Tuesday, February 2, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 31 Januarie 2010

Van Paasfees tot Nagmaal [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Matt.26:17-30 ~ Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” 18 Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’” 19 Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. 20 Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21 Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” 22 Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” 23 Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24 Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” 25 Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” 26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” 27 Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” 30 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

2. INLEIDING EN AGTERGROND:
Hierdie gebeure wat ons so pas saam gelees het, het gedurende die Paastyd in Israel afgespeel. Tot en met die Woensdag voor die Paasfees, was daar nog geen planne gemaak oor hoe en waar en presies wanneer Jesus en Sy dissipels die Pasga of Paasmaal, gaan vier nie. Dan sien ons in vers 17, dat die dissipels op die eerste dag van die Paasfees (dit is die Donderdag), vir Jesus kom vra ~ Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?

As ons na Luk.22:8 kyk, sal ons sien dat net Petrus en Johannes in opdrag van Jesus, Jerusalem binnegegaan het om die nodige voorbereidings te tref. Mark 14:13 beskryf aan ons op watter wyse hierdie twee dissipels die man sal vind in wie se huis die Pasga gevier sal word en Matt.26:18 gee aan ons die aanduiding dat hierdie man ook ’n volgeling van Jesus was ~ Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’” Dit is waarskynlik net ’n volgeling van Jesus wat sou weet wat die uitdrukking “My tyd is naby” beteken. Die rede waarom Jesus nie hierdie man se naam genoem het nie, was waarskynlik om Judas te verhoed om die lede van die Sanhedrin in te lig waar Jesus en Sy dissipels was, sodat hulle Hom daar gevange kon neem.

Jesus maak in v.21 die aankondiging dat een van Sy dissipels Hom sou verraai. Die dissipels was ontsteld hieroor en vra een na die ander aan Jesus, ...dit is tog nie ek nie, Here? In vers 13 sê Jesus wie die een is wat Hom sou verraai, maar wat baie interessant is, is dat wanneer ons na Joh.13:23-26 kyk, wil dit voorkom asof hierdie mededeling van wie die verraaier was, in ’n een-tot-een gesprek met Johannes en nét vir Johannes gesê is ~ Die dissipel vir wie Jesus baie lief was (dit was Johannes), het net langs Hom aan tafel gesit. 24 Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. 25 Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?” 26 Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. Toe Judas die brood by Jesus vat, het hy dieselfde vraag as al die ander dissipels gevra, waarop Jesus vir hom gesê het ~ ...Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” (v.27). ’n Verdere aanduiding dat Jesus dit net vir Johannes gesê het, vind ons in vers 27 ~ Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom (Judas) gesê het nie. Judas het volgens Joh.13:27-30, homself hierna, vinnig uit die voete gemaak en in die donker nag verdwyn. En dan staan die volgende woorde daar ~ Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die Paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee.

3. DIE PAASMAAL:
Gedurende die Paasmaaltyd wat Jesus en Sy dissipels geniet het, het Jesus, terwyl almal gesit het, brood geneem en die seën gevra, ...dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam” (v.26).

Ten einde te verstaan wat hier gebeur het, moet ons in gedagte hou dat Jesus en Sy dissipels besig was om die Pasga te vier en daarom moet ons net eers gaan kyk na wat die Pasga behels het en dan kan ons die lyne deurtrek na die Nagmaal wat Jesus hier ingestel het.

God het agt feeste vir Sy volk Israel ingestel wat hulle moes onderhou. Daar was sewe feeste wat jaarliks gehou moes word en het o.a. ingesluit, die Fees van die Ongesuurde Brode; Die Fees van die Eerste Vrugte; Die Fees van die Weke; Die Fees van die Trompette; Die Groot Versoendag en die Fees van die Tabernakels en dan die heel belangrikste, die “pasah”, of te wel die Pasga of die Paasfees, wat letterlik beteken “om verby te gaan”, of om te “bewaar”, of om te “spaar”. Dan was daar een fees wat weekliks nagekom moes word, nl. die Sabbat.

Die Pasga of die Paasfees is op die veertiende dag van die eerste maand – die maand Abib gehou (Deut.16:1). Dit was ’n groot en baie belangrike fees, want dit het die Israeliete se verlossing en bevryding uit Egipte na vierhonderd jaar se onderdrukking en slawerny gedenk.

Ons vind ’n duidelike uiteensetting van hoe die Pasga gevier moes word, in o.a. Eks.12. Gedurende die eerste eeu (in Jesus se tyd dus) is die Paasfees met die uitsondering van ’n paar bykomende gebruike en instellings, bykans net soos in die Ou Testamentiese tyd gevier.

· Die “Kiddush”: Tyd laat ons ongelukkig nie vandag toe om in detail op al die gebruike en volgorde ens. in te gaan nie, maar ek noem enkeles. Die seremonie het begin met die gasheer wat die “kiddush” (’n gebed) opgesê het, terwyl hy die eerste beker wyn vashou.

· Die Eerste Handwassing: Hierna het ’n seremoniële “handewas-plegtigheid” plaasgevind, deur die gasheer. Direk hierna het die slawe die kos ingebring, waaronder die lamsvleis, asook bitter kruie wat in ’n oplossing van soutwater of asyn gedoop was. Hierna is al die kos weer uit die vertrek verwyder (insluitende die onaangeraakte vleis) en is ’n tweede beker wyn geskink. Niemand het egter aanvanklik hiervan gedrink nie.

Die jongste seun van die gasheer vra nou vir die Pa wat so anders is aan hierdie aandete as al die ander, waarop die gasheer, of die pa dan vir almal aan tafel vertel het van die opdrag wat God gegee het om die Paasfees te vier en die betekenis daarvan, asook ’n opsomming van die Israelitiese volk se geskiedenis. Hierdie gebruik was gegrond op o.a. Eks.10:2 ~ Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is. Eks.12:26-27 ~ As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ 27 moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig (sien ook Eks.13:8).

Na hierdie vertelling is die kos weer ingedra, waarop die Pa die betekenis van die lamsvleis, die ongesuurde brood en die bitterkruie verduidelik het. Almal sing dan die woorde van Psalm 113 en 114 saam. En nou is die tweede beker wyn gedrink. Vir ’n tweede keer word daar hande gewas uit respek vir die ongesuurde brood wat hulle aanstons sou eet. Die gasheer het die een ongesuurde brood (plat en gewoonlik rond) gebreek en die seën daaroor uitgespreek. Daar was twee seënbedes – die een was ’n gebed van danksegging teenoor die Here dat Hy die brood vanuit die aarde voortgebring het. En tweedens was dit ’n dankgebed vir die opdrag om die ongesuurde brood te eet. Tradisioneel is hierdie brood gebreek ten einde die armes daardeur te gedenk wat net gebreekte stukkies brood het om te eet.

· Die Gebreekte Brood: Die Pa het nou hierdie gebreekte ongesuurde brood in die bitter mengsel gedoop, asook in ’n mengsel (die “charoseth”) wat bestaan het uit soet appels en neute. Hierop het hy dit aangegee om geëet te word. Hierna is die Paaslam geëet. Na hierdie ete is die hande vir ’n derde keer gewas waarna hulle ’n derde beker wyn geskink het wat hulle later sou drink.

· Seënbede na die ete: Na die ete is seënbedes deur almal opgesê.

· Seënbede oor die derde beker wyn: Die derde beker wyn is nou gedrink en die tweede gedeelte van die Hallel is opgesê (’n Seënbede – Ps.115-118), terwyl ’n vierde beker wyn geskink en gedrink word. Hierdie was rooiwyn wat gemeng was met louwarm water wat gedui het op die Paaslam se vars warm bloed wat gevloei het.

· Afsluiting: Die Paasmaal het nou tot ’n einde gekom met die sing van ’n lied waarin God verheerlik is.

4. REDDING DEUR BLOED:
Ons sien dus dat die Paasmaal ’n groot gebeurtenis op die Joodse kalender is en dat dit ’n jaarlikse feesmaal is wat gehou word om die Israeliete se bevryding en verlossing uit Egipte te gedenk.

Wanneer ons net vlugtig weer kyk na God se opdrag in Deut.16:6, nl. ~ Jy mag dit net bring in die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Daar moet jy die paasoffer bring in die aand, teen sononder, want julle het in die aand uit Egipte uit weggetrek, en ons vergelyk dit met 1Kor.5:7-8, nl. ~ Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid, bestaan daar geen twyfel by ons wat die Gees van God se geïnspireerde motief was met die skryf van hierdie Nuwe Testamentiese verse nie. Christus ís voorwaar ons Paaslam!

Die Ou Testamentiese Paaslam was dus ’n tipe Christus, want elke keer dat die Israeliete die Paasfees gevier het, het die Paaslam vooruit gewys na Hom wat sou kom – die Lam van God, deur Wie se soendood, sonde afgeskryf sou word vir almal wat in Hom glo.

Terwyl Israel as slawe in Egipte was en Hy beloof het om hulle te bevry, het God op ’n stadium in Sy soewereine plan besluit om die hardnekkige Farao finaal van besluit te laat verander, deur aan te kondig dat al die eersgeborenes in Egipte sou sterf – die doodsengel sou ook die Israeliete besoek, indien hulle nie ’n bepaalde teken aan die sykante en die bokant van hul deurkosyne gehad het nie, nl. die bloed van ’n jaaroud skaap- of bokrammetjie wat, sonder liggaamsgebrek was (Eks.12:5). Hierdie lam moes dus sterf, sodat die Israeliete kon leef.

Die lot en straf wat Israel moes tref, het ’n onskuldige lam dus getref. Die bloed wat met ’n hissoptak teen die deurkosyne aangebring is het die redding van die Israeliete verseker. Die bloed van die lam was dus die basis vir ’n nuwe verhouding tussen God en Sy volk en het die begin van Israel as volk van God, se geskiedenis ingelui. ’n Nuwe begin; ’n Nuwe Volk, afgesonder vir God – dit is waarom die Here vir Moses in Eks.12:2 gesê het ~ Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word.

Israel het hul vertroue in die bloed van ’n jaaroud lam geplaas vir redding en verlossing – net so moet ons, ons vertroue in die Bloed van die Lam, Jesus Christus plaas vir redding en verlossing. Vóór die bloed van die jaaroud lam sonder gebrek, was die Israeliete slawe in Egipte en ná die bloed van die jaaroud lam, was hulle vry en volk van God. Presies dieselfde met ons onder die nuwe verbond: Vóór die bloed van die volmaakte Lam van God, aan die kruis op Golgota gestort is, was ons slawe van hierdie wêreld, maar ná Jesus se bloed aan die kruis gestort is, is ons vry en verlos en kinders van God.

Uit die geskiedenis weet ons dat God woord gehou het en die Israeliete, ’n ieder en ’n elk, uit Egipte gered het – net so hou Hy woord en sal Hy elkeen wat in Christus glo, verlos en red.

5. DIE ANDER ELEMENTE:
Ons kan dus duidelik die betekenis van die Paaslam sien en hoe dit na Jesus Christus wys, maar die ander elemente wat betrokke was by die Paasfees van die Joodse volk, is net so ryk aan betekenis en wys ook vir ons heen na die Nagmaal wat Jesus ons beveel om so gereeld moontlik te vier.

Petrus en Johannes het die plek gaan voorberei waar Jesus vir ou laas saam met die dissipels sou eet, voor Hy die volgende dag gekruisig sou word en tydens hierdie ete wys Jesus aan Sy dissipels, die volle betekenis en simboliek van die Paasmaaltyd en volg Hy die presiese volgorde van die antieke Paasmaal – kom ons volg dit aan die hand van die Nuwe Testament:
· Eerstens was daar die “kiddush” (die gebed wat opgesê was) en die eerste beker wyn – Luk.22:17-18 ~ Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

· Die Eerste “Handwassing” – Joh.13:4-5 ~ Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5 Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. Met die was van die gasheer se hande het hy homself afgesonder van die res van die geselskap en dit dui daarop dat hy die belangrikste persoon aan die etenstafel is. Deur die dissipels se voete te was, het Jesus opgetree as ’n slaaf en hierdie deel van die Paasfees-ritueel gebruik om aan Sy dissipels, die belangrike les van self-neerlegging en liefde te leer. Hy het aan hulle geleer dat dit nie die seremoniële ritueel is wat belangrik is nie, maar die wedergeboorte, wat op grond van liefde en geloof geskied.

· Die Gebreekte Brood – Joh.13:26, 27b en 30a ~ Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. Vers 27b ~ Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” En vers 30a ~ Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was tydens hierdie fase van die Pasga dat Jesus vir Judas uitgewys het as die bedrieër en Judas homself afgesny en uitgesluit het van die gemeenskap van die dissipels. Die brood wat Jesus hier geneem het was nie die brood waarna Hy verwys het in Matt.26:26b toe Hy gesê het ~ dit is My liggaam nie. Dit het eers later gekom.

· Die Seënbede ná die Ete – 1Kor.11:23-24 ~ Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis. Dit wat Jesus hier gedoen het, was ’n afwyking van die gewone, want na die ete is daar nie weer iets geëet nie en hier neem Jesus weer ’n stukkie brood. Ook was dít wat Hy gesê het, om die minste te sê, skokkend. Maar Jesus het met hierdie optrede, die nuwe herdenkingsmaal ingestel. Hy het aan Sy dissipels, op ’n verborge wyse, geleer dat die gewone paaslam, na Sy kruisdood nie meer dieselfde betekenis sou hê as vantevore nie, want die paaslam was slegs ’n herdenking van ’n fisiese en historiese verlossing, maar dit was slegs ’n skaduwee van wat die uiteindelike verlossing sal beteken, wanneer Hý, die hemelse Paaslam aan die kruis gesterf het. Hy het dus op die punt gestaan om ’n beter en volmaakte offer te bring – ’n offer wat nooit weer nodig sou wees om herhaal te word nie – geestelike verlossing! Dit word vir ons bevestig in Hebr.9:14-15 ~ Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. 15 Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Jesus het dus hiermee vir Sy dissipels gesê, dat Hý voortaan die Paaslam sou wees, maar wat net eenmaal geoffer sou word en dit sou die volgende dag gewees het. Jerusalem en die Tempel sou nie lank hierna verwoes word (minder as 40 jaar later in 70 n.C.), sodat die Ou Verbond en daarmee saam die Ou Testamentiese gebruik van ’n Hoë Priester wat versoening vir die volk se sonde doen, verwoes kon word – net Jesus Christus, die Nuwe Verbond se Paaslam het eens en vir altyd “klaar gespeel met die sonde”.

· Die Seënbede oor die Derde Beker – 1Kor.11:25 ~ Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Jesus het met hierdie derde beker in die woorde van Joh.14:6, vir Sy dissipels gesê ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. Hiermee het Hy in effek vir hulle gesê, Ek is die ware Paaslam wat in julle plek geoffer gaan word en hierdie warm rooiwyn wat julle vanaand drink, is ’n simbool van vreugde en moet julle herinner aan My Bloed wat vir julle gestort word ten einde versoening vir julle te bewerk.

Net t.w.v. duidelikheid – Ons lees in hierdie weergawe van die instelling van die Nagmaal, slegs van twee bekers wyn – die eerste en die derde, maar volgens die Joodse tradisie was hierdie twee bekers die belangrikste en die derde beker was die heel belangrikste van die vier en die naam vir hierdie derde beker was “die Beker van Seën” of “die Beker van Verlossing”, omdat dit die bloed van die Paaslam verteenwoordig het. En daarom was dit juis gepas dat Jesus met hierdie derde beker die Nuwe Verbond ingelui het (Matt.26:28 – sien ook 1Kor.10:16).

· Afsluiting – Matt.26:30 ~ Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

6. TEN SLOTTE:
Die dood en die opstanding van Jesus Christus die Messias, sal altyd nou verweef wees met die Pasga se simboliek. Die Paaslam het verwys na die Lam van God wat sou kom. Die verlossing uit Egipte het heengewys na die groter verlossing wat die Lam van God sou bring. Om hierdie waarhede van die Skrif te ignoreer is om jouself van God af te sny. Diegene wat egter hierdie waarhede raaksien en erken, sal die instelling van die Nagmaal gereeld nakom en dit met dankbaarheid en oorvloedige vreugde gedenk, want Jesus Christus, die Lam van God het die volmaakte offer vir elkeen wat in Hom glo, gebring, sodat nie een van ons verlore sal gaan nie – rede om dus onophoudelik, fees te vier!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 31 Januarie 2010