Tuesday, June 23, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 21 Junie 2009

“Openbaring Ontsluit - 05” (Briewe aan Sewe Gemeentes ~ Smirna)

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het die vorige keer gesien dat al die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, oor dieselfde struktuur beskik, nl.:
- Die Geadresseerde Gemeente
- Beeld of Beskrywing van Christus
- Christus se Aanprysing
- Christus se Bestraffing
- Christus se Raad
- Christus se Belofte

Die uitsondering is egter met twee gemeentes, nl. dié in Smirna en dié in Filadelfia – beide hierdie gemeentes het geen teregwysing, of bestraffing van Christus ontvang nie.

2. DIE GEMEENTE IN EFESE (2:1-7):
• Die Geadresseerde Gemeente:
Openb.2:8a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna. Hierdie gemeente in Smirna, was in baie opsigte net so ’n betekenisvolle stad as die van Efese en in baie opsigte was hierdie stad in kompetisie met Efese, t.o.v. belangrikheid wat handelstatus ens. behels.

Die stad het baie en waarskynlik oorwegend, Joodse inwoners gehad wat sterk in die handelswêreld betrokke was en soos gewoonlik het sakelui baie nou saam gewerk met die owerhede en hierdie entrepreneurs het die owerhede uitgebuit en misbruik om op te tree teen die Christen gelowiges in Smirna.

Dit is nie baie duidelik wie die kerk in Smirna gestig het nie, maar omdat Paulus op se derde sendingreis, deur die hele Klien-Asië gestrek het (Hand.19:10), is die kanse goed dit die stigter van hierdie gemeente dan Paulus was. Hierdie reis het tussen 53-56 n.C. plaasgevind.

• Die Beeld van Christus:
Ons sien in Openb. 2:8b, dat Christus Homself as volg voorstel ~ So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Jesus stel Homself dus voor as die ewige, of ewig lewende Een en Oorwinnaar oor die dood . Hy stel Homself verder ook voor as dié Een op wie die Kerk moet staatmaak, omdat, soos Fil.1:6 tereg sê, Hy die Een is ...wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Alle dinge is dus van Hom, deur Hom en vir Hom. En omdat Hy die enigste Een is wat die dood kon oorwin, kan Hy tereg sê dat Hy simpatie kan hê met die ergste vorme van beproewing wat enige gelowige denkbaar kan ervaar.

Hierdie gemeente in Smirna het geweldig swaar gekry en het erge vervolging gely, net omdat hulle getrou en gehoorsaam was aan Christus en die Waarheid en daarom kon hierdie bekendstelling van Christus as die “dood-oorwinnende-Christus” nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie.

• Christus se Aanprysing:
Ons lees in Openb.2:9 die volgende woorde ~ Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. Die gemeente in Smirna het vir net drie dinge bekend gestaan. Die eerste uitstaande kenmerk van hierdie gemeente, was die feit dat hulle volhard en uitgehou het te midde van fel vervolging. Presies watter vorm hierdie vervolging aangeneem het, is nie heeltemal seker nie, maar hoogs waarskynlik het dit die vorm van fisiese mishandeling behels, wat uiteindelik tot die dood kon lei. Sulke vervolging is waarskynlik die ergste vorm van vervolging wat ’n gelowige kan ervaar.

Tweedens het die gemeente ook geweldige armoede ervaar. Vir ’n gemeente om te midde van rykdom rondom hulle, bekend te staan as ’n armoedige gemeente, moes
geweldig vernederend gewees het. Hierdie armoede het waarskynlik voort gespruit uit die feit dat die gelowiges ontneem is van besigheidsgeleenthede ens. en dit was hoogs waarskynlik, o.a. omdat hulle nie toegegee het aan allerlei onwettige en onbybelse praktyke ten einde hulself te verryk en om besigheid te kon kry nie (vergelykbaar met hedendaagse praktyke van bedrog en omkopery?). Bevordering in die werksomgewing was hulle waarskynlik nie beskore nie en onregmatige afdankings en vervolging in die werk was waarskynlik aan die orde van die dag. Elke moontlike poging is waarskynlik aangewend om materiële verlies vir die gelowiges te verseker. Verskriklike ostrasisme (verbanning en uitsluiting uit die gemeenskap) is dus toegepas op hierdie groepie gelowiges.

En tog, wanneer hierdie uiterste vorme van vervolging ons tref, verseker Christus ons, dat dit bloot uiterlik is en dat wonderlike vergoeding en eer en rykdom op diegene wag wat ly t.w.v. hulle gehoorsaamheid aan Christus en hierdie vergoeding en eer en rykdom sal ’n ewigheid duur!

Derdens het die gemeente smaad en laster en beswaddering en kwaadsprekery ervaar. Hulle is volgens oorlewering beskuldig van talle onwaarhede en hulle is geïmpliseer by allerlei skandale. Kan julle dink hoe dit sou gevoel en gewees het, as koerante en die internet toe al bestaan het!

Die mees pynlike van dit alles, was die feit dat hierdie smaad en belastering, ens. deur sg. gelowiges teen hierdie Christene geloods was. Ons moet in gedagte hou dat die heidense wêreld, die Jode gesien het as gelowiges en daarom was hierdie fel aanvalle deur gelowiges, geloods deur Jode, of deur “gelowiges” van ander denominasies wat nie waarlik die getuienis van ’n godvrugtige lewe uitgeleef het nie, of hulle kon dalk ook “gelowiges” gewees het, wat openlik gekant was teen ’n godvrugtige lewe, maar wat die etiket van ’n Christen wou dra. Hierdie sg. gelowiges is deur Christus as “behorende tot die sinagoge van satan” genoem, want hulle was direkte instrumente in die hande van die bose. Dit is algemene kennis dat die mees flagrante en aakligste vervolging op gelowiges, juis geskied het deur mense wat hulleself gelowiges genoem het – daarom is die Engelse spreuk so waar ~ More deeply felt is the stab of a brother than that of a stranger.

En in die lig van wat ek so pas gesê het, moet ons as gemeente ook weet en onthou, dat ons ook vervolging sal ervaar wanneer ons gehoorsaam is aan Christus en die Waarheid van die Woord, maar wat ’n vertroosting vind ons nie ook in hierdie bemoedigende woorde van Christus aan die gemeente in Smirna – laat ons dit altyd in gedagte hou!

• Christus se Bestraffing:
Soos reeds gesê, het hierdie gemeente in Smirna, tesame met die gemeente in Filadelfia, geen bestraffing van Christus ontvang nie – dit opsigself is waarskynlik die hoogste vorm van lof wat ’n gemeente kan ontvang, nl. Geen bestraffing!

• Christus se Raad:
Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee. Sommige vorme van lyding is baie moeilik hanteerbaar en dit is ewe moeilik om mense wat gebuk gaan onder lyding werklik te vertroos en te bemoedig – veral sekere soorte lyding. En dit is baie dikwels net die sekuriteit en vertroosting wat God voorsien, wat regtig vertroos. En dit is so dat God op die regte tyd sulke sekuriteit en vertroosting skenk.

Dit is egter baie interessant om te sien dat Christus hierdie groepie mense in Smirna eers waarsku, alvorens Hy hulle vertroos. Waarom doen Hy dit? Omdat dit baie dikwels ’n natuurlike gevolg en optrede by mense wat ly, tot gevolg het, nl. om te vrees. Die probleem met vrees, is dat dit baie dikwels ’n mens se emosies lam lê. Die teenoorgestelde van hierdie verlammende vrees, is moedige en dapper hoop. Die antwoord dus op vrees en wanneer jy onder aanvalle verkeer, is om daardie aanvalle teen te staan en te beveg en dan sal jy die vervolging en vrees die hoof kan bied.

Tweedens waarsku Christus teen hoop wat ongegrond en “self opgeklits” is. Hoop m.a.w. wat nie gegrond is op die Woord van God nie en hoop wat onrealisties is. Sulke hoop lei gewoonlik na ontnugtering. Die hoop wat Christus egter bied, is realisties en eerlik en staar realiteite in die gesig – dit bied dus nie vals hoop nie. Dit is waarom Hy nie vir die gemeente in Smirna sê: Moenie bang wees nie, hierdie swaarkry van julle sal binnekort verby wees. Nee, Hy weet wat vir hulle voorlê en deel van die hoop wat Hy hulle bied, is om hulle voor te berei op wat wag, daarom dat Hy sê ~ Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry.

Hy sê dus op die oog af vir hulle dat dit wat hulle tot dusver ervaar het, ’n vulletjie gaan wees, in vergelyking met dit wat nog gaan kom. Dit klink nie regtig na bemoediging nie! En nog minder sal sulke tipe bemoediging in ons moderne era “afgaan”.

Hoe ongevoelig dit ook al mag klink – harde en ongenaakbare feite en waarheid, bemagtig en staal gelowige “soldate” baie beter as vals beelde van oorwinning wat nie ’n realiteit is nie.

Baie belangrike waarhede spruit voort uit hierdie somber waarskuwing wat Christus maak:
– Soms kan gelowiges se beproewing onverbiddelik voort duur.
– Agter elke stukkie vervolging wat oor die pad van ’n gelowige kom, sit die bose – Hy was ’n “mense moordenaar” van die eerste dag af. Hoor wat sê Joh.8:44 van mense wat folteraars is ~ Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leun.
– Ons moet besef dat geen beproewing om dowe neute plaasvind nie. Vir die gelowige is dit ’n herinnering aan die aakligheid van die sondige aard waarin ons almal nog steeds vasgevang is en fokus dit opnuut ons gedagtes op God se genade vir ons as sondaars – Hoe nodig het ons nie Sy genade nie! Vir die gelowige is beproewing, ’n “eksamen”. Indien hy die “eksamen” slaag, word sy karakter gebrei en word daar bygevoeg by sy hemelse beloning.
– Ons moet besef dat geen beproewing vir altyd aanhou nie – nog net “tien dae”. Die getal tien kan hier ook ’n volheidsgetal simboliseer – bedoelende dat hierdie beproewing deur God in Sy soewereiniteit verordineer is en nie deur die satan nie.

Derdens doen Christus ’n ernstige beroep op die Kerk om getrou te bly. Wat meer is, hierdie getrouheid moet nie tot ’n einde kom wanneer die beproewing of vervolging afneem of verby is nie – dit is ’n roeping tot die dood toe! Dit impliseer dus dat vervolging deurgemaak en deurgestaan moet word sonder ’n gekla en gebrom of om die egtheid van jou geloof te kompromitteer, of om jou liefde vir God in die proses te verloor, of om jou vertroue in Sy getrouheid te verloor. Hierdie getrouheid word natuurlik met die kroon van die lewe vergoed in die hiernamaals – Jak.1:12 ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. ’n Kroon is natuurlik tekenend van koningskap en hierdie kroon wat elke getroue volgeling van Jesus Christus gaan ontvang, se glinstering gaan afhang van die dimensie van die draer se aardse arbeid, gehoorsaamheid en getrouheid. In 2Tim4:8 lees ons van die “oorwinnaarskroon” ~ Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms. Elkeen wat versoeking en vervolging suksesvol deurstaan sal die kroon van die lewe ontvang ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jak.1:12). So sal die “sielewenner” bv. ’n kroon van blydskap ontvang ~ Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20 Júlle is immers ons trots en ons blydskap! (1Tes.2:19-20). ’n Kroon van heerlikheid sal gegee word vir geestelike leiers wat getrou na die kudde omgesien het (1Pet.5:5). Al hierdie krone en ander belonings sal gegee word deur die genadige hand van Jesus die Christus wie al hierdie gawes en dienswerk aan Sy kinders geskenk het, want uit onsself is ons in elk geval nie tot hierdie goeie dade in staat nie.

• Christus se Belofte:
Openb.2:11 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie. Weereens word hier ’n beroep gedoen op gemeentes wat in die Gees wandel, om aandag te skenk aan wát die Gees sê. En in hierdie boodskap lê daar ’n wonderlike belofte opgesluit vir die diegene wat oorwin, m.a.w. vir diegene wat tot aan die einde van hul dienswerk en lewe hier op aarde, volhard in hul geloof en gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus Christus. En wat behels hierdie belofte?
– Dit behels ewige immuniteit teen die “tweede dood”, m.a.w. die “triomfeerders” word gespaar van ’n ewige lyding in die hel en wat meer is, volgens Paulus in 2Tim.2:12, sal ... ons (wie) in die geloof volhard, saam met Hom regeer....

Die eerste dood is die fisiese dood waar die liggaam afsterwe en dit opsigself is pynlik vir die gelowige, maar genadiglik (prys die Here!), nie die tweede dood nie. Dit word ondubbelsinnig in Openb.20:6 vir ons gesê ~ Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer (Die getal 1 000: Lang tydperk of groot hoeveel). En wat is die tweede dood? Openb.20:14 ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. En wie gaan die tweede dood ervaar – Openb.21:8 ~ Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.

’n Gemeente wat deur die beproewing gaan waardeur die gemeente in Smirna gegaan het, het hierdie tipe van bemoediging absoluut nodig gehad. En baie gepas besoek Christus die “Eerste en die Laaste”, wie dood was en nou lewend, dié Een wie deur soortgelyke beproewing as dié van die gemeente in Smirna gegaan het en veel, veel meer as dit – Hy het oor die dood getriomfeer – Hy kom nou en Hy vertroos en bemoedig die gemeente in Smirna. Hy vertroos hulle met realistiese en opregte hoop – hoop op ’n wonderlike triomferende en ewige lewe in die hiernamaals!