Tuesday, February 23, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 21 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs (Kinders van die Lig) – 16 [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:8-14 ~ Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9 Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10 Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11 en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12 Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13 Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14 En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.”

2. INLEIDING:
Jesus het in Joh.8:12 die volgende uitspraak gemaak ~ Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee – Ek is die lig van die wêreld! Dit is baie interessant om die agtergrond te ken waarteen Jesus hierdie uitspraak gemaak het. Die vorige aand is die Fees van die Tabernakels afgesluit met ’n baie belangrike seremonie wat die “Illuminasie (of Verligting) van die Tempel” genoem word. Daar was vier geweldige groot goue kandelare – so hoog soos die hoogste muur van die Tempel en bo-op hierdie kandelare was daar bakke wat elk, 65 liter olie kon neem. Daar was ’n leer teen elk van hierdie kandelare en wanneer dit donker word op die laaste aand van die Fees van die Tabernakels, het die jong en gesonde priesters, olie opgedra in dit in die bakke gegooi, waarna ’n pit wat in die bak was, aangesteek is, wat op hul beurt weer die olie aan die brand gesteek het. Daar word vertel dat hierdie bakke vuur, so helder gebrand het, dat dit die hele Jerusalem verlig het. Nadat die kandelare “brand gemaak” is, het daar volgens die “Misjna” (Naam vir ’n versameling Joodse godsdienstige wette wat in die derde eeu n.C. bymekaargebring is), godvresende manne, met brandende fakkels in hul hande voor die kandelare gedans en gesing terwyl talle Leviete op harpe en liere en simbale en trompette gespeel het. Hierdie aangrypende afsluiting van die Fees van die Tabernakels, was gehou ter herdenking van die Vuurkolom wat die Israeliete gedurende die nagte in die woestyn gelei het in Eksodus.

Dit was dan na hierdie seremonie en in dieselfde Tempel, met die uitgebrande oliebakke, dat Jesus die volgende môre gesê het ~ Ek is die lig vir die wêreld. Daar kon nie ’n beter geleentheid vir Jesus gewees het, om vir Sy toehoorders te sê: “Die vuurkolom wat tussen julle en die Egiptenare gekom het; die wolkkolom wat julle bedags gelei het en die lig van heerlikheid wat die Tempel van Salomo gevul het – dit is Ek! Ek is daardie lig – wie My volg, sal nooit weer in duisternis lewe nie!”

3. VOLG GOD SE LIG NA:
Ons is steeds besig met die tema waarna ons die vorige twee weke gekyk het, nl. om navolgers van God te wees. So het ons in Ef.5:1 bv. gelees ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Ons het ook gesien dat die belangrikste wyse waarop ons navolgers van God se deelbare eienskappe kan en moet wees, is om Sy liefde na te leef – daardie liefde wat Christus deur Sy lewe, vir ons kom demonstreer het. Paulus gaan egter nou met dieselfde tema voort en hy sê dat ons moet identifiseer met God se lig – ons moet dus God se lig ook navolg. Nou, hoe is dit moontlik om lig na te boots? Ons kan liefde naboots, deur liefde uit te leef, maar ons kan tog nie lig uitleef nie.

Die Woord praat daarvan dat God ons lig en ons Redder is (Ps.27:1). Ons sien in Jes.60:19, dat God vir ons ’n ewige lig sal wees. Sy Woord word ’n lamp genoem, wat vir ons die weg wys en ’n lig vir ons voete is (Ps.119:105).

Christus word in Jes.49:6 die lig vir die nasies genoem en in Joh.1:9 sê Johannes vir ons dat Jesus die ware lig is wat elke mens wat na Hom toe kom, verlig en in Joh.8:2 sê Johannes ook dat Jesus die lig vir die wêreld is. As ons dan navolgers van God moet wees, móét ons dus ook navolgers van Sy lig wees.

Ten einde te verstaan hoe dit moontlik is om God se lig na te volg, moet ons verstaan dat hierdie lig waarvan die Woord praat, in figuurlike sin gebruik word (intellektueel, asook moreel). Om God se lig dus na te volg, beteken om in waarheid en heiligheid te leef. Duisternis aan die anderkant beskik oor presies die teenoorgestelde eienskappe, nl. om in onkunde en valsheid te leef.

Intellektueel beteken dit, om te weet en te glo en moreel beteken dit om te dink en op te tree. In 2Kor.4:4 praat Paulus van hierdie intellektuele aspek, wanneer hy sê ~ Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is (sien ook rom.1:21; Ef.4:18). En in Jes.5:20 praat die profeet van beide hierdie aspekte van God se lig wanneer hy sê ~ Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. Beide dit wat hulle geglo het, asook hul dade, was dus korrup. Paulus weer praat van die morele aspek van God se lig wanneer hy die gelowiges smeek om op te hou met die werke van die duisternis en liewer die wapens van die lig op te neem.

Elke persoon wat egter aan God behoort, wandel in die lig – beide intellektueel en moreel ~ Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig, sê Johannes in 1Joh.1:5-7, God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

Ons moet daarom, as ons beweer dat ons God navolg, ook sy lig navolg – beide intellektueel, sowel as moreel. In verse 5 tot 7 meld Paulus, vyf praktiese kenmerke van God se lig, wat ons moet navolg, sodat ons, soos vers 8 sê, self lig kan word en wees. Paulus sê dat ons só moet leef, dat God se lig deur ons skyn en ons almal ken ’n prisma – wanneer lig aan die eenkant van ’n prisma inval, word dit opgebreek in al die verskille kleure waaruit lig bestaan en kom hierdie verskillende kleure aan die anderkant van die prisma uit – en dit is presies wat ons moet doen wanneer God se lig deur ons skyn – daardie Goddelike lig wat in ons is, moet opgebreek word, sodat mense die verskillende “kleure van God se lig” deur ons lewe kan sien en Paulus wys vir ons die verskillende “kleure” in vers 9, nl. ...alles wat goed en reg en waar is.

· Eerstens noem Paulus ... alles wat goed is. Paulus het hierdie selfde uitdrukking in 4:31 gebruik, toe hy gesê het, Wees goedgesind teenoor mekaar. Heelwat Griekse woorde word met “goed” of “goedheid” in die Nuwe Testament vertaal. Die Griekse woord vir goed wat in hierdie geval gebruik word, is "agathosune" en dit dui op dit wat intrinsiek goed is; wat vry van enige defekte is; mooi en eerbaar. Beide Johannes die Doper en Jesus het hierdie woord gebruik, toe hulle gesê het, dat indien ’n boom nie goeie vrugte dra nie, dit afgekap moes word (Matt.3:10; 7:19). Paulus gebruik ook hierdie woord wanneer hy vir Timoteus sê dat alles wat God geskape het, goed is (1Tim.4:4). “Kalos” (die basiese Griekse woord vir “goed”) of “agathosune” kan ook ’n morele betekenis hê – in 1Kor.15:33 gebruik Paulus dit in teenoorgestelde vorm wanneer hy sê, dat slegte geselskap, goeie sedes bederf.

Hierdie “goedheid” waarvan Paulus dan hier in Ef.5:9 praat, is ’n vrug van die lig en dit is ook een van die vrugte van die Gees (Gal.5:22) en daarom is 1Tes.5:15 ’n baie goeie samevatting van hierdie goedheid wat Paulus sê, een van die “kleure” van die lig is wat ons as gelowiges moet navolg, nl. ~ Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Let op, hier staan nie net dat ons goed moet wees teenoor ons medegelowiges nie – nee, ons met ook goed wees teenoor alle mense en dit word vir ons bevestig in Rom.2:17 ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.

· Wanneer ons God se lig nastreef, moet ons in die tweede plek, leef wat reg is. Ons moet dus geregtigheid leef. En wat beteken die woord geregtigheid? Dit beteken dat ons moreel onkreukbaar moet wees.

Wat Paulus hier vir ons wil sê, is dat ons in die eerste plek in die regte verhouding met God moet leef ~ ...lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Ef.4:24). Reg of dan geregtigheid, het ook te doen met hoé ons lewe. Almal wat regverdig verklaar is, moet in opdrag van die Skrif, reg lewe ~ Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil (Rom.6:13). Omdat Christus Sy eie aard van geregtigheid aan ons geskenk het, moet ons dit ook uitleef. 1Tim.6:11 sê ~ Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid. Die N.A.V. vertaal dit met ~ Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid. Omdat ons weet dat Christus geregtigheid is, moet ons ook godsalig lewe, daarom dat Johannes sê ~ As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is (1Joh.2:29).

· Die derde vrug van die lig wat ons moet nastreef, is
waarheid. Waarheid het alles te doen met eerlikheid, betroubaarheid, vertroue en integriteit.

4. DIE VRUG VAN LIG:
Ons sien dus dat goedheid primêr te doen het met ons verhouding jeens andere; geregtigheid weer het primêr te doen met ons verhouding met God en waarheid het hoofsaaklik te doen met persoonlike integriteit.

Sonder hierdie vrug, is daar geen getuienis van ’n lewe in Jesus Christus nie. Dit is waarom Jesus ons ook in Matt.7:15-16 as volg gewaarsku het ~ Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?

Alle mense dra vrug – diegene wie in die duisternis wandel, dra slegte vrugte en diegene wie in die lig wandel, dra goeie vrugte. En daarom kan ons sê dat diegene wat nie die vrug van geregtigheid in hom dra nie, geen deel aan Christus het nie. Daar bestaan net eenvoudig nie so iets soos ’n vrugtelose Christen nie. Kol.1:10 sê vir ons dat kinders van die Here, vrugte dra deur goeie werke en dat diesulkes sal toeneem in die kennis van God.

Wanneer ons as gelowiges in sonde val, ly die ryp oes van vrugte in ons lewens daaronder. Ons primêre fokus moet dus wees om voortdurend vas te stel wat dit is wat die Here behaag. Die mate waartoe ons gehoorsaam is aan die lig, sal bepaal hoeveel van die lig ons sal ontvang.

Dit is verder belangrik dat ons sal besef dat sekerheid van geloof, nie net gebaseer kan word op iets wat in die verlede gebeur het nie, maar dit kan slegs met sekerheid gebaseer word op die vrug wat voortgebring word vanuit ons geestelike lewens.

5. ONS OPDRAG:
In die lig van verse 8-10, kom Paulus nou en hy gee aan ons as gelowiges, ’n baie duidelike riglyn en opdrag – eerstens, negatief gestel ~ ...en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Kinders van die lig (wat ons as gelowiges is), mag nie eens deel wees van, of selfs geassosieer word met die bose nie. Ons kan nie getuies vir Jesus Christus wees, as ons geassosieer word met die wêreld nie. Ons mag hoegenaamd nie God se standaarde afwater en kompromie maak met die wêreld nie. Inteendeel, Paulus sê dat ons nie eens kontak met sulke mense moet hê nie. Dit is waarom hy ook in 1Kor.5:9-11 aan die Korintiërs gesê het ~ In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10 Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11 Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

Paulus sê dus aan ons in geen onduidelike taal, dat ons as gelowiges wat die lig van God wil nastreef, onder geen omstandighede mag ... meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. En hierdie vrugtelose praktyke van die duisternis het ons reeds in hoofstuk 4 behandel, nl.: Praktyke soos leuens en kwaadsprekery, woede, diefstal, vuil taal, bitterheid, woede en toornigheid. Aan die begin van hoofstuk 5 het ons gekyk na vrugtelose praktyke van die duisternis, soos: Ontug, onsedelikheid in enige vorm, gierigheid, growwe, ligsinnige of vuil taal.

Aan die positiewe kant sê Paulus in vers 11b-13 ~ ...maar stel dit eerder aan die kaak. 12 Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13 Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. Ons as gelowiges se verantwoordelikheid strek dus verder as bloot net om nié deel te neem aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Ons moet juis die teenoorgestelde lewe, maar selfs nog meer as dit, ons moet hierdie praktyke van die duisternis, selfs onthul. Die Griekse woord hier dra ook die gedagte van konfronteer, teregwys, regstel, straf en dissipline. Ons het dus ’n verantwoordelikheid om hierdie sonde te konfronteer in mense (en veral mense wat hulself gelowiges noem en daarom ook ons broers en susters) se lewens – dit is waarom Jesus ook vir ons riglyne in Matt.18:15-17 gegee het oor hóé om dit te doen.

Die probleem waarom baie gelowiges nie sonde aanspreek nie, is omdat:
o Hul eie geestelike en morele huise nie in orde is nie en daarom het hulle nie die gawe van onderskeiding om dit te identifiseer as sonde nie.
o Hulle sonde nie ernstig opneem nie – hulle sal eerder saam met die sondaars lag daaroor, as om dit aan te spreek. Hulle herken die optrede as sonde en sal dit self nie doen nie, maar hulle sal dit nie aanspreek nie. Wanneer dit gebeur, misluk hulle nie alleen daarin om op te tree teen die bose nie, maar word hulle self daardeur besoedel. Ons mag nie eers met ’n glimlag luister na sulke praatjies nie – dit is waarom Paulus sê ~ Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.

’n Weiering of terughoudendheid om sonde aan te spreek (dit sluit die dissiplinering van gelowiges se sondige kinders, deur hulself in) is blatante ongehoorsaamheid aan die opdragte van God. Vers 14 sê dat sonde aan die kaak gestel word, sodat wanneer die lig daarop val, die onaanvaarbaarheid en lelikheid daarvan ontbloot word.

In vers 14b sluit Paulus hierdie perikoop af met die woorde ~ Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig. Hierdie woorde is gebaseer op die woorde in Jes.60:1 ~ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Paulus verduidelik hiermee die profetiese woorde van Jes.60:1, deur te verklaar dat die teenwoordigheid van die Here, niemand anders as Jesus Christus self is nie – Hy die Messias, op wie elke Jood so gehoop het, hét gekom en Hy laat Sy lig skyn.

6. AFSLUITING:
Hierdie woorde in vers 14 is dus ’n oproep op almal wat vasgevang is in sonde, of steeds kompromie maak met sonde, deurdat dit sê, dat diesulkes wakker moet word en hulle bekeer en indien hulle dit doen, sál Christus se lig op hulle skyn en al hulle sonde verlig, sodat dit hanteer kan word – sodat dit bely kan word en dit in Christus Jesus se Naam vergewe kan word. Jesus Christus, die lang verwagte Messias en Redder en Saligmaker, is dus die Geneesmiddel vir almal wat in sonde vasgevang sit. Jes.55:6-7 is ’n Ou Testamentiese bevestiging hiervoor ~ Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. 7 Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. Hoe genadig is God die Vader nie teenoor ons, deurdat Hy Sy Seun Jesus Christus gegee het om versoening van hierdie sonde vir ons te doen nie!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 21 Februarie 2010