Monday, February 15, 2010

Openbaring Ontsluit - 16 (Die Dier en die Ander Dier) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Ons het die vorige keer genoem dat daar in Openb.13:11 melding gemaak word van ’n “Tweede Dier” ~ Toe het ek ’n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Wie of wat was of is hierdie Tweede Dier? Voor ons egter daarby kom moet ons net eers na nog enkele sake t.o.v. Nero kyk.

2. DIE OORLOG VAN DIE DIER:
Ons het reeds aangedui dat die Dier, Nero moes wees, maar ten einde onteenseglik te bewys dat dit Nero was, moet ons aandag skenk aan Openb13:7 en enkele ander verwysings in die Woord en geskiedkundige gebeure wat ooreenstem met dit waarvan ons in die Woord lees. Openb.13:7 lees dan as volg ~ Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.

Indien die Dier, Nero was is dit bo en behalwe dit wat ons die vorige keer gesê het, nodig om aan te dui dat:
· Nero wél oorlog gevoer het teen die gelowiges, of anders gestel dat hy hulle fel vervolg het.
· Dat Nero hulle as Gelowiges vervolg het, en
· Dat hierdie vervolging vir ’n tydperk van 42 maande voortgeduur het (Openb.13:5).

Dit word algemeen aanvaar onder regsinnige teoloë, dat fel vervolging van gelowiges in die “Openbaring-era” onder Nero plaasgevind het, inteendeel dit het reeds begin terwyl Johannes aan Openbaring geskryf het. Bo en behalwe vers 7 hierbo vermeld, is Openb. 1:9 ook betekenisvol ~ Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Hieruit blyk dit baie duidelik dat vervolging van gelowiges aan die orde van die dag was, maar ook toon dit dat Johannes deel uitgemaak het van hierdie vervolging. ’n Verdere aanduiding dat die Romeinse Ryk verantwoordelik was vir hierdie vervolging, is die feit dat slegs Rome oor die mag beskik het om iemand na Patmos te verban. Patmos was ook bekend daarvoor dat Rome dit gebruik het as ’n strafkolonie. Hierdie vervolging was op hierdie stadium waarskynlik nog in sy kinderskoene, want Openb.2:10 en 3:10 dui daarop dat die vervolging maar pas begin het in Klein-Asië en Johannes wys verder daarop dat dit slegs vir ’n kort rukkie (24 maande) sou plaasvind – Openb.13:5 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.

Johannes noem self in Openb.1:9 dat hy en sy medegelowiges hulle in ’n tyd van verdrukking bevind. Hierdie vervolging, of tyd van verdrukking begin in 64 n.C., want net twee jaar vantevore (62 n.C.) het Paulus as Christen, hom beroep op die keiser (Nero) en is hy vrygelaat (Hand.25:11-12; 28:19). Die Christendom was dus nog nie op daardie stadium vervolg en verdruk nie, want dit was eers van 64 n.C. dat Christene as Christene vervolg is. Sulpicius Severus (360-420 n.C.) skryf bv. Nero was the first of the emperors who showed himself an enemy of the divine religion. Hy skryf voorts dat Nero die eerste keiser was wat gepoog het om die naam “Christen” verbied te kry.

Tot en met 64 n.C. was die Christendom beskou as ’n sekte wat uit die Jodedom gespruit het en derhalwe tot op daardie stadium onder die sambreel van Judaïsme, beskou is as ’n “wettige godsdiens”. Hierdie beskerming wat die Kerk in haar “kleuterdae” geniet het, was van die uiterste belang, ten einde die Evangelie, gedurende die Apostoliese tyd, die geleentheid te gee om stewig gevestig te raak, te groei en te versprei.

Hierdie vervolging van die gelowiges is nie net deur Christelike bronne bevestig nie, maar ook deur heidense bronne – so bv. het die Romeinse historikus Tacitus (56 n.C. 117 n.C.) verwys na die vervolgde gelowiges as, those who ... were vulgarly called Christians.

Nero se “oorlog” teen die gelowiges was die eerste van sy soort gemik teen gelowiges en tweedens het dit, soos reeds aangedui, tydens Johannes se tyd plaasgevind en derdens was dit dus uiters relevant vir die eerste eeuse gelowiges. Dit alles het egter net daartoe gelei dat die Christendom net verder uitgebrei het.

Die vervolging van gelowiges onder Nero was die heel ergste van alle tye – ons het al na verskeie metodes verwys waarop gelowiges gesterf het (brandende fakkels; Nero en sy beeshorings, ens.).

Dit was onder die regering van Nero dat die Nuwe Testamentiese Kerk, twee van haar mees prominente Apostels verloor het, nl. Paulus en Petrus. En Johannes is soos reeds aangedui, na Patmos verban gedurende hierdie tyd. Die voorbeeld wat Nero met hierdie optrede teen die Apostels gestel het, is slaaf nagevolg deur sy amptenary en grootskaalse vervolging van gelowiges het regdeur die Romeinse Ryk plaasgevind.

Baie interessant is die feit dat die tydperk van vervolging op gelowiges deur Nero, ooreenstem met die tydperk wat in Openb.13:5 gemeld word ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. Die vervolging het vanaf November 64 n.C. na die verwoestende brand in Rome begin, want nadat gerugte die rondte begin doen het dat dit Nero was wat die brande gestig het, het hy sondebokke nodig gehad om te beskuldig en sodoende die suspisie op hom te herlei na iemand anders toe – die gelowiges het dit ontgeld! Paulus (onthoof in Rome) en Petrus (gekruisig – onderstebo op eie versoek – nie waardig om soos Christus te sterf nie) is gedurende hierdie tyd en wel net voor Nero se selfmoord, gedood. Hierdie vervolging het amptelik voortgeduur tot en met die dood van Nero op 9 Junie 68 n.C. Nie een van die daaropvolgende keisers (Vespasianus en Titus) het die kerk lastig geval gedurende die volgende dekade nie. Ook het Domitianus daarna, dit nie gedoen nie.

Met ’n speling van enkele dae het die amptelike en gruwelike vervolging van die Christene dus vir 42 maande geduur – vanaf November 64 tot Junie 68. Hoe betekenisvol is hierdie feite nie – nie net pas die getal van die Dier, Nero perfek nie, maar ook die tydperk van geweldige vervolging van 42 maande speel af gedurende die regering van Nero.

3. KEISERLIKE AANBIDDING:
Ons lees die volgende in Openb.13:4 ~ Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?” (sien ook 13:8, 12, 15; 14:9, 11; 16:2; 19:20; 20:4). Keiserlike aanbidding was algemeen in die Romeinse Ryk en was geïmplementeer deur Julius Caesar. Die Romeinse Senaat het hom selfs die titel, Jupiter Julius gegee, wat hom gelyk gestel het met die leidende Romeinse god, Jupiter.

Die tweede heerser, Augustus Caesar het aanbidding van hom in Rome verbied, dog hy het dit in ander gebiede toegelaat. Net soos wat dit die geval met Julius was, is ook Augustus na sy dood tot god verklaar.

Tiberius Caesar was die derde heerser. Na sy dood het verskeie stede in die Romeinse Ryk probeer om aangewys te word as die stad waar ’n aanbiddingstempel vir Tiberius opgerig kon word – Smirna het die bod gewen.

Gaius (“Caligula”) Caesar was die vierde heerser en hy het soveel van hom as god gedink dat hy die kop van sy eie standbeeld bo-op die kop van die god Jupiter geplaas het. Hy het ook daarop aangedring dat hy aangespreek word as Jupiter en hy het tempels tot sy eie eer opgerig.

Claudius Caesar was ook aanbid as god. Hy het o.a. ’n tempel ter ere aan sy eie goddelikheid laat oprig. Hy is ook aangespreek as “ons god Caesar”.

Nero was die volgende en hy was gesien as ’n aardse openbaring van die god Apollo. U sal onthou dat Nero homself gesien het as dié musikant en sanger in die Ryk en daarom verskyn hy ook op muntstukke as Apollo wat sit, terwyl hy ’n lier (’n Griekse snaarinstrument) speel. Oostelike provinsies se muntstukke het weer Nero se moeder (Agrippina) uitgebeeld met die inskripsie: “godin en moeder van ’n god”. In 55 is ’n groot beeld (tussen 33 en 37 meter hoog) van Nero in die Tempel van Mars, in Rome opgerig – Nero was ook gelykgestel met die god Jupiter.

Op inskripsies wat in Efese gevind is, is Nero aanbid as die “Almagtige God”, asook die “Redder”.

Terwyl die vorige keisers, met die uitsondering van Gaius en Nero, eintlik eers na hul dood tot gode verhef is en enkeles dit in hul leeftyd aanvaar het en selfs die oprigting van tempels tot hul eer toegelaat en in enkele gevalle selfs geïnisieer het, was dit Gaius en Nero wat openlik en ernstig daarop aangedring dat hulle in hulle regeringstyd reeds aanbid moes word as gode.

Ons lees in Openbaring van hierdie afgode aanbidding ~ Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie (Openb.13:15). Die verwysing na keiserlike aanbidding in Openbaring, asook die realiteit en teenwoordigheid van keiserlike aanbidding in antieke literatuur en geskiedskrywing, plaas ons dus op die regte spoor wanneer ons sê dat die Romeinse Ryk en sy keiser by name Nero, Die Dier van Openbaring is.

4. DIE ANDER DIER:
Die Here Jesus het ons reeds op die Olyfberg gewaarsku teen vals profete ~ As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24 Daar sal vals “christusse” en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie (Matt.24:24-26). Jesus praat hier van vals “christusse” wat in “daardie tyd” op die voorgrond sal tree – na watter tyd verwys Hy? Die “eindtye”? Die kort tydjie wanneer satan aan die einde van die millennium losgelaat gaan word? Wanneer? Kom ons kyk na die konteks – Vers 2 van hoofstuk 24 lees as volg ~ Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word. Waarna of na watter gebeure word hier verwys? Die val van Jerusalem en die vernietiging van die Tempel natuurlik. Hierdie vals “christusse” of vals profete, of die “Ander Dier” sal dus nog in die lewe van die lesers van die sewe briewe in Klein Asië, plaasvind – voor 70 n.C. in elk geval.

Die “Tweede Dier”, sien ons in Openb.13:11, het twee horings gehad soos dié van ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Ons moet onthou dat ’n lam ’n godsdienstige simbool is. Die Bees het ’n skyn van godsdienstigheid gehad, maar het misleidend gepraat soos ’n draak.

Ons weet vanuit die geskiedenis dat daar kort voor die Tempel verwoes is, verskeie vals “christusse” en valsprofete na vore getree het en wel vanuit die gevestigde godsdienstige instellings in Jerusalem. Satan het die “ou wynsak” gebruik om die Joodse godsdiens en sy leiers te gebruik in ’n poging om die mense van hul tyd te mislei en weg te draai van Christus. Lukas het bv. in Hand.8:9-10 van so ’n misleier gepraat – ’n misleier wat bekend gestaan het as “Die Groot Krag van God” ~ In dieselfde stad was daar ’n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10 en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Johannes en Petrus het in dieselfde tyd na Samaria gegaan om die Evangelie daar te verkondig en hulle het o.a. daar gebid vir die mense, vir die vervulling van die Heilige Gees. Hierdie Simon het gesien wat gebeur het en hy het dieselfde krag begeer en selfs geld aangebied om dit te kon kry (Hand.8:18). Hierdie Simon was ’n voorbeeld van die baie vals “christusse” wat in daardie tyd rond gegaan het.

Daar was bv. ook die geval van die Hoë Priester se sewe seuns wat in Efese ...rond gegaan het om bose geeste te besweer, (en wat) dit ook gewaag (het) om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” 14 Dit was die sewe seuns van ’n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het (Hand.19:13-14). Hulle het selfs die naam van die Here Jesus probeer gebruik ten einde die mense te mislei.

Hierdie is twee voorbeelde van misleiers en vals “christusse” waarteen die Here Jesus in Sy Olyfberggesprek gewaarsku het en dan was daar natuurlik ook die vals “christusse” wat vanuit die Romeinse Ryk (politieke sisteem – Nero) gekom het, asook die godsdienstige sisteem wat Jesus uiteindelik gekruisig het, nl. die Joodse godsdienstige leiers.

5. AFSLUITING:
Waarom al hierdie gepraat oor Die Bees? Een van die redes is omdat daar so baie wanpersepsies en foutiewe verklarings bestaan oor Die Bees en dat hy nog “in die eindtye” gaan kom en dat mense letterlik in vrees en bewing leef by die gedagte aan Die Dier en sy merk en wat hulle as gelowiges te doen sal staan as Die Dier môre of oor tien jaar of ten minste iewers in hulle leeftyd sou kom – hulle vrees ’n marteldood deur Die Dier se aanhangers – hulle vrees die moontlikheid dat die groot hoer wat op ’n helderrooi dier sit (Openb.17), kragte sal saamspan met Die Dier, ens., ens.

Andersyds is dit belangrik om die identiteit van Die Dier te bepaal, ten einde die Skrif en spesifiek Openbaring reg te vertolk. Ook help dit om Ou Testamentiese profesieë soos o.a. Dan.9:24-27 en nuwe Testamentiese gedeeltes soos Matt.24:1-36; 2Tes.2:1-8 en soos reeds gemeld, Openbaring (enersyds, Openbaring 1-18 en andersyds – en veral) Openb.19-22), beter en reg te vertolk – in kort, help dit om die ganse Ou- en Nuwe Testament reg te vertolk.

Ons sien in Openbaring dat daar geweldige haat jeens die vroeë Kerk van die Here Jesus Christus, gekoester is. Aan die eenkant was daar die groepering of godsdienstige groep wat veronderstel was om ná aan die Christene te wees, nl. die Jode, wat fel vervolgers van die gelowiges was en aan die anderkant was daar die Romeinse Ryk en sy heerser met Nero aan die voorpunt, wat ook fel en waarskynlik dié felste vervolgers van die Kerk was.

Dit was te midde van al hierdie vervolging en swaarkry dat Johannes vanaf Patmos aan sy medegelowiges skryf en vir hulle sê: Ek het goeie nuus vir julle: Jesus gaan triomfeer oor al die vorme van verdrukking – en juis dít is dan ook die tema van die Boek Openbaring. Hoe moet ons dan hierdie “geskiedenis” van die vroeë kerk op ons van toepassing maak? Wel, o.a. deur te besef dat Jesus Christus die verheerlikte en soewereine Redder ís – en hierdie oorwinnende, verheerlikte en soewereine Jesus ís vandag steeds met ons – al gaan ons self ook deur moeilike tye en al sal ons of ons nageslag deur ’n kort tydperk gaan waartydens Satan vrygelaat gaan word, kan ons weet, dat Christus se beloftes aan die vroeë kerk, ook beloftes is wat vir ons geld – beloftes soos Openb.2:7 ~ Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is. Openb.2:11 ~ Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie; ...sal van die verborge manna kry, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam daarop gegraveer (Openb.2:17) ...Dié wat die oorwinning behaal sal .....mag en gesag ontvang om oor die nasies te regeer – dieselfde mag en gesag wat Jesus van die Vader gekry het (Openb.2:26-29); ..... sal wit klere dra en sy naam sal nooit uit die Boek van die Lewe gehaal word nie (3:5-6); ...sal die Naam van God en van Christus en die naam van die stad van God, die nuwe Jerusalem op die voorkop geskrywe kry (3:9-13); ...Dié wat die oorwinning behaal sal saam met Christus op die hemelse troon sit (3:21-22).

Ons sal dan D.V. volgende keer aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring en wel met Openbaring 6.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)Sondagaand 14 Februarie 2010