeliete wat goed onderlê was in die Joodse geskiedenis, was hierdie oordele soos beskryf in Openb.16, niks nuuts nie.

V.2 ~ Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. Ons weet nou al teen hierdie tyd dat die mense wat die merk van die dier aan hulle het, diegene is wie Christus verwerp het. Dit is op hierdie mense wat God Sy oordele uitgiet.

Soos hierbo gesê, was hierdie plae niks nuuts vir die Joodse volk nie, want hulle sou dit onthou het van die oordeel wat God oor Egipte uitgestort het, net voor en tydens die Israeliete se uittog uit Egipte. Een so ’n plaag vind ons bv. in Eks.9:8-12 ~ Daarna het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Skep hande vol roet uit ’n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug opgooi. 9Dit sal ’n fyn poeier word oor die hele Egipte en dit sal dwarsoor Egipte op mens en dier swere veroorsaak wat aanhoudend etter.” 10Hulle het toe roet uit ’n oond gevat en voor die farao gaan staan. Toe Moses dit in die lug opgooi, kom daar op mens en dier swere wat aanhoudend etter. 11Die towenaars kon Moses dit nie eens probeer nadoen nie, want hulle was vol swere. Die swere het op al die Egiptenaars uitgekom, ook op die towenaars. 12Tog het die Here die farao nog steeds koppig laat bly. Hy het nie aan Moses en Aäron se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf vir Moses gesê het.

• Openb.16:3-4 ~ Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van ’n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan. 4Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword. Hierdie twee oordele is baie nou aan mekaar verwant. Ons sien hier dat beide vars- en soutwater diere deur God se oordeel getref word – dit herinner nogal aan die tweede en derde basuin- of trompetoordele in Openb.8:8-11, waar die meeste lewende diere en visse in die see en riviere, uitgedelg was. Weereens is hierdie nie aparte oordele nie, maar geïntensiveerde beskrywings van die basuinoordele. In die basuinoordele het slegs een derde van die watergediertes gevrek; nou vrek alles.

Ook hierdie oordele was nie vreemd vir die Jode nie en vind ons weer ’n parallel in die oordele oor Egipte ~ So sê die Here: Deur wat nou gaan volg, sal jy weet dat Ek die Here is.’ Jy moet ook vir die farao sê: Met hierdie kierie in my hand sal ek op die Nyl se water slaan, en dit sal in bloed verander. 18Dan sal die vis in die Nyl vrek, en dit sal so stink dat die Egiptenaars nie die water sal kan drink nie.” 19Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: vat jou kierie en swaai dit oor al die water van Egipte, oor sy kanale, riviere, moerasse en damme, dat dit bloed kan word. Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die hout- en klipbakke.” 20Toe het Moses en Aäron gedoen presies wat die Here hulle beveel het. Aäron het sy kierie opgelig en voor die oë van die farao en sy amptenare op die Nyl se water geslaan, en al die water het in bloed verander. 21Die vis in die Nyl het gevrek en die Nyl se water het so gestink dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Oral in Egipte was daar bloed. 22Maar die Egiptiese towenaars het met hulle towerkunste dieselfde gedoen, sodat die farao koppig gebly het. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het. 23Die farao het omgedraai na sy paleis toe sonder om hom daaraan te steur. 24Intussen het die hele Egipte langs die Nyl na drinkwater gegrawe omdat hulle nie die Nyl se water kon drink nie. 25Die toestand het ’n volle sewe dae geduur nadat die Here die Nyl getref het (Eks.7:17-25).

’n Belangrike vraag tree op hierdie stadium na vore. Die oordele oor Egipte was letterlik, want die water in Egipte het letterlik in bloed verander. Beteken dit dan dat dieselfde ding gedurende die eerste eeu na Christus gebeur het? Het die water letterlik in bloed verander? Die taalgebruik in Eksodus is histories narratief en word ’n letterlike vertaling dus veronderstel. Die taalgebruik in Openbaring daarenteen, is profeties van aard en moet hierdie gedeelte derhalwe simbolies vertolk word.

Hoe dit ook al sy, Josefus die Joodse historikus het ’n paar baie interessante aantekeninge gemaak in sy geskiedskrywings – ek haal direk aan uit die boek "Revelation – Four Views" en dan spesifiek die gedeelte wat Kennith Gentry geskryf het: In his Wars Josephus writes: "the sea was bloody a long way" (3.9.3); "one might then see the lake all bloody, and full of dead bodies" (3.10.9); "the whole of the country through which they had fled was filled with slaughter, and Jordan could not be passed over, by reason of the dead bodies that were in it (4.7.6); "blood ran down over all the lower parts of the city, from the upper city" (4.1.10); "the outer temple was all of it overflowed with blood" (4.5.1); "the blood of all sorts of dead carcasses stood in lakes in the holy courts" (5.1.3); and "the whole city run down with blood, to such a degree indeed that the fire of many of the houses was quenched with these men's blood" (6.8.5).

Die Joodse oorlog het gepaard gegaan met geweldig baie bloed. In een spesifieke veldslag, by die hawedorpie Tarachaea, het die Jode geglo dat hulle die Romeine kon oorwin en in hul poging om dit te vermag het hulle uitgewyk na die See van Galilea. Die uiteinde van hierdie Joodse poging was 6 000 Joodse lyke in die see! Daar word vertel dat die Jode probeer het om van hulle bote oor te klim na die Romeinse bote, ten einde die Romeine in hand-tot-hand gevegte te oorwin, maar die Jode is een na die ander oorweldig; onthoof en in die water gegooi. Geskiedkundige boeke uit daardie era getuig van ’n gedeelte van die see wat in rooi verander het a.g.v. al die bloed ("Bloedrivier" – 1838?).

Volgende keer gaan ons D.V. aan met die verklaring van Openb.16:5-7.