Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 44 (Die Val van Babilon - 03)

Daar is op verskeie plekke in Openbaring geprofeteer oor die val van Babilon. Ons het die vorige keer in detail daarna gekyk toe ons 17:1-18 behandel het. Babilon – Jerusalem soos reeds aangedui, sou deur die multinasionale magte van Rome verwoes word. Trouens Jerusalem het reeds in hoofstuk 17 geval, maar die profesie het nie daar geëindig nie, want ons sal nou hier in hoofstuk 18 die effek van Jerusalem se val sien. En ons sal sien dat die val van hierdie stad, die ergste is wat die wêreld nog gesien het. Waarom sê ek dit? Hierdie was nie net ’n militêre, politiese, of ekonomiese val nie, maar dit was primêr ’n "verbondsval". ’n Val van hierdie aard het nog nooit vantevore plaasgevind nie en ook sal dit nie in die toekoms herhaal word nie. -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.18:1-3 ~ Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig. 2Hy het met ’n sterk stem uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere, 3omdat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.” Die drie openingsverse van hierdie hoofstuk beklemtoon die sekerheid, asook die oorsaak van Jerusalem se val. Van ’n stadium wat die stad die "Ingang na God" was, het die stad verval tot ’n "stad van verwarring".

Johannes het al talle engele gesien in die visioene wat God aan hom gegee het, maar nou sien hy ’n ander engel wat vanuit die hemel afkom. Hierdie engel het oor groot mag beskik. Die woord "gesag" (let op: O.A.V. = "gesag" en E.S.V. = "authority") in die Grieks wat hier gebruik word is ἐξουσία (exousia). Hierdie is dieselfde woord wat Jesus in Matt.28:18 gebruik het toe Hy gesê het ~ Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Soos wat hierdie engel neergedaal het op die aarde, het sy heerlikheid die aarde verlig. Hierdie woord "heerlikheid" wat hier gebruik word, is ’n baie belangrike woord. Die woord "heerlikheid" word nêrens in Openbaring toegeskryf aan ’n engel nie. Trouens, elke keer wanneer hierdie woord gebruik word, word dit toegeskryf aan God. Dit kan dus nie anders as om hierdie engel, wat beskik oor gesag en heerlikheid, te identifiseer as die Here Jesus Christus self nie.

Hierdie is natuurlik nie die enigste keer dat Jesus uitgebeeld word as ’n engel nie. Die "sterk engel" van 10:1-7 is ook Christus. Dit maak ook sin dat dit juis Christus sal wees wat die finale val van Jerusalem sal aankondig, want die Joodse oorlog wat sy hoogtepunt in 70 n.C. bereik het, was Sy wraak op diegene wat Hom gekruisig het.

Terwyl Christus uit die hemel afkom, het Hy met ’n sterk stem uitgeroep ~ Geval, geval het die grote Babilon. Hierdie uitroep is ’n presiese herhaling van die woorde in Jes.21:9. In die Ou Testamentiese tyd was Babilon, Israel se grootste vyand en God het in Jesaja aangekondig dat Babilon sou val. Nou het Israel nes haar grootste vyand geword en is sy op die punt om daaronder te ly. Haar verwoesting was verseker en finaal: sy sal nooit weer herrys as die Verbondstad of -volk van God nie.

Gary M. Burge het die volgende gesê: Evangelical Christians today have mande an unholy relation to Jerusalem and the land of Israel. They have adopted a 'Holy Land Theology', in whoch the defense of 'place' has become a religious duty. So-called embassies, federations, and foundations have organized evangelical money and clout in order to defend political interests in the region. What is most distressing is that they have Arab brothers and sisters in Christ (more than 135 000) who often suffer because of these politics. Soos vantevore reeds gesê, het Israel op grond van o.a. Jos.11:23 en 21:43, die volste reg om vanuit ’n politiese oogpunt daarop aanspraak te maak om ’n soewereine land te wees wat beskik oor sy eie grondgebied. Die beloftes en reg om God se volk genoem te word, het hulle egter grootliks verloor a.g.v. hul verbreking van hul verantwoordelikheid t.o.v. die Ou Verbond en natuurlik a.g.v. hul ontrouheid teenoor God. God het gehou by Sy beloftes wat Hy teenoor Abraham, Isak en Jakob gemaak het, maar Hy staan onder geen verpligting om Sy beloftes ’n tweede en ’n derde en ’n vierde keer, ens. te vervul, nadat Israel hul verantwoordelikheid nie nagekom het nie. Daarom kan Israel (of enige ander fanatiese Israel-ondersteuner) onder geen omstandighede daarop aanspraak maak om die volle grondgebied weer terug te kry wat hulle oorspronklik van God ontvang het nie en ook kan hulle nie meer aanspraak maak op die titel "Beloofde Land", of "Volk van God" nie. Die Ou Verbond is in 70 n.C. finaal vervang met die Nuwe Verbond – God het dus reeds Sy "Bakke van Oordeel" (Openb.15) oor Israel uitgestort. Elke gelowige van elke volk, stam en taal wat in Christus Jesus ingeplant is, is nou "Volk van God" – die ware Kerk van die Here Jesus Christus is dus nou God se volk.

Die bekendmaking van die oordeel was nie vaag nie. Daar was ’n baie spesifieke rede waarom Israel geval het en de redes is uitgespel in 18:2-3 ~ ... Dit het die, 3omdat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.

Die rede waarom Israel geval het, is tweeledig van aard:
• Eerstens omdat Sy vuil, besmet en onrein is. Sy het die ...blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere (v.2). Vir Israel om die blyplek van bose geeste te word, was ’n baie ernstige saak, juis omdat dit eens die blyplek van die heilige God was. (Eks.15:17; 1Kon.8:39, 43, 49; 2Kron.30:27; Ps.33:14; 76:2; 107:7). Jerusalem het onrein geword – elke ding wat in die Ou Testament as onrein verklaar was, het nou inherent deel van Jerusalem geword! Die historikus Josefus het die volgende ooggetuienis gelewer: I shall therefore speak my mind here at once briefly: ...that neither did any other city ever suffer such miseries, nor did any age ever breed a generation more fruitful in wickedness that this was, from the beginning of the world. Hy gaan voort en sê: ...indeed that was a time most fertile in all manner of wicked practices, insomuch that no kind of evil deeds were then left undone; nor could any one so much as devise any bad thing that was new, so deeply were they all infected and strove with one another in their single capacity, and in their communities, who should run the greatest lengths in impiety towards God, and in unjust actions towards neighbours, the men of power oppressing the multitude and the multitude earnestly laboring to destroy the men of power. The one part were desirous of tyrannizing over others; and the rest of offering violence to others, and of plundering such as were richer than themselves. Hy sluit af: I suppose, that had the Romans made any longer delay in coming against these villians, the city would either have been swallowed up the ground opening upon them, or been overflowed by water, or else been destroyed by such as the country of Sodom perished by, for it had brought forth a generation of men much more atheistical than were those that suffered such punishments; for by their madness it was that all the people came to be destroyed.

Die Woord sê vir ons dat Jerusalem die blyplek van die bose geeste geword het en vanuit buite-bybelse getuinenis sien ons hoe dat hierdie booshede in die praktyk in Jerusalem gemanifesteer het en spesifiek ook tydens die Joodse oorlog.
• Tweedens het Israel se verwoesting plaasgevind omdat sy soos ’n onrein- en owerspelige vrou opgetree het (v.2-3). Natuurlik is die onreinheid wat hier ter sprake is, geestelike onreinheid van alle soorte. Die wyse waarop "die nasies" aan hierdie onreinheid deelgeneem het, word in die res van die hoofstuk vir ons beskryf. In kort, moet ons onthou dat Jerusalem veronderstel was om ’n Lig vir die nasies en ’n tuiste vir God te gewees het. Mense moes dus aangetrokke tot Jerusalem gevoel het – en hulle was! Maar, wanneer hulle in die stad gekom het, het hulle in plaas van God se heerlikheid en heiligheid te ervaar, geestelike owerspel en onreinheid beleef en is hulle daarin opgeslurp. Derhalwe het Jerusalem geval en die volk van Israel saam met haar.

3. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.18:4-5 ~ Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie. 5Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou. Baie gelowiges wonder nou wat die kerk met Israel moet doen – hoe moet die kerk optree t.o.v. Israel? Die kerk het in werklikheid baie te doen met die stad se val, want terselfdertyd wat die owerspelige bruid van Judaïsme verwoes is, het die rein en vleklose bruid van Christus (die kerk), haar vereniging met haar Bruidegom ervaar. In die lig hiervan word ’n ernstige bevel aan die ware Israel in hierdie hoofstuk gerig.

God praat hier met my volk. Hierdie uitdrukking word ongeveer 231 keer in die Bybel gebruik, waarvan 228 ondubbelsinnig met Israel verbind word. Ongelukkig is Israel nie meer God se volk nie – nou word God se "nuwe volk" geroep om pad te gee uit Jerusalem. Daar was ongetwyfeld Joodse Christene in Jerusalem, trouens die meeste gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het voor die verwoesting van die stad was hoogs waarskynlik Jode, maar die geopolitiese Israel was nie meer die middelpunt van God se verbond nie, maar wel die kerk wat nou God se kinders is.

Twee redes word hier verskaf waarom God se kinders uit Jerusalem gevlug het:
• ...sodat julle nie aan haar sondes deel kry (v.4). M.a.w., God sê hier vir Sy kinders: Vlug uit die stad uit, want Ek wil nie hê julle moet soos hulle word nie. Hier moes nou ’n duidelike skeiding kom tussen God se kinders en die afvallige Israel. Ja, Israel was godsdienstig. Ja, hulle het die Ou Testament gebruik en het daarop aanspraak gemaak dat hulle geglo het, maar hulle het nie waarlik geglo nie – hulle was ’n sondige en afvallige volk en God se ware kinders moet hulle afskei van hierdie afvalliges, want anders staan hulle die gevaar om deel te hê aan Israel se sonde en sodoende deel word van die afvalliges.
• Tweedens, dat die plae wat oor haar kom, julle (nie) ook tref nie. Hierdie plae is natuurlik die oordele van God wat oor Jerusalem "uitgestort" gaan word a.g.v. haar afvalligheid. Indien die Christene in Jerusalem bly, gaan hulle ly onder dieselfde oordeel wat die res van die Jode gaan tref. Nie omdat hulle ook afvallig was nie, maar omdat hulle nie hulleself afgeskei het van die afvalliges nie. Derhalwe moet hulle so gou moontlik uit die stad vlug as hulle nie ook wil ly en sterf onder die oordele wat die stad gaan tref nie. God se oordeel was onomkeerbaar; die tyd het uitgeloop. Israel se sonde het tot aan die hemel opgehoop.

Hierdie was natuurlik nie die eerste keer dat die gelowiges gehoor het dat hulle moet vlug nie. Jesus het hierdie waarskuwing reeds in Sy Profetiese Rede tot die gelowiges gerig ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21Dan moet dié wat in Judea is, die berge invlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid (Luk.21:20-22). Die oomblik wat die gelowiges dus die waarskuwing in Openb.18:4-5 gehoor het, het hulle onmiddellik die noodsaak daaraan besef om so gou moontlik uit die stad te vlug. Veral toe die gelowiges die naderende Romeinse magte gesien het, het hulle onmiddellik in gehoorsaamheid aan die Woord, gevlug.

4. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.18:6-8 ~ Behandel haar soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het. In die beker waarin sy vir julle ingeskink het, moet julle vir haar twee keer soveel inskink. 7In die mate waarin sy gepronk en in wellus gelewe het, in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen. Sy sê by haarself: ‘Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.’ 8Daarom sal al die plae haar op een dag tref: pes, droefheid en hongersnood. Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.” Dieselfde stem wat in vv.4-5 opdrag aan die gelowiges gegee het om te vlug, praat steeds met die gelowiges in vv.6-8 en gee ’n baie eienaardige opdrag hier aan die gelowiges, nl. om Jerusalem te vergeld in ooreenstemming met wat Jerusalem aan hulle gedoen het. Indien Christus die Een is wat die oordeel oor Jerusalem moet bring, hoe kan die kerk hier, opdrag ontvang om dit te doen? Dit maak tog nie sin nie. Moontlik lê die antwoord opgesluit in die gebede van die gelowige martelare waarvan ons in die vyfde seël gelees het ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is (Openb.6:9-11). Verse 6-8 sê dus nie vir ons dat die gelowiges opdrag ontvang om God se oordele oor Jerusalem fisies te voltrek nie, maar om te bid dat God se regverdige oordele voltrek sal word.

Ons is in ons dag, heeltemal té "sag" as dit kom by God se oordele. Wanneer ons ongeregtigheid om ons sien, moet ons ook bid dat God Sy oordele oor sonde sal laat geld. Bid ons ooit vir die val van Islam, Hindoeïsme, Boeddhisme, Animisme (voorvadergees aanbidding) ens? Hierdie is vals godsdienste en bring derhalwe nie eer aan die ware en heilige God nie. Dit is dan presies ook wat die "Stem" hier in vv.6-8 vir die kerk sê om te doen en soos wat die gelowiges gebid het, was hulle deel van die verwoesting van Jerusalem. Ons moet die val van die vyand begeer en daaroor bid – óf d.m.v. bekering, óf d.m.v. God se oordele wat val op hierdie vals godsdienste wat soveel mense in die wêreld mislei.

Waarom moet Jerusalem veroordeel word? V.7 ~ In die mate waarin sy gepronk en in wellus gelewe het, in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen. Sy sê by haarself: ‘Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie. Hierdie is ’n direkte aanhaling uit Jes.47:6-8. Jerusalem het haarself verhoog ten koste van die Kerk van die Here Jesus. Jerusalem het besluit om op grond van haar eie self-regskapenheid en hooghartige- en sondige gesindheid, self regter te speel en God se kinders te vervolg en dit het tot gevolg gehad dat sy God se oordele oor haarself gebring het – Jerusalem moet verwoes word.

Op dieselfde wyse as wat die val van Jerusalem onder Nebukadneser, gedurende die sesde eeu v.C., die wêreld geruk en ’n direkte invloed op die wêreld gehad het (sien Jer.25:27-38), net so het die val van Jerusalem, groot rampspoed ingehou vir die wêreld van die eerste eeu na Christus. Hierdie rampspoed word in 18:9-19 beskryf. In Lev.26:1-3 en Deut.28:1-14 het God voorspoed belowe aan Israel indien sy getrou bly aan die verbond. Maar helaas, sy was nie getrou nie en nou sien ons die gevolg daarvan – Jerusalem val en dit word op verskeie wyses beskryf en daarna sal ons D.V. volgende keer kyk.