Ons het tot nou toe reeds baie tyd in Openbaring spandeer en veral het ons baie tyd spandeer aan die val van Jerusalem. Vir baie was hierdie ’n uitdagende tyd, want baie van ons moes ’n totale paradigma skuif ondergaan t.o.v. dit wat ons in die verlede geleer is oor Openbaring (hoewel daar baie min, indien ooit, uit Openbaring in my jonger lewe as lidmaat van die Gereformeerde- en later N.G. Kerk gepreek is), of wat ons maar so hier en daar uit gesprekke en dalk selfs uit die wêreldse pers t.o.v. Openbaring gehoor het – ek wil sover gaan as om te sê dat die meeste van ons (indien nie almal nie?), ons eie uiters wollerige en baie dikwels onbybelse siening (nie eens ’n standpunt nie) van klein deeltjies van Openbaring gevorm het.
Ons kom nou by ’n gedeelte in Openbaring waaroor daar ook menige verklaring bestaan, nl. die Bruilof van die Lam. Wat is die betekenis hiervan? Wanneer het dit, of gaan dit plaasvind? Wat is die betekenis daarvan, ens.?
In die voorafgaande gedeelte het ons gesien dat die sogenaamde "oorspronklike bruid van God," ’n afvallige, ontrou- en owerspelige vrou geword het wat uiteindelik deur God se oordele in 70 n.C. getref is.
Die trant en atmosfeer verander egter nou dramaties hier in hoofstuk 19, want hier vind ons ’n vreugdevolle gebeurtenis, waar daar lofsange is en ook ’n bruilof – die oue lê in die verlede en die nuwe word omhels. Trouens, ons vind hier die instelling en "lansering" van die nuwe verbond in Christus Jesus.
Ons moet egter voorbereid wees daarop dat hierdie hoofstuk ook nie sonder bloedige tonele is nie. Ons tref twee maaltye hier aan: die maaltyd van die Lam (19:1-10) en die maaltyd van God (19:12-21). Lg. maaltyd is ’n bloedige toneel, waar die roofvoëls van die hemel uitgenooi word om die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot, te eet (v.17-18).
Voor ons in meer detail kyk na hierdie hoofstuk, is daar ’n paar dinge waarvan ons kennis moet neem:
• Ons moet voortdurend in gedagte hou dat God die Vader nog altyd maar net een Bruid gehad het, nl. die ware Israel van God (dit is al die uitverkorenes deur al die eeue heen). God se ewige en onvoorwaardelike verbond met Sy uitverkorenes was nog altyd en sal altyd onaangeraak en vlekkeloos wees.
• Tweedens moet ons verstaan dat daar ’n metaforiese betekenis opgesluit lê in die gedagte van God wat "getroud" is/was met die geopolitiese Israel as volk. Hierdie verbond met Israel, was ’n voorwaardelike verbond. Soos ons reeds vantevore gesien het, word God se waarskuwing t.o.v. ’n verbreking van die verbond tussen Hom en Israel, in Lev.26 en Deut.28 uiteengesit. In kort, indien Israel, God sou gehoorsaam, sou God haar seën; indien Israel ongehoorsaam is, sal God haar straf en sal Israel vervloek wees.
• In die derde plek moet ons ook daarvan kennis neem dat indien God (ek sê dit met die uiterste piëteit) "in die huwelik wil tree" met die Nuwe Testamentiese Kerk, moet Hy eers "verlos" word van Sy verbond met Israel. Omdat ’n huwelik, ’n "tot-die-dood-ons-skei-verhouding" is, moes God Israel "teregstel", vir hul doodsonde van owerspel.
• Ons moet laastens daarop let dat God nie eers "in die huwelik getree" het met die Kerk na die verwoesting van Jerusalem nie. Die huwelik tussen God en Sy uitverkorenes kan al die pad teruggespeur word tot by die Tuin van Eden. Die nuwe verbond was egter eers ten volle ingestel met die val van Jerusalem. Na aanleiding hiervan vind ons dan dat Openb.19 ’n figuurlike of sinnebeeldige beskrywing is van God se huwelik met die Kerk. -
1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.19:1-5 ~ Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel
wat uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God! 2Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.” 3Verder het hulle uitgeroep: “Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid op.” 4Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Prys die Here!” 5Toe het daar ’n stem van die troon af gekom wat gesê het: “Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!” 6Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.
Ons vind hier ’n uitgelate gejubel in die lig van die naderende bruilofsmaal. Dit is egter ook opmerklik dat die Here se majesteit hier besing word – God se ou verbondsvolk het die verbond met God verbreek, maar God sal steeds verheerlik word deur Sy Bruid.
In die oorspronklike teks word die woord Halleluja vv.1-6, vier keer gebruik (hier in die N.A.V. vertaal met ~ Prys die Here!). Die Hebreeuse woord "Hallelujah" (ἁλληλουϊά / hallēlouia) is ontleen aan "halal" en "jah". "Halal" (let op: Nie "halaal" nie) beteken "lof" of "lofspraak" en "jah" is ’n verkorte vorm van "Jehova". Ons sien daarom dat Halleluja niks anders beteken nie, as "loof Jehova". In die Hebreeuse teks kom hierdie uitdrukking nagenoeg 26 keer in die Psalms voor (o.a. Ps.102:18; 104:35; 105:45; ens.). Dit word elke keer in Engels as "praise the Lord" vertaal (daar bestaan verskeie vertalings in Afrikaans). Halleluja is dus ’n woord wat direk uit die Ou Testament kom en kom 26 keer voor in die O.A.V. (bv. Ps. 104:35; 148:1; Openb.19:1, 3-4, 6). Die N.A.V. gebruik eerder "prys die Here", ens.
Die "Hallelujas" wat hier in Openb.19:1-5 gebruik word, is uitdrukkings van lof aan Jehova (die ewige God) – en daar is vier van hierdie uitdrukkings in die gedeelte waarna ons nou kyk. ’n Huwelik is altyd rede tot feesviering en dit is presies ook die geval met hierdie huwelik wat in Openb.19 beskryf word en daarom vier "hallelujas" in net ses verse!
Die eerste "halleluja" wat Johannes hoor, was soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel. Ons kan nie met sekerheid sê wie hierdie skare in die hemel is nie, maar hierdie eerste halleluja in v.1 prys God vir die verwoesting van Jerusalem en dan spesifiek omdat God se oordele regverdig en reg is (v.2). Ons het al gesien hoe Jerusalem, ...die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het (Openb.14:8) en hoe Jerusalem die gelowiges vervolg en gedood het (Openb.6:10) en o.a. op grond hiervan juig die menigtes in die hemel en hierdie hallelujas word uitgesing in ooreenstemming met bv. Openb.18:20 ~ Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek.
Hierdie menigte, het ’n persoonlike verhouding met God en ons sien dit in v.1b waar hulle sê ~ ...die mag behoort aan ONS God. Nou loof en prys hulle, húlle God omdat Hy Jerusalem laat val het. Let op, dit is nie die Palestyne, of Irakiërs (of wie ook al) wat God loof en prys nie – dit is Sy eie kinders.
Die tweede "halleluja" kom ook van dieselfde groep van wie die eerste halleluja gekom het en hulle eer God omdat Jerusalem nie meer sal bestaan nie. Hierdie gebeure herinner sterk aan Jesaja se profesie teen Edom in Jes.34:10 ~ Dit sal bly brand, dag en nag; die rook sal aanhou opstyg. Geslagte lank sal die land in puin lê; tot in die verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie. Ons kan moontlik ook hierin, ’n metaforiese verwysing na Gen19:27-28 sien, waar die verwoesting van Sodom en Gomorra weergegee word ~ Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het. 28Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit ’n steenoond is.
Edom het weliswaar weer as volk opgestaan nadat Jesaja se profesie vervul is, maar hulle het nooit weer in al hul glorie herrys nie. Op dieselfde wyse is die verwysing na Jerusalem se rook wat opstyg tot in alle ewigheid, nie ’n letterlike, of fisiese oordeel nie – dit gaan meer oor haar geestelike oordeel. Op ’n stadium was Jerusalem, menslik gesproke, God se stad – Sy woonplek. Jerusalem sal egter nooit weer herstel word tot haar volle glorie nie. Dit beteken natuurlik nie dat die Jode in Jerusalem nooit gered kan word nie. Trouens, op grond van Rom.9-11 glo ek dat daar ’n tyd sal kom dat daar groot hoeveelhede Jode onder die geklank van de Evangelie gered sal word, maar Jerusalem as stad sal nooit weer die "uitverkore geestelike stad" wees wat sy op ’n tyd was nie, want haar rook styg op tot in alle ewigheid.
Die fokus verskuif nou na die derde "halleluja" in v.4 wat deur die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens uitgeroep word. Hierdie is die laaste keer dat ons met hulle in Openbaring te doen sal kry. Hulle "halleluja" word voorafgegaan met die woord "Amen" wat "mag dit so wees", of ’n betuiging van instemming, beteken. Dit mag dalk nie "goed op die oor val" om te hoor dat God se kinders "amen" uitroep op Sy oordele en vernietiging van ’n stad en sy inwoners nie, maar dit is presies wat gebeur het en ons sal dit van naderby moet beskou.
Ek was al in kerke waar mense kort-kort "amen" uitroep terwyl die predikant/pastoor preek – dit gaan partykeer so erg dat ’n mens geen ander afleiding kan maak as dat hierdie "uitroeper(s)" nie regtig hoor wat gepreek word nie, want op baie plekke pas die "amen" glad nie – dit word natuurlik gedoen om die indruk te skep dat daar wel baie noukeurig geluister word. Ander kere kom so ’n "amen" uit ’n eiegeregtige hart – "Amen Pastoor, amen, jy praat nou oor broer X in die derde ry van voor af en hy moet dit hoor – sê hom pastoor, sê hom!" Terwyl daar geen Bybelse gronde is vir mense om bevestigend op ’n prediker se boodskap "amen" te sê nie, kan dit tog somtyds bemoedigend vir beide prediker en gemeente wees en God kan ook daardeur verheerlik word, wanneer sulke "amens" met omsigtigheid, sensitiwiteit en opregtheid uitgespreek word. Ek wil egter onmiddellik bysê, dat dit eerder (indien ooit gedoen), die uitsondering as die reël moet wees, enersyds omdat dit steurend kan wees vir andere en andersyds omdat dit tot struikeling kan lei tot ’n prediker wat dalk soek vir erkenning (trots) – dit is natuurlik maar ’n persoonlike opinie. Hoe dit ook al sy, daar bestaan geen twyfel daaroor nie, dat al vier-en-twintig ouderlinge in die hemel saamgestem het toe hulle ’n "amen" en ’n "halleluja" uitgeroep het op God se oordele. Terwyl die wêreld nie God se oordele oor Jerusalem dalk verstaan nie, het die ouderlinge in die hemel en die ander hemelwesens, dit beslis verstaan en saam met God daaroor gestem.
Die vierde "halleluja" som die lofprysing van God se kinders oor Sy oordele pragtig op. Ons kan weereens nie met sekerheid sê wie se stem van die troon gehoor word nie (v.5). Ek glo dat dit ’n berekende besluit sal wees wanneer ons sê dat dit Jesus Christus se stem is wat van die troon gehoor word en dat Hy Sy broers oproep om saam met Hom, God te verheerlik ~ Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing” (Hebr.2:11-12). Hierdie is natuurlik ook ’n ego van Ps.22:23 (O.A.V.) ~ Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Ons is Jesus se broers en Hy is ons "Oudste Broer".
Jesus wie se hartstog altyd is om God te verheerlik, roep Sy broers op om saam met Hom, God te verheerlik oor Sy geregtigheid. Toe Jerusalem verwoes is, het Christus Sy Koningskap volkome opgeneem en sal Hy bly regeer tot die einde toe wanneer Hy die Koninkryk weer aan Sy Vader sal oorhandig ~ Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles (1Kor.15:24-28). Christus eer Sy Vader omdat Hy nou die nuwe verbond ten volle geïmplementeer het en die Kerk ontvang opdrag om hulle by die kore van die hemel te voeg en God te verheerlik omdat hulle die Bruid van Christus geword het. Daar was oorgenoeg rede vir die Kerk om God te verheerlik oor Jerusalem se val, want die val van Jerusalem het die weg gebaan vir die nuwe verbond en die gelowiges wat deel daarvan uitmaak.
Ons sien dan in v.6 hoe dat God se broers reageer op Sy oproep tot lofprysing ~ Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. Die verwysing na ’n groot watermassa en die gedreun van swaar donderweer, is ’n aanduiding dat daar ’n verbond gesluit is – die nuwe verbond. Ons sien soortgelyke gebeure met die sluiting van die ou verbond aan die voet van die Berg Sinaï in Eks.19.
In kort dan, was die verwoesting van Jerusalem ’n gebeurtenis waardeur Jesus bewys het dat Hy regeer en waartydens Hy die nuwe verbond volkome ingestel het – dit was ’n gebeurtenis wat aangedui het, dat die huwelik tussen Hom en Sy bruid binnekort sou plaasvind.