Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 42 (Die Val van Babilon - 01)

Openb.17 is ’n baie gewilde hoofstuk, maar is nie so maklik om te verklaar nie. Ek vertrou dat ons deur die volgende week of wat meer klarigheid oor hierdie hoofstuk en selfs die volgende twee hoofstukke sal vind. Ek sal ook aanbeveel om, alvorens ons begin met ons studie, eers hoofstukke 17 tot 19 rustig deur te lees. -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.17:1-18 ~ Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou wys hoe die oordeel voltrek word oor die berugte "sedelose vrou" wat by baie waters bly 2en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid. ” Ons lees in v.1 van een van die sewe engele wat vir Johannes sê dat hy vir Johannes wil wys hoe die oordeel oor die "sedelose vrou" voltrek word. Wie is hierdie "sedelose vrou"? Die O.A.V. noem haar die "groot hoer"; die N.K.J.V. (The New King James Version) en die N.A.S.B. (The New American Standard Bible) praat beide van die "great harlot" en die E.S.V. (The English Standard Version) praat van die "great prostitute".

T.w.v. volledigheid moet ons na sommige van die agtergrond kyk. Ons het reeds in Openb.14:8 die engel hoor uitroep ~ Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het. Dieselfde tema is weer in Openb.16:19 herhaal toe die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi het ~ Die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het inmekaargestort. God het ook nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn te gee nie. Babilon staan dus onder God se toorn en oordeel en nou hier in hoofstuk 17 vind ons meer gedetailleerde inligting oor Babilon se verwoesting. Daar bestaan ook ander interpretasies rondom wie Babilon is, waarvan o.s. die mees algemeenste is:
- Die vals kerk;
- Die Rooms Katolieke Kerk;
- Enige stad in die wêreld wat boos is (asof daar stede is wat nie boos is nie!);
- Rome.
Die mees aanvaarbare en soos reeds die afgelope 41 studies gesien, is Babilon onteenseglik geïdentifiseer as Jerusalem en ek vertrou dat ons deur ons studie van hierdie hoofstuk weer bo alle twyfel sal sien dat hierdie standpunt die korrekte is – die Jerusalem wat kop-in-een-mus was met Rome in hul kruisiging van Jesus Christus en hul vervolging van die gelowiges (ons sal so bietjie later vlugtig verwys na die ander moontlikhede hierbo).

Ons moet altyd onthou dat Jesus se kruisiging dié ergste kriminele daad van alle tye was, MAAR God het dit gebruik en so gewil, ten einde Sy nuwe verbond tot stand te bring.

Hierdie visioen wat Johannes ontvang het, word aan hom gegee deur een van die sewe engele wat die sewe bakke het (v.1). Hierdie engel het reeds sy bak in hoofstuk 16 uitgestort en wys nou aan Johannes wat die gevolg van die uitgestorte bakke is. Die gevolg, eenvoudig gestel, was oordeel oor die "sedelose vrou". Die woord oordeel wat hier gebruik word beteken, baie eenvoudig gestel, verdoeming; veroordeling, verwerping of afkeuring. Dit is ’n regsterm wat op verskeie wyses in die Nuwe Testament gebruik word. Dit gaan dus oor ’n regsbesluit wat geneem is in God se Raadsplan en dan spesifiek in hierdie geval, om die te berugte sedelose vrou" te vernietig.

In die tweede gedeelte van v.1 lees ons dat hierdie vrou by baie waters bly. Die Engelse vertalings praat van hierdie vrou,...who sits on many waters. Hierdie is ’n herhaling van die beskrywing wat ons in Jer.51:12-13 vind ~ Hef ’n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die HERE Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het. 13Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word. Die "waters" in Jeremia verwys na "baie mense en volke en nasies". In Jeremia was die mense wat by die waters gewoon het, verskeie godlose volke wat oos van die Tigrisrivier en suid van die Kaspiese see gewoon het (later die Mede en die Perse). Die gebruik van die uitdrukking, baie waters, dui daarom vir ons op baie mense en baie heidense koninkryke.

Die berugte sedelose vrou" put dus, óf haar krag uit die mense van die wêreld, óf sy heers oor die mense van die wêreld. Miskien word beide hierdie sienings in gedagte gehou in hierdie gedeelte.

Ons vind heelwat verwysings in die Ou Testament, van ’n Israel wat verbind word met ’n "sedelose vrou". Bv. Hos.1:2 ~ Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met ’n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word. Hosea moes dit doen ten einde Israel se afvalligheid te illustreer – Gomer was dus ’n vergestalting van Israel. Ons vind sg. beelde van Israel wat vergelyk word met ’n "sedelose vrou" in bv. Jes.1:21 ~ Die getroue stad het ’n ontrou slet geword!...; Jer.2:20 ~ Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer (O.A.V.); Eseg.16:15 ~ Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om ’n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. Veral ook Eseg.23:1-4 ~ Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, daar was twee vrouens, dogters van dieselfde ma. 3Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies was, is daar al aan hulle borste gevat. 4Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s’n was Jerusalem (sien ook: Jes.57:3). U sal saamstem dat veral hierdie aanhalings uit Esegiël waarskynlik van die mees blatantste en selfs kruuste taal in die ganse Bybel is en wat ’n mens amper laat dink dat dit nie deel van die Woord van God kan wees nie, omdat God nie so sal praat nie. Hierdie taalgebruik wys juis vir ons hóé ’n ernstige saak geestelike owerspel werklik is!

Soos vantevore reeds aangedui, verwys die uitdrukking "aarde" (Die bewoners van die aarde - v.2a), na land, of ’n land. In ons gedeelte onder die loep, is dit dus die konings van die land wat owerspel pleeg met die "sedelose vrou" en is dit die inwoners van die land wat dronk geword (het) van die wyn van haar onsedelikheid. Die vraag wat nou ontstaan is, hoe het die konings van die land owerspel gepleeg met Jerusalem? Die antwoord kan selfs gevind word met ’n oppervlakkige lees van die boeke van Konings en Kronieke. Die konings van Israel en Juda was berug vir hulle afgode aanbidding – hulle het o.a. Baäl aanbid (Num.25:3), asook Molek (Lev.18:21), klippilare, boomstamme (Asherah - Deut.7:5) en ’n spul ander heidense afgode. Kom ons kyk net na een so ’n voorbeeld – 2Kron.33:1-9 ~ Manasse was twaalf toe hy koning geword het en het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. 3Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien. 4Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.” 5In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. 6Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. 7Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. 8As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.” 9Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.

Met die uitsondering van ’n handjievol konings van Juda en Israel wat God gevrees het, het die meerderheid, God verloën en geestelike owerspel gepleeg die meerderhs was dus goddeloos. Manasse van Juda was so ’n koning en hy het so ver gegaan om ’n afgodsbeeld in die tempel in Jerusalem op te rig! .

Die gewone mense van Israel was egter ook nie onbesproke nie, want die inwoners van die land het self ook dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid (v.2b).

Was Rome nie tog dalk net die "sedelose vrou" soos in sommige kringe beweer word nie? Ons moet verstaan dat egbreuk net kan geskied wanneer een van die twee partye in ’n huwelik, ontrou is. Ons weet dat Israel in so ’n verbond (Ou Verbond) met die Here God gestaan het en nêrens in die Woord lees ons dat Rome "getroud" was met God nie.

So gepraat van Rome wat nie in ’n verbond met God gestaan het nie, skakel dit uiteraard om dieselfde rede ook die moontlikheid uit dat die vals kerk, of selfs enige ander wêreldstad die "sedelose vrou" kan wees. Die enigste ander moontlikheid is die Rooms Katolieke Kerk. Baie van die Hervormers en selfs sommige Puriteine het geglo dat die "Openb.17-sedelose vrou", die R.K.K. was. Die naaste wat die R.K.K. aan ’n verbondsverhouding met God kon kom, was dalk in haar vroegste – ek wil amper sê, embrionale stadium – jare en daarna het sy wegdwaal tot waar sy vandag is. Dit kan dus baie maklik lyk en klink asof hierdie "sedelose-vrou-etiket" baie goed by die Roomse kan pas. Die probleem met so ’n verklaring is dat ons steeds Openb.1:1 in gedagte moet hou ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. Die gebeure wat deur Johannes hier neergepen is in Openb.17, moes dus "binnekort" plaasvind – die gebeure was dus "op hande". Ons weet dan ook dat die R.K.K. nie in Johannes se tyd bestaan het nie, trouens dit het eers ongeveer 400 jaar later ontstaan. Daar is dus geen ander "kandidaat" om in die rol van die "sedelose vrou" te pas, behalwe Jerusalem nie.

• Openb.17:3-6 ~ Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek ’n vrou gesien wat op ’n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad. 4Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid. 5Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ’n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.” 6En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het. Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder. In hierdie gedeelte word "die dier" vir ons in meer besonderheid beskryf, maar dit is belangrik om daarop te let dat die dier in verband met die "sedelose vrou" beskryf word. Die "sedelose vrou" bly dus steeds die fokuspunt – ook in hierdie gedeelte.

Ons sien ook verder in hierdie gedeelte, dat die voorkoms of die kleding van die "sedelose vrou", ’n verdere aanduiding daarvan is dat sy Jerusalem verteenwoordig.

Johannes word weggevoer na die wildernis ten einde die "sedelose vrou" te sien. Hierdie feit is baie belangrik, omdat die uitdrukking "wildernis" of "woestyn", dikwels verwys na ’n God-verlate plek. Die meeste gesigte in Openbaring, word vanuit ’n hemelse perspektief gesien, maar omdat hierdie gesig té boos en té eksplisiet is om vanuit ’n hemelse perspektief te aanskou, word Johannes weggevoer na ’n God-verlate plek ten einde dit te aanskou. Hierdie visioen staan dus in skrille kontras met bv. die visioen van die Nuwe Jerusalem, waar Johannes die Nuwe Jerusalem van ’n groot en hoë berg af aanskou het ~ Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” 10Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ’n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom (Openb.21:9).

Johannes sien die vrou wat op ’n helderrooi dier sit (v.3). Verder was sy uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid (v.4). Wat hier opmerklik is, is dat al die kleure wat Johannes hier sien, die kleure verteenwoordig wat deel was van die priesterlike kleed, wat die priesters gedra het in hulle diens onder die Ou Verbond. Kom ons kyk na Eks.28:1-34 ten einde hierdie ooreenkoms te sien ~ “Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel om My as priesters te dien. 2“Maak vir jou broer Aäron gewyde klere wat waardig en mooi is. 3Jy moet al die knap manne vir wie Ek met vakmanskap bedeel het, aansê om vir Aäron klere te maak sodat hy gewy kan word om ’n priester in my diens te wees. 4Hulle moet die volgende kledingstukke maak: ’n borssak, ’n skouerkleed, ’n mantel, geweefde priesterklere, ’n tulband en ’n serp. Dit is die gewyde klere wat vir jou broer Aäron en sy seuns gemaak moet word sodat hulle priesters kan wees in my diens. 5Die vakmanne moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne gebruik 6om die skouerkleed te maak. Die blou, pers en bloedrooi wolstof en die goed geweefde linne moet met die gouddraad geborduur word. 7“Die skouerkleed moet aan die punte twee bande hê om dit oor die skouer aanmekaar vas te maak. 8Dit moet ook ’n gordel hê van dieselfde gehalte en daarvoor moet ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik word. 9“Vat twee oniksstene en graveer die name van die seuns van Israel 10volgens ouderdom daarop, ses op die een en ses op die ander. 11Jy moet ’n bekwame vakman wat graveerwerk op seëlringe kan doen, aansê om die name van die seuns van Israel op die twee stene te graveer, en monteer dit in goud. 12“Werk die twee stene vas op die skouerbande van die skouerkleed dat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. So sal Aäron hulle name op sy twee skouers dra voor My, die Here, om My aan hulle te herinner. 13Jy moet goue monterings maak 14en van suiwer goud ook twee kettinkies, gedraai soos tou. Sit hierdie gedraaide kettinkies aan die monterings vas. 15“Maak ’n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. 16Die borssak moet dubbel gevou wees, vyf en twintig sentimeter in die vierkant. 17Jy moet hierop vier rye edelstene monteer. Die eerste ry moet bestaan uit ’n karneool, ’n topaas en ’n smarag; 18die tweede uit ’n turkoois, ’n saffier en ’n jaspis; 19die derde uit ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis, 20en die vierde uit ’n chrisoliet, ’n oniks en ’n opaal. Die hele montering moet van goud wees. 21Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op ’n seëlring. 22Jy moet van suiwer goud vir die borssak ook kettinkies maak, gedraai soos tou. 23“Jy moet ook nog twee goue ringe maak vir die borssak en dit vassit aan die twee boonste hoeke daarvan. 24Maak die twee goue kettinkies vas aan die twee ringe wat aan die hoeke van die borssak is. 25Maak dan die ander punte van die twee kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed. 26Jy moet nog twee goue ringe maak en dit vaswerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant, die kant waar dit teen die skouerkleed is. 27Dan moet jy twee ander goue ringe maak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vassit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel. 28Die ringe van die borssak moet met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak word, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. 29Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner. 30Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn. 31“Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef. 32In sy middel moet daar ’n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos ’n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie. 33Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin, 34afwisselend ’n goue klokkie en ’n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.

Vroeër het God opdrag aan die Israeliete gegee om al hierdie artikels te bring sodat die Tabernakel gebou kon word, asook die maak van die priesterlike klede (Eks.25:1-8). Ons sien in o.a. Eks.26:1, 31-36, dat die Voorhangsel in die Tabernakel en later in die Tempel, baie van hierdie artikels bevat het. Josefus beskryf die Voorhangsel as Babiloniese Gordyne (dit is lap) wat borduur was met blou en skarlakenrooi en pers fyn linne wat uitsonderlik mooi was. Ook volgens Eks.39:1-3, 8-13 het die borsplaat van die Hoëpriester van hierdie artikels bevat.

Wat die "goue lamp" betref wat die vrou in haar hand gehad het, word beide Jerusalem (Eseg.23:33-35 ~ Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry; die beker wat jou suster Samaria moes drink, is ’n beker vol angs en skrik. 34Jy sal hom leeg drink, alles opdrink, jy sal aan sy skerwe knaag, jy sal jou borste stukkend skeur. Ek, die Here, het gepraat,” sê die Here my God. 35So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra) en Babilon (Jer.51:7 ~ Babel was ’n goue beker in die hand van die Here, ’n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword) beskryf in terme van hierdie goue lamp. In Sag.12:2 praat Sagaria eksplisiet van Israel, wanneer hy sê ~ Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming (O.A.V.) en in hierdie geval stel die N.A.V. dit nog mooier ~ Ek gaan Jerusalem ’n bak wyn maak wat al die volke rondom laat slinger. Wanneer ’n mens na al hierdie verwysings en bewyse kyk, kan ’n mens nie anders as om te sien dat die vrou ’n verwysing na afvallige Jerusalem is nie. Uiterlik kom sy godsdienstig voor, maar innerlik is sy korrup: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. 26Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. 27“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet” (Matt.23:25-28).

Verdere fokus word gevestig op die priesterskap weens die feit dat die vrou se naam op haar voorkop geskryf staan ~ Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ’n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde" (v.5). Volgens Eks.28:36-38 het die hoë priester ’n plaat van suiwer goud op sy voorkop gedra en op hierdie plaat was die woorde Heilig aan die Here gegraveer (v.36). Die vrou dra ook ’n inskripsie op haar voorhoof, maar met die woorde "Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde". Wat 'n kontras tussen die twee is dit nie! Die Priesterlike stad het nou die stad van die sedeloses geword – dit staan oor haar voorkop geskryf! Dit herinner ’n mens onmiddellik aan God se woorde aan Jerusalem net voor die stad in 586 v.C. deur Nebukadneser verwoes is ~ Die Here vra: Mag ’n man as hy van sy vrou skei en sy hom verlaat en ’n ander man se vrou word, na haar toe teruggaan? Sou die land nie vreeslik verontreinig word nie? En jy wat by so baie minnaars geslaap het, wil jy na My toe terugkom? vra die Here. 2Kyk op na die heuweltoppe: waar het jou minnaars nie by jou geslaap nie? Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag soos ’n Arabier in die woestyn, en jy het die land verontreinig met jou onsedelikheid, met jou slegte gedrag. 3Daarom het Ek die reënbuie teruggehou en het die vroeë reëns nie gekom nie, maar jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie, jy het geweier om jou te skaam (Jer.3:1-3).

Ons sien dus nou hier, net voor God Jerusalem (die nuwe Babilon) verwoes, praat Hy weer en verwys Hy na Jerusalem as ’n sedelose vrou se voorkop.

Kom ons kyk net vir ’n wyle na v.5 van Openb.17. Ongelukkig het die N.A.V. ’n baie belangrike woord hier wegvertaal. In die O.A.V., asook in die meeste Engelse vertalings (en ook in die Grieks) staan daar ~ Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. Verborgenheid! Die Engelse vertalings lees ~ Mystery... Volgens Gen.10:9-10 is Babilon gestig deur Nimrod, kleinseun van Gam. Nimrod was ’n rebel wat direk teen God gerebelleer het toe God opdrag gegee het om die aarde te vul (Gen.11:1-9). Die naam "Babilon" het mettertyd die betekenis van "verwarring" gedra as gevolg van wat by die Toring van Babel gebeur het, maar die aanvanklike betekenis was die "Hek van God". Jerusalem was veronderstel gewees om die "Hek van God" vir die heidennasies te wees, maar a.g.v. haar geestelike ontrouheid het Jerusalem ’n plek van verwarring geword vir almal vir wie Jerusalem eintlik ’n "Hek na God" moes wees.

Johannes gaan voort en hy sê ~ En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het. Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder (17:6). Wanneer Openbaring die uitdrukking "gelowiges" gebruik, verwys dit bykans altyd na die Nuwe Testamentiese gelowiges. Maar hier in v.6 gebruik Johannes ’n ander uitdrukking, nl...die mense wat van Jesus getuig het en die O.A.V. ~ die getuies van Jesus. Hierdie uitdrukking is ’n verwysing na diegene (Nuwe Testamentiese gelowiges) wat vir hul geloof gesterf het – die Martelare m.a.w. (in die Engelse vertalings word die woord "Martyrs" gebruik). Dit is nie die eerste keer dat ons hier lees van die martelare wat "onder die hand van Jerusalem" gesterf het nie. Openb.16:6 het ook daarna verwys ~...want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien. Hier in Openb.17 is dit egter ook nie die eerste keer dat Jerusalem hiervoor geoordeel word nie – kyk ’n bietjie na Matt.23:33-37 ~ Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? 34Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.” 37“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

Ook Jesus het Jerusalem daarvan beskuldig ~ In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ’n profeet op ’n ander plek as Jerusalem omkom (Luk.13:33). Ook Stefanus het Jerusalem daarvan beskuldig net voor ’n gedood is ~ Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor (Hand.7:52).

Hieruit blyk dit dus duidelik dat dit Jerusalem is wat die naam "Babilon" dra en nié Rome nie.

Waarom sou Johannes v.6 afsluit met die woorde ~ Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder? Die woord verwonder kan ook vertaal word met "verbaas" (Engels = "marvel").

Daar is mense wat sê dat hierdie verwondering, of verbasing van Johannes, daarop dui dat hy, by wyse van spreke, nie kon glo wat hy in die visioen gesien het nie. Andere weer sê dat hy verward was en hierdie verklaring word ondersteun (volgens hulle) deur die feit dat die engel belowe om die visioen aan Johannes te verduidelik. Nog andere (en hierdie is baie moontlik) stel voor dat Johannes se verwondering daarop dui dat hy in werklikheid versoek was deur die onsedelike vrou – ’n sedelose vrou kan baie verleidelik wees (en Jerusalem soveel te meer vir ’n "eks-Judaïs"). Dit is dus volgens hierdie verklaring moontlik dat Johannes deur haar verleidelikheid verlei is. Die Hebreërboek is baie duidelik daaroor dat baie gelowige Jode weer verlei sou word om terug te keer na Judaïsme toe. Misken is die engel juis besig om Johannes hieroor te betig, deur vir hom te sê: Kom laat ek jou vertel wat gaan met diegene gebeur wat hierdie sedelose vrou gaan navolg.

Wat die rede vir Johannes se verbasing ook al mag wees, die getuienis is oorweldigend dat hierdie beskrywing van die sedelose vrou wat op die helderrooi dier sit, die heel beste by Jerusalem pas.

Ons sal D.V. volgende keer kyk na die dier waarop die sedelose vrou gesit het.