Monday, February 15, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 14 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 15 (Navolgers van Christus) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:1-7 ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2 Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. 3 Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4 Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5 Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is-want gierigheid is afgodery-het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie. 6 Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

2. INLEIDING:
Die vyfde hoofstuk van die brief aan die Efesiërs begin met een van die mees verrassende opdragte in die ganse Nuwe Testament: Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Die O.A.V. sê ~ WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders. Die meeste Engelse vertalings vertaal dit met ~ Therefore be imitators of God, as beloved children. Hierdie opdrag kom op geen ander plek in die Woord voor nie. Wat hierdie woorde so verrassend maak, is die feit dat hierdie opdrag so ’n hoë standaard stel – ’n standaard wat menslik onmoontlik is om te bereik.

3. GOD SE KARAKTEREIENSKAPPE:

Die Griekse woord wat hier vir “navolger” of “imitator” gebruik word is, "mimetes" – die Afrikaanse woord mimiek word ook hiervan afgelei) en dit beteken letterlik om iemand anders se karakter eienskappe na te boots.

Die vraag is, hoe kan Paulus vir ons sê dat ons die onmoontlike moet bereik? Hoe is dit moontlik om die volmaakte God se karakter na te boots en na te leef?

Ons moet verstaan dat daar in die teologie ’n onderskeid getref word tussen God se deelbare eienskappe en Sy nie- deelbare eienskappe.

Wanneer ons bv. van God praat, sê ons baie dikwels dat Hy self-bestaande is, m.a.w., Hy is nie van enige iemand of iets anders afhanklik vir Sy bestaan nie – Hy is God en Sy ganse wese en bestaan is in Homself opgesluit. Hierdie eienskap van God, is nie- deelbare eienskappe. Ons sê dat God van ewigheid tot ewigheid is en dit is ook ’n voorbeeld van Sy nie- deelbare eienskappe. So is ook Sy alomteenwoordigheid, m.a.w. die feit dat Hy oral terselfdertyd is, ’n voorbeeld van Sy nie- deelbare eienskappe. Ook Sy almag; Sy alwetendheid; Sy Majesteit en Sy heiligheid, ens.

Hierdie eienskappe van God is nie moontlik vir ons om na te volg nie, want dan sou ons ook God gewees het.

God beskik egter ook oor deelbare eienskappe. Dit is eienskappe soos geregtigheid; liefde; gramskap; wysheid; getrouheid; goedheid; genade; erbarming of medelye; vergifnis; ens.

Die probleem is egter, dat wanneer ons aan hierdie deelbare eienskappe van God dink – God wat volmaak is – ’n God wat volmaak lief het; wat volmaak vergewe; wat beskik oor volmaakte geregtigheid; ’n God wat volmaak vergewe, ens., besef ons maar net dat ons nie naastenby soos God kan vergewe, of lief hê nie – hoe kan Paulus dan vir ons sê ~ WEES dan navolgers van God (O.A.V.)? Wel, as Paulus sê dat ons navolgers van God moet wees, dan bedoel hy dit en dan is dit tog sekerlik moontlik.

Eerstens moet ons besef dat hierdie opdrag, ’n opdrag is wat ons nederig behoort te stem en ons afhanklikheid van God te laat besef.

Tweedens moet ons na die eerste gedeelte van vers 1 kyk, want daar staan ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle.... Wat het Paulus hier in gedagte? Hy sê vir ons dat ons net soos aardse kinders, gehoorsame nabootsers van hulle aardse ouers is, ons ook gehoorsame nabootsers van ons Hemelse Vader moet wees. Maar meer nog – aardse kinders beskik oor hul ouers se temperament, geaardhede, persoonlikhede, ens. In Ef.1:5 het Paulus gesê dat ons kinders van God is ~ In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (sien ook Joh.1:12). Omdat ons kinders van God is moet ons dus ook beskik oor Sy karaktereienskappe soos bv. Sy heiligheid en Sy liefde.

In die derde plek sien ons dat 5:1 begin met, “Omdat”. Omdat wat? Om dit antwoord, moet ons na die vorige vers gaan kyk, nl. Ef.4:32 kyk ~ Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Hierdie vers sê dus vir ons in watter opsig ons moet identifiseer met Christus – watter deelbare eienskappe van God ons dus moet navolg.

4. CHRISTUS SE LIEFDE:
As ons vers 32 saamvat, sien ons dus dat “liefde” die oorkoepelende karaktereienskap van God is, en dit is hierdie liefde wat ons moet navolg. Watter tipe liefde is dit? Vers 32 verskaf aan ons die antwoord. Eerstens sê dit, dat ons liefde, vergifnis moet weerspieël. Aangesien God ons op grond van Christus se versoeningswerk, vergewe het, moet ons mekaar ook so vergewe – vergifnis vloei immers voort uit liefde. Hierdie verband tussen God se vergifnis van ons en ons vergifnis van andere is uiters belangrik, want deur te verstaan dat ons vergewe is, is dit moontlik vir ons om andere te vergewe. En dit is dan presies wat Paulus ook sê dat ons moet doen – vergewe mekaar en wanneer ons dit doen, is ons nabootsers van Christus.

Hierdie liefde van die Vader sluit dus Sy goedgesinde en hartlike vergifnis van ons in en dit is daardie deelbare karaktereienskap van Hom wat ons moet navolg en uitleef teenoor andere. Is dit onmoontlik om hierdie karaktereienskap van God na te streef en uit te leef? Ek glo nie.

Ef.4:32 waarna Paulus dan verwys wanneer hy sê, “daarom”, word in vers 2 van hoofstuk 5 herhaal, wanneer hy sê ~ Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. Wanneer ons dan na beide kante van hierdie “daarom” kyk, word dit vir ons eers in 4:32 en dan weer in 5:2 bevestig dat Paulus vir ons sê dat ons die liefde van Christus moet navolg.

Hierdie liefde bestaan egter uit drie elemente. Die eerste het ons reeds aangespreek, nl. liefde wat vergewe. Ons sien egter in vers 2, ’n tweede element nl. dat liefde, gee ~ Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. Christus het Sy liefde aan ons betoon, deurdat Hy Sy lewe afgelê het vir ons – Hy het dus Sy lewe vir ons gegee.

Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat Christus nie net “sekere dinge” opgeoffer het vir ons nie, m.a.w. Hy het nie net Sy posisie in die hemel vir ’n wyle opgesê vir ons nie. Nee, Hy het Homself gegee – Hy het Sy lewe gegee.

Fil.2:5-8 beskryf hierdie feit vir ons pragtig ~ Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Ook in hierdie faset van God se liefde moet ons navolgers wees – ons moet bereid wees om ons lewe vir Christus neer te lê, maar ook vir mekaar. Ons moet ook bereid wees om onsself te verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en ons moet gehoorsaam wees tot in die dood toe – ons moet dus volhard hierin, tot aan die einde van ons dae. Dit is hoe Jesus Homself vir ons gegee het en dit is hoe ons, onsself uit liefde behoort te gee.

Die derde faset van Christus se liefde wat ons moet navolg, kan saamgevat word met die woord “leef”. Ons moet dus nie net glo en oortuig daarvan wees dat liefde, vergifnis en die gee van ’n lewe insluit nie. Nee, as ons navolgers of nabootsers van Christus wil wees, moet ons liefde oorgaan tot aksie – ons moet Christus se liefde, self begin lééf. Ons moet dus vergifnis begin lééf. Ons moet dus ons lewens begin aflê en ons lewens géé. Ons moet Christus se liefde begin lééf, anders is ons nié navolgers van Christus nie en kan ons Christenskap ernstig onder verdenking kom. Dit is waarom Paulus in v.2 sê ~ Lewe in liefde, soos Christus.....

Om liefde te lewe beteken egter ook om die ou mens af te lê en onsself te beklee met die nuwe mens. Maar dit beteken egter ook om daardie dinge af te lê waaroor ons verlede week gepraat het, nl. valsheid (leuens); woede; diefstal; vuil taal en bitterheid, want wanneer ons daardie dinge aflê, is ons besig om liefde te leef teenoor die Here; ons medemens en onsself.

Ons liefde moet dus lewend gemaak word in ons en hoe kry ons dit reg? Ons vind die antwoord o.a. in Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Ons kan die liefde nie lééf en ons kan die ou mens nie neerlê – in kort, ons kan nie navolgers van Christus wees, uit ons eie krag nie. Hoe kry ons dit dan reg? Deur ons na Christus te wend in gebed en die Woord van God. Ons kan Christus alleen navolg – Sy lewenstyl en karakter “kopieer”, indien ons tyd en nogmaals tyd met Hom spandeer. Kinders word soos hul ouers, omdat hul baie ure in die teenwoordigheid van hul ouers deurbring so moet ons met Christus ook doen.

5. MORALITEIT:
In skrille kontras met Paulus se oproep tot navolging van Christus se liefde, kom hy nou en sê aan sy lesers en daarom ook aan ons as gelowiges, dat indien ons, onsself gelowiges noem, ons moraliteit, of te wel ons sedelike lewe, bo verdenking moet wees. Inteendeel, Paulus sê in vers 5, dat indien iemand homself skuldig maak aan hierdie immorele optrede, so iemand besig is met afgodery en wanneer jy besig is met afgodery, impliseer dit dus dat jy God nie aanbid nie.

Hier word vir ons vyf onuitstaanbare onsedelike optredes genoem:
· Eerstens word “ontug en onsedelikheid” vir ons genoem: Die O.A.V. praat van hoerery en die Engels van “sexual immorality”. Die Griekse woord wat hier gebruik word is “porneia”, vanwaar ons, ons woord “pornografie” kry. Ontug verwys egter nie net na obskure foto’s en “bloufilms” nie – dit verwys na buite-egtelike omgang. Ontrouheid in die huwelik dus. Paulus noem hierdie sonde eerste hier in hoofstuk 5 – nie omdat dit die nommer een sonde in die oë van God is nie, maar omdat dit sulke verwoestende effekte op almal ná aan die oortreders het, asóók op die oortreders self én op die breëre gemeenskap.

Die positiewe antwoord wat Paulus hierop het, is getrouheid in die huwelik en ook hier moet ons navolgers van Christus wees, want Hy is volmaak getrou aan Sy Bruid, die Kerk.

Al verwys die Griekse woord hier in die eerste plek na ontrouheid in die huwelik, wil ek egter sê dat enige vorm van pornografie, ontug of hoerery en selfbevrediging, ook hierby gevoeg kan word, juis omdat hierdie vorme van seksuele immoraliteit, áltyd gepaard gaan met beelde of fantasieë oor ander vrouens (en natuurlik in die geval van vrouens sal dit gaan oor ander mans), wat niks anders is as “porneia” nie - Matt.5:28 ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. Ons moet só versigtig wees, omdat hierdie sonde so geweldig subtiel is en ek die bewering wil maak, dat die grootste aanslag op gelowiges in ons dag (en waarskynlik nog altyd), juis op hierdie vlak lê - seksuele immoraliteit, wat owerspel, selfbevrediging, voorhuwelikse seks, pornografie (sag en ekstreem – tydskrifte en films – middele, dade en beelde), fantasieë, flirtasies met die teenoorgestelde geslag en allerlei ander afskuwelike en God-onterende optredes en denke insluit. En die probleem met hierdie sonde is dat die oortreders altyd dink dat dit die laaste keer is, óf dat dit nie so erg is nie, óf dat dit die aanvaarde norm in ons dag is; óf die een lei uiteindelik tot ’n volgende en erger sonde. Die ironie is ook dat diegene wat hieraan deelneem, altyd dink dat die oortreding (wat dit ook al mag behels) hom of haar gaan bevredig, maar elke keer en meeste van die tyd, direk daarna sit jy met ’n klomp emosies en skuldgevoelens en dalk nog erger – besef jy dat dit jou ook maar nie volkome bevredig het nie en wil jy weer, meer hê – dit raak ’n bose kringloop waaruit jy nie kan ontsnap nie – in kort, dit word ’n verskriklike verslawing.

Dit word ook beweer dat hierdie sonde, waarskynlik dié sonde is waarmee die meeste gelowiges worstel.

Maar, daar ís egter goeie nuus vir diegene wie vasgevang is in hierdie sonde – 2Kor.3:16 ~ Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” 17 “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. 18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. En in Luk.4:18-19 sê Jesus self dat Hy ook vir diegene wat vasgevang is in seksuele sonde vry kan maak ~ Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19 om die genadejaar van die Here aan te kondig. [Diegene van u wat in hierdie sonde vasgevang is – kontak my asb. – lê jouself neer (onthou dit is ook liefde - selfneerlegging) t.w.v. jou siel en praat met my, sodat ons saam die Here se aangesig kan soek en ek jou vanuit die Woord kan help hoe om hierdie probleem – nee, hierdie verslawing en sonde te kan oorkom – Diegene wie nie die preek hoor nie, maar dit dalk per E-pos ontvang of op ons Blog lees, is ook welkom om my te kontak, of besoek gerus die volgende webtuiste vir hulp: http://www.settingcaptivesfree.com/, of koop die volgende boek – beskikbaar by “Augustine Bookshop” in Pretoria (012- 993-4606): Cleveland, Mike. THE WAY OF PURITY. Focus Publishing. Bemidji. Min. 2007. 188p. Ek beoog ook om binnekort met ’n Bybelstudie oor hierdie onderwerp te begin en almal wat vasgevang is in hierdie verslawing of wat meer wil weet ten einde andere te kan help, is welkom om my s.g.a.m. te kontak].

Paulus verwys verder in vers 3 na gierigheid wat ons as gelowiges moet aflê. Dit is baie moeilik om regtig te verstaan waarna Paulus verwys in vers 3, wanneer hy praat van gierigheid. Sommige kommentators verwys hier na gierigheid t.o.v. geld en besittings, ens. Andere verswyg enige kommentaar hieroor en andere weer sê dat Paulus sê dat hierdie gierigheid, onlosmaaklik deel uitmaak van onreinheid, omdat elke vorm van seksuele immoraliteit, ’n uitdrukking is van die mens se eie-wil, selfbevrediging en selfgesentreerde gierigheid. Dit is met hierdie lg. verklaring waarmee ek in hierdie verband saamstem, want ons moet hier kyk na die konteks waarin dit geskryf is. Hierdie gierigheid gaan dus oor iemand wat nie tevrede is met sy morele lewe soos wat dit is nie – hy wil nog meer hê en sal dus selfs owerspel pleeg om meer as net sy vrou bv. te kan besit. Hy kies om in onsedelikheid te verval ten einde homself te bevredig en om op hierdie wyse meer te kan kry as wat hy dink hy het. Om gierig te wees, is dus ook sonde en daarom immoreel en moet derhalwe ook afgelê word.

· Paulus sluit by hierdie immorele lewensstyl ook, ...growwe, ligsinnige of vuil praatjies (v.4) in, wat ook alles te doen het met ons morele lewe. Hierdie woord growwe praatjies verwys na obsene praatjies, of sedelose-, onkuise-, liederlike-, smerige-, skurwe-, of dubbelsinnige praatjies. Hierdie growwe praatjies sluit dus nou aan by die vorige sonde wat Paulus genoem het en wat op ’n morele vlak lê. ’n Persoon wat hom besig hou met growwe praatjies, is ’n immorele en sedelose persoon wat glad nie ag slaan op Bybelse norme en standaarde nie en is sy optrede en praatjies dus oneerbiedig.

· Saam met growwe praatjies, noem Paulus ligsinnige praatjies. Die Griekse woord is maklik om te onthou, nl."morologia". “Moro” = moroon en natuurlik “logio”, of “logos” = woord. Iemand wat hom skuldig maak aan ligsinnige praatjies, praat en tree dus op soos ’n gek. En hoor net wat sê die Verklarende Afrikaanse Woordeboek van ’n moroon – Dit is ’n bepaalde tipe swaksinnige waar die volwasse lyer geestelik gelyk is aan ’n kind van 7 jaar.

Sulke praatjies is praatjies wat enige iets wat prysenswaardig is en getuig van hoë morele standaarde, afbreek tot in die modder – dit is wat so baie TV- programme juis doen (en dit is veral tragies, en ek is jammer om dit te sê, dat so baie Afrikaanse programme, opvoerings en rolprente, juis dít doen – dink bv. aan Casper de Vries, Leon Schuster, Pieter Dirk Uys, alias Evita Bezuidenhout, Nataniël, "Groet die Grotman/Vrou", e.a.).

· Laastens noem Paulus vuil praatjies. Dit is uiteraard baie nou verwant aan growwe- en ligsinnige praatjies, maar vuil praatjies is die laagste vorm van immorele kommunikasie. Ons het verlede week gehoor dat Paulus vir ons sê ~ Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie.... (Ef.4:29a).

6. TER AFSLUITING:
Wat is die gevolg van al hierdie liefdeloosheid en immoraliteit? Paulus sê in verse 5 en 6 dat hierdie vorme van immoraliteit, afgodery is en dat diegene wat hulle hieraan skuldig maak, ...nie deel (het) aan die koninkryk van Christus en van God nie. God se gesindheid jeens perverse en verdorwe liefde en seksuele sondes kan duidelik gesien word in Num.25:1-9, waar die Israeliete verhoudings gehad het met Moabitiese vroue, waarop God 24 000 van hulle gedood het. God se gesindheid jeens seksuele sonde het nie verander nie – dink aan HIV.

Paulus het egter ook ’n boodskap vir diegene van ons wat nié skuldig is aan hierdie vorme van immoraliteit nie – hy sê in vers 6 ~ Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

Wat dan is die positiewe kant aan hierdie opdragte van Paulus? Paulus noem in die eerste plek vir ons ’n klompie positiewe eienskappe in vers 9, wat ons moet opneem (en waarna ons nog in die toekoms sal kyk), nl.: Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

Tweedens is Paulus se openingswoorde van hierdie hoofstuk vir ons uiters positief, nl. dat ons navolgers van Christus moet wees. Daar is dus nie net ’n kant wat bestaan uit perverse en verdorwe liefde en immoraliteit nie. Nee, daar is ’n anderkant – ’n kant waar ons Christus se deelbare eienskappe van Sy karakter, deel van ons kan maak en elkeen van ons kan hierdie positiewe karaktereienskappe navolg, omdat dit reeds by wedergeboorte, potensieel in ons gedeponeer is met uitstorting van die Heilige Gees in ons lewe. Laat ons, ons daarom toespits met vrees en bewing, maar ook deur gebed en bestudering van die Woord en doelbewuste aflegging van die slegte en die opneem van die goeie, om navolgers van Christus Jesus te word.

Daar is ook hoop en uitkoms vir die van ons wat dalk só gebuk gaan onder skuldgevoelens oor die feit dat ons nie op hierdie stadium die navolgers van Christus is, soos wat die Woord van ons verwag nie – ons vind daardie uitkoms in die woorde van 2Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Daar is ook ’n wonderlike belofte vir almal onder ons wat vasgevang is of was onder die sondes wat ek vandag genoem, nl. dié in Joël 2:25 ~ Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 14 Februarie 2010