Monday, June 29, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (28 Junie 2009)

“Die Heilige Nagmaal - 03” (Selfondersoek) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
1Kor.11:23b-34 ~ Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. 33 Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

2. TEKSVERS:
1Kor.11:28 ~ Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink.

3. INLEIDING:
Die Woord van die Here leer ons ondubbelsinnig dat slegs belyde Christene uitgenooi word na die Nagmaaltafel, inteendeel, ons moet eerder sê dat slégs belyde Christene (hulle weet dat hulle wederbaar is) opdrag ontvang om na die Nagmaaltafel te gaan – met die klem op die woord “opdrag”.

Hierdie opdrag impliseer dus dat persone wie deelneem aan die Nagmaal, reeds hulle geloof bely het en dat hulle geloofsverklaring goedgekeur is deur die gemeente waar hulle lidmate is en dat hierdie geloofsverklaring en bevestiging deur ’n gemeente, weerspieël word in en deur die gelowige wat aansit aan die Nagmaaltafel se lewenswandel – sy daaglikse lewe dus.

Tweedens moet ons ook besef dat Jesus Christus, geestelik teenwoordig is by die Nagmaal, ten einde o.a. die getroue en gelowige deelnemers aan die Nagmaal, te seën.

Derdens verstaan gelowiges wat deelneem aan die Nagmaal, die betekenis van hierdie sakrament en deur die gebruik daarvan, bely hulle opnuut weer hul geloof in Jesus Christus.

Dit is egter een ding om te sê dat slegs gelowiges na die Nagmaaltafel mag kom, maar die vraag is: Wat van die deelnemers aan hierdie maaltyd se gesindheid? Wat moet die toestand van ons hart en siel wees, wanneer ons na die Nagmaaltafel kom?

Baie van die gemeentelede in Korinte het die Nagmaal op onwaardige wyse gebruik – hoor net wat skryf Paulus aan hulle in 1Kor.11:20-21~ As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie, 21 want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink. Hierdie optrede van die Korintiërs dui dus op flagrante minagting van wie Christus is en van Sy heiligheid en ’n algehele ontkenning van die feit dat Christus die Nagmaal ingestel het.

Paulus wil dus in ons teksvers, ons aanspreek en aanmoedig om met die regte gesindheid na die Nagmaaltafel te kom, daarom dat hy sê dat ons onsself eers moet ondersoek voor ons van die brood eet en van die beker drink. Niemand kan hierdie selfondersoek vir ons doen nie en niemand kan onderskei of diegene wat deelneem aan die Nagmaal, waardig is om dit te doen, of kwalifiseer om daaraan deel te neem nie. Nee, ons moet onsself ondersoek en afvra of ons kwalifiseer om deel te neem aan hierdie maal waarheen Christus ons uitnooi – of wat Hy opdrag gee aan ons om aan deel te neem.

Ten einde ons te bemoedig in hierdie proses van selfondersoek, verduidelik Paulus vir ons die noodsaaklikheid, die fokus en die gevolg, of resultaat van so ’n selfondersoek.

4. DIE NOODSAAK AAN SELFONDERSOEK:
Kom ons kyk dan eerstens na die noodsaak aan so ’n selfondersoek. Ons het gesien dat ons teksvers sê ~ Maar elkeen moet eers homself ondersoek.... (1Kor.11:28). Hierdie woorde van Paulus, is nie ’n versoek of ’n uitnodiging nie, maar ’n baie besliste opdrag ~ Elkeen móét.... Dit impliseer dus, dat indien ons onsself nié eers ondersoek alvorens ons deelneem aan die Nagmaal, ons in sonde is.

· ’n Opdrag om na te kom:
Ons het dus hier te doen met ’n opdrag wat ons móét nakom. Selfondersoek is dus ’n noodsaaklike en voortdurende proses waaraan elke gelowige homself moet onderwerp en veral, alvorens hy “aansit aan die Nagmaaltafel”. Ons vind hierdie opdrag ook elders in die Skrif – bv. 2Kor.13:5 ~ Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. Die klem hier, net soos in 1Kor.11:28, val nie op die vraag of ons gelowiges is al dan nie, maar die klem val op die vraag of ons aktiewe, en lewende gelowiges is wat in hart en siel en daad Christene is. Met ander woorde, dit gaan nie oor geloofsekerheid nie, maar oor ’n lewende en praktiese geloof. Of anders gestel: Die vraag is nie óf ek ’n gelowige is nie, maar eerder kan ek geïdentifiseer word as ’n gelowige?

Daarom moet ons, onsself afvra: Wat is die toestand van my siel? Indien ek en jy bely dat ons gelowiges is, moet ons onsself ’n paar vrae afvra:
- Hoe vind my liefde vir Christus, uiting in die praktyk van die lewe?
- Hoe konsekwent is ek in die uitlewing van my geestelike lewe?
- Staan ek altyd op die waarheid van die Woord?
- Is ek toegewyd?
- Groei ek in genade?
- Het ek my naaste lief?
- Verheug ek my altyddeur in die Here? Ens.

· ’n Waarskuwing om in gedagte te hou:
Ons moet egter onmiddellik ’n ernstige waarskuwing hier ter harte neem en dit is dat ons as mense, baie dikwels en baie maklik sonde in ons lewe afmaak, as nie so erg nie. Ons moet egter die woorde van 1Kor.11:27 en 29 ter harte neem ~ Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. ..., want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. Ons moet Hebr.10:31 dus ernstig opneem, nl. ~ Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. Hab.1:13a sê dat God se ~ ...oë te rein (is) om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word.... God het dus ’n geweldige afkeur in sonde.

Ons moet onthou dat sonde nie net ’n klomp arbitrêre reëls is nie, m.a.w. ’n klomp “moets” en “moenies” wat nagekom moet word, net omdat God dit as sonde klassifiseer nie. Nee, sonde is ten diepste ’n ontkenning en verloëning van die heiligheid van God en van Sy karakter. Maar ja, dit is ook só dat sonde ’n gebrek is aan konformering, of onderwerping aan die Wet van God. Johannes sê in 1Joh.3:4 ~ Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. Dit is waarom God ’n regverdige Regter is en dit is waarom Hy elke dag toornig (kwaad) is oor die goddeloses en hul sonde (Ps.7:11). God is gesteld op heilige lewens en is daarom “pynlik” bewus van sonde in die mensdom. Hy is dus baie ernstig oor sonde.

Wanneer ons daaraan dink dat Hy Sy enigste Seun, Jesus Christus gegee het as offer in ons plek, dan kan geen mens wat in sonde volhard en derhalwe God die Vader se soenoffer ignoreer, genade van God verwag nie. Ons moet dus in ooreenstemming met 2Kor.5:17 leef ~ Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Met dit in gedagte, kan ons nie anders as om selfondersoek en sondebelydenis as ’n saak van lewe en dood te beskou en hanteer nie. Ons moet die Nagmaaltafel dus met die uiterste omsigtigheid benader. Thomas Doolittle het op ’n keer gesê dat iemand wat deelneem aan die Nagmaal, sy deelname in dieselfde erns sal bejeën as iemand wat gereed maak om die graf binne te gaan.

· Seën Volg op Selfondersoek:
Sommige mense wil hulleself nie graag onderwerp aan selfondersoek nie – die probleem is dat hulle nie te veel van die sondige waarheid kan hanteer waarmee hulle gekonfronteer mag word nie. Selfondersoek hoef en behoort egter nie vir die gelowige ’n morbiede saak te wees nie, want selfondersoek is nie selfverwyt nie – in elk geval moet selfondersoek by gelowiges nie hierdie roete volg nie, want selfondersoek moet eerder vir die gelowige lei tot ’n hernude gehoorsaamheid aan Christus.

Ek moet jou egter ook verder waarsku en daarop wys dat so ’n proses van selfondersoek voor die Here, baie gou en maklik kan lei tot ’n situasie van oordrewe skuld en selfoordeel, as ons nie God se Woord volkome in gedagte hou nie. Ons as gelowiges het die wonderlike versekering vanuit die Woord van God, dat ons sonde vergewe word as ons dit teenoor die Vader en in die Naam van Jesus Christus bely – 1Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Daar volg dus wonderlike seën op selfondersoek. En hierdie seën word telkens bevestig, nadat ons, ons sonde voor die Here bely het en ons na die Tafel van die Here kom.

5. DIE FOKUS VAN SELFONDERSOEK:
Paulus se woord in 1Kor.12:28b, nl. ~ ...voor hy van die brood eet en uit die beker drink..., dui daarop dat Paulus se uiteindelike doel met die skryf van hierdie gedeelte , juis is dat ons ná selfondersoek, wél by die Tafel van die Here sal aansit. Eers selfondersoek en dan eet en drink. Die fokus van hierdie selfondersoek is dus uiteindelik deelname. Die Nagmaal is dus nie ingestel om gelowiges daarvan weg te hou nie, maar om ons juis daartoe te dring om na Jesus Christus te vlug en skuiling by Hom te soek, deur belydenis van sonde en ons lewe opnuut weer aan Hom toe te wy.

· Gelowiges móét na die Tafel kom:
Ten spyte dus van ons onwaardigheid, wat ons ná selfondersoek bely en om vergifnis voor gevra het, word ons deur Christus genooi om na die Tafel te kom – nee, Hy gee opdrag aan ons om na die Tafel te kom, want Christus belowe Sy seën aan elkeen wat op waardige wyse aan die Nagmaal deelneem, omdat ons dit in die geloof en uit genade doen. In Christus en in geloof, kan ons dus waardig voor God wandel en met vrymoedigheid aan die Nagmaal deelneem. Ons waardigheid kom nie uit onsself nie, maar dit kom van die Here – dit is ’n genade gawe wat Hy aan elkeen van ons skenk wie ons sonde in opregtheid in Jesus se Naam bely. Die Nagmaal is dus slegs vir gelowiges

Net so terloops – Wanneer neem iemand op onwaardige wyse deel aan die Nagmaal? In die eerste plek wanneer jy ’n ongelowige is, m.a.w. wanneer jy nie waardig verklaar is deur Jesus Christus se wederbarende optrede en genadegawe in jou lewe nie. Onwaardige deelname kan egter tweedens plaasvind, deur gelowiges wie waardig in Christus is deur hulle regverdigmakende geloof, maar wat op die dag van die Nagmaal nie waardig optree nie – onwaardig omdat hy op die dag van die Nagmaal onverskillig, onbedagsaam, en/of oneerbiedig deelneem aan die Nagmaal.

Die Nagmaal is vir gelowiges – vir sondige gelowiges, maar nié vir onbekeerde sondige gelowiges wat vasgevang is in onbelyde en onbekeerde sonde nie.

· Selfondersoek – Geen maatstok:
Dit is baie belangrik om te besef dat selfondersoek nie ’n poging is om onsself waardig te verklaar nie en daardeur aan die Here te wys dat ons goed genoeg is om deel te neem aan die Nagmaal nie.

Selfondersoek is dus nie ’n maatstok om ons eie waardigheid te bepaal nie. Om goed genoeg te wees is nie die punt nie – ons sal nooit goed genoeg wees nie. Om in Christus te glo; om op Jesus Christus te vertrou; om in gehoorsaamheid en geloof na Jesus Christus te kom en in gehoorsaamheid aan Hom te leef – dít is die saak!

· Nederige onderwerping aan Christus:
Ons moet verder besef sat Christelike selfondersoek voor die Nagmaal, op die kwaliteit en die konsekwentheid van ons Christelike wandel konsentreer. Die doel met selfondersoek is dat ons in nederigheid; in dankbaarheid; in gebed en met vreugde na Christus sal kom, ten einde ons opnuut in nederigheid aan Hom te onderwerp, sodat ons opnuut weer versterk kan word vir die dae wat voorlê en sodat ons Sy Naam kan proklameer as dié Een in wie ons glo en ons vertroue plaas vir tyd en ewigheid.

Aan die eenkant help selfondersoek ons om die neiging tot nominalisme (m.a.w. om die naam van Christen gelowige te dra, maar dit nie werklik is nie) wat ons op ’n punt bring waar ons selfgenoegsaam is en dink dat alles wel is met ons geestelike lewe, te ontbloot. Vir té veel mense is die Nagmaal maar net nóg ’n godsdienstige gebeurtenis op die Christelike kalander en het dit geen werklike impak op hul lewens nie.

Aan die anderkant lei selfondersoek mense baie keer na ’n punt waar hulle so onwaardig voel oor hulle sonde dat hulle liewer wegbly van die Nagmaal.

Nee, selfondersoek en die Nagmaal moet juis vir ons sê: Kom en vertrou Jesus; bely jou sonde en jy sál Sy genade ontvang – Huil en treur oor jou sonde, ja, maar kom en glo en vertrou en bely en ontvang Sy seën.

6. DIE RESULTAAT VAN SELFONDERSOEK:
Kom ons kyk ten slotte na die resultaat van selfondersoek. En daarvoor vind ons ook die antwoord in ons teksvers ~ ... (eet) van die brood en (drink) uit die beker (1Kor.11:28).

· Kom na die Here:
Ek het al vanoggend herhaaldelik gesê dat die doel met selfondersoek, nié is om te sien of ons goed genoeg is nie, daarvoor is 1Joh.1:8 té duidelik ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Hierdie teksvers is waar van almal van ons, solank ons aan hierdie kant van die graf is. Die vraag is eerder hoe ek myself sien as ek my in die Woord spieël?

En daarom moet ek na die Here kom en in die woorde van Ps.139:23-24a vir Hom sê ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie.... En as ek dan my sonde en korruptheid raaksien? Dan is vers 24b vir my die antwoord ...en lei my op die beproefde pad!.

Die eindresultaat van selfondersoek is dus juis om na die Here toe te kom.

· Christus voed gelowiges:
Ten slotte sien ons dat die eindresultaat van selfondersoek is dat Christus ons as gelowiges voed, want ons raak meer en meer bewus van ons eie onwaardigheid, maar aan die anderkant raak ons ook meer en meer oortuig van die waarheid van die Woord, dat wanneer ons, ons sonde bely, Hy ons vergewe (1Joh.1:9) en kan ons saam met die tollenaar in Luk.18:13 uitroep ~ O God, wees my, sondaar, genadig. Ons kan egter ook saam met Petrus in Handelinge 5:31 getuig ~ God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. Deur ons deelname aan die brood en wyn, kom Christus dus en Hy voed ons met Sy genade en liefde.

7. AFSLUITING:
Wanneer ons dan die brood en die wyn in geloof neem, moet ons ook terselfdertyd kyk na die genoegsaamheid van Christus se dood aan die kruis, want selfondersoek in die lewe van ’n gelowige, kan hom maar net na die kruis op Golgota lei, want dit is by die kruis waar ons, ons Redder Jesus Christus se genade ontvang – Hy wat in my en jou plek gesterf het, ten einde versoening tussen ons en God te bewerkstellig en sodoende vergifnis vir al ons sonde te skenk, asook die ewige lewe in die hiernamaals.

In hierdie Lig – die Lig van die kruis sien ons tydens selfondersoek, die donker hoeke van ons eie lewens raak en word dit blootgestel aan die lig wat daar in Christus is en kan dit met Sy genade gekonfronteer word.

Daarom geliefdes, moet elkeen van ons, onsself eers ondersoek voor ons van die brood eet en uit die beker drink, want dit bring ons juis nader aan Christus Jesus.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 28 Junie 2009