Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 43 (Die Val van Babilon - 02)

Ons het die vorige keer gekyk na Eks.28:1-34 en die ooreenkoms gesien tussen die vrou wat op ’n helderrooi dier sit (v.3) en Jerusalem. Ons het ook gesien dat al die kleure wat Johannes daar gesien het, die kleure verteenwoordig het wat deel was van die priesterlike kleed wat die priesters gedra het in hulle diens onder die Ou Verbond. -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.17:6b-13 ~ Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder. 7Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het. 8“Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. 9“Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings. 10Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort rukkie bly. 11Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe. 12“Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking. Die sedelose vrou en die dier word hier beskryf as ’n "verborgenheid" (N.A.V. = verborge betekenis). Hierdie is ’n baie belangrike uitdrukking in die Nuwe Testament. In die Efesiër brief verduidelik Paulus die geheimenis van die kerk – hy verduidelik dat die doel van die kerk is om beide heiden en Jood in dieselfde Nuwe Testamentiese kerk te verenig. Hierdie verborgenheid kan ver terug nagespeur word in die Ou Testament en wel so ver as Gen.9:24-29 waar Noag geprofeteer het dat Sem in ’n verbondsverhouding met God sal staan en dat Jafet eendag in die tente van Sem sou bly, m.a.w. hulle sal deel in die seën van Sem se verhouding met God. Die fokus van Sem se nageslag was op Israel gevestig, terwyl Jafet se nageslag se fokus op die heidene gevestig was. Dit impliseer dus dat die heidene ook eendag sal kan deel in dieselfde seën van ’n verbondsverhouding met God, as wat die Jode geniet het.

Soos wat ’n mens die Ou Testament lees, vind jy egter dat hierdie profesie ’n al groter misterie raak, want dit lyk nie asof die Jode en die heidene in dieselfde seën deel het nie. Hoe op dees aarde sal hierdie twee dan ooit in een liggaam verenig kan word?

Paulus klaar hierdie misterie in die Nuwe Testament op deur na een liggaam in Christus te verwys. In Christus sal Jood en heiden in een liggaam (die kerk van die Here Jesus Christus) verenig word. In Christus sal die heidene dus deel kry aan die verhouding met God wat die Jode so lank geniet het. Openbaring klaar hierdie misterie nog verder op deur daarop te wys dat daar maar net een verbond is – m.a.w. daar is nie een vir die Jode en een vir die heidene nie. Die Jode sal dus nie op ’n ander wyse gered word as die heidene nie. Die twee sal nie twee verskillende verhoudings met God geniet nie. Nee, hulle sal in Christus Jesus, een en dieselfde verhouding met Christus geniet.

Ten einde hierdie misterie eens en vir altyd op te klaar en die eeue oue tradisie dat net die Jode in verhouding met God staan, uit die eerste eeu se Jode se hele wese verwyder, moes die Judaïsme wat in die tempel vergestalt was, vernietig word. Eers dan sal almal verstaan dat ’n verhouding met Jesus Christus en die Christendom, nie vergestalt word deur een enkele gebou (die tempel), of een spesifieke land (Israel), of een spesifieke stad (Jerusalem) nie.

Laat ons nou weer die dier se identiteit ondersoek. Die eerste wenk t.o.v. die dier se identiteit vind ons in 17:8 ~ Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. Op die oog af lyk hierdie na ’n mond vol, maar kom ons ontleed dit ’n bietjie. Indien die vrou ’n bose en bespottende nabootsing van die Joodse priesterskap was, dan is die dier ’n parodie (bespotting) van die opstanding. Ons het reeds die dier van Openb.13 geïdentifiseer en gesien dat dit ’n vergestalting van die Romeinse Ryk is. Ons sal binnekort sien dat die dier van Openb.14, presies dieselfde dier is (die Romeinse Ryk).

Wat die identiteit van die dier ook al mag wees, dit moet ’n stad, of volk, eerder as ’n individu wees, want die beeld van die dier stem ooreen met die van die vrou, wie ons gesien het, verteenwoordigend van Jerusalem is. Uiteindelik sal dit sterf, maar weer opgewek word in nuwe krag en lewe, voor dit verwoes en/of verdoem word. Nero het gedurende die Joodse Oorlog op 9 Junie 68 n.C., selfmoord gepleeg. Soos reeds vantevore gesien, het hierdie gebeurtenis die ganse Romeinse Ryk in chaos gedompel en dit het letterlik gelyk asof die Ryk gesterf het. Vir nagenoeg 18 maande het dinge van sleg tot baie sleg gevorder in die Romeinse Ryk. Dit het geblyk asof die Ryk vernietig is en nie weer sal herleef nie.

Wonder bo wonder het dit egter oorleef. Vespasianus wat die veldslag teen Jerusalem gevoer het, keer terug na Rome en eis die troon van Caesar op vir homself en hy het die Ryk weer laat "herleef". Rome is herstel as die wêreld se magtigste ryk en die mense van Die bewoners van die aarde (Palestina) ... sal verwonderd wees hieroor – Waarom? Omdat Rome, wat oënskynlik geval het, nou weer wonderbaarlik herrys het (...as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees - v.8). Die Romeinse Ryk het egter uiteindelik permanent verdwyn toe die Visgote, Rome in 410 n.C. oorgeneem het – die Ryk het nooit weer daarna opgestaan nie.

Vers 8 pas dus baie gemaklik in by die verklaring hierbo, nl. dat die dier Rome is. Wat egter van die res van die verse? Die engel gaan voort en sê ~ Hier is verstand en wysheid nodig.... Die engel sê inderwaarheid ~ Ek gaan nou vir julle in geen "onduidelike terme" vertel wie die dier is en slegs ’n dwaas sal dit nie verstaan nie. Indien v.8 dalk kripties voorgekom het, is dit beslis nie die geval met ons volgende vers nie!

In v.3 het ons gesien, dat die dier sewe koppe gehad het – dit word nou in v.9 verduidelik ~ ...Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Die O.A.V. stel dit vir ons duideliker ~ ...Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. Die betekenis van de sewe berge was nie ’n raaisel vir die eerste eeu lesers nie en so ook nie vir diegene wat die geskiedenis ken nie. Rome het bekend gestaan as die stad van sewe heuwels (ons het heelwat vroeër al daarna verwys – sien (http://en.wikipedia.org/wiki/Seven_hills_of_Rome).

Weereens word hier verwys na die vrou wat op die dier sit – op Rome dus. Hierdie beeld verwys na Jerusalem wat "op die rug gery het" van Rome met die vervolging van gelowiges. Ons kan dit regdeur die boek Handelinge sien – die Jode het hulle optrede teen en die vervolging van die gelowiges geregverdig en gegrond op die Romeinse wetgewing.

Hierdie bepaalde vers het ’n verdere probleem tot gevolg vir diegene wat verkondig dat die "sedelose vrou", Rome is. Hoe is dit dan moontlik dat Rome op Rome kon sit? Dit maak tog nie sin nie. Die vrou en die dier moet tog twee verskillende entiteite wees. Aangesien die bees sonder twyfel, Rome is, moet die vrou tog iets of iemand anders wees.

Die engel gaan voort met sy verduideliking ~ Verder is hulle ook sewe konings. 10Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort rukkie bly. Weereens is hierdie ’n baie duidelike verwysing na Rome (ook hierna het ons al vroeër verwys). Wat belangrik is om hier te onthou (weereens) is dat Openbaring nié in 95 n.C. geskryf is nie, maar wel voor 70 n.C. (moontlik 66 n.C. - soos vantevore verduidelik). Die vyf konings wat reeds geval het, was Julius Caesar, Augustus Caesar, Tiberius Caesar, Caliga Caesar en Claudius Caesar. Die een wat nou hier is moet dus Nero wees wat keiser was toe Johannes, Openbaring geskryf het en Die ander een (wat) nog nie gekom (het) nie (en wat net) ’n kort rukkie (sal) bly, is Galba. Galba het regeer van Junie '68 tot Januarie '69 (ongeveer 7 maande). Van die ander het Caliga die kortste regeer (4 jaar), terwyl al die ander langer as 10 jaar regeer het. Die sewe maande wat Galba regeer het, was voorwaar ’n kort rukkie in vergelyking met sy voorgangers.

Die beswaar dat Rome se leiers nie konings was nie, maar Caesars is eintlik irrelevant en verdien nie regtig aandag nie, omdat die Woord van God nie begaan is oor korrekte titels nie. Net die volgende egter kortliks: Volgens verskeie Skrifverwysings was die Romeinse keisers, ook konings genoem ~ Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante... (O.A.V. – 1Pet.2:13). Net so word die Egiptiese Farao's ook konings genoem ~ ’n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het ’n skinker en ’n bakker van Egipte se koning... (Gen.40:1 – sien ook Gen.40:5; 41:46). In die konteks van v.9, kan die Caesars van Rome dus "konings" genoem word.

Die verklaring van die dier word voortgesit in 17:11 ~ Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe. Die Afrikaanse vertalings skiet hier tekort. Kom ons kyk na die E.S.V. wat nader aan die korrekte vertaling is ~ As for the beast that was and is not, it is an eighth but it belongs to the seven, and it goes to destruction. Let op na die lidwoord "an" (’n) wat voor die agste gebruik word. Dit is belangrik dat ons hiervan sal kennis neem, want dit dui daarop, dat hierdie koning nie noodwendig die koning na die sewende koning was nie. Die dier is dus ook ’n agste. Daar is dus nie ’n agste kop nie. Die sewe koppe verteenwoordig sewe konings, asook sewe heuwels, maar die agste is die dier in sy totaliteit – verteenwoordigend van almal saam. Die agste is derhalwe ’n verwysing na die Romeinse Ryk in geheel, na sy "herlewing" deur Vespasianus in 69 n.C. Hy het die Ryk tot sy vorige glorie herstel, maar soos reeds vermeld – dit sou nie vir altyd duur nie.

Vv.12-13 verwys na die glorie van hierdie herstelde Ryk ~ Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking. Die tien horings, of konings is die heersers (goewerneurs) van die tien provinsies van Rome. Hulle het oor ’n mate van gesag beskik in die herstelde Ryk, maar dit het net vir een uur geduur – vir ’n kort tydjie dus, want die Ryk sou nie vir lank bestaan nie. Vir ’n kort tydjie sou die goewerneurs (tien konings) dus krag verleen aan die Ryk – maar net tot in 410 n.C.

Ons het hier te doen met ’n herstelde Ryk wat nou saamspan om op te trek teen Jerusalem.

• Openb.17:14-17 ~ Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.” 15Verder het hy vir my gesê: “Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale. 16“Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand. 17God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. As ons hierdie verse lees en dit so is dat Rome nou optrek teen Jerusalem het ons te doen met ’n probleem. Die konfederasie van state wat saamgesnoer is in die Romeinse Ryk, sien ons, trek op om oorlog te maak teen die Lam. As ons egter sê dat Jerusalem nie meer onder die Lam se beskerming staan nie, hoe kan ons sê dat hulle oorlog gemaak het teen HOM – die Koning van konings? Aan wie se kant was Christus dan? Die Jode of die Romeine? Het ons dan nie in Openbaring geleer dat God die Romeine as instrumente in Sy hand gebruik het om Sy oordele te voltrek nie? Waarom staan hier dat hulle teen die Lam geveg het?

Die geskiedskrywer, Tacitus werp vir ons lig op hierdie kwessie. Toe die Romeinse magte teen Jerusalem opgetrek het, was daar meningsverskil oor of die tempel (wat op daardie stadium gesien is as een van die wonders van die wêreld) ook verwoes moet word of nie. Titus (die Romeinse aanvoerder van die magte) het egter daarop aangedring dat die tempel verwoes moes word, want in sy gemoed sou hulle daardeur twee vlieë met een klap uitgewis het. Titus het geglo dat die Judaïsme en die Christelike geloof, slegs twee vertakkings was van een en dieselfde godsdiens. Hy het geglo dat indien hy die tempel sou verwoes, hy terselfdertyd die Christendom sou vernietig. Dit kan dan die verklaring wees vir die woorde ~ ... Hulle sal teen die Lam oorlog voer.

Die engel se verduideliking aan Johannes gaan voort in v.15. Water in die Bybel en spesifiek in Openbaring, verteenwoordig dikwels heidennasies. Vroeër het ons gesien, het die "sedelose vrou" op die dier gesit; nou sit sy op die water. Weereens kan ons dus sê dat die dier en die water een en dieselfde is – dit is Rome wat op verskillende wyses beskryf word. Die Romeinse Ryk het uit verskillende heidennasies bestaan en daarom is water ’n toepaslike beskrywing vir die Romeinse Ryk.

In v.16 sien ons dat hierdie tien provinsies (die tien horings) uiteindelik die "sedelose vrou" gaan haat. Hulle sal haar uiteindelik haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand. Dit is interessant om te sien dat, volgens Lev.21:9, die dogter van ’n priester wat sedeloos optree, verbrand moet word.

Al hierdie dinge gaan om een rede gebeur ~ ...God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. God het vir eeue lank, Israel gewaarsku en hulle veroordeel vir hul ontrouheid – nou gaan hierdie oordele voltrek word! Die Romeine en haar lakei (Israel) het dalk ander doelwitte gehad, maar uiteindelik sal hulle volgens God se wil optree – soos altyd!

Jy mag dalk vra: Volgens God se wil? God is tog sekerlik nie die outeur van sonde nie? Natuurlik is Hy nie. Máár, Hy is wel in beheer van alles wat gebeur. Nêrens in die Skrif word dit duideliker gestel as juis tydens Petrus se preek op Pinksterdag nie ~ Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou (Hand.2:22-24).

Die Jode het skuldig gestaan voor God oor die feit dat hulle Jesus laat kruisig het. Tog, al was hulle skuldig, was God die Een wat Jesus aan hulle oorgegee het. Hier in Openbaring gebeur presies dieselfde nou. God gee die mens oor aan Sy eie verdorwenheid en dit is dan jus hierdie verdorwenheid van die mens wat God gebruik om Sy belofte van oordeel, te vervul. Hoe onbeskryflik is God se soewereiniteit nie.

• Openb.17:18 ~ Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen. Indien daar nog enige onduidelik bestaan het oor die identiteit van die vrou, word dit reggestel in v.18.

Daar was slegs vier stede in die hele Bybel wat die groot stad genoem word: Resen (Gen.10:12); Gibeon (Jos.10:2); Nineve (Jona 1:2; 3:2-3; 4:11) en Jerusalem (Jer.22:8). Net een van hierdie stede word in Openbaring, ’n groot stad genoem en dit is Jerusalem. Die identiteit van die groot stad blyk duidelik uit 11:8, wanneer dit praat van ~ ...die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is (O.A.V.). Die verwysing na ...die groot stad... waar ook onse Here gekruisig is en wat Sodom en Egipte genoem word, is dus sonder enige twyfel, Jerusalem.

Hoe kan daar egter gesê word dat Jerusalem heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen? Was hierdie gesag dan nie in Rome gesetel nie? Ps.46:4 en 87:3 sê baie duidelik dat Jerusalem, God se stad is. God se stad was tog immers altyd gesien as die middelpunt van die wêreld. Dit is waarom mense altyd in die Bybel sê dat hulle optrek, of opgaan na Jerusalem, ongeag van watter kant hulle gekom het.

As ons nou toelaat dat die Skrif, Skrif verklaar, dan moet ons tot die gevolgtrekking kom dat "Babilon" die groot stad, geen ander plek as Jerusalem self is nie. Fisiese en politiese Jerusalem heers egter nie meer oor die wêreld nie. Nee, die Nuwe Jerusalem, die Kerk van die Here Jesus Christus, is nou die groot stad wat oor die wêreld heers ~ Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ’n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom (Openb.21:10). Vanuit God se perspektief het Jerusalem nog altyd oor die konings van die aarde geheers, want dit was Sy woonplek. Vandag is die Nuwe Jerusalem Sy woonplek en heers die Nuwe Jerusalem oor die konings van die aarde.

3. IMPLIKASIES:
Wat is die implikasies van hierdie hoofstuk vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges?
• Eerstens sien ons dat die Nuwe Jerusalem ons fokus in hierdie wêreld moet wees en nie die geo-politieke Jerusalem nie. Ek glo dat Rom.11 praat van die redding van ’n menigte Jode op ’n bepaalde tyd. Indien die meeste Jode in Jerusalem na Christus sal draai, sal Jerusalem ongetwyfeld weer ’n groot stad word, maar dit sal steeds nie God se fokuspunt wees nie – die kerk is nie Jerusalem nie!
• Ons het gesien dat die Nuwe Jerusalem vandag in hierdie wêreld heerskappy voer en dit het tot gevolg dat ons alles in die stryd moet werp om die kerk onbesproke te hou. Salomo was, polities gesproke, Israel se grootste aardse koning, maar ’n nog groter Koning was aan't kom. En Sy heerskappy is baie meer omvangryk as wat Salomo of Jerusalem se heerskappy ooit was.
• Ons moet laastens leer uit Jerusalem se gebreke. Jerusalem van die eerste eeu was nie die ware Israel, of volk van God nie, want Jerusalem het die Messias verwerp.

1Kor.10 en Rom.5:1-4 waarsku ons om uit Israel se sonde te leer en nie in dieselfde sonde te verval nie (Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” 4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees). Nie elkeen wat bely dat Jesus die Christus is, is noodwendig waarlik gered nie. Dit is egter nie my en jou taak om vas te stel wie ware gelowiges is (en daarom deel van die Kerk van die Here Jesus is) en wie nie – ons moet eerder seker maak of ons waarlik gered is. Laat ons nooit op ’n punt wees waar ons dink dat ons redding in ’n gebou; of ’n familie waarin ek gebore is, of my doop; of "my kerk"; of selfs my belydenis, gesetel is nie. Redding is slegs in Christus Jesus gesetel. Hy is die Koning van alle konings en die Here van die here – kleef aan Hom met ’n onwrikbare geloof!

Ons moet versigtig wees wat ons met Christus doen. Hy is die enigste weg tot God die Vader – Hy is die enigste Redder vir die wêreld. Om Hom te verwerp is jy verdoem vir ewig! Daarom moet ons, ons sonde bely; ons bekeer en in die Evangelie van Jesus Christus glo. As ons dan glo, moet ons nooit skaam wees vir die Evangelie nie, want dit is die Koning se krag wat lei tot redding vir elkeen wat glo – beide Jood en heiden!