Monday, June 15, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 14 Junie 2009

“Openbaring Ontsluit - 04” (Briewe aan Sewe Gemeentes - Efese) [1]

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
In hoofstukke 2 en 3 vind ons briewe wat Johannes aan sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf het, nadat Jesus Christus dit aan hom gedikteer het. Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy groetewoord rig, was Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22). Hierdie was werklike gemeentes wat bestaan het in die tyd wat Johannes hierdie apokalips ontvang het. Ook het die toestande t.o.v. van die gemeentes, soos beskryf in Openbaring, werklik in daardie spesifieke gemeentes geheers.

Hierdie toestande wat geheers het in hierdie sewe gemeentes, is dan ook realiteite wat in die kerk in die breë vandag nog voorkom. Elke gemeente ervaar dus op een of ander stadium van haar lewe, een of meer van hierdie toestande. Elke gemeente ervaar dus van tyd tot tyd (oor korter en soms langer stadiums) dinge wat prysenswaardig is; of afkeurenswaardig is; of dinge wat verbetering en/of verandering benodig.

Al was hierdie briewe dus oorspronklik vir sewe spesifieke gemeentes bedoel, dien dit vandag nog as bloudruk vir die kerk van ons dag, waaraan ons onsself moet meet. Ons as gemeente en die kerk in die algemeen moet haarself dus voortdurend aan al sewe hierdie briewe meet.

Ons vind ’n algemene patroon in die struktuur van elk van hierdie sewe briewe:
· Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
· Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
· Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
· Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge.
· Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeentekritiek oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
· Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning.
· Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Kom ons kyk net eers na ’n kort opsomming van die struktuur van die briewe wat na die sewe gemeentes gestuur is - l.w.: elkeen van hierdie sewe briewe het oor presies dieselfde struktuur beskik - hierna sal ons na elkeen van die sewe gemeentes, individueel kyk:
DIE SEWE GEMEENTES IN KLEIN-ASIË
Die Geadresseerde Gemeente
Beeld van Christus
Christus se Aanprysing
Christus se Bestraffing
Christus se Raad
Christus se Belofte

2. DIE GEMEENTE IN EFESE (2:1-7):
· Die Geadresseerde Gemeente:
Openb.2:1a (O.A.V.) ~ Skryf aan die engel van die gemeente in Efese, of volgens die N.A.V. ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese. Hierdie brief word direk gerig aan die engel of die leraar van die gemeente in Efese.

Hierdie gemeente is in ongeveer 60-63 n.C. deur Paulus gestig en “gevoed” (Hand.18:19-21; 19:1; 20:16-38). Hierdie brief uit Patmos word dus so kort as 35 jaar na die stigting van die gemeente aan hulle gestuur.

Hierdie was ’n gemeente wat in ’n uiters bevoorregte posisie verkeer het – die “grootte Apostel Paulus” het hierdie gemeente begin en die eerste groep gemeentelede het aan Paulus se voete gesit! Voorgangers van statuur het daar bedien en gedien en gehelp om die fondasie van hierdie gemeente te lê – mense soos Akwila (Hand.18:19,26), Apollos (18:24-28) en Timoteus (1Tim.1:3) – Dink jou in: Jy sit aan hierdie formidabele manne se voete om van die Woord te leer! En asof dit nie genoeg is nie, ontvang hierdie gemeente ook nog Paulus se eerste brief wat hy vanuit die tronk geskryf het (ongeveer 60 n.C. - Ef.1:1).

Ons het dus hier te doen met ’n gemeente waarvan die fondasies baie deeglik in die Woord gelê is. Dit is verder ’n gemeente wat in ’n ryk, bekende en vooruitstrewende stad geleë was – ’n stad wat bekend was vir sy handel, maar ook vir die Tempel van Diana (Hand.19:23-27). Met soveel weelde en oorvloed is korrupsie en sonde, natuurlik ook dikwels die natuurlike gevolg.

· Die Beeld van Christus:
Openb.2:1b ~ So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan. Hier word twee dinge t.o.v. Christus gesê. Eerstens word gesê dat Hy “die sewe sterre in Sy regterhand vashou” Met hierdie bekendstelling, onthul Christus Homself as die Hoof van die Kerk en as Hoof resorteer die beheer en regering van die Kerk onder Hom. Die sterre of die Kerkleiers staan dus onder Sy leiding en beheer. Kerkleiers moet altyd hiervan bewus wees, want heeltemal te veel kerkleiers tree deesdae op, asof gemeentes onder hulle direkte beheer staan – so asof hulle die soewereine leiers van die gemeente is. Hulle gebruik en misbruik die finansies van die gemeente asof dit hulle s’n is en selfs gemeentes wat onder sy bediening geplant word, bly staan onder sy diktatuur. Niemand mag sy optrede in twyfel trek nie, want hy is nie verantwoording verskuldig aan enige iemand nie.

Die regterhand word gewoonlik beskou as ’n hand van krag ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes.41:10). Die Here Jesus regeer dus Sy kerk met ’n ferm hand. Hy gee dan ook aan die Kerk ’n vaste fondasie in die vorm van die Woord van God. Aan die hand van hierdie fondasie moet die Kerk dan ook regeer word en daarom het geen leier absolute mag of beheer oor die gemeente nie en geeneen het die reg om die Kerk buite die mandaat van die Woord te lei nie. Alle leiers en lidmate staan dus onder die leiding van Jesus Christus – Hy is die Opperherder.

Voorgangers van gemeentes word derhalwe deur Christus geroep, toegerus en gestuur. Voorgangers staan dus onder Christus se gesag en leiding. Die Kerk moet voorgangers dus sien as sondige mense, maar toegerus, geroep en verhef bo die ander lidmate in die gemeente en wel op grond van die feit dat hulle in Sy regterhand vashou.

Tweedens, Christus gaan rond tussen die sewe goue lampe – dit beteken dus dat Christus intens betrokke is by al (sewe) Sy gemeentes (Openb.1:20) – selfs by die gemeentes se alledaagse doen en late. Waar Sy kinders ook al byeen is, is Hy teenwoordig – daarom dat daar in Matt.18:20 staan ~ ...want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Waarom is Hy so intens teenwoordig en betrokke? Om Sy kinders te lei en te seën. Christus is dus voorwaar alomteenwoordig en almagtig en daarom ontglip geen enkele aktiwiteit of motief, Sy aandag nie. Hierdie wete laat ’n mens sidder en noop ’n mens dus om toe te sien dat jou leer (“doctrine”) en optrede altyd sal getuig van suiwerheid en gehoorsaamheid aan die Woord. Aan die anderkant egter, behoort dit alle gelowiges wat in die Waarheid wandel, te bemoedig en te vertroos, omdat hulle weet dat die Trooster altyd in hulle midde is.

· Christus se Aanprysing:
Openb.2:2-3 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3 Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Verskeie dinge in die gemeente in Efese was prysenswaardig in die oë van die Here. Eerstens, was hulle ywer. Hierdie was nie ’n gemeente vol luiaards en toeskouers, wat alles aan die ouderlinge en diakens of leierskap oorgelaat het om te doen nie. Elkeen het presies geweet wat van hom of haar verwag is en watter rol hulle moes vervul en hulle het dit ook met ywer gedoen en waarskynlik met die minimum toesig. Hierdie was ’n deug wat baie tyd en energie gevra het en die alwyse Christus het dit raakgesien, soos wat Hy ook al ons deugde (of passiwiteit?) raaksien.

Tweedens het Christus hulle geprys vir die feit dat hulle stewig gegrond was in die Woord en hulle leer (“doctrine”) en die feit dit hulle gedissiplineerd was. Hierdie eienskappe was gekenmerk deur hulle onverdraagsaamheid jeens boosaards, slegte mense en bedrieërs. Dit is interessant om te sien en te besef dat elke era, sy eie kwota bedrieërs en dwaalleraars oplewer, maar tydens elkeen van hierdie eras, is daar nie baie gelowiges wat hierdie boosaards ontbloot en teëstaan nie. Die vraag is waarom die ander ses gemeentes, maar ook mense in ons tyd, nie altyd kans sien om boosaards te ontbloot en teë te staan nie? Waarskynlik die grootste en belangrikste rede hiervoor, is ’n vrees vir mense en wanneer jy mense vrees, vrees jy God baie minder en dit is sonde. Tot sy krediet, het die gemeente in Efese God meer gevrees as mense en daarom het hulle opgetree teen hierdie boosaards.

Hierdie gemeente in Efese het leerstellig korrek opgetree en het vals leer geïdentifiseer en het geweier om gemeenskap met mense te hê wat immoreel was – ons sien dit in hulle afsku wat hulle in die Nikolaïete gehad het (2:6). Dit is dus duidelik dat die lering wat die grondleggers van die gemeente gelê het, ter harte geneem is deur die lidmate en dat hulle dit nie net by kop kennis laat bly het nie, maar dat hulle dit in die praktyk toe gepas het.

Derdens, was Christus ook beïndruk met die gemeente se geduld. Ons het hier te doen met ’n gemeente wat oënskynlik alles denkbaar beleef het, wat ’n gemeente maar kon beleef, en nogtans was hulle geduldig. Te midde van teëkanting en vervolging en verguising en blootstelling aan vals leer, was hulle nogtans geduldig. En hierdie geduld, onder hierdie omstandighede was welgevallig in die oë van die Here.

· Christus se Bestraffing:
Openb.2:4 ~ Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Hier vind ons ongelukkig ’n hartseer kant by die suksesverhaal van die gemeente in Efese – hulle het Christus nie meer so lief soos in die begin nie! Dit is dus amper so asof die Efesiërs al die regte dinge gedoen het, soos wat hulle geleer is, maar hulle harte was nie meer daar in nie – hulle harte het koud geword.

Wat was die redes hiervoor? Was dit die gejaagdheid in hierdie belangrike handelstad? Wat die rede(s) ook al hiervoor was, daar is altyd bepaalde tekens wat daarop dui dat ons liefde vir Christus getaan het:
- Minder aandag en tyd word spandeer aan oordenking van God en Sy Woord.
- Minder vervulling word geput uit God se Woord; die prediking; gebed; die Nagmaal; evangelisasie; Christus gefokusde gemeenskap met ander heiliges; die gee van “tiendes” en ander offergawes.
- Gewilligheid om betrokke te wees by teregwysing van andere oor sonde in hul lewe, of ’n gebrek aan gewilligheid om te getuig.
- Gee nie om as verhoudinge taan nie en het ook nie motivering om versoening na te jaag nie.
- Jy weerstaan die oortuigingswerk van die Heilige Gees as jy gesondig het en/of jy onderdruk enige skuldgevoelens oor sonde.
- Jy put meer geluk by die wêreld en uit wêreldse geluk, as uit die geestelike.
- Die leiding van die Heilige Gees maak al minder en minder sin vir jou en jy sukkel al meer en meer om God se wil in en vir jou lewe raak te sien.
- Jou begeerte om God te verheerlik in en deur jou ganse lewe, is nie meer ’n prioriteit nie.

Die gevaar is dat ons baie toegewyd in ons godsdienstige lewe en diensbaarheid kan wees, maar dit gepaard kan gaan met al minder en minder liefde vir God – Hy teenoor en aan wie hierdie toewyding en diensbaarheid gemaak en gerig moet word – daarom kan selfs leerstellig korrekte gemeentes louwarm en selfs koud wees, want leerstellinge, konstitusies ens. alleen, verskaf nie immuniteit teen ’n verval in ons liefde vir Christus nie.

Geestelike veiligheid en stabiliteit lê opgesluit in ’n Bybelse en stewige teologie wat gegrondves is in ’n opregte liefde vir Christus. Leerstellinge en Godsvrug ontspring dus uit ’n diep en opregte liefde vir Christus Jesus.

En wat waar is van individue, is net so waar van die Liggaam van Christus – die plaaslike gemeente. Een van die grootste redes wat lei tot ’n gemeente se afname in haar liefde vir Christus, is o.a. wanneer die prediking nie meer sonde aanspreek nie en wanneer sonde onder lidmate nie meer aangespreek word nie – en lg. is nie net die werk van die leierskap nie, maar elke lidmaat het ’n verantwoordelikheid wat dit aan betref.

’n Gemeente moet veral ook bedag wees op hulle liefde vir Christus, wanneer daar baie wisseling in lidmate plaasvind, want so ’n metamorfose het tot gevolg dat nuwe lidmate baie maklik nie dieselfde getrouheid en toewyding en liefde teenoor Christus openbaar en uitleef nie en daarom moet hulle deeglik deur medelidmate en die leierskap begelei word wat hierdie fasette betref.

· Christus se Raad:
Openb.2:5-6 ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6 Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.

Hierdie verse verskaf soveel sekuriteit aan ons as gelowiges, want hier kan ons weereens sien dat God ons nooit alleen laat met ons tekortkominge en ons probleme nie. Drie geneesmiddele of oplossings word vir die Efesiërs voorgeskryf, nl.: Oordenking; Berou en Belydenis en Bekering.

Oordenking gaan daaroor dat ons dit wat goed was en dit waaroor ons beskik het, weer in herinnering sal roep. Berou beteken om die wortel van ons louheid te identifiseer en dit te bely as sonde en dit neer te lê. En bekering beteken om alles weer in die stryd te werp om my liefde vir Christus te herstel – en hoe doen ek dit? Deur bg. lys van agt dinge om te skakel in positiewes, m.a.w. om byvoorbeeld weer my volle toewyding en aandag te skenk aan my “stiltetyd” (sien probleem # 1 hierbo), ens.

Christus waarsku ons dat indien daar nie berou en bekering is nie, word die voortbestaan van die gemeente bedreig. Enige vorm van sonde (hoe gering ook al) moet dus met wortel en tak uitgeroei word – indien die gemeente dus vir jou belangrik is, sál jy alles in die stryd werp om sonde onder gemeentelede (beginnende by jouself natuurlik) met wortel en tak uit te roei.

· Christus se Belofte:
Openb.2:7 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is. 1Kor.2:14 sê ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Indien die geadresseerdes (en onthou dit sluit ons in) dan wederbaar is, het die Gees van God en daarom moet ons luister na die teregwysing deur die Gees t.o.v. ons liefde (individueel en korporatief) vir Christus.

Die hoop op oorwinning oor hierdie probleem lê vir ons opgesluit in die woorde van 1Joh.5:4-5 sê ~ ...want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? As ons dus gehoorsaam is en oorwinning behaal, sal ons te ete (kry) van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 14 Junie 2009