1. SKRIFLESING:
Ons
het die vorige keer gesien dat koning Nebukadneser opdrag gegee het dat al die
raadgewers in Babel om die lewe gebring moes word omdat hulle nie vir hom kon
sê wat hy gedroom het nie. Daniël het egter daarop gevra of die voltrekking van
die vonnis nie uitgestel kon word nie, omdat hy antwoorde het vir die koning.
Ons
het ook gesien dat Daniël nie dadelik die droom uitgelê het nie, maar dat hy
homself eers voor God verootmoedig het in gebed, waarop die Here in vv.19-23,
Sy liefde en genade aan Daniël betoon het, deur alles aan hom te openbaar wat
nodig was om die koning tevrede te stel én om hom en sy vriende se lewens te
spaar, waarop Daniël God se almag en alwysheid besing het.
Daniël
2:24-49 ~ Toe is Daniël na Arjok
toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en
hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na
die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.” 25Arjok het toe
dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die
Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.” 26Die
koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê
wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?” 27Daniël
het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en
die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te
vertel nie. 28Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan
openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms
gaan gebeur. In u slaap het u ’n droom, ’n visioen gehad. 29Toe u
gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat
geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30Dit
is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my
geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u ’n
antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. 31“U het ’n
visioen gehad. Daar was ’n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit
het voor u gestaan, iets skrikwekkends. 32Die beeld se kop was van
suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33Sy
bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. 34Toe
u nog so kyk, breek daar ’n klip los sonder dat ’n hand daaraan geraak het en
dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. 35Die
yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het
geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai
word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref
is, het ’n groot rots geword en het die hele aarde bedek. 36Dit is
die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê. 37“U is die groot koning;
die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer
gegee. 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde
diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is
die kop van goud. 39Ná u sal ’n ander koninkryk na vore kom wat nie
so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna ’n derde, die een van brons
wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. 40Die vierde koninkryk
sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster
wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. 41Die
voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk
wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u
gesien het, is daar yster tussen die klei. 42Die tone en voete,
deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels
swak sal wees. 43Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is:
daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie ’n eenheid word
nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie
konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal
word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ’n ander vervang word nie. Dit sal die
ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. 45En
dat u ’n klip uit ’n rots sien losbreek het sonder dat ’n hand daaraan geraak
het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter
het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur.
Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.” 46Toe
het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag
gegee dat daar ’n graanoffer en ’n wierook offer aan hom geoffer moet word. 47Die
koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die
gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie
geheim bekend maak. 48Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir
hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele
provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. 49Op
versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer
geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in
die paleis gebly.
2. DANIËL
VERHEERLIK GOD:
Die
eerste karakter met wie ons in hierdie gedeelte van ons Skriflesing te doen
kry, is Arjok – Arjok, die hoof van die koning se lyfwag (2:14)
en die man wat opdrag van
die koning ontvang het om al die raadgewers in Babel om die lewe te bring –
insluitende Daniël en sy vriende.
Arjok
is ’n leuenaar – ’n man wat vir die koning lieg en hy doen dit om waarskynlik
indruk te maak op die koning en so bietjie krediet te ontvang, of dalk
bevordering – wie sal weet? Hy gaan na die koning en sê vir Nebukadneser in
v.25b ~ Ek het iemand onder die
Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê – EK het iemand gekry...!
Het hy regtig iemand – vir Daniël, gekry? Nee, ons lees in v.24 dat Daniël na
Arjok toe gegaan het en vir hom gevra het om hom na die koning te neem.
Arjok
se liegstorie kon egter daartoe bygedra het dat Daniël ook die geleentheid kon
uitbuit ten einde lof van die koning te ontvang. Daniël kon maklik gesê het, o ja u majesteit, ek kan verseker, maar hy doen dit nie; hy lieg nie
soos Arjok nie; hy oes nie lof vir homself in nie, want hy antwoord in vv.27-28
~ Die raadgewers, die
voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom
waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is ’n God
in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil
bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur.
Daniël bring onbeskroomd al die eer aan God Almagtig en hy gaan voort in vv.29
deur te sê ~ Toe u gaan slaap het,
het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar,
het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur.
Hier
is ’n les vir ons te lere. Wanneer ons in die wêreld en tussen mense is, moet
ons net soos Daniël, altyd eer aan God bring, eerder as om net stil te bly, of
natuurlik nog erger, as om eer vir onsself te probeer versamel. Watter gawes,
geleenthede en talente ons ook al oor beskik – God moet altyd die eer daarvoor
kry, want dit is Hý wat dit aan ons geskenk het. Ons is bloot net God se diensknegte
wat die werk doen wat Hy aan ons gegee het om te doen. Hierdie is dan natuurlik
ook een van die vrugte van die Gees, nl. nederigheid (Gal.5:23). Dit is egter ook deel daarvan om my
kruis op te neem en te identifiseer met Jesus, want Hy is die volmaakte
voorbeeld vir ons van nederigheid, trouens Hy gee ook opdrag aan ons om nederig
te wees ~ Neem my juk op julle en
leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir
julle gemoed (Matt.11:29). Om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag van Jesus, hou
vir ons ’n heerlike belofte in - ...
julle sal rus kry vir julle gemoed.
Wat is hierdie rus waarvan Jesus praat? Dit is om vrede in en met God te
ervaar, wat uiteraard op die ewige rus sal uitloop!
3. DIE
DROOM:
Terug
by die droom. Omdat God die Openbaarmaker van geheime is, was dit vir Daniël
moontlik om die onmoontlike te vermag – hy kon, nie net die interpretasie van
die droom met Nebukadneser deel nie, maar hy kon ook vir hom presies vertel wát
hy gedroom het! Daniël maak dan geen geheim daarvan, dat dit nie hy wat Daniël
is wat so oulik is om hierdie geheimenis met die koning te deel nie, maar dat
dit God Almagtig is wat dit doen en net Hy en Hy alleen is by magte om dit te
doen.
Wanneer
Daniël vir Nebukadneser aanspreek gee hy erkenning aan die koning dat hy
waarskynlik die magtigste aardse koning van sy tyd is ~ U is die groot koning (v.37). Die OAV vertaal hierdie woorde met ~
U, o koning, koning van die
konings. Hierdie magtige
koning moes goed gevoel het toe Daniël hom so aangespreek het, maar
terselfdertyd ontbloot Daniël die koning se menslike afhanklikheid van God en
sê hy eintlik tussen die lyne ~ Arme jy, jy is toe eintlik ook nie so groot
as wat jy dink jy is nie, want my God is dié enigste ware God – Hy wat alles
weet – selfs dít wat jy in die geheim van jou binnekamer gedroom het en jy
Nebukadneser, sit nou hier voor my en jy is afhanklik van my God om te weet wat
jou droom, wat jou so pla, nou regtig beteken en wat meer is, die mag waaroor
jy beskik, is deur God aan jou gegee en raai wat, jy gaan binnekort uitvind dat
die einste lewende God, hierdie mag van jou gaan wegneem!
Hoe
dit ook al sy, Daniël gaan in vv.31-35 voort om vir Nebukadneser te vertel wat
hy gedroom het. Nadat hy die inhoud van die koning se droom met hom gedeel het,
begin hy om die droom uit te lê. Hierdie droom gaan oor ’n beeld, ’n groot, hoë
en blink beeld – iets
skrikwekkends (v.31)
en Daniël beskryf hierdie
beeld in vyf dele:
·
Kop van goud;
·
Bors en arms van silwer;
·
Maag en heupe van koper;
·
Bene van yster;
·
Voete van yster en klei.
Daniël
verskaf ’n kort en bondige beskrywing van elke deel van die beeld. Wat
interessant is, is dat elkeen van hierdie vier metaalsoorte wat Daniël beskryf,
verteenwoordigend is van die vier hoofmetaalsoorte wat in daardie tyd ontgin en
gebruik was en goud en silwer het op rykdom gedui en koper en yster
verteenwoordig mag en die mengsel van yster en klei dui op ’n rampspoedige
swakheid.
Die
getal vier is ook ryk aan betekenis en ons sien bv. in Dan.7 dat Daniël in een
van sy visioene, vier diere sien en daar word ook gepraat van die vier
windrigtings; die vier hoeke van die aarde. In Gen.2:10-14 word daar bv.
gepraat van vier riviere, ens. Hierdie getal vier is nie maar net om dowe neute
in die droom gebruik nie. Die getal vier het gewoonlik ten doel gehad om iets
omvattend aan te dui. Daar word bv. in Open.4:7-8 gepraat van vier lewende
wesens om God se troon. Hulle verteenwoordig die hele skepping. In Jeremia
15:2-3 kondig God Sy oordeel aan wanneer Hy vier woorde in vers 2 gebruik om
aan te dui hoe omvattend en onomkeerbaar Sy oordeel is.
Hierdie
droom gaan dus nie nét oor Nebukadneser en sy koninkryk nie, maar oor die
omvattende wêreldgeskiedenis.
4. DIE
UITLEG:
Daniël
se uitleg van die droom begin met die kop en ’n beskrywing van die
belangrikheid van die Babiloniese Ryk. Die rede waarom hy hier begin, is omdat
Daniël midde in daardie tydperk staan en dat dit hier gaan oor Nebukadneser wat
die droom gedroom het en ’n uitleg daarvoor vereis.
Daniël
is baie wys en baie taktvol wanneer hy vir Nebukadneser sê ~ U is die groot koning... (v.37); ...U is die kop van goud
(v.38b).
Die goue kop verwys dus na Nebukadneser en die Babiloniese Ryk (625-539
v.C.). Ons vind Babel
reeds vroeg in die Bybel en wel reeds in Genesis met Nimrod as heerser (Gen.10:8-12)
en natuurlik die bekende
gebeurtenis rondom die toring van Babel en die verwarring van tale (Gen.11:1-9). Babel was altyd ’n mag waarmee
rekening gehou moes word, maar onder Nebukadneser het dit ongekende hoogtes
bereik.
Daniël
was egter nie net taktvol teenoor die koning nie; hy is ook baie eerlik en
reguit en daarom gaan hy voort en maak hy geen geheim daarvan dat dit nie
volgens die toedoen van Nebukadneser is dat hierdie grootse koninkryk tot stand
gekom het nie en Daniël skroom ook nie om dit, soos ons reeds gesien het, vir
die koning te sê nie ~ U is die
groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die
mag en die eer gegee 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense,
die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal
gemaak. U is die kop van goud.
Nebukadneser het natuurlik hierdie opmerking van Daniël in twyfel getrek en ons
sal dit D.V. nog vorentoe in hoofstukke 3 en 4 sien.
Na
die Babiloniese tydperk sou meer koninkryke volg, maar almal sal, al was dit
magtige Ryke, minderwaardig wees in vergelyking met Babel.
In
v.39 verwys Daniël na die tweede deel van die droom en spesifiek dan die bors
en arms van silwer.
Om
nou te begin spekuleer oor watter deel van die beeld, watter koninkryk
verteenwoordig, sal uiteindelik net by spekulasie bly, omdat die teks glad nie
vir ons pertinent sê watter deel, watter koninkryk verteenwoordig nie. Daar is
baie mense wat sê dat die tweede gedeelte van die beeld na die Mede- en
Persiese Ryk (539-331 v.C.) met koning Darius as belangrikste heerser verwys en dit
kan sekerlik so wees, omdat dit die volgende groot wêreldryk was wat op die
Babiloniese Ryk gevolg het. Dit klink logies dat dit die volgende Ryk moes
wees, want as ons na die geskiedenis kyk, het die Babiloniese Ryk tot ’n einde
gekom gedurende 539 v.C. en die Mede- en Persiese Ryk se aanvang was ook in 539
v.C.
Die
derde deel van die beeld (die maag en heupe) was van brons gemaak. Hierdie gedeelte
van die beeld verwys volgens baie mense na die Griekse Ryk wat op die Mede- en
Persiese Ryk sou volg (331-63 v.C.). Let op dat daar ’n verskil is tussen
brons en koper – brons is ’n koper wat met tin vermeng is en soms met bykomende
elemente van lood, terwyl koper suiwerder is.
Die
laaste deel, nl. die bene wat uit yster bestaan, asook die voete wat uit ’n
mengsel van yster en klei bestaan, verwys volgens baie analiste na die Romeinse
Ryk (strek so ver tug as 753 v.C., maar die eerste keiser was
Octavia wat homself as keiser Augustus in 27 v.C. aangestel het. Die Ryk het
bestaan tot in 610 n.C.).
As ons na vv.39-41 kyk, dan kan ons baie na aan reg wees om te sê dat dit
verteenwoordigend is van die uiteindelike Romeinse Ryk wat die een land na die
ander ingepalm het en wat uiteindelik ook verdeeld was, met ’n Oostelike Ryk en
’n westelike Ryk (v.41 ~ Die voete en
tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk wat
verdeeld sal wees).
Ons
moet ons egter nie moeg maak, deur te probeer bewys watter deel van die beeld,
watter koninkryk verteenwoordig nie, want dit is nie die punt van die uitleg
van die droom nie en Daniël het dit ook nie so uitgespel aan Nebukadneser nie.
Dit gaan in hierdie droom en uitleg, nié oor die wanneer en die wie nie, maar oor die wat t.o.v. die toekoms.
Wat
dan is dit wat Daniël vir ons wil leer?
·
God is die Een wat aardse koninkryke daarstel.
Dit is Hy wat regerings daarstel. Dit is God wat gesag en krag aan hulle
verleen. Geen regeerder, regering of wie ook al kan daarop roem dat hy of hulle
uit eie krag daar gekom het nie – ook nie Mandela, of Zuma, of Mugabe nie.
Daniël maak dit baie duidelik, soos ons reeds in v.37 gesien het, dat dit God
is wat Nebukadneser, die krag en die mag en die eer
gegee het. Daniël vergelyk Nebukadneser met Adam in v.38 en hy sê aan die
koning dat net soos Adam, het God ook al Nebukadneser se mag aan hom geskenk.
Daniël vergelyk die koning dan juis ook met Adam, om hom daardeur te waarsku,
dat net soos wat al die mag van Adam gestroop was nadat hy gesondig het, ook die
magtige "goue-kop-Nebukadneser" gestroop sou word van al sy mag en
tot stof sou vergaan, indien hy sondig en volhard in sonde – wat hy natuurlik,
wel gedoen het. Daniël sê dus maar net aan Nebukadneser wat hy vroeër vir God
in sy gebed gesê het, dat God dié Een is ~
...wat
tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel...
(v.21).
·
Die feit dat een koninkryk die ander opvolg in
die droom, bevestig maar net dat alle koninkryke en alle regerings nie vir
altyd in beheer sal bly nie – goud verander uiteindelik na silwer en silwer
word uiteindelik brons en uiteindelik yster en klei. Soos wat die tyd aanstap,
raak die rebellie van die mens en regerings teen God net erger en erger en in
plaas daarvan dat daar verbetering kom, is daar ’n konstante agteruitgang en
verval – sien ons dit nie maar in ons eie land; in ons eie kontinent; in die
res van die wêreld nie! Uiteindelik het almal en sal almal maar net soos v.42
vir ons aantoon, voete van klei hê en vernietig word.
Die
beeld is dus ’n versinnebeelding van die wêreld en sy sug na mag en oorheersing
en al groter wordende rebellie teen God Almagtig – ons sien hierdie patroon
reeds van die sondeval af, regdeur die Ou Testament en ons sien dit van
Christus se tyd af tot vandag toe – daar is net konstante agteruitgang wat
uiteindelik sal lei tot ’n verskriklike einde.
·
Aan die einde van al hierdie verval egter, kom
daar ’n Rots wat al hierdie koninkryke gaan vernietig (vv.34-35).
Hierdie
Rots is die Koninkryk van God wat reeds gevestig is nadat die Here Jesus
Christus Sy aardse sending voltooi het en opgevaar het na die hemel. Ja, die
verval en rebellie in hierdie wêreld gaan steeds voort, maar stadig maar seker vind
daar ’n positiewe opbou na die finale vestiging van Christus se ewige Koninkryk
plaas, wanneer Hy weer sal terugkeer na die aarde ~ ...want Hy het ’n
dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy
uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan
(Hand.17:31).
5. TOEPASSING:
Wat
moet ons met hierdie droom van Nebukadneser en Daniël se uitleg daarvan maak?
Wat se betekenis hou dit vir ons vandag in?
·
Die
verganklikheid van die aardse heerlikheid: Die feit dat, soos wat Daniël
uit die uitleg van Nebukadneser se droom aangetoon het, die heerlikheid van
hierdie wêreld verganklik is – dit is tydelik m.a.w. en daarom moet ons besef
dat daar ’n nuwe Koninkryk reeds gevestig is, maar dat die volle omvang daarvan
nog in die toekoms lê (die
"reeds-en-die-nog-nie-beginsel") en dit is daarop dat ons,
onsself moet instel. Soos al so dikwels in die verlede gesê, moet ons ’n
ewigheidsperspektief ontwikkel – ons moet ons oë vestig op die beter Koninkryk wat
kom en ons moet ons lewe daarvolgens inrig. Hierdie wêreld en alles wat dit
bied, is nie waaroor die lewe gaan nie, want dit is van verbygaande aard.
·
Die koninkryk(e)
wat ons bou: Aan die anderkant moet ons besef dat, al moet ons die ewigheid
wat voorlê gedurig voor oë hou, ons steeds in hierdie verganklike wêreld is en dat
ons as gelowiges ’n roeping het om hier te volbring. Daar is soveel dinge
waaraan ons as kerk gehoorsaam moet wees – dink maar net aan ons "Matt.28:19-20-roeping"
om die Waarheid in hierdie wêreld te leef en te verkondig – die Evangelie van
Jesus Christus. Dink maar net aan al die opdragte wat Jesus aan ons gegee het
om uitleef en te gehoorsaam, soos bv. dié in die Bergpredikasie (Matt.5), trouens al
die opdragte van ons Verlosser wat Hy aan ons gegee het.
Om heel
prakties hieroor te wees – In Psalm 42 sê die Psalmdigter dat die mense vir hom
vra, "Waar is jou God?" Ons moet gedurig vir onsself vra, "waar
ís my God?" Ons moet dit vra as ons besig is met ons dagtaak. Ons moet dit
vra as ons agter die stuur van ons motors sit. Ons moet dit vra as ons met ander
rasse te doen kry. Ons moet dit vra as die regering wat deur God daargestel is,
bedrog pleeg en nie doen wat van hulle verwag word nie. Ons moet dit vra as ons
by die werk is; as ons ontspan; as ons kuier; as ons in die kuberwêreld besig
is. Ons moet dit gedurig vra, want ons eerlike antwoord daarop, sal vir ons sê
waar ons geestelik staan; waar God presies in ons lewe is - is ek besig om die
roeping wat die Here Jesus op my lewe gelê het, uit te leef? Is my lewe 'n
getuienis van my verlossing in Christus Jesus? Leef ek die oorwinningslewe wat
'n gelowige behoort te leef? Is die Vrug van die Gees in my lewe te bespeur?
Leef ek my roeping uit waartoe ek geroep is as gelowige? Is ek waarlik
wedergebore?
Ons sê dikwels (ek dalk die meeste) dat ons ’n "ongewilde-Evangelie" verkondig en dan gebruik ons dit eintlik ten diepste as ’n verskoning om niks daaromtrent te doen nie, terwyl ons juis hierdie "ongewilde-Evangelie" met ’n passie moet verkondig, omdat dit Lewe impliseer ~ Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur (2 Kor.2:14).
·
Die Ewige
Rots Jesus Christus: Soos ons reeds gesien het, is die rots in Nebukadneser
se droom, niemand anders Jesus Christus nie. Vir Daniël was die koms van die
Here Jesus as Messias iets wat nog in die toekoms gelê het en was dit derhalwe
iets waarna hy geweldig uitgesien het. Vir ons daarenteen, is Jesus se koms
reeds verlede tyd, maar terselfdertyd ook toekomende tyd. Jesus die Christus
het gekom en Sy Koninkryk kom vestig en daarom roep God ons op om onsself aan
die Rots Jesus Christus te onderwerp en Sy Koninkryk eerste te soek. Aan die
anderkant moet ons egter ook uitsien na Sy tweede koms en daarom moet ons voortdurende
gebed, dié van Openb.22:20 wees ~ Kom, Here Jesus!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 04 Augustus 2013