Monday, June 22, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (21 Junie 2009)

“Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 06” (In Christus Uitverkies)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Aan die begin van hierdie reeks oor die Kruis en van Redding, het ons gesien dat die mens ’n desperate behoefte het aan redding, omdat ons dood is a.g.v. die erfsonde en daarom skuldig staan voor God en ons derhalwe onder die toorn van God verkeer en geen mens dus ongestraf kan bly nie. Ons het ook gekyk wat die mens nodig het om gered te word

Daarna het ons die vraag gevra of die mens homself kan red en ons het gesien dat daar hoegenaamd geen moontlikheid bestaan dat die mens homself kan red nie. Toe het ons gekyk na die voorafskaduwing van die kruis soos deur die gebeure rondom Abraham en Isak en die afgelope twee weke het ons gekyk na die Joodse Paasfees en die Groot Versoendag en ons kon reeds die begin sien van die noodsaak aan ’n volmaakte offer wat gebring moet word en die rol wat die bloed van die offerdier in die vergifnis van die volk gespeel het.

Die plek waar ons vandag moet begin, is die plek waar Efesiërs begin, nl. by die begin – die begin waar geen enkele mens nog gebore was nie – inteendeel, nog voor God die hemel en die aarde geskape het – op daardie plek waar God reeds in Sy alwysheid gesien en geweet het dat die mens wat Hy nog sou skep, gaan afdwaal en Hom die rug keer en daarom het hulle toe reeds redding nodig gehad en het Hy Sy reddingsplan in werking gestel.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:1-14 ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God. Aan almal in Efese wat aan God behoorten in Christus Jesus glo. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9 Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10 en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11 Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12 Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Wanneer ons praat oor die uitverkiesing, is dit ’n onderwerp wat baie dikwels en baie maklik diepgaande verskille tussen Christene tot gevolg het, omdat baie gelowiges en selfs gelowiges wat hulle self gereformeerd noem, in hul diepste wese, Arminianisties in hul oortuiging is. Baie dikwels word hierdie oortuigings ook maar baie wollerig gegrond op allerlei sentimente en sg. Christelikeliefde – in kort, is dit niks anders as ’n mens-gesentreerde evangelie nie!

Wanneer ons dan praat oor God se Uitverkiesende Genade, móét ons heeltyd in gedagte hou dat God ’n soewereine-, maar ook ’n genadige God is – m.a.w. ons moet na die uitverkiesingsleer kyk, teen die agtergrond van God se soewereiniteit én Sy genade, maar ook Sy voorverordenering.

3. WOORDVERKLARING:
Dit het tot gevolg dat ons net eers kortliks sal kyk na wat beteken die uitdrukkings “God se soewereiniteit”, “God se genade”, “voorverordenering” asook “onvoorwaardelik verkiesing”:
• God se Soewereiniteit dan:
Ons lees in Dan.4:25 die volgende ~ U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.

As ons dus ’n kort definisie van God se soewereiniteit kan gee, is dit, dat dit God se absolute reg is om alles te doen volgens Sy wil en keuse, t.w.v. Sy eie eer en plesier (Dan.4:25,35; Rom.9:15–23; 1Tim.6:15; Openb.4:11). God is dus van geen mens afhanklik nie, én Hy is aan geen mens enige verantwoording verskuldig nie. God is dus vry om te red. En Hy is vry om nié te red nie.

• God se Genade:
Ons lees in Ef.1:6 ~ Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. En in Rom.5:21 ~ Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Wanneer ons dus vra wat God se genade is, kan ons dit as volg antwoord: God se genade bestaan daarin, dat Hy vanuit Sy soewereiniteit, gratis en ongedwonge, Sy liefdesguns in die gawe van lewe aan skuldige sondaars verleen – sondaars wat hierdie gawe van lewe, hoegenaamd nie verdien nie, inteendeel hulle verdien presies die teenoorgestelde, nl. die ewige oordeel.

• Voorverordenering:
Ef.1:11 gee aan ons ’n baie goeie voorbeeld van “voorverordenering” ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. En dit is presies wat God se voorverordenring is – Niks in hierdie wêreld gebeur per toeval nie. God “sit” agter alles. Hy besluit oor alles en Hy laat alles gebeur. Hy sit nie, in piëteit gesê, op die kantlyn en hou alles maar net dop nie. Nee, Hy het reeds lank voor die skepping besluit, hoe alles presies en haarfyn gaan verloop en in mekaar steek – ja selfs die beweging van jou vinger en die klop van jou hart. Ons lees in Gen.45:7-8a, die bekende gedeelte waar Josef aan die woord is teenoor sy broers ~ God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8 Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Asook Hand.4:27-28 ~ Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

• Onvoorwaardelike Verkiesing:
Ten einde Onvoorwaardelike Uitverkiesing te verstaan, moet ons na die betekenis van hierdie twee woorde kyk:
- Verkiesing: Ons ken almal hierdie uitdrukking – om te kies of te verkies, beteken om uit te soek of om op iets of iemand te besluit.
- Onvoorwaardelik: Wanneer politieke verkiesings plaasvind, word ’n kandidaat verkies omdat hy bepaalde beloftes gemaak het aan die kieserskorps en kies die mense hom op voorwaarde dat hy sal bly by sy verkiesingsbeloftes – daarom is alle menslike verkiesings, voorwaardelik. Maar, Goddelike verkiesing werk net andersom. God kies nooit op grond van wat die méns belowe, of doen, of besluit nie – ook nie of hy (die mens), Christus as Verlosser aanneem nie. Nee, God kies onvoorwaardelik (“no strings attached”). Waarom en op watter gronde Hy dit doen, weet ons nie.

Is dit nie ’n bevrydende gedagte nie! Ons hoef niks te doen nie! Dink net daaraan – As ons verkies moes word op grond van dit wat ons doen, sou nie een van ons verkies word nie, juis omdat almal van ons dood is in die sonde. Paulus sê in Rom.3:12 ~ Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.

Nou ja, met hierdie lang agtergrond moet ons na die Bybelse basis vir Onvoorwaardelike Uitverkiesing gaan kyk.

4. GOD SE UITVERKIESENDE GENADE:
Ek het aan die begin gesê dat daar Christene is wat baie moeilik sluk aan hierdie leerstuk van Onvoorwaardelike Uitverkiesing en kan hulle nie glo dat God by sommige mense kan “verbyloop” en andere verkies nie. En tog het hierdie Christene geen probleem om te aanvaar dat Abraham tussen al die heidene in Ur van die Galdeërs gekies is om die vader van die Verbondsvolk te word nie (Gen.15:7; Neh.9:7). Ook het hulle geen probleem om te glo dat Israel, God se uitverkore volk was nie. Hoor wat sê Rom.9:11-13 t.o.v. Jakob ~ Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. En in Deut.7:7 lees ons meer van die verkiesing van Israel ~ Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.

Verskeie teksverse verwys ondubbelsinnig na Onvoorwaardelike Uitverkiesing en indien enige ongelowige steeds, na die lees van hierdie teksverse sê, dat uitverkiesing nié van God is nie, verwerp hy/sy die Woord van God:
- Joh.15:16a ~ Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.
- Rom.9:21 ~ Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?
- Rom.9:15 ~ Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
- Ef.1:4-5 ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
- Matt.22:14 ~ Baie is immers geroep, maar min is uitverkies (Daar is verskeie ander teksverse wat ook nageslaan kan word, bv.: Eks.33:19; Deut.7:6; 10:14-15; 1Kon.19:10,18; 1Kron.29:10-12; Job 42:1-2; Ps.33:12; 65:4, 106:5; 115:3; 135:6; Jes.14:24,27; 46:9-11; 55:11; Jer.32:17; Dan.4:35; Hag.2:23; Matt.11:27; 19:26; 20:15; 24:22,24,31; Mark.13:20; Luk.18:7; Hand.13:48, 18:27; Rom.11:4-6, 33-36; 16:7; 8:28-30; 8:33; 9:11-13, 16, 10:20, 11:7, 28; Kor.1:27-29; Ef.2:10; Fil.1:29, 2:12-13; Kol.3:12; 1Tes.1:4-5, 5:9; 2Tes.2:13-14; 2Tim.1:9; Titus 1:1; Jak.2:5; 1Pet.1:1-2; 2:8-9; 2Pet.1:5-11; Openb.13:8, 17:8,14 ens.).

Iets wat ons ook baie duidelik moet verstaan, is dat uitverkiesing, redding voorafgaan, of anders gestel, uitverkiesing is nié redding nie, maar dit het redding tot gevolg. ’n President is nog nie die president nadat hy verkies is nie, hy word dit eers nadat hy ingehuldig is.

Daarom is diegene wat uitverkies is om gered te word, nog nie gered totdat hy weergebore word deur die Heilige Gees en geregverdig word deur sy geloof in Christus Jesus. 2Tim.2:10 spreek hierdie saak baie mooi aan ~ Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.

5. AFSLUITING :
Kom ons som op ek kyk wat is tot nou toe gesê:
• Daar is drie soorte mense in die wêreld (regdeur die eeue heen), nl. diegene wat deur ’n ware geloof, reddend met Christus verenig is en tweedens, diegene wat uitverkies is, maar nog in hul sonde is en dus nog nie wederbaar is nie en laastens, diegene wat nie uitverkies is nie en dus verlore is. Wat staan ons as gelowiges te doen?
- Eersgenoemdes se harte is tot oorlopens toe vol van dankbaarheid vir God se genade in hul lewens, deurdat hulle versoen is met Christus en hulle demonstreer hulle dankbaarheid voortdurend deur self ’n betoner van genade te wees vir almal met wie hulle te doen kry.
- Die tweede groep moet weet dat die God van genade ’n vreugde daarin het om mense te red. God se Woord leer tog immers dat Hy geen behae in die dood van sondaars het nie. Hy wil hê dat elke sondaar hom moet bekeer – hier is Eseg.18:23 en 30-32 vir ons ’n baie goeie riglyn ~ Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe. 30 “Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede,” sê die Here my God. “Bekeer julle, bekeer julle van al julle oortredings, sodat die sonde nie julle val bewerk nie. 31 Laat vaar al julle oortredings en kry ’n nuwe gesindheid, ’n nuwe gees. Waarom wil julle sterf, Israel? 32 Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie,” sê die Here my God, “maar dat hy hom bekeer en bly lewe” (O.A.V.).

Op grond van hierdie Skrif kan en mag ons dus nie agteroor sit en sê dat God uitverkies wie Hy wil en daarom hoef ék nie uit te reik na sondaars nie – ons weet nie wie God se uitverkorenes is nie en daarom moét ons die Blye Boodskap van Jesus Christus uitdra. En daarom mag diegene wat nog nie gered is en wat “stoei” met die Heilige Gees, ook nie in moedeloosheid uitroep – Ag ek is dan seker tog maar nie uitverkies nie!, want ons lees in Joh.6:37 hierdie wonderlike woorde ~ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. In die Grieks staan daar eintlik Ek sal hom wat na my toe kom, nooit, maar nooit as te nimmer, verwerp nie.

Ons kan nie in God se hart sien nie en daarom weet ons nie waarom God so met die mens handel nie. Al wat Hy deur Sy Woord aan ons bekend gemaak het, is dat Hy red wie Hy wil en wanneer en hoe Hy wil en dat diegene wat gered word, geensins op enige reaksie van hulle kant, of op grond van enige verdienste aan hulle kant, gered word nie – nee, die uitverkorenes se redding berus enkel en alleen op God se liefdevolle welbehae en soewereine wil en Hy bring hierdie soewereine wil ten uitvoer, deur Sy Seun, Jesus Christus, se soendood aan die kruis en die werking van die Heilige Gees.

Geen mens kan of mag sê, dat God ’n onregverdige God is nie, want daar is niks onregverdigs in die uitverkiesing nie. Dit spreek geensins van onregverdigheid aan God se kant nie, inteendeel, dit spreek juis van God se oneindige genade en liefde.

Iemand het eenkeer hierdie volgende sprokie vertel: Eendag, lank, lank gelede, het ’n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlikeste gehuggie van sy vader se koninkryk binnegery. Toe hy stilhou en uitklim, het ’n swetterjoel jong mense en kindertjies wat vuil en in vodde was, na die prins gestaar. Hy het reguit na die vuilste en die lelikste jong meisie gestap, haar aan die hand gevat en in haar oor gefluister: “Ek het jou as my bruid gekies!”

Wat het sy beslis nié gesê nie? Sy het nié gesê: “Dit is onregverdig u majesteit! Wat van Suzie en Desiré en Elsa en .....? Nee, sy sal uit haar vel wees en ek glo ook die ander omstanders, want hulle sal so bly wees vir hierdie lelike eendjie se onthalwe. En wie mag in elk geval die koning se seun se besluit in twyfel trek!

Ek wil ten slotte net drie sake aanraak en die eerste is dat onvoorwaardelike uitverkiesing die basis vorm vir opregte geestelike nederigheid. Baie opponente van hierdie leer sê dat uitverkiesing die aanhangers daarvan, arrogant maak. Die punt is egter dat wanneer hierdie leer reg verstaan word, dit juis op ons algehele verlorenheid dui en dat ons as mense absoluut niks aan ons verlore toestand kan doen nie. Daarom, indien God kies om ons te red, is dit uitsluitlik omdat Hy Sy onverdiende guns op my en jou uitstort. Die oomblik dat Hy ons red, is daar niks oor om op te roem nie.

Tweedens – wanneer ons uitverkiesing reg verstaan, lei dit tot gehoorsaamheid, want hoe is dit moontlik dat enige iemand wat God se genade reg verstaan, ooit Sy rug op God kan draai in ongehoorsaamheid! Hoor net wat sê Ef.1:4 ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. God het ons dus juis uitverkies om heilige lewens in gehoorsaamheid aan Sy Woord te leef.

Laastens ’n vraag: Waarom moet ons die leer van die uitverkiesing verdedig? Daar is basies drie redes hiervoor:
• Eerstens is dit ’n Bybelse dogma of leerstelling en omdat dit Bybels is verdien dit om verdedig te word.
• Nog ’n rede is omdat die leer van die uitverkiesing vir ons die basis lê vir ons redding en ons saligheid. Dit is belangrik om te besef dat indien ons die boodskap van redding en saligheid wil verstaan, ons die leer van die uitverkiesing moet verstaan – daarom moet ons dit ook
aan mense wie ons evangeliseer, verduidelik – hierdie is dus ’n uiters belangrik leerstuk wat ons móét verstaan en ken.
• Maar, die heel belangrikste rede waarom ons die leer van die uitverkiesing moet verdedig, is omdat hierdie leerstuk al die fokus van die mens se eie verdienste wegtrek en vierkantig op God vestig en Hy dus daardeur verheerlik word. Die eer van God is die begin en die einde van ons verlossing. Ons word gered t.w.v. God se eer en die heerlikheid van redding begin juis by God se uitverkiesende genade.