Sunday, February 7, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 07 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 14 (Doodskleed of Bruidskleed) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.4:25-32 ~ Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. 26 As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel vatkans gee nie. 28 As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. 29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. 30 En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. 31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

2. INLEIDING:
Die perikoop waarna ons vanoggend kyk, begin met die woord “noudat” en dit dui dus vir ons aan, dat die gedetailleerde opdragte wat nou hierop gaan volg, gegrond word en voortspruit uit die beginsels in verse 17-24, waarna ons ’n vorige keer gekyk het. Ons het gesien dat gelowiges ’n nuwe lewe moet leef, omdat hulle nuwe skepsele in Jesus Christus is en hierdie nuwe lewe wat hulle moet leef, moet hulle leef deur die ou mens neer te lê en die nuwe mens op te neem.

Ons het ook reeds gesien dat die gelowige se nuwe aard reeds by wedergeboorte aan hom geskenk word, in en deur Jesus Christus, maar hierdie lewe wat ontvang is, moet voortdurend aangehelp word om te groei, terwyl die ou mens afgesterf moet word – ons het dus hier te doen met, waarna ons die vorige keer in detail gekyk het, die “putting off” (“Lê af”) en en “putting on” (“Beklee met”) beginsel.

In verse 25 tot 32 vind ons 5 groepe sondes en dit word beskou as die doodskleed waarmee die “ou mens” beklee is en in kontras daarmee sien ons die bruidskleed van die nuwe mens – daardie deugde waarmee die nuwe mens beklee moet word.

3. LÊ VALSHEID AF NEEM DIE WAARHEID OP:
· In vers 25 kry ons ’n pragtige voorbeeld van die “putting off” en “putting on” beginsel – dit is dan ook die eerste sonde waarna Paulus verwys in hierdie perikoop, nl. “valsheid”. Die Griekse woord vir valsheid dui eintlik op “lieg” Paulus sê dus eintlik dat ons nie moet lieg, of leuens vertel nie. Johannes gebruik hierdie selfde woord in 1Joh.2:20-23 wanneer hy verwys na die gees van die Antichris. Die Efesiërs word hier aangespreek en Paulus sê vir hulle, noudat julle die vals godsdiens wat vol leuens is, neergelê het, moet julle in die waarheid leef soos wat die Evangelie waarin julle nou glo, die waarheid is. Dit is dan ook in ooreenstemming met Joh.14:6 waar Jesus sê ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Met hierdie opdrag van Paulus het hy sekerlik ook die negende gebod (Eks.20:16) in gedagte gehad ~ Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie. Wat presies is vals getuienis of ’n leuen dan? Die leuen gee ’n valse voorstelling van ’n saak of persoon – iets of iemand word dus anders voorgestel of weergegee as wat dit werklik is.

Ons as gelowiges moet kies aan wie se kant ons staan: Aan Christus se kant Wie Waarheid is en soos Hy van Homself getuig in Joh14:6 ~ Ek is die waarheid. En daarmee saam die Woord van God, waarvan Johannes in Joh.17:17 sê ~ U woord is die waarheid. Of skaar ons, onsself by die vader van die leuen, nl. die satan (Joh.8:44)?

Reeds in die Paradys het die satan homself geopenbaar as ’n leuenaar toe hy die mens op listige wyse met leuens tot sonde verlei het (Gen.3:4-5) en daardie leuens het daartoe gelei dat die mens, soos Paulus dit stel, die waarheid van God vir die leuen verruil het, sodat elke skepsel geëer word in plek van die Skepper (Rom.1:25) – en die gevolg daarvan was ’n onoorbrugbare skeiding tussen God en die mens. Leuens of vals getuienis lei dus tot die dood.

Ons moet altyd onthou, dat Jesus Christus ’n duur prys betaal het om versoening tussen ons en God te bewerkstellig – in die proses het Hy ook versoening en vergifnis vir ons “leuen-sondes” gedoen – Christus het dus die leuen oorwin en die fondament van die herstelde ryk van waarheid gelê. Op Pinksterdag het Christus sy Heilige Gees, “die Gees van die Waarheid”, op Sy kerk uitgestort, sodat Hy ons kan lei op die weg van die waarheid – d.w.s. die weg van die Woord.

Ons moet die waarheid liefhê, want gruwelike misleiding en leuens sal gepaard gaan met die verskyning van die Antichris en as ons nie die waarheid lief het nie, sal ons swig voor die satan en sy magte en sal ons, in die woorde van 2Tes.2:9-12, geoordeel word ~ Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10 en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11 Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12 En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Kom ons kyk net kortliks na enkele voorbeelde van leuens:
- Opsetlike leuens (“skadeleuens”). Dit is leuens wat vertel word om iemand anders te benadeel of om self te probeer ontsnap van die gevolge van jou eie verkeerde dade (projeksie).
- ’n Tweede tipe leuen word “skertsleuens” genoem. Dit is wanneer iemand ’n onwaarheid byvoeg by die waarheid, ten einde dit meer kleur te gee. Hoor wat sê Spr.26:18-19 ~ Soos ’n mal mens wat dodelike pyle rondskiet, 19 so is iemand wat ’n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”
- “Hoflikheidsleuens” is nog ’n tipe leuen en dit is wanneer jy bv. ’n brief sou begin met “Geagte So-en so” en die brief afsluit met die woorde “Hoogagtend die uwe”, terwyl jy geen agting en respek vir die persoon het nie. Of selfs wanneer ’n gasvrou ’n tweede of derde porsie aanbied en jy dit ordentlikheidshalwe van die hand wys, net om nie ’n slegte indruk te skep nie – al is jy regtig lus vir nog ’n porsie. Hierdie hoflikheid kan nie sondermeer as gekamoefleerde leuens bestempel word nie, want God eis immers ook selfbeheersing van ons (Spr.16:32; 25:28; Gal.5:22) en dit beteken dat ’n mens nie sonder meer aan jou innerlike begeertes, drange en emosies uiting mag gee nie – sê dan liewer vir die gasvrou dat die kos heerlik was en dat jy graag nog ’n porsie sou wou neem, maar ...... en gee ’n eerlike rede waarom jy nie nog ’n porsie neem nie – of – neem nog ’n porsie – hou egter net altyd, bv. Gal.5:22 in gedagte ~ Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en (dan spesifiek) selfbeheersing. En wanneer jy dan ’n tweede porsie van die hand wys, laat Gal.5:22 dan eerder jou motivering wees en kommunikeer dit dan ook aan die gasvrou as rede waarom jy nie nog eet nie.
- Die “noodleuen” is nog ’n tipe leuen wat baie algemeen voorkom en wat baie mense nie sien as ’n leuen nie – dit is ’n leuen wat in ’n noodsituasie vertel word, ten einde ’n euwel of misdaad, ens. te voorkom. Ons het verskeie voorbeelde van noodleuens in die Woord, bv. Isak wat ontken het dat Rebekka sy vrou is (Gen.26:7) en ons weet wat die gevolg daarvan was.
- Die “verdraaiing van woorde”. Dit gebeur wanneer die woorde van iemand, anders oorvertel word as wat hy dit werklik gesê het. Dit gebeur wanneer iets bygevoeg word, of weggelaat word. Daarom is dit so gevaarlik om deel te neem aan skinderpraatjies, want bo en behalwe die feit dat skinder sonde is, word daar gewoonlik stertjies bygelas by skinderstories – so iemand lieg dus ook nog daarby.
- “Kwaadspreek” (laster). Dit gebeur wanneer daar lelike en slegte dinge van iemand (veral in sy afwesigheid) gesê word. Dit word ook “skinder” genoem. Hierdie is ’n baie ernstige sonde en word baie sterk veroordeel deur die Skrif (Jak.3:5-10). Kwaadsprekery kan baie dikwels die volle waarheid wees, maar waarhede behoort nie oorvertel te word wanneer die persoon onder bespreking, daardeur benadeel of in ’n swak lig gestel word nie. Waarhede wat met verkeerde gesindhede vertel word, kan verwoestende gevolge inhou. ’n Goeie voorbeeld uit die Skrif van die waarheid wat vertel is met ’n verkeerde gesindheid tref ons in 1Sam.22:9-10 aan. Doëg het aan Saul vertel dat Agimelek aan Dawid, padkos en die swaard van Goliat gegee het. Dit was inderdaad die waarheid, maar die gevolg was dat 85 priesters op bevel van Saul vermoor is. As Doëg geswyg het, sou hulle menslik gesproke nie gesterf het nie. Al het hy die waarheid vertel, het hy dermate in die oë van die Here oortree, dat hy op gelyke vlak as leuenaars geplaas word, want Dawid sê van hom ~ Jy wil ander se ondergang bewerk, met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog. 5 Jy het die kwaad liewer as die goeie, en die leuen liewer as die waarheid. Sela 6 Jy saai graag verwarring met jou leuens! (Ps.52:4-6).
- Wanneer ons ’n oordeel uitspreek oor ’n persoon se woorde en dade, sonder dat vasgestel word of hy gesê of gedoen het waarvan hy verdink word, of wat die rede was waarom hy so gesê of gedoen het, is om iemand onverhoord te oordeel, wat dus ’n valse oordeel tot gevolg kan hê en is dit dus niks anders as vals getuienis nie – leuens dus. So het Eli byvoorbeeld vir Hanna van dronkenskap beskuldig, sonder om seker te maak of sy werklik dronk was (1Sam.1:13-16). Dawid weer, spreek ’n oordeel oor Mefiboset uit, op grond van Siba se kwaadsprekery en laster sonder om eers te probeer vasstel wat werklik gebeur het (1Sam.16:3-4; 19:24-30 – sien ook Job 11:13-20; 12:1-6).
- Nog ’n vorm van leuens, is onopregtheid, of valsheid. Dit is wanneer jy jouself anders voordoen teenoor mense as wat jy werklik is. Dit het tot gevolg dat mense ’n ander opinie van jou vorm as wat hulle behoort te doen. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs was sulke bedrieërs (Matt.23). In hierdie geval lieg jy nie met woorde nie, maar deur dade. Jy leef dus ’n leuen.

U sou dalk vra waarom ek so baie aandag aan hierdie saak skenk, maar ek dink regtig dat hierdie ’n faset van so baie gelowiges is waar hulle sondig – miskien nie met opsetlike leuens nie, maar hierdie ander leuens waarna ons gekyk het, is aan die orde van die dag.

Wat staan ons as gelowiges te doen? Die negende gebod verbied leuens, maar ons moet eerder die positiewe in hierdie gebod raaksien en dit is presies wat Jesus ons kom leer het, nl. dat ons, ons naaste moet lief hê. Luister maar net weer na die woorde van Paulus in ons openingsvers van ons Skriflesing ~ Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat. Ons moet dus die Waarheid en ons naaste lief hê en dan sal hierdie liefde ons dwing om die waarheid te praat – indien nie, kan daar ’n ernstige vraagteken geplaas word oor jou liefde vir Christus, Sy Woord en jou liefde vir jou naaste.

Ons moet die waarheid liefhê; ons moet te alle tye die waarheid praat; ons moet ons naaste se eer en goeie naam beskerm en ons moet hou by ons beloftes – ons moet die waarheid dus lééf!

· Ons lees in verse 26-27 ~ As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel vatkans gee nie. Paulus se tweede voorbeeld van sonde het nie ’n eksplisiete positiewe kant nie, maar ons kan dit waarskynlik sien as beheersde of heilige woede, teenoor onbeheersde, selfsugtige of sondige woede. Die rede hiervoor is dat woede insigself, nie sonde is nie. Daar is talle Skrifverwysings in veral die Ou Testament wat verwys na God se woede jeens die bose en selfs teen Sy eie mense wanneer hulle volhard in ongehoorsaamheid. Jesus was by verskeie geleenthede kwaad (Bv.: Die geldwisselaars by die Tempel – Matt.21:12-13; Jesus was kwaad oor die Fariseërs se ongeloof – Mark.3:5). Selfs ons kan “heilige woede” ervaar en dit is die rede waarom Paulus hierdie verse begin met ’n aanhaling uit Ps.4:5, nl., ...As jy ontsteld raak, moenie sondig nie. Hier is dus ’n verskil tussen, aan die een kant, “heilige woede” en aan die anderkant, sondige woede.

Die implikasie hiervan is natuurlik dat ons kwaad sal word, wanneer die omstandighede dit vereis, soos bv. in situasies waar ernstige ongeregtigheid gepleeg word. Daarteenoor, is dit egter sondig om op die verkeerde tyd oor die verkeerde dinge, kwaad te word en dit is presies hier waar sommige gelowiges oortree en sondig.

Nog iets wat Paulus sê, is dat wanneer ons kwaad is, ons dit vinnig moet hanteer – nog voor die son sak, want, soos Paulus sê, ons moet nie die satan ’n vatkans gee nie.

Hiermee saam wil ek sê dat ons as gelowiges baie dikwels, “sondig verdraagsaam” is teenoor sonde en ongeregtigheid, maar Paulus sê dat die voorwaarde wanneer ons “heilige woede” ervaar, dit steeds beheersde woede sal wees en dat ons nie in die proses sal sondig nie. Jakobus sê presies dieselfde in Jak.1:19.

· Die derde sonde wat Paulus noem, is diefstal (v.28). Hy sê dat ons diefstal moet neerlê en in plaas daarvan, werk vir ’n lewe. Hierdie is natuurlik in direkte ooreenstemming met die agste gebod wat presies dieselfde sê.

Net kortliks: Daar is baie maniere waarop ons kan steel. Ons steel bv. van God se heerlikheid en eer wanneer ons Hom nie aanbid soos wat ons moet nie. Ons steel wanneer óns belange voorkeur geniet voor God se belange. Ons steel van ’n werkgewer wanneer ons nie ons beste werk lewer nie, of wanneer ons, ons werk nie met die regte gesindheid doen nie – Ef.6:5-6 ~ Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ’n opregte hart, asof dit vir Christus is. Ons moet dus ons werk doen asof ons dit vir die Here doen.

As ons ’n besigheid bedryf en ons vra veel meer as wat aanvaarbar is en wat ons voor die Here uitgemaak het as aanvaarbaar, is ons besig om te steel. Of wanneer ons ’n minderwaardige produk verkoop, is ons besig om te steel. Ons steel wanneer ons iemand anders se reputasie skend. Ons steel van onsself as ons nie van geleenthede gebruik maak wat oor ons pad kom nie. Ons steel wanneer ons nie ons talente of hulpbronne wat God aan ons toevertrou het, optimaal aanwend nie.

· In die vierde plek sê Paulus dat ons vuil taal moet neerlê (v.29). Ongelukkig is die uitdrukking “vuil taal” dalk nie so ’n goeie vertaling nie. In Engels word dit “corrupting talk” genoem, wat nader aan die oorspronklike Grieks is. Die Griekse woord is "sapros" en dui op iets wat vrot, of waardeloos, of walglik is. Ons het dus hier te doen met taalgebruik wat ander mens besoedel (en uiteraard jouself ook). Natuurlik sluit hierdie wyse van praat ook “vuil taal” in en ook bv. vulgêre taal (om onder die “belt” te wees). Paulus sê dat ons sulke taalgebruik of gesprekke moet neerlê en net sal praat wat opbouend van aard is – wat andere sal stig en seën. Wanneer ’n mens hierdie feite in gedagte hou, is dit nie moeilik om die ooreenkoms tussen Paulus se woorde hier en dié van Jakobus in Jak.3:5-6 te sien nie. Jakobus sê ~ So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6 Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. As ons kyk na watter impak Hitler se toesprake op die wêreldgeskiedenis gehad het, kan ons nie hierdie opdrag van Paulus en die vergelyking van Jakobus gering ag nie. Daarteenoor moet ons kyk na watter geweldige seën Jesus se woorde op die mensdom het en dan besef ons gou, dat ons “vuil taal” moet neerlê en net praat wat opbouend is.

Ons moet leer om te onderskei tussen wat opbouend en afbrekende taalgebruik is en ons moet God se hulp vra om ons bose tonge in toom te hou. En hoe moet dit gebeur? Deur te vra en toe te laat dat die Heilige Gees ons verstand gevange sal neem tot gehoorsaamheid aan Christus (2Kor.10:5b).

Paulus sê in v.30 ~ En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Hierdie vers is ’n direkte verwysing na Ef.1:13b waar daar staan ~ In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Wat Paulus dus hier vir ons wil sê, is dat die Heilige Gees wat in ons woon, die bewys of die seël is dat ons aan Christus behoort, maar wanneer ons “taalgebruik” nie in ooreenstemming is met dit wat God van ons verwag nie, bedroef ons die Heilige Gees. Waarskynlik het Paulus hier die profeet Jesaja se woorde in Jes.63:10 in gedagte gehad ~ Maar hulle het in opstand gekom en het sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ’n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg. Paulus sê dus dat ons uiters versigtig moet wees en nié toelaat dat ons tong, ons ’n vyand van God maak nie.
· Laastens sê Paulus in v.31 ~ Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Die woordorde wat Paulus hier gebruik is baie interessant, want hy begin deur te verwys na sonde van die hart, nl. bitterheid, woede en toornigheid (O.A.V.). Wat hy dus sê is dat ons baie versigtig moet wees dat ons nie hierdie “innerlike sonde” moet koester nie, want uiteindelik manifesteer dit in “uiterlike sonde”, soos vloek en skel en allerlei dinge wat sleg is, of soos die O.A.V. dit stel, ’n geskreeu en laster en boosheid. Hierdie sonde is die tipiese sonde wat mense uitmekaar dryf en verhoudings verbreek.

In plaas hiervan sê Paulus, moet ons goedgesind en hartlik teenoor mekaar (wees), en mekaar (vergewe) soos God (ons) ook in Christus vergewe het (v.32). Ons moet dus in ons optrede en spreke – ja ons ganse lewe, soos Christus optree – Ons moet in Sy voetspore volg! Kol.3:1-17 som dit vir ons pragtig op ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. 5 Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6 Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8 Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9 en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10 en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11 Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. 12 Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14 Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15 En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Christus het vir ons die volmaakte voorbeeld gestel om na te volg en ons vind hierdie voorbeeld in die Woord van God opgeteken. Hoe kry ek dit alles reg? Jos.1:8 verskaf aan ons die antwoord ~ Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Laat ons Sy Woord daarom gereeld bestudeer en waarlik lééf wat daarin staan – Lê daarom die valsheid af en beklee jouself met die waarheid.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 07 Februarie 2010