Ons het die vorige keer nogmaals gekyk na die val van Jerusalem a.g.v. haar ontrouheid aan God. Ons gaan vandag kyk na verskillende beskrywings van hierdie gebeure. -
1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.18:9-10 ~ Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word. 10Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, Babilon, die sterk stad! In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!” Ons sien eerstens dat die konings van die aarde geweeklaag het. Wie is die konings van die aarde? Indien ons konsekwent wil wees met ons verklaring van die woord, "aarde" in Openbaring, moet ons hierdie uitdrukking, konings van die aarde, dus vertaal met "konings van die land". Dit sal dus heersers soos Herodes, Agrippa, Festus en ander regeerders van Palestina insluit. Dit sal ongetwyfeld ook ander Joodse leiers insluit wat voordeel geput het uit hul leierskapposisie in Jerusalem – die Fariseërs byvoorbeeld. Dit is egter ook waar dat ander leiers in die Romeinse Ryk kon weeklaag oor die val van Jerusalem, want Jerusalem was ’n baie voordelige stad en land vir die Romeine. Trouens, uit die geskiedenis blyk dit dat daar heelwat geredekawel was oor of Jerusalem wel verwoes moes word of nie, juis omdat dit so ’n belangrike stad vir die Romeine was, omdat Jerusalem een van die groot handelstede in die Ryk was. Die klomp rebelle binne die stad het egter op die ou einde min twyfel by die Romeine gelaat en is daar besluit om die stad te verwoes.
• Openb.18:11-17 ~ Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie: 12goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, 13kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense. 14Daar sal gesê word: “Hierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.” 15Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm 16en sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! 17In een oomblik is soveel rykdom verwoes!” Tweedens sien ons dat dit nie net die heersers was wat getreur het nie, maar ook die rykes – hulle wat baat gevind het by allerlei soorte handel wat in Jerusalem plaasgevind het.
Die eerste groep rykes was die handelaars. Ene Alfred Edersheim help ons om hierdie verse beter te verstaan. Edersheim skryf ~ In these streets and lanes (in Jerusalem) everything might be purchased: the production of Palestine, or imported from foreign lands – nay, the rarest articles from the remotest parts. Exquisitely shaped, curiously designed and jewelled cups, rings, and other workmanship of precious metals, glass, silks, fine linen, woollen stuffs, purple, and costly hangings; essences, ointments, and perfumes, as precious as gold; articles of food and drink from foreign lands – in short, what India, Persia, Arabia, Media, Egypt, Italy, Greece, and eve far-off lands of the Gentiles yielded, might be had in these bazaars. Ancient Jewish writings enable us to identify no fewer than 118 different articles of import from foreign lands, covering more than even modern luxury has devised.
Dit is interessant om te weet dat die meeste van hierdie artikels, indien nie alles nie, op een of ander wyse verbind was met die tempel – óf as deel van die priesters se gewade, óf offerandes; óf feeste; óf in van die versierings en meubels in die tempel. Deur die misbruik van Jerusalem se heiligdom ("geestelike owerspel") het baie handelaars baie ryk geword. U sal onthou dat Jesus by twee geleenthede die tempel gereinig het deur o.a. die geldwisselaars uit die tempel te jaag. Om ’n priester te wees, was ’n voordelige en winsgewende werk, want tydens die drie hooffeeste, kon die nodige offermiddele slegs by die tempel aangekoop word. Indien jy tog jou eie offerdier gebring het vir ’n offerande, is die dier eers deur die priesters ondersoek en meer dikwels is die offerdiere afgekeur, deurdat daar gesê is dat die dier onwaardig was om geoffer te word. Onnodig om te sê, is dat die feesganger sy offerande tog maar op die einde by die tempel moes koop. Hierdie praktyke het plaasgevind omdat die priesters ’n deel van die wins ontvang het wat gemaak is uit die verkope van offerandes.
As gevolg van die verwoesting van Jerusalem het handelaars dus ’n groot bron van inkomste verloor.
Baie van die items waarin handel gedryf is, was destyds deur Salomo as teken van God se seën beskryf en nou met die val Jerusalem, het hierdie artikels verdwyn en is dit gesien as ’n onttrekking van God se seën.
• Openb.18:18-19 ~ Al die skeepskapteins en almal wat êrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan 18en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesê: “Watter stad kon met dié groot stad vergelyk word?” 19Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad! Almal wat skepe op see het, het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!” Nog ’n groep mense wat sou treur oor die val van Jerusalem is die skeepskapteins. In die lig van die vorige bespreking van handelsware wat nie meer verkoop sou word nie, is dit voor die handliggend dat hierdie gebeure in 70 n.C. ook ’n direkte effek op die skeepvaart sou hê.
• Openb.18:20 ~ Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek. Daar was nie net ’n geweeklaag oor die val van Jerusalem nie – daar was ook diegene wat hulle daarin verheug het. Die gelowiges en diegene wat onder Jerusalem gely het, het hulle in haar val verheug. Die gelowiges het reeds opdrag ontvang om te bid vir die onheilige Jerusalem se val, maar nou moet die gelowiges hulle verheug in God se oordele, want die vyande van die Evangelie is nou vernietig.
• Openb.18:21-23a ~ Toe het ’n sterk engel ’n groot klip, so groot soos ’n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “So, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie. 22Die musiek van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie. Geen ambagsman van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie. Die gedreun van ’n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie. 23Die lig van ’n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stemme van bruid en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie...” In hierdie gedeelte sien ons dat die verwoesting van Jerusalem onomkeerbaar was en juis omdat dit deel was van God se ooreenkoms met Sy aanvanklike Verbondsvolk – indien God se volk nie by die verbondooreenkoms hou nie, sal God hulle oordeel.
Jesus het in Matt.18:6 gesê ~ Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. Vir ’n baie lang tyd was Jerusalem juis skuldig aan hierdie waarskuwing, deurdat sy God se kinders fel vervolg het. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys natuurlik nie na "kindertjies" nie, maar na Sy kinders – die gelowiges. Hierdie woorde van Jesus herinner sterk aan die profesie van Jeremia oor die val van die Ou Testamentiese Babel a.g.v. hul vervolging van Israel ~ Die opdrag wat die profeet Jeremia aan Seraja seun van Nerija, seun van Magseja, gegee het toe hy saam met koning Sedekia van Juda in sy vierde regeringsjaar na Babel toe vertrek het; Seraja was kwartiermeester, 60en Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, alles wat oor Babel neergeskryf was, in een boekrol opgeskryf 61en vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles hardop lees 62en sê: ‘Here, U het van hierdie plek gesê dat U hom so sal verwoes dat geen mens of dier weer in hom sal woon nie en dat hy altyd verlate sal wees.’ 63“Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy ’n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi 64en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here.” Tot sover die woorde van Jeremia (Jer.51:59-64).
Hierdie beeld van die meulsteen is ook belangrik om van kennis te neem omdat die plek waar die tempel gebou was, op ’n stadium ’n dorsvloer was ~ Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna (Ornan volgens die O.A.V. en Engelse vertalings) die Jebusiet was (2Kron.3:1). Dawid het Ornan se dorsvloer gekoop om die tempel daar op te rig. Op hierdie dorsvloer sou ’n meulsteen gebruik word om koring ens. te maal, waarmee Ornan en sy familie brood gebak het – voedsel vir die familie. Later is die tempel daar gebou – die tempel wat veronderstel was om "die geestelike brood van die lewe" te versprei na die wêreld. Nou gaan die tempel egter self "gemaal" word tot stof sodat dit nie weer gevind sal word nie. Israel sou ophou om te bestaan as God se verbondsvolk en hulle sou nooit weer herstel word tot hierdie bevoorregte posisie nie.
Waarom sê ek dit as daar vandag nog steeds musiek van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers in Jerusalem gevind en gehoor kan word? Ook sal daar ongetwyfeld nog ambagsmanne bedrywig wees. Dalk is daar nog iewers ’n meulsteen of twee ook en lampe en kerse sal daar beslis ook nog wees en daar word tot vandag toe nog huwelike voltrek in Jerusalem. Hoe kan dit dan wees dat hierdie profesie reeds in die verlede (70 n.C.) vervul is?
Daar is egter vyf dinge wat ons nie meer in Jerusalem sal aantref nie en al vyf hierdie dinge het op die een of ander wyse iets te doen met die tempelaanbidding:
• Eerstens was daar die musiekinstrumente. Volgens 1Kron.25 het Dawid ’n Levitiese koor vir die tabernakel ingestel en later t.w.v. die tempelaanbidding. ’n Orkes het gespeel terwyl die koor gesing het.
• Daar was ambagsmanne. In Eks.31:1-11 het God bedrewe ambagsmanne gebruik om die tabernakel te bou en Salomo het ook bekwame ambagsmanne gebruik om die tempel te bou.
• Daar was ’n meulsteen. Soos reeds gesê was die tempel gebou op ’n vorige dorsvloer waar ’n meulsteen gewerk het.
• Daar was lampe of kerse in die tabernakel; en tempel. Natuurlik was daar ook ’n lampstaander in die tabernakel en die tempel (Eks.25:31-40; 2 Kron.4:19-22).
• Daar was huwelike in die tempel voltrek – die bruid en die bruidegom wat die verhouding tussen God en Israel versinnebeeld het (Eseg.16:1-14).
Uit bg. kan ons dus duidelik sien dat al hierdie items of dinge nie meer in die tempel gesien, gedoen, plaasvind en gehoor sal word wanneer die tempel vernietig is nie. Tempelaanbidding en die bedrywighede in die tempel sal geheel en al verwyder word en God sal nie die herbou van die tempel toelaat nie. Vir tweeduisend jaar poog die Jode (en selfs sommige Christen groepe) nou al om die tempel te herbou – God maak egter telkens ’n einde aan hulle planne. In kort, God en Israel is nie meer "getroud" nie. Wat egter primêr nie meer te vinde in Jerusalem is nie, is die besondere teenwoordigheid van God in die midde van Sy voormalige verbondsvolk. Die geografiese Jerusalem is na 70 n.C. opgebou, maar die geestelike Jerusalem sal nooit weer gevind word nie – daardie onderskeiding word gereserveer vir ’n ander Jerusalem.
Een van die wonders van die nuwe verbond is dat ons nie meer nodig het om na Jerusalem te gaan om God te aanbid nie. God ontmoet ons elke Sondag, daar waar ons saam as gelowiges aanbid, of dit nou in Vereeniging, of Paulpietersburg, of Sydney, of Bombaai, of New York is. Die Godstad is vandag, die wye wêreld – oral waar gelowiges hulle bevind – dit is die Nuwe Jerusalem, die Kerk van die Here Jesus Christus.
• Openb.18:23b-24 ~ ... Jou sakemanne was die heersers van die aarde, en deur jou bedrog is al die nasies mislei. Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is. Hier in die laaste vers van hoofstuk 18, word die redes herhaal waarom Jerusalem, Babel genoem word.
Die bedrog waaraan die sakemanne hulle skuldig maak, is ’n verwysing na Israel se geestelike owerspel. Die woord "bedrog" word in die N.A.V. gebruik (soos hierbo in v.24 gesien kan word). In die O.A.V. en die meeste Engelse vertalings word die woord "towery" genoem ("sorcery").
Die sakemanne en die heersers van die aarde het van al die uithoeke van die aarde na Jerusalem gekom – wat ’n geleentheid om die Evangelie aan hulle te bring, want deel van die verbond was dan ook dat die volk Israel tot ’n seën vir die nasies van die wêreld moes wees [Abraham sal tog ’n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word (Gen.18:18)], maar steeds het Israel gekies om hierdie buitelanders te mislei met haar towery. Al wat die sakemanne in Jerusalem gevind het, was dus ’n perverse Judaïsme wat niks anders as ’n vals godsdiens is nie.
Nog erger, in plaas daarvan dat Israel uitgereik het na die nasies van die aarde met die Evangelie, het hulle diegene vermoor wie die waarheid verkondig het: die profete en die "heiliges". Jesus het hulle gewaarsku in Matt.23:34-36 ~ Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.”
3. AFSLUITING:
Verskeie gevolgtrekkings kan gemaak word t.o.v. hierdie hoofstuk.
• Eerstens sien ons dat wanneer God ’n mens verlaat, so ’n persoon leeg is, ten spyte van uiterlike welvaart, ens. Jerusalem het daarop aanspraak gemaak dat sy ’n "koninging" is, maar God het Jerusalem versaak en haar gespog het niks beteken nie. Dit maak nie saak hoe hoog en belangrik ons onsself ook al ag nie; of hoe baie andere ook al van ons mag dink nie; wat saak maak is hoe God ons sien en hoe God oor ons voel..
• Tweedens het ons geleer dat die kerk van vandag, in groter oorwinning moet wandel. Ons moet ophou om minderwaardig en liggeraak te voel oor ons geloof en in God se heerlikheid wandel.
• Laastens, het ons geleer dat daar geen redding buite Jesus Christus is nie. Redding of verlossing kan nie in ons voorgeslagte, of ons doop, of ons erfenis, of ons kerk, of ons godsdiens gevind word nie. God die Vader het "uit Sy plek gegaan" om die Judaïstiese godsdiens uit te delg, sodat ons net op Jesus Christus kan fokus. Die uiteindelike doel van Openbaring is dan ook om ons oë op Christus te vestig.
Dit is skrikwekkend om "in die hande van ’n heilige God te val", maar dit is andersyds ’n onuitspreeklike en ondenkbare genade om van Sy oordele gered te kan word. Laat ons daarom ons verheug in ons redding wat ons in en deur Christus ontvang het.