Monday, February 8, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 07 Februarie 2010

Openbaring Ontsluit - 22 (Die Identiteit vn die Dier) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Voor ons kan aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring, is daar nog enkele ander sake wat ons moet aanroer ter wille daarvan dat ons die res van Openbaring beter kan verstaan. Ons het dan reeds na die datering van Openbaring gekyk, waar ons gesien het dat dit wel voor 70 n.C. geskryf is. Daarna het ons na die Millennium gaan kyk en ons het gesien dat die Millennium reeds met die geboorte van Christus Jesus ’n aanvang geneem het en sal voortduur totdat Satan vir ’n kort tydjie vrygelaat sal word en daar sal Jesus terugkom. Ons het ook gesien dat Jesus se wederkoms gepaard sal gaan met die opstanding van die dooies en die oordeel van die goddeloses, die satan en die dood.

Vanaand en D.V. volgende keer, gaan ons kyk na die identiteit van die Dier en daarna belangrikheid van die Dier; sy nommer; aanbidding van die Dier; sy aard; die oorlog van die Dier, asook die herlewing van die Dier.

2. DIE BEES SE IDENTITEIT:
Dit is nodig dat ons die identiteit van die Bees of die Dier sal bekendmaak, sodat ons dit in gedagte kan hou terwyl ons na getuienis rondom dit kyk. Duisende mense verwag dat die Dier ook enige oomblik losgelaat gaan word op die aarde en daarom is daar allerlei praatjies oor die “merk van die Dier” (666) wat subtiel deur kredietkaarte en allerlei ander opspraakwekkende stories op ons afgedwing word, maar ons sal ook nog sien, dat die Dier lankal reeds losgelaat was op aarde. Wie of wat dan is hierdie Bees of Dier? Is dit die satan? Is dit die Antichris? Is dit ’n mens?

Ons lees in Openb.13:4b ~ Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer? Hierdie mens of wese, of wat hy ook al genoem word, moes iets verskrikliks gewees het.

Hy is op 15 Des. 37.n.C. in Antium in die Kanselaryhof van sy oom met die titel Keiser Caligula gebore. Sy name was Lucius Domitius Ahenobarbus. Klein Lucius is net nege maande na die dood van keiser Tiberius, onder wie Jesus gekruisig is, gebore. Klein Lucius se pa was Enaeus Domitius Ahenobarbus en hy het bekend gestaan as ’n gemene, wrede, gehate en veragtelike man. Hy sterf terwyl Lucius nog baie jonk was. Lucius het onderrig ontvang by van die mees vooraanstaande Griekse leermeesters en onder hulle leiding het hy ’n liefde vir musiek, poësie en sport ontwikkel.

Sy moeder was ’n ambisieuse vrou wat vol planne was en haar naam was Agrippina, of Agrippa in kort. Sy was die suster van die Romeinse keiser, Gaius, of beter bekend as Caligula. Na Caligula se dood, bestyg Agrippa se neef, genaamd Claudius die troon en word hy die hoof van die Romeinse Ryk. Na Claudius se vrou se dood, reël Agrippa dat Lucius met Claudius se dogter trou en kort daarna trou Agrippa met Claudius (direkte bloedfamilie dus!) en verseker sodoende dat Lucius deur aanneming, die keiser se seun word (25 Februarie, 50 n.C.). Vyf jaar later gee Agrippa vir haar man en keiser, Claudius, ’n bak giftige sampioene in en sterf hy en word Lucius op die jeugdige ouderdom van sewentien, keiser van die magtigste koninkryk op aarde (13 Oktober, 54n.C.). Hy staan voortaan bekend as Nero Caesar.

Die bynaam “Dier” het hierdie man in alle opsigte gepas. Hy was ’n perverse homoseksueel en ’n sodomiet en sy swak karakter was regdeur die Ryk bekend. Hy het op ’n stadium met ’n jong seun genaamd Sporus getrou, nadat hy die seun ontman en ’n vrou van hom probeer maak het.

Vir vermaak het Nero die kop met horings en vel van ’n bees aangetrek en gelowige mans en vrouens, wat naak voor hom gestaan het, met die horings deurboor. Hy laat sy eerste vrou, Octavia, vermoor – haar kop is na sy minnares, Poppaea gestuur, waarna hy met haar getroud is. Terwyl sy swanger was het hy in ’n oomblik van blinde woede, haar doodgeskop. Op 22 het hy geïrriteerd geraak met sy moeder se inmengery en hy laat haar vermoor. Sy het haar eie seun so verag, dat sy haar eie maag ontbloot het en die moordenaars gevra het om haar in die maag te steek – dieselfde maag waaruit Nero, 22 jaar vantevore gebore is.

Nero het die keiserlike skatte wat Claudius nagelaat het, uitgeput deur sy spandabelrige lewenstyl en selfverheffende bouprojekte. In die proses om geld in die hande te kry, het hy ryk adellikes valslik beskuldig van allerlei misdade ten einde hul eiendom te kon konfiskeer.

Soos reeds vermeld, was Nero ’n musiekliefhebber en hy het geglo dat hy een van die wêreld se grootste musikante, akteurs, strydwa-renjaers en sangers was. Wanneer hy gesing het, was niemand toegelaat om die teater of vertrek te verlaat nie, selfs nie vir die dringendste rede denkbaar nie. Dit word vertel dat hierdie reël so streng toegepas is, dat daar vrouens was wat selfs terwyl hy gesing het, in die teater gekraam het. Nero het selfs in 67-68 n.C. sy heerskappy opsy gestoot en vir twee jaar in Griekeland gaan sing.

Dit is alombekend en so aangeteken ook, dat Nero die eerste Keiser was wat oorlog teen die kerk verklaar het. En dit het alles gebeur, nadat hy ontevrede was met die paleise en geboue in Rome. Hy was van plan om die stad te herbou en dit na homself te vernoem, Neropolis. Hy het ’n sondebok nodig gehad om hierdie plan van hom deur te voer en sodoende het hy ’n bose plan gesmee. Nero het op ’n stadium die keiserlike aanbidding ingestel (later meer daaroor), maar die gelowiges in Rome het geweier om hom te aanbid en hulle was dus die logiese sondebok.

Op 18 Julie 64 n.C. het ’n brand in die Circus Maximus in Rome uitgebreek en dit is alom bekend dat Nero hierdie brand gestig het. Hierdie brand het vir nege dae voortgewoed en bykans tweederdes van die stad verwoes. Die Christene is valslik hiervan beskuldig en in hul massas gevange geneem en vel vervolg. Sommige gelowiges is in diervelle gedraai en vir honde gegooi om opgevreet te word. Andere weer is in pik gedoop en aan kruise vasgemaak en in die aande as menslike fakkels by Nero se tuinpartytjies gebruik. Nero het partytjie gehou terwyl Rome gebrand het en gelowiges met hul lewens geboet het. Nero het sodoende instrument in die hand van die satan geword om ’n wydverspreide vervolging van die kerk van stapel te stuur – (Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee – Openb.13:2).

As gevolg van Nero se lewenswyse – sy spandabelrigheid en wreedheid het daar gedurende die tyd wat hy in Griekeland gaan sing het, wydverspreide opstande in die Romeinse Ryk ontstaan. Hy het in ’n desperate poging van die opstande probeer onderdruk – sommige suksesvol, maar andere nie. Uiteindelik het die Senaat besluit om hom op ’n wrede en skaamtelose wyse, tereg te stel, waarop hy met die hulp van sy sekretaris (Epafroditos) op die ouderdom van 31 op 9 Junie 68 n.C. sy keel met ’n swaard afgesny het.

3. DIE WOORD EN NERO:
Daar is baie bewyse en Skrifplase wat direk dui op die identiteit van die Dier en dat dit wel Nero was. Kom ons kyk na enkele bewyse:
· Openb.1:1 ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. Johannes stel dit dus ondubbelsinnig dat die profesieë wat in Openbaring gegee word, binnekort tot vervulling sou kom. Daarom dat hy ook in Openb.1:3 (O.A.V.) sê ~ ...want die tyd is naby.

· Die Dier se Nommer: Volgens Johannes dui die naam van die Dier, nl. die getal 666, daarop dat dit ’n mens moes gewees het. Openb.13:18b ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

Ten einde vas te stel aan watter mens, hierdie getal behoort is dit belangrik dat ons net enkele feite onder die loep neem. In die antieke tale het die letters van die alfabet, dubbele betekenis gehad. Eerstens kon dit woorde en name spel, maar tweedens kon letters ook getalle verteenwoordig het. Lg. is amper soos wanneer ’n mens in geheime taal sou skryf en dan ook gebruik sou maak van syfers om bepaalde woorde in geheime kode te spel. As Johannes dan sê ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer.... (Openb.13:8b), dan moet ons mos in staat wees om die Dier se naam uit te werk.

Omdat ons reeds na Nero gekyk het as kandidaat vir die titel, “Die Dier”, is dit baie interessant om te sien dat die naam Nero Caesar as volg gespel word: NRWN QSR. Die Hebreeuse waarde van hierdie letters is as volg:
N = 50
R = 200
W = 6
N = 50
Q = 100
S = 60
R = 200
Totaal 666

Wanneer ’n mens egter Nero (of enige iemand anders) wil koppel aan die getal “666”, is daar ’n paar dinge wat in gedagte gehou moet word:
- N.a.v. Openb.13:8b. Moet die “naamnommer 666”, dié van ’n man wees.
- Die naam sal moet pas by ’n boosaardige, goddelose, ens. man – Openb.13:5,7 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.... 7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- N.a.v. Openb.13:2,7 moet hierdie man ook ’n politieke figuur wees wat oor geweldige gesag beskik – Openb.13:2,7 ~ Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee....7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- Die naam moet van ’n man wees wat in Johannes se tyd geleef het (sien: “Openbaring Ontsluit # 20 - Postmillennialisme en die Datering van Openbaring”, deur dieselfde skrywer – Dit kan gevind word by: http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/).
- Die naam moet van iemand wees wat relevant was vir die eerste eeuse gelowiges en dan spesifiek diegene aan wie Johannes geskryf het.

Sonder om veel dieper in te gaan op allerlei ander ongegronde moontlikhede, sien ons dat Nero perfek aan bg. voorwaardes voldoen – en geen ander mens nie, want bo en behalwe al die voorwaardes hierbo genoem, pas Nero se naam perfek in die “naamnommer”, 666.

- Indien jy dalk ’n Bybel met kantlyn-aantekeninge gebruik, mag daar dalk in jou Bybel “616” staan en nie “666”. Weereens is daar baie lang redenasies t.o.v. hierdie verskil, maar uiteindelik blyk dit ’n doelbewuste en moedswillige verandering te wees en bly “666” steeds die korrekte interpretasie (vir volledige argument: Sien Kenneth Gentry (Jr.) se boek: "THE BEAST OF REVELATION", uitgegee deur American Vision, Powder Springs, Georgia, 2002. 246p. – sien spesifiek p.42-43. Sien gerus ook Gentry se hantering van besware teen Nero as die “666-man” in dieselfde boek, p.44-47). Nero is dus onteenseglik die Dier met die nommer “666”.

· Die Merk van die Dier: Ons lees in Openb.13:16 die volgende ~ Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra. Ons het al almal gehoor van die bedreiging van die “Merk van die Dier” en dat ons as gelowiges gedood gaan word, omdat ons gaan weier om die merk te dra. Ek kan nog onthou hoe daar in die begin jare van die Kredietkaart en later met die bekendstelling van die “Strepieskodes” allerlei berigte en boekies verskyn het om te verduidelik hoe dat hierdie “bose goeters” bewys is daarvan dat ons die laaste dae betree, want hierdie kredietkaarte en later die strepieskodes, is net die begin om ons sag te maak voor ons die merk ontvang.

Is hierdie “tekens” egter geregverdig? Het ons rede om te vrees? Het ons rede om te glo dat Jesus se koms op hande is?

Ek wil graag aan die hand van ’n kosbare boekie deur die skrywer Bob Emery (“An Evening in Ephesus”, uitgegee deur Bench Press Publishing, Charlottesville, VA. 1998. 125p.), u laat hoor hoe hy op verteltrant hierdie saak hanteer. Die volgende aanhaling kom uit Emery se boekie op p.84-85 en die verhaal speel af in ’n vertrek waar Johannes, die seun van Sebedeus aan ’n klompie mense die volgende vertel (verskoon die Engels): To explain the mark of the Beast, I’d like to go back to the letters in the revelation addressed to the seven churches. Let’s look at the Word of the Lord to the church in Philadelphia: The one who conquers, I will make him a pillar in the temple of my God. Never shall he go out of it, and I will write on him the name of my God, and the name of the city of my God, the new Jerusalem, which comes down from my God out of heaven, and my own new name (Openb.3:12). We have some brothers and sisters here tonight from the church in Philadelphia. I’d like to ask all of you a question: Have you ever met anyone or heard of anyone from the church in Philadelphia who had some kind of visible tattoo mysteriously written on their foreheads with the name of God and with the name of the city of God, New Jerusalem?

You haven’t? Well, I’m not surprised.

Do you also remember the 144 000, who were the firstfruits to God and the Lamb from among our Judean bretheren? I also described them as having His Name and the Name of His Father written on their foreheads.

I can tell you for certain that in all my days in the church at Jerusalem, and from everyone I’ve talked to, no-one has ever seen any believers in Christ walking around with the name of the Father and the Son stamped on their foreheads either.

Our God is One who writes with invisible ink!

I was reading one of our brother Paul’s letters to the church in Corinth. In it, he said that they were a letter, known and read by all men. He called them a letter of Christ...written not with ink, but with the Spirit of the living God, not on tablets of stone, but on tablets of human hearts.

Since no one has come forward as a witness that God literally wrote on the foreheads of those who were His own, why should anyone expect those who followed the beast to have his mark litterally branded on their foreheads?

The interpretation of the mark of the beast is simple. It’s symbolic and it speaks of ownership. Those who received the mark on their right hand, or on their forehead were those whose deeds and thoughts were influenced by the beast. In the same way, those who had the Lord’s name written on their foreheads were those who were single-minded in their devotion to Him.

And he provides that no one should be able to buy or sell, except the one who has the mark.... (Openb.13:17).

Those who had aligned themselves with the beast wanted nothing to do with the Christians. During Nero’s fierce persecution, many non-believers avoided the Christians because they didn’t want to be mistaken for one of them and suffer their same fate. This made it difficult for followers of Christ even to buy and sell in the marketplace.

Ons het dan nou die Dier geïdentifiseer en ons het ook na die “Merk van die Dier” gekyk, maar nou word ons verras met Openb.13:11 ~ Toe het ek ’n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Wie en wat is hierdie “ander dier”. Ons sal D.V. volgende keer kyk na hierdie “ander dier”, asook na die Oorlog of geveg waarin die Dier betrokke is en hoe dit ons as kerk van die Here Jesus Christus in ons dag raak.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 07 Februarie 2010