Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 39 (Dit is Verby! - 02)

Ons het die vorige keer gesien dat Johannes in sy visioen gesien het dat daar geen kans vir voorbidding sou wees wanneer God se oordele oor Jerusalem en die Tempel uitgestort word nie en daar sou geen voorbidding gedoen kon word totdat die engele se plae vervul is nie.

Ons het ook gesien dat hierdie oordele nie vae, ondeurdagte, of universele oordele was nie, omdat God reeds tydens die verbondsluiting, die volk gewaarsku het, dat Hy hierdie spesifieke oordele oor hulle sou laat kom indien hulle nie gehoorsaam bly aan die verbond nie en dat hierdie oordele slegs op Israel van toepassing was, omdat slegs hulle in verbond met God gestaan het (Deut.28:15). -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.16:5-7 ~ Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; 6want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien.” 7Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: “Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele.” Hier in vv.5-7 sien ons iets van ’n onderbreking in die oordele ten einde God se regverdige oordele te erken en aan te prys. Daar is geen klagte en daar bestaan geen verwarring t.o.v. hierdie oordele nie – nie wat die engele betref nie en ook nie wat God se martelaars betref nie (v.7).

Die engel wat oor die water toesig hou, is hier aan die woord. Die Griekse woord ἄγγελος (angelos) beteken natuurlik "boodskapper" – sien bv. Matt.11:10 ~ Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak (sien ook Mark.1:2; Luk.7:24, 27). Hierdie engel was die een wat sy bak oor die waters leeg gemaak het en hy erken dat God regverdig is in al Sy optredes en besluite. Wat hier belangrik is, is dat hierdie engel nie God se optrede en oordeel bevraagteken; of daaroor kla; of dit regverdig; of verdedig nie. Wat hy doen is bloot om God se optrede aan te prys, deur te verklaar dat God se optrede regverdig en heilig is, omdat dit Israel is wat die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet het en daarom dat God hulle self bloed laat drink het (v.6).

Dit is so tragies om te besef dat die naam "Jerusalem" eintlik "plek van vrede" beteken, maar oor ’n lang tydperk het hierdie einste stad "plek van martelare" geword. Die Ou Testament is vol getuienisse van profete wat in Jerusalem om die lewe gebring is en ons sien in 2Kron.36:15-16 dat die stad tereg gewys is hieroor ~ En die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. 16Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie (O.A.V.). Hierdie was maar een van die redes waarom God toegelaat het dat koning Nebukadneser, Jerusalem en die Tempel in 586 v.C. geplunder en verwoes het. God gaan nou weer toelaat dat dieselfde lot Jerusalem en die Tempel tref – dié keer o.l.v. die Romeinse generaal, Titus.

Dit is egter nie net die Ou Testament wat na Jerusalem as ’n stad van martelare verwys nie – ook Jesus het dit gesê in Luk.13:33 ~ In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ’n profeet op ’n ander plek as Jerusalem omkom. Wat Jesus hier gesê het, is dat Hy in Jerusalem ter dood veroordeel gaan word, want waar anders as Jerusalem sal ’n Profeet tog gedood word? Jerusalem het so bekend geword vir sy teregstelling van God se boodskappers, dat dit bykans ondenkbaar was en selfs feitlik onwettig sou wees, as dit op enige ander plek sou gebeur. As ’n profeet dan moes sterf, moes dit net eenvoudig in Jerusalem gebeur het.

Hoor egter wat sê Jesus verder in Luk.13:34-35 t.o.v. die moorddadige geskiedenis en reputasie van Jerusalem en wat met Jerusalem gaan gebeur as gevolg daarvan ~ Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Toe Stefanus die godsdienstige leiers in Jerusalem toegespreek het, het hy die volgende gesê ~ Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor (Hand.7:52). Kort voor Jesus se arrestasie het Hy geprofeteer dat hierdie patroon sou voortduur, totdat die stad verwoes sou word ~ Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. 32Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het! 33“Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? 34Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom (Matt.23:31-36). Net so terloops: Sou Jesus bedoel het dat hierdie vervolging sou voortduur tot vandag toe? Sekerlik tog nie, want ná die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. het dit nie meer gebeur nie en het Jesus sekerlik tog, benewens Sy eie kruisdood, o.a. ook Stefanus se steniging hier in gedagte gehad. Let egter ook op die woorde in v.36 (sien spesifiek vetgedrukte gedeelte) ~ Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom – in hulle leeftyd dus nog. Hoe kan ’n mens nog twyfel daaraan dat hierdie visioen wat Johannes ontvang het, van toepassing was op sy geslag Jode en spesifiek 70 n.C.?

Jerusalem sou kry wat hulle verdien het en hierdie belofte strek so ver terug as Gen.9:5 ~ Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van ’n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van ’n mens, en van ’n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens. Die tyd vir rekenskap het nou aangebreek – dit is verby!

Daar bestaan verskeie vertalings vir v.7. Die mees waarskynlike en korrekte vertaling is dié in die E.S.V. (English Standard Version) wat soos volg lees ~ And I heard the altar saying… Die O.A.V. is die naaste hieraan ~ En ek het ’n ander een uit die altaar hoor sê. Ons tref ’n voetnota in die E.S.V. aan wat verwys na Openb.9:5 en dit is dan ook die verklaring vir v.7 (ek stem heelhartig saam met hierdie verklaring) ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. Hierdie stem wat Johannes hoor is dié van die martelare wat uitroep ~ Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele. Hierdie gebed is baie soos die "Vloekpsalms", waar die outeurs tot God bid en Hom vra dat Hy, Sy oordele oor Israel se vyande sal bring. Hierdie Psalms is verder gebede wat God se Naam verheerlik in reaksie op mense wat God se Naam belaster het. Hierdie gebede is Godsverheerliking en nie mensgesentreerd nie.

Die martelare in die hemel se gebede is derhalwe uit en uit Woordgefundeerd en Godsverheerliking en hulle besing God se heiligheid en geregtigheid.
• Openb.16:8-16 ~ Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand. 9Die mense is deur ’n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie. 10Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn 11en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie. 12Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om ’n pad vir die konings uit die ooste oop te maak. 13Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. 14Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. 15“Kyk, Ek kom onverwags soos ’n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.” 16Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Na die onderbreking t.w.v. lofprysing en aanbidding, gaan Johannes se visioen voort met God se oordele oor ’n afvallige en moorddadige Jerusalem.

Die vierde engel gooi sy bak uit op die son, waarop hy die mag ontvang om die mense van Jerusalem wat weier om eer aan God te gee, met vuur te skroei. Hierdie is iets van ’n herhaling van die vierde basuin ~ Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. ’n Derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle donker geword het. ’n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie (Openb.8:12).

Daar bestaan natuurlik geen historiese bewyse dat die son se temperatuur gedurende die Joodse oorlog, letterlik gestyg het en dat mense verbrand het as gevolg daarvan nie. Ons kan egter weereens nie oral letterlike betekenis heg aan alles nie, omdat ons hier te doen het met profetiese taal. Daar is egter ’n figuurlike verklaring vir wat hier gebeur het. In Openb.7 is daar verwys na die 144 000 gelowiges wat afgesonder was vir bewaring teen die val van Jerusalem ~ Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog (Openb.7:15-17). Die Lam van God het hierdie 144 000 gelowiges beskerm teen die "versengende hitte van die son". Die afvalliges van Openb.16 was egter "gebrand" omdat hulle oor geen beskerm beskik het nie. Om beskerm te wees teen die son word dikwels in die Ou Testament beskryf as iemand of ’n groep mense wat in ’n nou verhouding tot God staan – Bv. Ps.121:5-8 ~ Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. 6Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. 7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. 8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.

Ons vind ’n sg. belofte aan gelowiges in Jes.49:10 ~ Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei.

Kom ons kyk ook na Jer.17:7 ~ Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is; 8so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Diegene wat geen nagevolge dra a.g.v. die hitte van die son nie, is daardie mense wie deur God beskerm word. Trouens, diegene wie gebrand word deur die son beskik oor geen Goddelike beskerming nie en kan derhalwe nie aanspraak maak op ’n spesiale verhouding met God nie.

Jerusalem kon nie meer aanspraak maak op God se beskerming nie en daarom sou sake net slegter en slegter geraak het vir hulle.

God beskerm Sy kinders – op verskillende wyses en in verskillende plekke. Dink net aan hoe God jou elke dag – jaar in en jaar uit, beskerm teen onheil. Dink net aan al die dinge wat verkeerd kon gaan in jou lewe, maar nie het nie. Dink daaraan dat jy onder God se toorn kon gestaan het, maar omdat jy in Christus uitverkies is, staan jy nie onder Sy toorn wat op ’n sondige mensdom inbrand nie. Dink egter ook daaraan dat Jerusalem nie onder God se beskerming en verlossing gestaan het gedurende die eerste eeu na Christus nie, want hulle het hul verbond met God eensydig verbreek en daarom het God, hulle oorgelaat aan vernietiging.

Ons sal volgende D.V. volgende keer na die vyfde en sesde bakke van oordeel kyk.