Monday, June 1, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (31 Mei 2009)

“Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 03” (Voorafskaduwing van die Kruis) [1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het twee weke gelede gesien, dat ons in ’n wêreld lewe wat besig is om homself te vernietig – ons leef in ’n wêreld van verkragtings, moord, bedrog, HIV en kanker; egskeidings en dood – en so kan ons aangaan. En aan die wortel van dit alles lê die sondigheid van sonde. Eerder as om God se eer te soek, soek ons, ons eie eer.

Sonde laat ons skaam voel, omdat dit ons skuldig voor God laat staan. Sonde maak ons bang, want dit bring skeiding tussen ons en God. Sonde maak ons kwaad, want dit bring skeiding tussen mens en mens. Sonde maak ons angstig, want dit lei uiteindelik na lyding en uiteindelik na die dood. Die lewe en die wêreld is voorwaar in ’n sondegreep vasgevang.

Aangesien ons as sondaars in ’n sondige wêreld leef, het ons ’n behoefte aan redding. Die vraag wat ons onsself dus moet afvra, is wat het ons nodig om gered te word van sonde en van al sy verskiklike gevolge? Ten einde hierdie vraag te beantwoord, moet ons so ver terug gaan as Gen.22, ten einde te verstaan wat God se verlossingsplan vir Sy kinders werklik behels.

2. SKRIFLESING:
Gen.22:1-19 ~ ’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 2 God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” 3 Vroeg die
volgende môre het Abraham ’n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5 Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.” 6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ’n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7 sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” 8 Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ’n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 12 Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.” 13 Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14 Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” 15 Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16-17 en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.” 19 Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.


Ek wil dat ons vanoggend hierdie verhaal van Abraham en Isak, vanuit vier hoeke bekyk en dan wil ek ten slotte ’n kort toepassing maak. Die vier hoeke waarna ons gaan kyk, is:
· Die offer van ’n vader, wat sy gehoorsaamheid insluit (22:1-10);
· Die gewillige onderwerping van die seun (22:2,6-9);
· God se genadige voorsiening (22:11-19);
· Die ewige betekenis en belang van die plek Moria, waar die toneel hom afgespeel het.

3. DIE OFFER VAN ’N VADER:
Abraham is in verse 1-10 die sentrale figuur en God stel hom voor ’n toets – ’n bykans onmoontlike toets; ’n toets om vas te stel tot watter mate Abraham gehoorsaam sal wees aan God; ’n toets om Abraham se lojaliteit aan en liefde vir God te bepaal.

Vir Abraham was hierdie toets waaraan hy onderwerp is, ’n realiteit en is dit nie maar net ’n toets nie, maar ’n opdrag van God om sy seun prys te gee – nee, nog erger, daar word van hom verwag om sy eie seun dood te maak en te offer!

Ons moet die intensiteit van hierdie opdrag baie deeglik verstaan en daarvoor moet ons nog verder teruggaan en wel na Gen.11, waar ons sien dat Abraham se vrou kinderloos was en boonop al te oud om kinders te kon hê, maar in 17:5b, gaan God ’n verbond met Abraham aan, waarin Hy aan Abraham sê ~ Ek maak jou die vader van baie nasies. 6 Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. Hoe is dit moontlik, want sy vrou is jare lank al kinderloos en boonop te oud om kinders te hê? Uiteindelik word ’n seun tog vir Abraham gebore – sy liefling seun (22:2) en uit hierdie enigste seun, besef Abraham, gaan God Sy belofte in 17:5 nakom, deur aan hom ’n groot nageslag te gee.

Maar, nou kom hierdie skokkende opdrag van God ~ Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys (22:2). U kan uself indink oor hoe Abraham moes voel. Hy (wat al oor die honderd jaar oud is) moet sy enigste lieflingseun offer – sy seun deur wie God Sy verbond met Abraham sou vervul – Hoe is dit moontlik?

Vir ons in hierdie 21ste eeu, is hierdie ’n uiters grusame opdrag, maar om dit in perspektief te plaas, moet ons die opdrag in konteks sien met die tyd waarin Abraham geleef het. Destyds het daar geen twyfel bestaan oor die feit dat alle lewe aan God behoort het en dat hy dit kon gee of neem, wanneer en soos Hy wou. Die eersgebore kinders was in die besonder gesien as behorende tot God – dit word spesifiek gegrond op Eks.22:29 waar die Wet o.a. bepaal het dat die Israeliete die eersteling van hul seuns vir God moes gee. Dit het dus beteken dat die oudste seun volkome beskikbaar gestel moes word aan God, wat met daardie kind kon doen wat Hy wou.

Hierdie wet word egter onmiddellik herroep, nadat die vader, die seun in gehoorsaamheid aan God afgestaan het – Eks.34:20 ~ Julle moet elke donkie se eerste hingsvulletjie loskoop met ’n skaap. As julle dit nie doen nie, moet julle die vul se nek breek. Alle eersgebore seuns moet ook losgekoop word. “Niemand mag sonder ’n offer voor My verskyn nie”. In die omliggende volke was kinderofferandes ’n algemene ding, maar nie onder die volk van God nie en dit was gegrond op hierdie teksvers, inteendeel ons sien o.a. in Lev.18:21 dat God vir die volk sê ~ Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here (sien ook Lev.20:2-5; 2Kon.17:17; 23:10 en Jer.32:35 – die rare uitsonderings wat daar was – bv. Rig.11:31-40; 2Kon.3:27, was a.g.v. nasionale krisisse).

Ongeag hierdie oortuiging, kan ons steeds nie die intensiteit van hierdie opdrag minag nie, want dit was beslis nie alledaags dat God vir ’n man gesê het dat hy sy kind moet offer nie.

In verse 3-10 sien ons dat Abraham die opdrag uitvoer en nie net uitvoer nie, maar dat hy dit op ’n voortreflike wyse doen, want:
· Sy gehoorsaamheid was stiptelik en onmiddellik – v.3 ~ Vroeg die volgende môre. Hy het nie uitgestel nie, maar dadelik gereageer en sodoende stel Abraham ’n voorbeeld van “vertrouende gehoorsaamheid”.
· Tweedens sien ons dat hy die opdrag van die Here, nougeset en pligsgetrou uitvoer (v.30) – hy het alles wat hy nodig gehad het vir die offerande saam met hom geneem.
· In die derde plek was hy vasberade (v.3-4). Die afstand van sy huis tot by die plek waar die offer moes plaasvind, was ongeveer 72 km. en hy het hierdie afstand binne 3 dae afgelê! Ten einde God te gehoorsaam het doelgerigtheid en vasberadenheid vereis.
· Vierdens het Abraham hierdie opdrag op sy eie uitgevoer – hy was dus alleen in sy gehoorsaamheid, want hy laat sy diensknegte alleen agter by die donkies aan die voet van die berg (v.5). Abraham is alleen – net hy en Isak
en God. Hy moes die vrae; die worsteling; sy geloofsoptrede, alleen en op sy eie deurwerk.
· Sy gehoorsaamheid het getuig van geloofsvertroue. Waarom sê Abraham aan sy diensknegte dat hy en Isak gaan bid en dan kom hulle saam terug (v.5)? Was dit ’n witleuen wat Abraham vertel het? Nee, beslis nie. Abraham het onwrikbaar geglo in Sy hemelse Vader. Hy het terselfdertyd geweet dat daar nie nog ’n seun gaan wees nie. Hy het verder geglo dat God steeds die verbond in ere sal hou en daarom is dit logies – Isak sál saam met hom terugkeer na die diensknegte! Abraham se gehoorsaamheid spreek dus van absolute geloofsvertroue.
· Abraham se gehoorsaamheid het voorts getuig van
nederigheid, want hy sê in vers 5b ~ Ek en die seun gaan daar aanbid.... Abraham onderwerp hom aan God en aanbid Hom.
· Laastens was Abraham se gehoorsaamheid, volkome. Hy voer die opdrag tot op die laaste punt nougeset uit, want ...Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ’n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag (v.9-10). Nie eens Abraham se geliefde seun kon tussen hom en sy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God staan nie.

Wat doen die Here in reaksie op Abraham se gehoorsaamheid? Hy voorsien ’n offerlam in die plek van Isak en die Here bevestig Sy verbond met Abraham, deur te sê ~ Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam (22:17-18).

4. DIE GEWILLIGE ONDERWERPING VAN DIE SEUN:
As ons vir onsself die vraag vra, wat die doel was met die vertelling van hierdie gebeurtenis? Dan kan ons sekerlik sê dat dit o.a. ten doel gehad het, om Israel te leer dat gehoorsaamheid aan God se Woord, belangriker vir God is, as rituele-offerandes, ongeag van wat die wet vereis.

Vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges het dit egter veel dieper betekenis, omdat hierdie gebeurtenis ’n voorafskaduwing van Christus se kruisdood is.

Maar waar pas Isak in die prentjie? Isak was weliswaar nie die sentrale figuur in hierdie gebeurtenis nie, maar hy het tog ook ’n rol gespeel – ’n baie belangrike rol, want in elke fase van hierdie verhaal verskyn hy vir ’n kort rukkie op die voorgrond en sien ons uitmuntende ooreenkomste met Jesus – kom ons kyk kortliks hierna:
· Eerstens sien ons in v.2 dat Isak die enigste seun van Abraham was. Hier vind ons ’n pragtige heenwysing na Matt.3:17 ~ Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My. En ook Matt.17:5 ~ Terwyl hy nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Beide seuns (Isak en Jesus) beklee ’n besondere plek in hul vaders se harte.
· Aan die voet van die berg waar die offerande sou plaasvind het Abraham die brandhout op Isak se rug geplaas en moes hy dit berg uit dra – hy was dus ’n lasdraer (22:6). Hierdie optrede laat ons onwillekeurig dink aan die wyse waarop Jesus, Golgota moes uitklim ~ Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota (Joh. 9:17).
· Terwyl Isak en sy pa die berg uitklim na die offerplek toe, vra Isak vir sy pa waar die offerlam is (22:7). Miskien was Isak teen hierdie tyd bekommerd. Miskien is hier nie ’n baie direkte lyn te trek na Jesus toe nie, maar ten minste kan ons sê dat Isak se vraag van nuuskierigheid, of dalk bekommernis, by Jesus ’n intense uitroep van smart en benoudheid was ~ Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt.27:46). Of daar nou ’n ooreenkoms tussen Isak en Jesus se vrae was of nie – punt is, dat beide gewillig was om geoffer te word.
· Die mees uitstaande ooreenkoms egter tussen Isak en Christus, was hul onderwerping in hul gereedmaking om geoffer te word en hulle sodoende te onderwerp aan die wil van hul vaders (22:9). Abraham het vir Isak vasgebind en bo-op die altaar neergesit – ’n mens kan aanvaar dat Isak op daardie stadium sterk genoeg was as jong tiener of jongman, om sy honderd jaar oue pa te oorweldig ten einde nie vasgebind te word nie, maar hy weerstaan nie sy pa nie en hy onderwerp hom gewilliglik om geoffer te word.

As ons weer na vers 6 kyk, nl. ~ Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ’n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7 sê Isak vir sy pa.... Hier sien ons ’n pa en ’n seun wat in ’n goeie verhouding met mekaar staan – daar bestaan harmonie tussen pa en seun en hulle werk saam ten einde hul gehoorsaamheid aan hul hemelse Vader se opdrag te betoon.

Op dieselfde wyse het Jesus – nee op volmaakte wyse, het Jesus Sy gehoorsaamheid aan Sy Vader betoon, deur die uitnemende offer van alle offers te word. Jesus het dus volmaakte gehoorsaamheid uitgeleef waartoe ons nie in staat is nie. Hy het dus die Wet van die HERE volmaak nagekom en het sodoende al ons ongehoorsaamheid en wetsoortredinge ontdaan namens ons.
· In die vyfde plek moet ons kyk na Isak se “opstanding”. Miskien lyk dit vir ons na ’n oordrewe en selfs geforseerde vergelyking, maar dit was nie die geval met die Hebreërskrywer toe hy in Heb.11:17-19 die volgende geskryf het ~ Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het. Vir die Hebreërskrywer het hierdie verhaal van Isak baie besliste simboliese waarde – simbool van die opstanding dus en daarom moet ons dit ook so sien.

In teenstelling met Isak, was Christus se opstanding nie ’n simboliese of figuurlike opstanding nie, maar ’n realiteit, omdat hy, anders as Isak wel gesterf het. Die opstanding van Christus uit die dood is geweldig belangrik, want ons redding kan nie afgehandel wees as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie.

5. GOD SE GENADIGE VOORSIENING:
Oomblikke voordat Abraham vir Isak wou “slag” ten einde hom te offer, het God tussenbeide getree. Die vraag is, waarom het God tussenbeide getree?
· Omdat Abraham die toets wat God vir hom aangelê het, met vlieënde vaandels geslaag het ~ Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie (22:12b). Abraham het sy algehele gehoorsaamheid aan God getoon, ten spyte van die feit dat dit sy enigste geliefde seun se lewe sou kos. Die implikasie hiervan, is dat die oorspronklike opdrag van God, nou uitgekanselleer is.
· Tweedens vind die kruks van hierdie verhaal nou plaas, nl. dat Abraham ontdek dat die Here, ’n God is wat voorsien. Abraham se ontwykende antwoord in v.8b, toe Isak vir hom gevra het waar die offerlam is, blyk op die ou einde profeties van aard te gewees het, want die Here hét ’n ram in ’n doringbos voorsien wat Abraham kon offer in Isak se plek. God voorsien op die regte oomblik, die volmaakte offer vír die oomblik.

Hierdie gebeure is ’n wonderlike openbaring van God se karakter, nl. dat Hy ’n vrygewige en genadige Vader is, wat in ons behoeftes voorsien.

Abraham het instinktief geweet dat die ram dié plaasvervanger vir Isak was. God se voorsiening van ’n plaasvervangende offerdier was dus die perfekte plaasvervanger wat Hom tevrede sou stel. Net so sou God heelwat later weer die volmaakte Plaasvervanger op die regte tyd voorsien wat Hom tevrede sou stel, nl. Jesus Christus. Net die Lam van God (Jesus) sou die volmaakte offer kon bring om versoening vir ons sonde te doen – die enigste offer wat ons regverdig kon verklaar voor God.
· Derdens sien ons dat God se belofte bevestig word. Toe God die opdrag aan Abraham gegee het om sy seun te offer, het dit geblyk dat daar niks van die verbond tussen hom en God sou kom nie. Abraham kon maklik gedink het dat God nie by Sy woord gehou het nie, maar God kom aan die einde van Abraham se tog en Hy herbevestig Sy verbond met Abraham (22:16-18). Vanuit Abraham se perspektief het hy dus nie huiswaarts gekeer na ’n doellose beproewing nie, nee, hy hoor opnuut weer van God en hy ontvang opnuut weer ’n herbevestiging van God se beloftes.

6. DIE EWIGE BETEKENIS EN BELANG VAN MORIA:
Dit is belangrik dat ons ook laastens net vlugtig sal kyk na die ewige betekenis en belang van die plek waar die toneel hom afgespeel het, nl. Moria. Hierdie berg was ongeveer drie dae se loop van Abraham se tuiste af. Om op berge te aanbid was ook redelik algemeen in daardie tyd, maar waarom juis daar, want daar was tog berge nader aan Abraham se tuiste? Die antwoord lê opgesluit in die naam van die berg, nl. Moria.
· Abraham het die plek in v.14, “Die Here voorsien” genoem. Wat interessant is, is dat die woord Moria, in die Hebreeus, beide “voorsien” en “sien” kan beteken en dit kan dalk verwarrend voorkom, maar as ons na die Latynse woord kyk, nl. provideo, beteken Moria dus, “om vooruit te sien”. Dit beteken dus dat God in Sy almag en alwysheid, ons behoeftes sien en daarin voorsien. Moria beteken dus, “God se genadige voorsiening”.
· Tweedens is dit insiggewend om te weet dat Moria geïdentifiseer word met Jerusalem. Gen.22:14b praat van "die Berg van die Here" en ons weet ook dat Dawid gepraat het van die Berg van die Here wanneer hy na Jerusalem verwys het, bv. Ps.24:3. Hier op Moria vind ’n offer plaas – dieselfde plek as waar die tempel later in Jerusalem sou verrys – 2Kron.3:1 ~ Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg.

Wanneer ons dit besef, word die betekenis van die offer wat later in hierdie selfde omgewing, nl. op Golgota sou plaasvind, toe ’n ander Seun as ’n Offerlam en as Soenoffer geoffer sou word, soveel meer insiggewend en belangrik.

7. TOEPASSING EN AFSLUITING:
Een van die doelwitte met die skryf van hierdie verhaal waarna ons vandag gekyk het, was om Israel te verseker dat hulle getroue Verbondsgod vertrou kán word om die volk se verlossing te verseker. Maar wat van ons vandag? Wat wil die Here vir ons deur hierdie verhaal leer?
· Ons sien in hierdie verhaal dat God ’n plaasvervanger voorsien om in die plek van Isak te sterf. Ons sien later in Eksodus dat die eersgeborenes van Israel saam met dié van Egipte sou sterf, maar hulle word verlos deur die bloed van ’n een jaar oue ram wat aan die deurkosyne geverf is (die Paaslam). Ook in die res van die Israelitiese geskiedenis het die plek van offerandes wat geoffer is ten einde versoening tussen God en die Israeliete te bewerkstellig, ’n geweldige belangrike rol gespeel. In die volheid van die tyd, voorsien die Here ook Sy eie Seun as Plaasvervangende Offerlam, sodat Sy kinders mag lewe, daarom dat Johannes die Doper, Jesus voorstel in Joh.1:29 as ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! En Jesus sê in Mark.10:45, van Homself ~ Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.
· Ons sien ook dat die verbondsbeloftes in Gen.22:17-18 wat God teenoor Abraham gemaak het, beloftes inhou vir sy saad; vir sy nageslag, deurdat Hy aan Abraham sê ~ In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees. Hierdie belofte van seën word vervul in Matt.28:19a ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Ons as ongelowiges – as heidene, kan dus ook nou die seën om dissipel van Jesus Christus te wees, ervaar.
· Laastens kan die getroue Verbondsgod vertrou word om verlossing te skenk en ’n ewige lewe te voorsien aan Sy kinders en dít stem ooreen met o.a. Joh.10:28, waar Jesus sê ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie, asook Matt.16:18 ~ ....op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 31 Mei 2009