Tuesday, January 26, 2010

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 24 Januarie 2010

Openbaring Ontsluit (Die Millennium) - 21 [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Voor ons kan aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring, is daar nog enkele ander sake wat ons moet aanroer ter wille daarvan dat ons die res van Openbaring beter kan verstaan. Een van hierdie onderwerpe is die hele kwessie van die Millennium, of ook genoem, die “Duisendjarige Vrederyk”. Wanneer gaan dit plaasvind? Gaan dit plaasvind? Wat behels dit indien dit gaan plaasvind, ens.? Ten einde antwoorde op hierdie vrae te kry, moet ons na Openb.20 gaan kyk en dan net weer vlugtig na die verskillende uitgangspunte van die drie strominge, nl. A-, Pre- en Postmillennialisme.

2. JESUS SE WEDERKOMS:
Die hele kwessie van die “Millennium” hang baie nou saam met die wederkoms van Christus. En wanneer ons kyk na die “Millennium-kwessie” kan ons weet wanneer Jesus gaan terugkom! Hoe kan ek dit sê as Jesus self in Matt.24:36 sê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Ek verwys dus nie na ’n dag en datum soos sommige mense kort-kort beweer nie (die nuutste bv. Des. 2012). Daar is egter ’n aanduiding van wanneer ons die wederkoms van Jesus Christus kan verwag, maar daarvoor moet ons verstaan wat die Millennium is en wanneer dit gaan gebeur.

Net so terloops – die feit dat Jesus gesê het dat Hyself nie die dag en datum van sy wederkoms ken nie, kan ’n mens baie maklik verwar as ons nie weet hoe om daardie uitspraak te vertolk nie, want Jesus is tog God en God is alwetend – hoe klop hierdie uitspraak dus met God se alwetendheid? Ons moet onthou dat Jesus, mens was toe Hy hierdie uitspraak gemaak het en dat Hy op daardie stadium as mens dus nie geweet het wanneer Hy sal terugkom nie.

Wanneer ons wil weet wanneer Jesus gaan terugkeer, moet ons na die Skrif gaan en ons moet nie na ’n dag en datum gaan soek nie, maar ons moet die Skrif gebruik wat vir ons gegee is en dít interpreteer. En die Skrif praat net van ’n “tydperk” – Jesus gaan dus na ’n “tydperk” terugkeer. Ten einde dan te weet wanneer Jesus gaan terugkeer moet ons gaan kyk na wat hierdie “tydperk” is en ook wat oor hierdie “tydperk” gesê word. Openbaring verskaf aan ons die antwoord op hierdie vrae.

3. DIE MILLENNIUM:
Ons lees in Openb.20:1-15 van so ’n tydperk ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy hand. 2 Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3 Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4 Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5 Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6 Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. 7 Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8 Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. 9 Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10 Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. 11 Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12 Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13 Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14 Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15 As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Hier word dus gepraat van ’n millennium, of te wel ’n duisendjarige tydperk. Ek wil net onmiddellik sê, dat ons nie, soos die Pre-millennialiste, hierdie enkele gedeelte wat in hoogs simboliese taal geskryf is, kan neem as hoeksteen waarop ons, ons eskatologie (die leer oor die eindtye) baseer nie – dit sal uiteraard onverantwoordelik wees. ’n Postmillennialistiese eskatologie moet, soos met die res van die Skrif, bepaal word deur “Skrif-met-Skrif” te vergelyk en daarom sal ons sien dat ’n Postmillennialistiese eskatologie sterk steun op die beloftes en profesieë wat regdeur die Ou Testament aangetref word, asook Nuwe Testamentiese getuienisse. Ons sal dan ook sien dat Openb.20 se eskatologie 100% inpas by die basiese eskatologiese struktuur van die ganse Bybel.

Openb.20:1-10 gee vir ons ’n visie weer van die Millennium en die Groot Wit Troon van Oordeel (v.11-15). Johannes vertel vir ons van drie dinge wat karakteristiek is van die Millennium:
· Vanaf die begin tot die einde van die Millennium, is die satan gebind.
· Christus regeer saam met alle gelowiges.
· Aan die einde van die Millennium word Satan vir ’n kort tydjie vrygelaat om ’n rebellie of opstand te lei, waarna hy in die Poel van Vuur gewerp word.

Voor ons egter kan voortgaan met Openb.20, moet ons net eers na die onmiddellike konteks kyk en daarvoor moet ons na Openb.19 kyk. In hierdie voorafgaande hoofstuk het Johannes ’n visioen ontvang oor Jesus Christus as seëvierende Ruiter op ’n Wit Perd wat deur die geskiedenis ry met ’n swaard in Sy mond waarmee Hy al Sy teenstanders oorwin. Om hierdie oorwinning te vier, vind ’n groot ete plaas – hierdie oorwinnings-ete is ’n verwysing na die Nagmaal wat ons as gelowiges gereeld geniet – o.a. dus om Christus se oorwinning oor die Bose te gedenk.

Ons weet dat Jesus gesterf het ten einde regverdigmaking vir elkeen van ons te bewerkstellig, maar ons onthou Hom nie as ’n dooie Saligmaker aan die kruis nie – ons weet en bely tog dat Hy ook opgestaan en die dood oorwin het. Ons gedenk Hom dus as ’n seëvierende Verlosser. Ons lees in 1Joh.3:8b ~ En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. En in Hebr.2:14-15 lees ons ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. En Kol.2:15 sê ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (sien ook Matt.12:29; Luk.10:18; Joh.12:31; 1Joh.3:8).

Ons sien in vers 2 van Openb.20, dat Jesus...die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp (het) en hom vir duisend jaar vasgebind (het). Waarom is die satan vasgebind met ’n ketting? Vers 3b ~ ...sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. Johannes sien dan hoe dat diegene wat getrou is aan Christus, saam met Hom regeer gedurende hierdie duisendjaar tydperk (v.4).

Ons moet daarop let dat die “binding van Satan” nie die einde van sy aktiwiteite impliseer nie, daarvoor is 1Pet.5:8 te duidelik ~ Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Die “binding van Satan” beteken egter dat hy nie meer daartoe in staat is om die verspreiding van die Evangelie na alle nasies, te verhoed nie (Openb.20:3).

Wanneer ons wil vasstel wanneer die Millennium ’n aanvang neem (en dit is van die uiterste belang om dit te bepaal, want dit is hier waar die Pre-millennialisme van ons verskil) moet ons kennis neem van die volgende teksverse en wanneer ons dit doen, sal ons baie duidelik sien dat Christus se Koninkryk (die Duisend Jaar dus), reeds ’n aanvang geneem het met Sy eerste koms (of die Eerste Advent):
· Matt.2:1b-2a ~ Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?
· Hand.2:30-31 ~ Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31 Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.
· Kol.1:13 ~ Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
· Openb.1:5a ~ ...Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Sien ook Daniël, hoofstukke 2 en 7; Hand.17:7 en dan natuurlik ook Openb.20).

Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat Christus se Koninkryk en derhalwe die Millennium, reeds met Sy eerste koms, of te wel, Sy geboorte ’n aanvang geneem het.

Die Eerste Opstanding: Openb.20:4 verwys na die Eerste Opstanding. Wat is hierdie Eerste Opstanding? Ons vind die antwoord o.a. in Ef.2:4-6 ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee (sien ook Rom.6:3-4; Kol.2:12-13). Let op: Hier staan: ...ons wat dood was....; ...lewend gemaak; ...gered.... Alles verlede tyd – iets wat dus in die verlede gebeur het – afgehandel – wedergeboorte – geestelike opstanding dus.

Hierdie nuwe lewe wat ons in Christus uit genade en deur geloof alleen ontvang het, is die Eerste Opstanding – ons wat gered is, het dus deel aan die Eerste Opstanding. Dit word selfs nog duideliker gestel in Joh.5:24-25 ~ Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25 Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. En die baie bekende Joh.11:25-26 stel dit selfs nog duideliker ~ Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Die Eerste Opstanding verwys dus na die wedergeboorte en die wedergeborenes.

Maar luister verder...... Hierdie verlostes wat opgestaan het tydens die Eerste Opstanding is ook diegene wie saam met Christus regeer in Sy Koninkryk – Rom.5:17 ~ Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Ef.2:6 ~ Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee (sien ook Hebr.12:28; Openb.2:10). In lewe en in sterwe sal ons dus saam met Christus regeer.

Hierdie feit, nl. dat die verlostes wat opgestaan het tydens die Eerste Opstanding saam met Christus regeer, word verder bevestig in verse 4-6 van Openb.20. Hier sien Johannes “trone” waarop gesit is. Die Afrikaanse vertaling is nie baie duidelik hier nie en daarom verwys ek u na die E.S.V. ~ Then I saw thrones, and seated on them were those to whom the authority to judge was committed. Vers 4 gee dus vir ons ’n presiese aanduiding van wie almal saam met Christus regeer – diegene aan wie die gesag gegee is om te oordeel. Hy sê egter steeds nie vir ons wie hierdie “Regters” is nie. Ons moet in gedagte hou dat die beeld van trone, in die Openbaring-simboliek, deurgaans na die vier-en-twintig ouderlinge verwys en ons weet vanuit Openb.4, dat die 24-ouderlinge ’n simboliese verwysing na die Kerk van die Here Jesus Christus is (die verlostes dus wat opgestaan het tydens die Eerste opstanding). Eerstens, volgens Openb.20:4-6 regeer alle gelowiges dus saam met Christus en dit is in ooreenstemming met die voorafgaande verse soos wat ons reeds gesien het (Rom.5:17; Ef.2:6; Hebr,12:28, ens.). In verse 5 en 6 sien ons ook dat die afgestorwe gelowiges, saam met die lewendes regeer.

Johannes sê egter verder in vers 4 (weer die E.S.V.) ~ Also I saw the souls of those who had been beheaded for the testimony of Jesus. Almal wat dus as Christen Martelare gesterf het, regeer saam met die ander gelowiges. Die gemeentes aan wie Johannes dus geskryf het, word ook bemoedig deurdat diegene wat uit hul geledere vir hulle geloof gesterf het, ook saam met hulle tot op die laaste dag sal regeer.

Die Tweede Opstanding: Die Woord praat egter nie net van ons Eerste Opstanding wat ’n geestelike opstanding, nl. die wedergeboorte is nie, maar ook van ’n Tweede Opstanding, nl. ’n liggaamlike opstanding. Rom.6:5 ~ Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 1Kor.15:22-23 ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 1Tes.4:16 ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan. Openb.20:6 en 14 stel dit ook pragtig wanneer dit sê dat diegene wat deel gehad het aan die Eerste Opstanding, nie ná die Tweede Opstanding deur die Vuurpoel verswelg sal word nie. Daar sal dus nog ’n Tweede Opstanding plaasvind en wanneer gaan dit wees? Openb.20:5b verskaf aan ons die antwoord ~ Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. Die Tweede opstanding sal dus plaasvind aan die einde van die duisend jaar tydperk.

Hier moet onderskei word tussen die opstanding van die gelowiges en die ongelowiges. Beide groepe afgestorwenes sal opstaan, maar die gelowiges sal in Lewe opstaan en diegene wie in ongeloof gesterf het, sal opstaan om geoordeel te word (Joh.5:28-29 ~ Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word).

Satan losgelaat: Ons lees egter in Openb.20:7-11 dat die satan aan die einde van die Millennium, net eers vir ’n kort tydjie losgelaat gaan word, waartydens hy vir ’n laaste keer, die volke van die aarde sal mislei. Aan die einde van hierdie kort tydperk sal die satan finaal deur God veroordeel word, deur hom in die Vuurpoel te werp. Direk nadat die satan veroordeel is, sal die algemene opstanding plaasvind waar alle mense, voor die Groot Wit Troon van God te staan sal kom. Dié wie nie in Christus is nie, sal saam met die satan in die Vuurpoel (die tweede Dood) gewerp word. Diegene wie in Christus Jesus is en deel het aan Sy opstanding, sal gered word en die ewige lewe ontvang. En derdens, die “Dood” wat die laaste vyand is, sal dan vernietig word (v.14; 1Kor.15:26 ~ Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood).

Dit is dus duidelik dat Christus se Koninkryk met die eerste Advent begin het én dat Sy kinders vir ’n duisend jaar saam met Hom regeer in hierdie Koninkryk (Charismate vertolk die 1000 jaar letterlik – onthou: ons het hier te doen met baie simboliek en daarom is hierdie 1 000 jaar simboliek en derhalwe dui dit op ’n tydperk).

Die Huidige Regering: Wat word bedoel met die uitdrukking, “hierdie huidige regering” (v.4)? Gedurende die 1000 jaar gaan die gelowiges oor die vlees, die wêreld en die satan heers – hulle gaan dus saam met Christus leef. Hulle leef in teenstelling met die res van die wêreld wat dood is al dink hulle, hulle leef. Hulle heers egter ook saam met Christus in hierdie lewe. Let op: Christus lewe nie saam met die gelowiges nie. Nee, dit is andersom – die gelowiges leef saam met Christus.

Die vraag wat waarskynlik dadelik na vore tree, is hoe dit moontlik is dat die gelowiges saam met Christus kan regeer, terwyl die gelowiges hier op hierdie sondige aarde is? Die antwoord is – Op dieselfde wyse as wat Henog saam met God gewandel het. Die feit dat Henog saam met God gewandel het, beteken nie dat Henog in die hemel was nie. Ook beteken dit nie dat God in liggaamlike vorm op aarde was nie. Henog het in ’n geestelike sin met God gewandel. Die gelowiges regeer op dieselfde wyse saam met Christus hier op aarde, as wat Henog met God hier op aarde gewandel het. Openb.5:10 sê ~ U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer. Hier word nie na die herskepte aarde verwys nie, want hierdie regering waarna vers 10 verwys, vind plaas vóór die finale oordeel (v.11) wat voor die Groot Wit Troon gaan plaasvind – in hierdie lewe dus; op hierdie sondige aarde dus! In die lig van die konteks van Openb.5, is dit dus eksegeties onmoontlik om die Trone en die regering van die gelowiges as behorende tot die hemel, te sien. 2Tim.2:11-12 gee in elk geval vir ons dieselfde waarheid deur as v.4 ~ Dit is ’n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; 12 as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën – en dit geskied in hierdie lewe – ná ons Eerste Dood en vóór die Algemene Opstanding.

Die regering van die gelowiges is dus ’n huidige realiteit, maar dit kom eerstens, soos reeds gesê, tot uitdrukking in ons oorwinning oor die vlees, die wêreld en die satan – 1Joh. 5:4-5, 18 ~ ....want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?... Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie (sien ook: 1Joh.1:7; 2:13-14, 17; 3:9; 4:4).

Die Toekoms van hierdie Regering op Aarde: Omdat die gelowiges wat God se genade in hul lewens ervaar en vir wie hierdie oorwinningslewe ’n realiteit is, sal hulle die wêreld wíl vertel van die heerlikheid van God. Tesame hiermee vind ons Christus se opdrag in Matt.28:19-20 ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. In die lig hiervan, asook die feit dat die Postmillennialisme glo dat die gelowiges reeds in hierdie wêreld saam met Christus regeer, het ons dus hier te doen met ’n drievoudige krag wat tot gevolg sál hê, dat God se Koninkryk hier op aarde sal uitbrei. Hierdie feit word ook bevestig deur die Skrif self – Dan.7:13-14 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14 Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie (Jes.9:7; Matt.28:18; Ps.72:8-11; Matt.13:31-33; 1Kor.15:25). God sal hier op aarde heers (en ons saam met Hom), tot en met die Groot Oordeel aan die einde van die Millennium.

God se Koninkryk het dus gekom; en Sy Koninkryk hou aan om te kom. En eendag, wanneer Jesus terugkeer, sal die Koninkryk steeds kom, maar dan in al Sy ewige heerlikheid en volheid (1Kor.15:23-28).

Al klink dit dalk hoe absurd op hierdie oomblik, maar die Postmillennialistiese siening is ’n positiewe en optimistiese standpunt en tyd laat ons ongelukkig nie vanaand toe om verder hierop in te gaan nie, maar wel D.V. ’n volgende keer.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 24 Januarie 2010