Sunday, November 27, 2011

Die Evangelie van Johannes - 12 (Sielewenner vir Christus)

U sal onthou dat ons die vorige keer gepraat het oor Jesus wat met die sedelose vrou van Samaria by die put buite Sigar gepraat het en hoe Hy haar rustig gelei het om Hom as die Messias te herken. Terwyl hierdie gesprek aan die gang was, was Sy dissipels in die dorp om kos te gaan koop. Lees hier verder om te sien hoe hierdie vrou van Sigen, een van die eerste Sielewenners vir Jesus geword het. Lees gerus verder deur op die grys gedrukte woorde Read more>> hiernaas te kliek -

1. SKRIFLESING:
U sal onthou dat ons die vorige keer gepraat het oor Jesus wat met die sedelose vrou van Samaria by die put buite Sigar gepraat het en hoe Hy haar rustig gelei het om Hom as die Messias te herken. Terwyl hierdie gesprek aan die gang was, was Sy dissipels in die dorp om kos te gaan koop.

Joh.4:27-42 ~ Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. 28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” 30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom. 31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.” 32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” 34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” 39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

2. INLEIDING:
As ons vlugtig na hierdie gedeelte kyk wil dit voorkom asof ons hier met twee verskillende onderwerpe te doen het – vv.27-38 waar Jesus met Sy dissipels praat oor voedsel en om God se wil te doen en dan in vv.39-42 waar die Samaritaanse vrou met die inwoners van Sigar oor Jesus praat. Dit is egter nie die geval nie, want wanneer ons deeglik na hierdie gedeelte kyk, sien ons dat dit ’n pragtige geheel vorm – dit gaan hier oor die getrouheid en getuienis van die sedelose vrou wat Jesus by die put ontmoet en wat ná hul gesprek, die Samaritaanse "Sielewenner vir Christus" word.

Ons kan hierdie gedeelte dus onder die volgende punte verdeel:
• Die Samaritaanse vrou getuig (vv.28-38)
- Die boodskap wat sy verkondig (vv.28-30)
- Jesus gebruik haar as rolmodel (vv.31-38)
o God se wil (vv.31-34)
o Die ryp oes (vv.35-38)
• Die Samaritaanse vrou dra vrug (vv.39-42).

3. DIE SAMARITAANSE VROU GETUIG:
Nadat die Samaritaanse vrou besef het dat Jesus die Messias is, kon sy haar nuut gevonde vergifnis en vryheid nie langer vir haarself hou nie en haas sy haarself terug na die dorp, waar sy vir almal wat haar eens verag het en wie sy waarskynlik so ver moontlik in die verlede probeer vermy het, sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Dit is asof ’n mens net by die lees van hierdie vers, die opgewondenheid in haar stem kan haar.

Wat is dit waaroor sy so opgewonde is? Ons sien in ons vorige paragraaf dat Jesus aan hierdie vrou water aangebied het wat haar dors vir ewig sou les – lewende water met ander woorde – daardie water wat die mens en dan spesifiek hierdie Samaritaanse vrou se dors na God en redding kan les.

Ook het Jesus hierdie vrou se sonde en sondige verlede aan haar uitgewys en Hy bied terselfdertyd aan haar vergifnis vir hierdie sonde. Die vrou besef dat Jesus ’n Profeet is – ’n Profeet wat veel groter is as die aardse profete waarvan sy as Samaritaan kennis dra. Hierdeur het Jesus aan haar gesê dat haar hele manier van aanbidding nou gaan verander, want heilige plekke, of dit nou Jerusalem of Gerisim is, gaan nie meer saak maak ten einde na aan God te kom nie. Hy sê ook vir haar dat haar en die res van die wêreld se verlossing deur die Jode gaan kom en daarom staan Hy as Joodse man voor haar, want Hý is die Een wat die verlossing bring.

Laastens sê Jesus vir haar hoe ware aanbidding lyk, nl. dat dit in Gees en waarheid moet geskied, m.a.w. sy moet God voortaan in egtheid aanbid en in die toekoms sal die Heilige Gees in ware aanbidders teenwoordig wees (Joh.14:17; 15:26; 16:13).

Hoeveel die Samaritaanse vrou van al hierdie uitsprake van Jesus verstaan het, is nie seker nie en dit maak ook nie regtig saak nie – wat wel saak maak is die feit dat sy antwoorde op haar vrae gekry het, die oomblik toe sy besef dat die Man voor haar, inderdaad die Messias is (4:26).

Met hierdie wete dat sy die Messias ontmoet het; dat God haar sonde vergewe het en dat sy verlossing gevind het, haas sy haar terug na die dorp om vir almal te gaan vertel van die Messias wat uiteindelik gekom het en Homself aan haar geopenbaar het – sy word die eerste sendeling na Samaria!

Toe sy in die dorp aankom, tree sy baie geniaal en oordeelkundig op, want as sy bloot net vir die mense sou sê dat die Messias gekom het, sou die inwoners haar waarskynlik nie geglo het nie, omdat sy ’n vrou sonder sedes was – ’n vrou wat godsdienstig nie sensitief was nie; 'n vrou vir wie godsdiens nie saak gemaak het nie, want sy was tog ten einde laaste, ’n prostituut. Hoor egter hoe sy haar nuutgevonde vreugde en ontdekking met hulle deel – sy vra in v.29b ~ Is Hy nie miskien die Christus nie? Sy sê nie en sy preek ook nie. Sy prikkel hul nuuskierigheid. Wat meer is – ook hulle het, net soos die Jode, op die koms van die Messias gewag en as hierdie sedelose vrou wat in die verlede hoogs waarskynlik aggressief gereageer het as mense haar gekonfronteer het met haar donker lewe, nou openlik en met opgewondenheid vir hulle sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het (v.29a), dan moes daar iets wonderliks met hierdie vrou gebeur het en die inwoners van Sigem kan enersyds nie hul nuuskierigheid langer beteuel nie en andersyds besef hulle ten diepste dat hier iets gebeur het waaraan hulle deel wil hê, want hierdie vrou het voorwaar verander en hulle begeer ook dít wat sy ontvang het van hierdie Man.

U sal onthou dat Jesus se dissipels van die dorp af by Hom aangekom het, net toe die vrou terug is dorp toe en terwyl sy van Jesus getuig, vra die dissipels vir Jesus om saam met hulle te eet, want oënskynlik wou Hy nie eet nie (v.31). Hy antwoord hulle egter op ’n baie eienaardige wyse – Hy sê in v.33 en 34 ~ Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.... My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel?

Alhoewel Jesus volgens 4:6 moeg was en waarskynlik ook honger, eet Hy nie saam met die dissipels nie. Vir Jesus is dit veel belangriker om God se wil te doen, eerder as Homself te versadig met fisiese kos. Toe Hy vir hulle sê dat sy voedsel is om die wil van God te doen, het Hy waarskynlik Deut.8:3 in gedagte gehad, waar Moses met die volk gepraat het en vir hulle gesê het ~ Hy (verwysende na God) het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. Ook in Luk.4:4 het Jesus dieselfde beginsel deurgee toe die satan Hom in die wildernis versoek het en Jesus vir hom gesê het ~ Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

Jesus wil met hierdie antwoord vir hulle sê dat hulle nie in die eerste plek aan hulle eie fisiese behoeftes moet dink nie, maar hulle ingesteldheid moet altyd een wees waar hulle eers die geestelike raaksien en hulle ingesteldheid moet altyd wees om eers die Vader se insettinge (Sy Woord) na te kom en sodoende Sy wil te doen.

Jesus het dit waarskynlik vir hulle gesê omdat Hy op daardie stadium reeds die inwoners van Sigem gesien het waar hulle op pad was na Hom en Sy dissipels en Hy het geweet dat iets wonderliks enige oomblik gaan plaasvind – Hy het geweet dat God ’n afspraak gehad het met baie van die inwoners en dat daar nie nou tyd was om om te sien na hulle eie fisiese behoeftes nie – daar was werk om te doen en hulle moet hulle eerder geestelik instel ten einde deel te wees van God se wil in die wederbaringsproses van die uitverkorenes wat uit Sigem op pad na hulle was.

Jesus hou die Samaritaanse vrou as rolmodel vir Sy dissipels voor, deur vir hulle te sê dat hierdie vrou dors was, maar toe sy die waters van die lewe ontvang, was sy nie meer verder besorg oor haar fisiese dors nie, want volgens v.28 het sy haar kruike net daar by die put laat lê en was sy gehoorsaam aan God se wil en het sy nie eers gedink aan haar dors nie, maar eerder aan haar verloregaande stadsgenote in Sigem.

Terwyl Jesus met Sy dissipels praat sien Hy die inwoners van Sigem na hulle aangestap kom en Hy wys waarskynlik na hulle en sê vir Sy dissipels ~ Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes (v.35b). Nog steeds sukkel die dissipels om geestelik te dink, want as Jesus praat van die oes wat gereed is om ingebring te word, verstaan hulle steeds nie, want die fisiese koring op die lande sal eers oor nagenoeg vier maande gereed wees om geoes te word. Jesus gaan egter voort en dit is asof Hy vir hulle sê, Sien julle daardie mense wat op pad is hierheen? Hulle is soos koring wat ryp in die aar staan en wat gereed is om geoes te word. Los nou julle kos en kry julle prioriteite reg. Berei julle eerder geestelik voor om die wil van julle Vader te doen, deur die Evangelie met hulle te deel, sodat hulle ingebring kan word in God se Koninkryk.

Jesus wil nie hierdeur vir Sy dissipels sê dat hulle nie moet eet as daar geestelike werk is wat gedoen moet word nie. Nee, wat Hy vir hulle wil sê, is dat hulle, hulle ingesteldheid moet regkry – hulle moet ten alle tye geestelik ingestel wees en gereed wees om God se wil onder alle omstandighede en ten alle tye te doen. Dit herinner sterk aan verlede week se boodskap uit Ps.119:1-8 nie waar nie? Ons het o.a. gesien hoe dat die Psalmis gesê het dat hy (en daarom ook ons), God se Woord dag en nag moet oordink en sodoende ’n hartsgesindheid het waar hy voortdurend volgens God se insettinge (Sy Woord) optree.

Jesus brei verder uit op Sy beeld wat Hy gebruik van die oes wat ryp is deur in vv.35-38 te sê ~ Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid. Jesus gebruik hier ’n metafoor ten einde aan hulle te verduidelik wat Hy bedoel as Hy praat van die oes wat ryp op die lande staan. In hierdie metafoor sê Jesus, saai die boer saad en vier maande later kan hy die koring oes, maar hierdie menslike oes wat hier van Sigem af op pad na Jesus en die dissipels is, is nou dadelik gereed om geoes te word ~ Kyk daar, kyk na die lande (met ander woorde: Kyk na die mense wat daar aan die kom is); hulle is ryp vir die oes (v.35b).

Jesus wil hierdeur vir hulle nog iets sê en dit is dat hulle nooit geleenthede om die Evangelie met iemand te deel by hulle moet laat verbygaan nie. Of, positief gestel, hulle moet altyd gereed wees en op die uitkyk wees vir ’n geleentheid om die Evangelie te deel, want die oes is ryp en gereed om ingebring te word – nie oor vier maande nie, maar nou! Ons het ’n baie duidelike opdrag wat hierby aansluit wanneer Jesus in Matt.28:19-20a sê ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Wanneer ons hierdie opdrag van Jesus hoor, moet ons bemoedig word deur die woorde van Paulus in Hand.28:28 ~ Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word (en dan hierdie woorde). Húlle sal luister.

Ons vind ’n baie belangrike beginsel in vv.36-38. Vers 38 verskaf aan ons die verklaring vir vv.36 en 37. Vers 38 impliseer dat niemand die eer vir homself kan opeis wanneer ’n verlore siel die Here Jesus Christus onder sy arbeid vind nie, want andere het alreeds op een of ander stadium die grondslag gelê vir so ’n persoon se redding en jy, onder wie se bediening so ’n persoon tot geloof kom, sien maar net die vrug tot wasdom kom. Die een wat die eerste grondslag gelê het vir die redding van ’n persoon, kan ook nie die eer daarvoor vir homself opeis nie, want hy het nie die persoon se redding aanskou nie. Geen individu kan dus krediet of loon opeis vir die sukses van enige Evangelistiese uitreiking of kontak nie. Die oes behoort net soveel aan die "saaier" as wat dit aan die "maaier" behoort. As voorbeeld hiervan, sê Jesus in v.38b aan Sy dissipels ~ Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid. Wat Jesus waarskynlik hier bedoel het met die "ander", is die profete wat lank voor die dissipels al die Evangelie begin verkondig het en dat die saad al lankal in mense se harte gesaai is – al wat nou gebeur, is die dissipels wat maar net die ryp oes van die lande afhaal – MAAR, afhaal moet hulle dit afhaal!

Aan "die einde van die dag" sal die profete en die dissipels egter saam juig oor elke siel wat gered is en sal hulle saam hul loon daarvoor van die Here ontvang.

4. DIE SAMARITAANSE VROU DRA VRUG:
Die slotsom van Jesus se sending na Samaria vind ons in vv.39-42 en dit geskied in twee fases.
• Ons sien dat die "vrou by die put" se getuienis vrug dra wanneer baie van die inwoners van Sigem tot geloof in Jesus kom op grond van haar getuienis en beslis ook met verdere kontak wat hulle ’n rukkie later met Jesus sou gehad het en dit word bevestig deur wat die inwoners in v.42 self gesê het ~ Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

In v.40 sien ons iets uitsonderliks gebeur – die Samaritane vra Jesus om by hulle oor te bly. Dit is uitsonderlik, omdat ons weet dat Jode en Samaritane nie "om dieselfde vuur gesit het nie", maar hierdie Samaritane se honger en dors na verlossing was enersyds so groot en andersyds was hul nuut gevonde oortuiging dat Jesus wel die Redder is van beide Jood en Samaritaan, so groot, dat hulle nie genoeg van Hom kon kry nie. Jesus het op hulle versoek nog twee dae langer by hulle gebly.

• Tweedens sien ons in v.41 dat die Samaritaanse vrou se getuienis verdere vrug dra, wanneer nog meer van die inwoners wat na Jesus gegaan het op grond van haar getuienis, maar wat nog nie op daardie stadium geglo het nie, tot geloof in Jesus kom.

5. TEN SLOTTE:
Hierdie gebeure wat homself afgespeel het by die put buite Sigem moes ’n klompie jare later vir een van Jesus se dissipels besondere betekenis ingehou het. Hierdie dissipel was Johannes die skrywer van hierdie Evangelie. Toe hy die Evangelie geskryf het, moes hy die impak en betekenis van Jesus se besoek aan Samaria ten volle begryp het, want jare na Jesus se besoek aan Samaria, het Filippus sendingwerk in Samaria gedoen – ons sien dit in Hand.8:5 ~ So het dit gebeur dat Filippus by ’n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Johannes was een die apostels wat saam met Petrus gestuur is om, in die woorde van Hand.8:15-17 ~ ...vir die mense daar (te) bid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. ’n Mens kan ook maar net wonder of die apostels nie dalk nog van die oorspronklike inwoners van Sigem wat tot bekering gekom die dag toe Jesus die Evangelie by die put met hulle gedeel het, tydens hierdie sendingreis ontmoet het nie – dalk nog die "vrou by die put" self ook!

Wanneer ons na hierdie verhaal luister en ons hou Jesus se "Groot Opdrag" in Matt.28 in gedagte, moet ons onsself afvra wat ons motief moet wees, wanneer ons in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag om dissipels te maak, uitreik na die verloregaande wêreld:
• Uiteraard moet ons eerste motief wees omdat Jesus ons die opdrag daartoe gegee het en behoort Skrifgedeeltes soos Matt.28:19 (...Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels...) en Rom.10:14 (Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?), of Jesus se opdrag in Joh.20:21 (Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook) en vele meer, die heeltyd in ons ore weerklink.

Geliefdes, ons hoef nie te vrees om uit te reik en te begin evangeliseer nie, want Jesus bemoedig ons deur in Hand.1:8 te sê ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Onthou ook Hand.28:28 ~ Hulle sál luister!
• Ons tweede motief en dryfveer wat ons moet hê om uit te reik en te evangeliseer, is die feit dat daar ’n verloregaande wêreld daarbuite is. Hulle is nie net verlore in hierdie lewe nie, maar vir ewig! Ons kan ook nie agteroor sit omdat ons in die uitverkiesing glo en sê dat hulle tog sal "inkom" op die regte tyd, want hulle is mos uitverkies nie. Nee, ons moet juis instrumente in die hand van die Here wees om daardie uitverkorenes "te gaan haal" en ons weet nie wie hulle is nie en daarom moet ons in gehoorsaamheid aan 2Tim.4:2, die Evangelie, volhardend en tydig en ontydig verkondig.