Monday, June 15, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (14 Junie 2009)

“Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 05” (Die Groot Versoendag) [1]

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Lev.16:1-34 ~ Aäron se twee seuns het gesterf toe hulle ’n offer aan die Here wou bring, en na aanleiding daarvan het die Here vir Moses ’n opdrag gegee. 2 Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in ’n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe. 3 Voordat hy in die Allerheiligste ingaan, moet hy ’n jong bul as sondeoffer bring en ’n ram as brandoffer. 4 Verder moet hy die gewyde klere van ’n gewone priester aanhê oor ’n broek en hy moet ’n serp om sy lyf en ’n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek. 5Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer. 6 Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters. 7 Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here. 8 Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’. 9 Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as ’n sondeoffer offer. 10 Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel. 11 “Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag 12 en moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook ’n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan. 13 Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit ’n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie. 14 Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel. 15 Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel. 16 So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid. 17 Niemand anders mag in die tent van ontmoeting wees vandat Aäron ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgaan nie: hy doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente Israel. 18 Daarna moet Aäron uitgaan na die altaar toe in die teenwoordigheid van die Here en dit reinig: hy moet van die bloed van die bul en die bokram rondom al die horings van die altaar smeer 19 en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel. So moet hy die altaar reinig van die onreinheid van die Israeliete en dit wy. 20 “Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring. 21 Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. 22 So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ’n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word. 23 “Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit. 24 Hy moet hom op ’n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk. 25 Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand. 26 Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. 27 Die sondeofferbul en die sondeofferbok waarvan die bloed gebruik is om versoening te doen in die Allerheiligste, moet buite die kampplek verbrand word, velle, vleis, pensmis en al. 28 Die man wat dit verbrand het, moet eers sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. 29 Julle moet dit as ’n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand, 30 want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde. 31 Dit moet ’n plegtige rusdag wees, ’n dag waarop julle vas, ’n vaste instelling. 32 Die priester wat gesalf is en in die plek van sy vader as hoëpriester georden is, moet die versoening doen. Hy moet die gewyde linneklere aantrek, 33 die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele gemeente. 34 Die versoening vir die sonde van die Israeliete moet ’n vaste instelling wees. Dit moet elke jaar plaasvind.” Aäron het toe gedoen wat die Here vir Moses beveel het.

2. INLEIDING:
Ons lees hier van die instelling van die Groot Versoendag – daardie dag waarop die Hoë Priester versoening bewerkstellig het tussen die heilige God en die sondige volk Israel. Hierdie was dan ook ’n dag van geweldige belang vir die volk en dit het een keer per jaar plaasgevind en wel op die tiende dag van die sewende maand.

Die Hoë Priester het op hierdie dag spesiale klere aangetrek en het baie deeglik voorbereidings getref vir die gebeure van die dag – dit alles dui dus op die geweldige belangrikheid van hierdie dag – die Groot Versoendag. Die hele gemeenskap moes hierdie dag gedenk, deur o.a. te vas en nie te werk nie.

Hier in Lev.16 word die besonderhede van hierdie dag in fyn besonderhede aan die Hoë Priester, sowel as die volk deurgegee. In verse 1-2 begin die voorskrifte met ’n plegtige en eerbiedwekkende waarskuwing. In verse 3-5 word gedetailleerde opdragte aan die Hoë Priester gegee. In verse 6-10 ’n bondige opsomming van die prosedure en in verse 11-28 word daar uitgebreide besonderhede gegee t.o.v. die seremonie self en in verse 29-34 word opdragte aan die volk gegee.

3. DIE HEILIGHEID VAN GOD:
Reg uit die staanspoor van Levitikus, word die Israeliete daarop gewys dat God ’n heilige God is en dat die offerandes met die uiterste omsigtigheid hanteer moet word. Elke element en faset van hierdie dag met al sy rituele, dui daarop dat Israel hier te doen het met ’n ontsagwekkende- en heilige God. Sy teenwoordigheid (in die vorm van die verbondsark) moet met uitermatige versigtigheid genader word en daar moet heel eerste, nadat daar in Sy teenwoordigheid gekom is, versoening vir
die Hoë Priester en die ander priesters se sonde gedoen word, bloot net omdat hulle sondige teenwoordigheid, God besoedel het.
· Om die volk deeglik bewus te maak van God se heiligheid, waarsku Hy die volk, deurdat Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu sterf, omdat hulle op onwaardige wyse offers aan God gebring het. Lev.10:1-2 beskryf dit ~ Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. 2 ’n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.
· Aäron word ook deeglik ingelig oor hoe hy homself moet voorberei vir hierdie belangrike taak as Hoë Priester en hy kon onder geen omstandighede op ’n ander wyse in die teenwoordigheid van God gekom het nie – Hy moes dus hierdie voorskrifte, nougeset nakom, anders kon dieselfde lot wat sy twee seuns getref het, hom ook tref. Op hierdie Groot Versoendag moes hy sy pragtige Hoë Priesterlike drag (soos beskryf in Eks.28), verruil vir ’n eenvoudige linne uitrusting (v.4). Die doel met hierdie eenvoudige uitrusting was juis om die Hoë Priester se nederigheid voor ’n heilige God te beklemtoon – die belangrike Hoë Priester is dus NIKS wanneer Hy in die teenwoordigheid van God verskyn.

Dit is verder interessant om in die Rabbynse geskrifte te sien, dat die Hoë Priester hierdie geleentheid waarop hy in die teenwoordigheid van God verskyn het, so belangrik geag het, dat hy vyf keer bad en sy hande en voete tien keer was, voor hy hierdie wit linnekleed aantrek. Algehele fisiese reinheid was dus vereis, voordat die Hoë Priester in die teenwoordigheid van die heilige God kon verskyn – op hierdie manier demonstreer die Hoë Priester, algehele innerlike reinheid, alvorens algehele geestelike reiniging vir die volk, by God verkry kon word.

Voor die Hoë Priester in die Allerheiligste kon ingaan, moes hy eers ’n sondeoffer (bring), sodat hy versoening (kon) doen vir homself en al die priesters. Aäron moes dus spesiale maatreëls tref, alvorens hy God in die Allerheiligste ontmoet het, want die God wie hy in die Allerheiligste sou moes ontmoet, is ’n God van absolute heiligheid en reinheid.
· Aäron moes homself voorberei vir die ontmoeting, maar hy moes ook al die items voorberei, wat nodig was vir die seremonie. So het hy bv. ’n bul nodig gehad vir ’n offer vir sy eie sonde ens. (sien v.5-24). En die klimaks van hierdie offerandes, was die vrylating van die “sondebok” in die woestyn, nadat die Hoë Priester die sonde van die volk, simbolies op die kop van hierdie “sondebok” geplaas het.
· Steeds was die seremonie nie oor nie, want Aäron moes nog in die Allerheiligste ingaan (slegs hierdie een keer per jaar). Die Hoë Priester moes hierdie plek, waar God gekies het om teenwoordig te wees, met die uiterste versigtigheid en eerbied binnegaan en daarom moes hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. (En hy moes) ook ’n dubbele handvol fyngestampte wierook op die kole gooi sodat dit ’n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek (v.12-13). Hierdie rookwolk was nodig ten einde die Hoë Priester te beskerm, omdat die Israeliete geweet het dat hulle God nooit van aangesig tot aangesig mag sien nie. Hierdie rook het dus verseker dat God se heiligheid draaglik kon wees vir ’n sondige Hoë Priester. Weereens kry ons ’n baie duidelike indruk van die heiligheid van God.

Die volk het begin besef dat hierdie beskerming teen God, nodig was omdat hulle hierdie heilige God deur hulle sondige optrede, ernstig aanstoot gegee het en dat hierdie sonde van hulle nie maar net geïgnoreer kan word nie, omdat dit nog verder aanstoot sou gee teen God se karakter en daarom moes die oortredinge verwyder word. Dit sal nie maar sommer net verdwyn nie – dit moet verwýder word. Maar wat was hierdie oortredinge wat op hierdie Groot Versoendag, deur hierdie spesiale seremonies verwyder moes word?

4. DIE VERWYDERENDE AARD VAN SONDE:

Ons moet besef dat sonde baie kompleks is en dat geen enkele woord, die volle omvang daarvan kan beskryf nie. In Lev.16 word daar vier woorde gebruik om die mens se oortredings teen God te beskryf, nl.: onreinheid (Lev.16:16); rebellie (Lev.16:16, 21); boosheid (Lev.16:21-22) en ongeregtigheid (Lev.16:16,21,30,34). Kom ons kyk net kortliks na elkeen van hierdie beskrywings:
· Sonde is Geestelike Besoedeling en Onreinheid: Deur die volk se sonde het hulle God se woonplek en Sy teenwoordigheid besoedel en daarom onrein gemaak – daarom moes die Hoë Priester die Allerheiligste, woonplek van God, eers reinig – ons sien dit in vers 16 ~ So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid.

· Sonde is Openlike Rebellie: Sonde is baie dikwels die optrede van mense wanneer hulle weet dat dit wat hulle doen verkeerd is en dít is niks anders as rebellie nie. Die volk Israel het wette gehad en hulle het dus elke keer geweet wanneer hulle die wette oortree – dit was dus openlike rebellie van hulle kant teen die God van die wet. Rebellie het dus tot gevolg dat die oortreders, willens en wetens en per keuse, skeiding bring tussen hulleself en God en derhalwe God se toorn (woede) teen hulle ontketen.

· Sonde is Bewustelike Boosheid: ’n Verdere beskrywing van sonde word vir ons in verse 21-22 gegee, nl. “boosheid” (N.A.V.= “ongeregtighede” – Hebreeus= “aw-vone'”) en hierdie booshede word bewustelik gepleeg.

· Sonde is alle vorme van Ongeregtighede: Hierdie sonde is alle vorme van verkeerde optredes wat skeiding tussen God en mens bring.

Uit hierdie beskrywings van sonde is dit dus baie duidelik, dat sonde, niks anders is as geestelike besoedeling wat reiniging nodig het, ten einde weer enigsins in ’n verhouding met God te kan staan en dit bring ons by die noodsaak van versoening; van reiniging; van vergifnis.

5. KENMERKE VAN VERSOENING:
Dit is dus duidelik dat daar skeiding gekom het tussen God en Sy volk, omdat die volk self gekies het om in rebellie teen God te staan, deurdat hulle, hulself oorgegee het aan allerlei onreinhede, booshede en ongeregtighede. MAAR, weereens is God ’n genadige God en kom die inisiatief om versoening tussen Hom en die volk te bewerkstellig, van Sy kant. Hy beveel Moses om opdrag aan die Priesters te gee oor hoe daar versoening bewerkstellig kan word tussen Hom en hulle.

· Offerandes moes gebring word: Op hierdie stadium in die geskiedenis van Israel was daar vyf tipes offers gebring, nl. “Brandoffers” (Lev.1:1-17; 6:8-13) wat deel uitgemaak het van die volk se algemene aanbidding. Dan was daar die “Graanoffers” (Lev.2:1-16; 6:14-23) wat ’n uitdrukking van die verbondsooreenkoms tussen God en die volk was. Derdens het hulle die “Maaltyd- of vredeoffer” gehad (Lev.3:1-17; 6:11-21). Vierdens was daar die “sonde- of reinigingsoffers” (Lev.4:1-5; 6:24-30) wat gehandel het oor die volk se onopsetlike sonde. En laastens het hulle die “skuld- of voldoeningsoffers” gehad (Lev.5:14-6:7; 7:1-10).

Met die uitsondering van die Graanoffers, het al die ander offerandes, die slag van ’n dier en die rituele hantering van die bloed behels. Wat gewoonlik gebeur het, is dat die persoon of persone wat die offer bring, gewoonlik die tempel of die plek van aanbidding, genader het met die offerdier. Hierna het hulle hul hande op die dier se kop geplaas en hom dan geslag, waarna die Priester die bloed uitgegooi het of op allerlei voorwerpe gesprinkel het. Hierna is die offerdier voorberei en gebrand op die altaar, geëet en die oorblyfsel vernietig.

Presies net so moes die Hoë Priester op die Groot Versoendag doen, behalwe dat die Hoë Priester op hierdie dag, twee bokke moes kies vir die volk se sondeoffers. Net een moes geslag om geoffer te word, terwyl die ander een vrygelaat moes word in die woestyn, nadat die volk se sonde seremonieel op sy kop geplaas is.

Met hierdie offerandes is daar dus bloed gestort ten einde ’n einde te bring aan die volk se vleeslike lewe – bloed was dus die prys wat betaal moes word indien reiniging en vergifnis verkry moes word. Hier val die primêre fokus dus op die offerdier en sy bloed, eerder as op die persoon of persone wie vergewe word.

· Dit is Plaasvervangend van aard: Die doel met die bring van offerandes was dus om versoening te bewerkstellig vir dié een wat die offer bring. Die offerdier neem dus die plek van die sondige aanbidder en sterf as sy of haar plaasvervanger. Die persoon wat die offer bring moes dus sy hande op die kop van die offerdier lê voor die dier geslag word, ten einde sy sonde op simboliese wyse “oor te plaas” op die offerdier – op hierdie wyse word die offerdier die plaasvervanger en dra hy al die sonde en skuld van die persoon wat die offer gebring het – lg. staan dus skotvry voor God se oordele.

· Dit is Versoenend van aard: Ons sien dus dat die offerande wat die persoon bring, versoening tot gevolg het. U mag dalk die vraag vra: Wat is die werklike betekenis van versoening? Die woord versoening kom van die Hebreeuse woord "kaw-far" en daar lê drie betekenisse aan die wortel van hierdie woord. Eerstens is dit, “om iets te bedek”. Tweedens: “om iets af te koop" en derdens “om iets weg te vee” of “te reinig”. U sal saamstem dat enige een van hierdie drie, ’n aanvaarbare
vertaling sou kon wees, maar dit is waarskynlik die derde wat die mees waarskynlike is, nl. “om iets weg te vee” of “om iets te reinig”. Wanneer ons dus sê dat die offerande, versoenend van aard is, sê ons dus dat die offer wat gebring word, versoening en reiniging tot gevolg het vir die persoon wat die offer bring.

· Dit is Allesomvattend:
In die vierde plek is die offerande, allesomvattend. Die unieke ding t.o.v. die Groot Versoendag, was die ritueel rondom die “sondebok”. Ons lees in v.7 ~ Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here. Met hierdie aksie is daar niks vreemds te vinde nie, maar wat hierop volg is geheel en al nuut en vreemd aan die Ou Testament tot dusver – v.8-10 ~ Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’ (Net so terloops – Dit is glad nie seker wie of wat Asasel is nie – moontlik die satan self). 9 Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as ’n sondeoffer offer. 10 Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel. Ek dink dat u met my sal saamstem, dat die simboliek rondom hierdie gebeure glashelder is. Die allerheiligste is gereinig van die volk se sonde en die volk se sonde word nou deur die “sondebok” weggedra en wel so ver as moontlik van die kampplek van die Verbondsvolk van God, nl. die Israeliete en dit dra dus sonde terug na die wildernis wat gesien is as die blyplek van die demone.

Hierdie gebeure, is ’n pragtige teken van God se onmeetlike genade. Ps.103:11-12 is dan ook ’n weerspieëling van wat hier gebeur ~ ...want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Iemand het eenkeer gesê dat God met hierdie handeling rondom die “sondebok”, vir die satan sê: Hier is al die sonde wat jy gefabriseer het. Jy kan dit weer kry, want dit het geen mag meer oor ons nie.

6. DIE EWIGE VERHEWENHEID VAN CHRISTUS:
Die rituele van die Groot Versoendag, het ’n volkome versoening vir die volk tot gevolg gehad, maar dit is slegs ’n skaduwee van die versoeningsdaad wat nog in die toekoms sou plaasvind.

Hierdie offerandes het heengewys na Een wat die volmaakte Hoë Priester sou word en wat in staat sou wees om ’n volmaakte offer vir almal te bring – Hy sou terselfdertyd die Lam vir die sondeoffer word, maar ook die “sondebok” wat die sonde van almal wat in Hom glo, weg sou neem en sodoende volmaakte en volkome versoening bring tussen God en mens en wel tot so ’n mate dat God die sondesmet van die mens vir die wie offer gebring is, nie meer raaksien nie. Natuurlik is hierdie volmaakte Hoë Priester en volmaakte Offerlam, Jesus Christus die Verlosser.

Jesus se bloed was dus ook gestort as soenoffer, net soos die sondeoffer van destyds, ten einde diegene wat in Hom glo se sonde “weg te vee” en te “reinig” (nes die “sondebok”). En soos die “sondebok”, het ook Jesus se kruisiging alle gelowiges se sonde weggeneem, dit is waarom 2Kor.5:21 sê ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. En in die woorde van 1Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. En Hebr.9:28 ~ So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag. Hebr.13:12 sinspeel ook vir ons pragtig op die “sondebok” ~ Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.

7. AFSLUITING:
Alhoewel hierdie ooreenkomste met die Groot Versoendag, vir ons help om die dood van Christus as soenoffer te verduidelik, is dit die kontras met die vroeëre offerandes wat vir ons die grootsheid van Christus beklemtoon. Waarom sê ek dit? Die Hoë Priester van destyds was steeds ’n sondige mens wat offerandes vir sy eie sonde moes bring, terwyl Jesus, vlekloos in sy volmaaktheid is en het daarom geen eie sondeoffer nodig gehad nie. Die ou offerstelsel kon mense dus seremonieel uiterlik gereinig het, maar kon niks doen aan hulle gewete nie, terwyl Christus se offer ook ons as sondaars se gewete reinig – Hebr.9:13-14 ~ Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14 Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer (sien ook Hebr.9:9).

Die feit dat ons gewetens nou ook gereinig is, het tot gevolg dat ons self, keer op keer, met vrymoedigheid tot God in die Allerheiligste kan gaan in gebed.

Die Groot Versoendag het die Israeliete gereinig van hul sonde – tot die volgende jaar, wanneer hulle sonde opnuut weer met die volgende Groot Versoendag, bely en hulle reiniging moes ontvang. Terwyl in en deur Jesus Christus is ons sonde eens en vir altyd weggeneem en is ons eens en vir altyd gereinig, omdat Jesus die volmaakte Offerlam was wat God die Vader se eis om reiniging en bekering volkome bevredig het – wat ’n wonderlike vrymakende feit!

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 14 Junie 2009