Monday, June 8, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 07 Junie 2009

“Openbaring Ontsluit - 03” (Christus se Visie) [1]

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING TOT DIE ONTVANGS VAN DIE BRIEF:
Ons gaan nou kyk na die volgende perikoop, nl. Open.1:9-20. Vers 9 ~ Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het.

Die doel met hierdie sinsnede is dat Johannes sy lesers in Klein-Asië wil verseker dat hy met hulle en hul omstandighede identifiseer, daarom dat hy homself ook beskryf as beide hulle geestelike broer, maar ook vennoot in hul lyding om Christus se ontwil. Hy voeg by dat hy ook, nes hulle, in geloof tot die koninkryk van Christus behoort en dat hy nes hulle in afwagting uitsien na Christus se wederkoms (deel ...aan die volharding).

Hy vertel ook vir sy lesers van waar hy die brief skryf, nl. van Patmos, ’n eiland suidwes van Efese, wat geleë is in die Egeïese See. Johannes was natuurlik na hierdie eiland verban, omdat hy ’n dissipel van Jesus was en omdat hy die Evangelie vreesloos gepreek het – hy was dus vervolg vir sy geloof (Openb.19:10).

2. DIE WYSE WAAROP DIE VISIE ONTVANG IS:
Vers 10a ~ Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer. Johannes onvang hierdie visie / openbaring / apokalips, op die herdenkingsdag van Jesus se opstanding (Joh.20:1). Hierdie dag is dan ook deur die vroeë kerk en tot vandag toe, op ’n Sondag gevier (Hand.20:7; 1Kor.16:2).

Johannes sê dat hy deur die Gees meegevoer was – hy was dus nie besig om te droom nie en hy het ook nie ’n visioen gekry soos die normale nie. Wat hier gebeur het, is dat sy verstand geheel en al vasgevang was by dit wat God besig was om aan hom te openbaar, of anders gestel, sy gedagtes was vasgevang in ’n geestelike dimensie, m.a.w. daar was geen plek op daardie oomblik vir ander gedagtes nie en in hierdie toestand het hy ’n ekstase ervaar wat nie gepaard gegaan het met die normale visioene wat mense gedurende die Apostoliese tyd ontvang het nie.

3. DIE STEM IN DIE VISIOEN:

Vers 10b-11 ~ ...en ek het agter my, so hard soos die geluid van ’n trompet, ’n stem hoor. Ek wil egter ook v.11 lees, maar wel uit die O.A.V., en let op na die verskil tussen die Ou- en die Nuwe Vertaling ~ Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ’n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Efese en Smirna en Pergamum en Tiatira en Sardis en Filadelfia en Laodisea. Bykans alles in hierdie visioen was uitsonderlik. Eerder as om gewone beelde te sien, soos wat ’n mens sou verwag, hoor Johannes eerstens ’n harde stem soos ’n trompet. Die betekenis hiervan is duidelik, nl. dat die aandag dringend getrek word op iets of iemand – dit is tog die funksie van ’n trompet fanfare (toe-toe-te-toe!). Hierdie “iets” of “iemand” is dan die Outeur van die visioen, nl. Jesus Christus – Hy wat die ewige Een is, deur wie en vir wie alles geskape is – die Begin en die Einde.

Daar bestaan geen twyfel dat wanneer iemand so ’n stem met so ’n aankondiging hoor, jy AL jou aandag sal skenk aan daardie Stem (stel jouself in hierdie posisie voor)! Hierdie aankondiging fokus dus die aandag op Christus en berei Johannes terselfdertyd voor vir die res van die visioen.

Daar word egter opdrag aan Johannes gegee oor wat om met hierdie visioen te doen, nl. dat hy dit in ’n boek moes neerskryf en dit daarna aan spesifieke gemeentes stuur, om gelees te word. Die blote feit dat hierdie brief of boek vandag nog bestaan en gelees en daaroor geleer word, is bewys dat Johannes noukeurig aandag aan hierdie opdrag gegee het.

4. DIE LAMPSTAANDERS :
Vers 12 ~ Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien. Johannes het die trompetgeskal gehoor, maar nou word sy oë ook “betrek” by hierdie visioen. Toe hy die stem hoor, het hy dalk omgedraai om te sien wie met hom op so ’n grootse wyse praat en dalk was hy teleurgesteld, want hy sien niemand nie, behalwe sewe goue staanlampe. Hoe dit ook al sy, ons sien in vers 20 dat hierdie staanlampe spesifiek verwys na die sewe gemeentes aan wie hierdie brief of boek gestuur moet word.

Die lampstaander is van goud, omdat hierdie lampstaander baie kosbaar was in die oë van God. En daar is SEWE van hulle, wat die volmaakte en voltallige eenheid verteenwoordig – hierdie sewe gemeentes word dus gesien as die universele kerk van Jesus Christus. Hierdie lampstaanders vorm dus ’n volmaakte beeld van een kosbare universele kerk van die Here Jesus Christus.

5. CHRISTUS SE VERSKYNING:
Uiteindelik sien Johannes in vers 13, die Een wie met hom praat ~ ...en tussen die lampe Iemand soos... (nie net alleen mens nie, maar ook Goddelik – Dan.7:13 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring) ...die Seun van die mens... (die mens Jesus Christus – Hand.7:55-56 ~ Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. 56 “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan) ... Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra (Hy was dus geklee met eer en Hy was aan diens – ’n uitsonderlike en waardevolle dienswerk – Eks.28:40 ~ Vir elkeen van sy (Aäron se..) seuns moet jy ’n stel priesterklere en ’n serp maak. Jy moet vir hulle kopdoeke maak wat waardig en mooi is).

Vers 14 ~ ... Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu... (hierdie sal u onthou, dui op die wysheid van die bejaardes – Dan.7:9 ~ Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. En dit wys verder ook op innerlike of ingeskape en onmeedeelbare heiligheid ), ... en sy oë het soos vuur gevlam (die Alsiende Regter).

Vers 15 ~ ... Sy voete was soos geelkoper wat in ’n smeltoond gloei... (sterk en onaantasbaar – 1Sam.17:5-6 ~ Daar was ’n bronshelm op sy kop, en hy het ’n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6 Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar ’n bronsswaard) ... en sy stem soos die gedruis van ’n groot watermassa (vol gesag).

Vers 16 ~ ... In sy regterhand... (die regterkant dui op veiligheid en krag – Ef.1:20-22 ~ ...wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk) ... het Hy sewe sterre gehad (die dui op al die getroue predikers wat op die waarheid van die Evangelie staan – Openb.1:20 ~ En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes...), ... en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom (Sy kragtige en onfeilbare Woord – Ef.6:17 ~ ... en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God). ... Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn (vol van heerlikheid en eer – Matt.17:2 ~ Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig).

Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat Christus die Almagtige Seun van God, hier tussen Sy kinders op aarde is. Die feit dat Hy opgevaar het na die hemel beteken nie dat Sy teenwoordigheid en invloed in elkeen van Sy ware gemeentes, verdwyn het nie. Vir Hom is Sy Liggaam (die kerk) net so kosbaar as wat goud vir die mens is. Sy bediening onder Sy kinders is opsigself, onberekenbaar kosbaar. Hy lei Sy Bruid (die kerk), met volmaakte wysheid, heiligheid, kennis, krag, gesag, heerlikheid en d.m.v. Sy Woord. En in hierdie geval, funksioneer Hy deur die voorgangers van hierdie gemeentes.

Hoe bevoorreg moet ons as lidmate nie wees, om te weet dat Christus die Hoof van Sy kerk is nie – die Kerk wat die plek vir persoonlike en intieme gemeenskap met Hom is. Van al die menslike instellings, is dit die kerk waarop die Skepper baie besonderse eer en seën uitstort. Lede van Sy Kerk is dus nie sommer sulke mense nie!

6. DIE IMPAK OP JOHANNES:
Vers 17-18 ~ Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste. 18 die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Vir Johannes was dit té oorweldigend om Sy Meester so van aangesig tot aangesig te sien. Dit het hom geheel en al oorweldig. En asof dood, het hy aan die voete van Jesus geval. Dit wil amper voorkom asof hou flou neergeval het, totdat Christus hom aanraak. Hoeveel sekuriteit moes Jesus se woorde nie vir Johannes ingehou het, toe Jesus vir hom sê: Moenie bang wees nie. En hierdie gerusstellende woorde word opgevolg met, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die ewige en lewende God dus.

Christus sê ook vir Johannes ~ Ek het die sleutels van die dood en die doderyk – Hoe vrymakend en opbouend is dit nie om te weet dat Christus krag en mag oor dood en lewe beskik en dít vir iemand wat die dood in die gesig staar soos Johannes. Is dit nie skokkend dat daar steeds mense is wat nie hul vertroue wil plaas in dié Een wat liggaam en siel na die dood kan herenig nie!

Behalwe dat hierdie verskyning van Christus aan Johannes, opbouend was, was dit ook noodsaaklik ten einde hom te motiveer en te verseker dat hy alles wat Christus aan hom gaan openbaar, akkuraat en volledig sal neerskryf en dat Christus die heel tyd in die middelpunt van die skrywe sal figureer. Slegs ’n vaste wete dat Christus ewig en onveranderlik heilig is, sal dit verseker.

7. CHRISTUS SE OPDRAG AAN JOHANNES:
Vers 19 ~ Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. Johannes het opdrag gekry om drie dinge neer te skryf:
- Eerstens was dit die dinge wat hy so bevoorreg was om te kon sien. Hierdie dinge het dan o.a. die verheerlikte Christus ingesluit.
- Tweedens moes hy oor dinge skryf soos wat dit in sy tyd daar uitgesien het – bv. die toestand in die sewe kerke aan wie hy hierdie skrywe moes rig.
- Derdens moes hy alles neerskryf van wat nog sou gebeur, voor Christus se tweede koms en ook wat daarna gaan gebeur.

Hy moes hierdie dinge neerskryf in die vorm soos wat dit hierna aan hom geopenbaar sou word.

N.a.v. hierdie drievoudige opdrag is daar baie mense wat die boek in drie dele wil verdeel, maar daar bestaan nie so ’n drieledige en kunsmatige indeling van die boek Openbaring nie. Die sentrale figuur in hierdie boek, nl. Christus Jesus, asook die situasie van die kerk, kom verspreid voor vanaf die eerste tot die laaste hoofstuk van die boek. Dieselfde geld vir die dinge wat gedurende Johannes se lewe en daarna sou plaasvind. Om dus te sê ~ Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur, beteken dus, dat nie alle dinge histories van aard is nie, maar ook nie net tot die hede hoort nie, of dit is ook nie net eskatologies van aard nie (die leer van die laaste dinge). Dit gaan dus hier oor die Hoof van die Kerk oor alle eeue heen en daarom is die boodskap aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, net so van toepassing op ons in hierdie dae!

8. CHRISTUS SE VERKLARING VAN DIE SIMBOLE:
Vers 20 ~ En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.” Die Here Jesus maak dit van die begin af duidelik dat baie van dit wat Johannes gaan sien, figuurlik gesien moet word, daarom beelde soos die “sewe goue staanlampe”, of die “sewe sterre”, ens. Maar terselfdertyd gee Christus vir Johannes die beginsels deur, waarvolgens die simbole verklaar moet word. Die basiese beginsel is dat elke simbool se betekenis afgelei moet word van sy eie intrinsieke, of wesenlike en uitstaande karaktereienskappe.

In hierdie geval is daar bv. die sterre en die Lampstaanders. Daar is bv. bepaalde uitstaande kenmerke wat eerder gekoppel kan word aan ’n ster as aan enige iets anders. Anders gestel, dit is tog ondenkbaar om eienskappe soos dood en allerlei afskuwelikhede toe te dig aan ’n helder flikkerende ster in die hemel – ’n draak is tog sekerlik ’n beter illustrasie of simbool vir afskuwelikhede. Net so is dit ondenkbaar dat ’n goue lampstaander, tekenend van ’n demoon sal wees.

Ons moet egter ook daarop let dat die intrinsieke en uitstaande karaktereienskappe van ’n bepaalde simbool, ook nie alleen die enigste verklaringsmodel is nie. Daar moet ook gekyk word na die bepaalde Bybelse betekenis van die simbool of objek. Daar moet dus ook na die Bybelse konteks gekyk word waarin die simbool voorkom – die Woord verklaar m.a.w. die Woord. Die Openbaring boek moet dus ook vergelyk word met die res van die Woord ten einde verklarings vir bepaalde simbole te kry. Wanneer ons dus Skrifverklaring doen (en dit sluit Openbaring in), moet ons die totale panorama van die Woord van God gebruik om die Woord te verklaar.

Daarom gebruik Christus simbole wat nie vreemd aan die Woord is nie. Om by die voorbeelde van die Sterre en die Lampstaanders te bly – Dieselfde betekenis word bv. in Dan.12:3 verleen aan die simbool van die sterre ~ Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. Dieselfde betekenis wat ons in Openbaring aan die Lampstaanders verleen, word in Matt.5:14-16 daaraan verleen ~ Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (sien ook Sag.4:2).

10 TEN SLOTTE:

Ten slotte moet ons net kortliks kyk na die implikasies en betekenis van hierdie bepaalde “sterre” en “Engele” in Openbaring 1. Is hierdie Engele hemelse wesens, of is dit mense? Het elke gemeente ’n bepaalde beskermengel? Wat is die werklike betekenis van hierdie Engele?

Die eenvoudige feit dat hierdie briewe aan gemeentes gerig is en dat die boodskap deur “engele” oorgedra moes word, sluit die moontlikheid van hemelse engele dus uit, want dit is tog onlogies dat die Here Jesus die boodskap aan Johannes gee, om net weer terug te gee aan Engele om dit weer aan mense te gee. Hierdie “Engele” moet dus mense wees.

En wie is hierdie mense? Hierdie mense is die onderskeie “Boodskappers van God”, of die voorgangers van die gemeentes en dit is in ooreenstemming met bv. Luk.7:24; 9:52 en Jak.2:25 waar die Griekse woord vir die menslike boodskappers, “ang'-el-os”, of “ang-el-loi” is, wat dieselfde woord vir die hemelwesens is. Hierdie spesifieke “engele” is dan daardie gekose voorgangers, wat onder Christus se heerskappy staan en wat met Christus se gesag en waardigheid toegerus is, ten einde Sy opdragte uit te voer en daarom behoort voorgangers se boodskappe, asook hul persoon, met die nodige respek, aanvaarding, onderwerping en ondersteuning bejeën te word – ook dít is in ooreenstemming met Hebr.13:17, nl. ~ Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 07 Junie 2009