Sunday, August 25, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 22 ("Nader tot God in Opregtheid")


1.    SKRIFLESING:
       Ons het in die voorafgaande hoofstukke van Hebreërs (tot 10:18) gesien hoe dat die skrywer bepaalde leerstellinge in detail uiteensit. Ons kom nou by ’n gedeelte waar die Hebreërskrywer ’n opregte en ernstige oproep rig tot sy lesers, ten einde die leerstellige wat hy tot nou toe met hulle gedeel het, toe te pas in die praktyk. Hierdie metode – eers leerstellinge en dan die praktyk, is presies dieselfde metode wat in die res van die Apostoliese briewe gebruik word. Leerstellings is nie blote teologie nie: dit moet toegepas word. Geloof moet beide beoefen en bely word. Die Waarheid moet gelééf word, anders is dit nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie.
      
       Hebr.10:19-25 ~ Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

2.    INLEIDING:
       Verse 19-21 vorm ’n brug tussen die leerstellige aan die eenkant (1:1-10:18) waarna ek verwys het en die volgende verse (10:22 en verder).

       In v.19 sien ons dat daar geen twyfel bestaan nie – gelowiges kan God met oorgawe nader, want Jesus het vir ons die "deur oopgemaak" na die Vader. Daar hoef dus geen vrees of onsekerheid by ons te bestaan nie. God die Vader sal ons gebede – ons toetrede tot Sy genadetroon, aanvaar op grond daarvan dat Hy Sy Seun se offer aan die kruis aanvaar het – daar is dus vrye toegang vir elkeen van ons bewerkstellig. Die Allerheiligste van die Tabernakel of van die Tempel, het God se teenwoordigheid onder die volk gesimboliseer en net die Hoë Priester kon een maal per jaar daar ingaan, maar Christus se volmaakte offer het dit alles verander – wat ’n voorreg het ons nie nou om self in die Vader se teenwoordigheid te kom nie en wat meer is, ons mag meer as eenkeer per jaar dit doen, trouens ons kan dit voortdurend doen!

       Ons moet enersyds besef dat dit vir toegewyde Jode wat uit die Judaïsme oorgekom het na die Christendom op grond van God se uitverkiesende genade, ’n geweldige gedagte moes gewees het – vir eeue kon net die Hoë Priester een maal per jaar in die Allerheiligste kom en nou? Nou kan elke individuele gelowige dit vrylik en meer as gereeld doen!

       Aan die anderkant moet ons ook besef, dat geen mens in God se teenwoordigheid kan kom, indien hy dit op grond van sy eie verdienste, of karakter, of dade, of godsdienstigheid ens. probeer doen nie – hy sal geen toegang vind nie; geen ontvanklikheid nie; geen antwoord nie! So ’n persoon kan ook nie toegang verkry, bloot net op grond van sy belydenis dat hy in Christus glo nie ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matt.7:21-23) – ’n Persoonlike verhouding met Jesus Christus, is nodig voor vrye toegang geniet kan word en natuurlik word daardie verhouding uit
genade en deur die soendood van Jesus Christus aan die uitverkorenes geskenk – selfs die geloof wat hulle bely word uit genade aan hulle geskenk.

       Ons lees in v.20 van ’n "weg wat nuut" is. Hierdie woordjie "nuut" is in die Grieks πρόσφατος (prosphatos) en word net een keer in die ganse Nuwe Testament gebruik. Dit beteken letterlik "om vars geslag te wees" Jesus is hierdie "vars geslagte offer" wat die pad oopmaak vir elke gelowige na die Vader se genadetroon. Op die oog af klink dit na ’n teenstrydigheid, want slagting dui tog immers op dood, maar hier dui dit juis op ’n nuwe lewe – dit is omdat Jesus se dood, die dood self oorwin het en daarom lewe gee. Sy dood is die enigste weg tot ’n ewige lewe en daarom ’n oop en lewende verhouding met God.

       Vers 21 som vir ons die hele middelste gedeelte van hierdie Sendbrief op, nl. dat ons ’n Hoë Priester het wat vir ons by die Vader intree. In Eks.28 word daar baie spesifieke voorskrifte deur God gegee t.o.v. die volk se verteenwoordiging deur die Hoë Priester voor God. So moes Aäron bv. twee stene op die skouerbande van sy priesterlikekleed gedra het, sodat die stene verteenwoordigend kon wees van die twaalf stamme van Israel (Eks.28:12) en in v.21 sien ons dat die name van die stamme op twaalf stene gegraveer word en die priester moes hierdie stene op ’n borssak, oor sy bors gedra het.

       As ons hierdie voorskrifte in gedagte hou en onthou dat die priester ook net op spesifieke tye voor God kon verskyn ten einde die stamme te verteenwoordig, dan het ons soveel om voor dankbaar te wees, want Christus dra nie net ons name op Sy skouers en op Sy bors nie – nee, ons name is in Sy hand gegraveer (Jes.49:16) – Hy dra ons name in Sy totale wese.

       Met hierdie vertroostende stelling sluit die skrywer sy leerstellige gedeelte af en gaan hy nou in v.22 voort, met die praktiese toepassing van die leerstellige wat hy tot nou met sy lesers gedeel het.

3.    EERSTE OPROEP:
       In vv.22-25 ontvang ons as gelowiges ’n hartlike uitnodiging en roep die skrywer ons op om in die teenwoordigheid van God te leef. Daar is egter ’n voorwaarde gekoppel aan hierdie uitnodiging en dié voorwaarde word vir ons in v.22 uitgespel, nl. dat ons dit slegs kan doen met ’n "opregte hart" en met "volle geloofsekerheid". "Opreg" is in die Grieks ἀληθινός (alēthinos) en die Afrikaanse vertaling hiervan kan nie meer sê as wat dit reeds sê nie – "opreg", met ’n opregte hart. Wat beteken dit egter om ’n opregte hart te hê wanneer ons in die teenwoordigheid van die Here wil leef? Eerstens kan ons sê dat die teenoorgestelde vir "opreg", is "vals" – dit gaan dus hier oor ons motiewe. Waarom bid ons tot God? Om ons gewete te salf? Om ’n pligpleging afgetik te kan kry op ons "om-te-doen-lysie"? Gaan ons na die Here omdat ons Hom waarlik in eerlikheid en opregtheid wil verheerlik; wil loof en prys en wil dank? Om ons harte in opregtheid voor Hom oop te maak en te bid om vertroosting, hulp en leiding?

       Vers 22 sê egter ook dat ons in "volle geloofsekerheid" (πληροφορία / plērophoria) in God se teenwoordigheid moet leef en daarom ook tot God moet bid. Dit beteken m.a.w. dat ons absolute sekerheid en oortuiging daarvan sal hê, dat ons kinders van God is en dat ons met vrymoedigheid voor Hom mag staan. Ons moet derhalwe verstaan waar ons reddinggeloof vandaan kom, nl. van God en deur Sy uitverkiesende genade wat vasgemaak is deur Jesus Christus se soendood aan die kruis en ons geloof in Hom wat deur die Heilige Gees in ons bewerk en aan ons geskenk is. Vra bietjie vir mense op grond waarvan is hulle gered en kyk hoe min kan vir jou regtig vertel waarom hulle glo dat hulle gered is en as jy dan verder met hulle gesels, kom jy gewoonlik baie gou agter dat diesulkes nie ’n idee het waaroor dit gaan nie en daarom waarskynlik ook nie gered is nie – sulke mense het nié "volle geloofsekerheid" nie en jy kan ook baie gou agterkom dat hulle nie gemaklik is om te bid nie, of selfs hoegenaamd te bid nie.

       Ons vind baie voorbeelde in die Woord waar mense nié met opregte harte na die Here gegaan het nie. Een so ’n voorbeeld in die Nuwe Testament is bv. waar Petrus vir Simon betig en veroordeel omdat hy nie met ’n opregte hart na Jesus gegaan het nie ~ Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe (Hand.8:21-22).

       Indien ons in ons lewe op ’n plek is waar ons nie in opregtheid na God kom en in Sy teenwoordigheid leef nie, is daar egter hoop vir ons. Ons vind in die Ou Testament nog ’n voorbeeld van mense wat nie in opregtheid na God gegaan het nie ~ En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here (Jer.3:10). Daar was egter hoop en ’n vooruitsig dat die volk se gesindheid en situasie sou verander en ons sien dit reeds Jer.24:7 ~ En Ek sal hulle ’n hart gee om My te ken, dat Ek die Here is; en hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart (OAV). Die Here het Sy volk se harte verander, hoeveel te meer nie ons harte, indien ons verhouding met die Here verswak het, om watter rede ook al – indien ons in opregtheid vir Hom vra om ons situasie om te draai; om ons ontrouheid om te draai, hoeveel te meer sal Hy dit nie nou in Christus Jesus, ons Hoë Priester doen nie – Hy wat onophoudelik vir ons intree by die Vader!

        Ons vind in die tweede gedeelte van v.22 twee eienskappe wat tekenend is van verloste mense – mense wat met opregte harte en in volle geloofsekerheid in die teenwoordigheid van die Here leef en na Hom gaan – in die eerste plek is dit diegene wie verlossing van ’n skuldige gewete ervaar. Die teoloog Philip Hughes sê: "Only a heart that has been 'sprinkled from an evil conscience' can be 'a true heart' and can know the 'full assurance of faith'; and this heart belongs to the person whose humanity has been 'washed with pure water'".

       Wanneer Rom.10:9-13 vir ons ’n vaste realiteit is, nl. ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” 12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word – wanneer hierdie wonderlike belofte van die Here vir ons ’n vaste realiteit is, sal en mag ons beskik oor geloofsekerheid en wanneer ons oor geloofsekerheid beskik, reinig die Here ons van allerlei skuldige gewetens oor sonde uit ons verlede.

       ’n Skuldige gewete veroordeel ons voortdurend en wanneer dit gebeur is een van drie dinge besig om te gebeur:
·           Of jy is nie vergewe nie en derhalwe nie wedergebore nie, omdat ’n skuldige gewete nie verwyder kan of sal word as jy nie vergewe is nie en as jy nie vergewe is nie, is jy nie gered nie en moet jy dringend aandag aan hierdie geweldige wete en feit skenk en ernstig voor die Here kom en Hom vra om vergifnis en genade - reddingsgenade.
·           As jy geteister word deur ’n skuldige gewete oor bepaalde sonde in jou lewe, kan dit wees omdat jy, jou "ore uitleen" vir die vyand en toelaat dat hy jou beskuldig van dinge wat wél gebeur het in jou lewe, maar waarvoor jy reeds volkome  vergifnis ontvang het en daarom moet jy die vyand teenstaan, deur Ef.6:14-17 se wapenrusting in gedagte te hou en dit prakties toe te pas en dan spesifiek in hierdie geval, die borsharnas van vryspraak en die verlossing as helm op die kop, toe te pas in jou weerstand teen die satan wanneer hy jou beskuldig – jy moet m.a.w. seker maak en seker wees van jou wedergeboorte – om m.a.w. seker te wees dat jy in Christus is en dat jy jou redding ten alle tye in gedagte sal hou; daaraan vas te hou; die sekerheid en realiteit daarvan uit te leef en dit onwrikbaar te glo.
·           ’n Derde moontlike rede waarom jy dalk sit met ’n skuldige gewete, is omdat jy nie die geloof as skild in die hand het nie – dat jy nie presies weet wát jy glo en waarom jy dit glo nie; dat jy nie dinge verstaan soos God se uitverkiesende genade nie; God se soewereiniteit en almag nie, ens. Indien dit die geval is, moet jy ernstig werk maak daarvan en ’n studie te maak van o.a. die sondeval; God se verlossingsplan wat reeds in Gen.3 aangekondig is; van  genade; van die uitverkiesing; van geloof, ens.

       Om dit alles moontlik te maak, is dit derhalwe noodsaaklik dat jy die swaard van die Gees en die waarheid as gordel aan sal hê – om m.a.w. voortdurend in die Woord te wees en jou kennis van die Woord uit te brei en dit uit te leef – dan sal jy nie meer sit met ’n skuldige gewete nie.

       Vierdens sê die skrywer dat gelowiges wat in opregtheid bid en wat geloofsekerheid ervaar en wat vry van ’n skuldige gewete is, ook moet weet dat hulle liggame skoon gewas is met skoon water. Net vir geval daar dalk enige moontlike onsekerheid bestaan – daar bestaan geen verband tussen hierdie "water" en die doop nie. Dit gaan hier oor die wyse waarop ons lewe; die wyse waarop die Heilige Gees ons lewe verander – ons groei in heiligmaking. Dit is dieselfde reiniging waarvan Paulus in Titus 3:5 praat ~ Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. Hier verwys Paulus na die reiniging van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees. Dan verwys dit ook na Ef.5:26 wat gaan oor die was of reiniging deur die Woord van God ~ Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het. Hierdie twee aspekte van reiniging is onafskeidbaar van mekaar – die een kan nie sonder die ander nie – wedergeboorte en die lees en bestudering van God se Woord is ’n identiese tweeling – waar die een is, moet die ander een wees. Christus het deur Sy kruisdood die straf op ons sonde betaal en God is tevrede gestel en dan begin die Heilige Gees se reinigingsproses in ons lewe en dit geskied deur die Woord te lees en te leef – ons word gewas deur die Woord en heiligmaking vind plaas – ons word van binne en van buite gewas en gereinig en daarom kan ons in God se teenwoordigheid verskyn.Here HereHere hartehartekkkkkharte

       Om v.22 dan saam te vat: ’n Lewe en geloof en gebed wat God verheerlik, is geloof wat voortspruit uit ’n opregte hart – ’n opregte hart wat weet dat hy deur die genadewerking van God die Vader en die offer wat Christus aan die kruis gebring het, verlos is van die ewige verdoemenis, maar ook ’n lewe wat derdens, ’n rein gewete het en laastens wie se lewe skoon gewas is en daarom ’n heilige lewe lei.

4.    TWEEDE OPROEP:
       Ons het dan nou gesien, dat die heel eerste reaksie op ’n lewe wat wederbaar is, ’n uitnodiging is wat God aan ons rig om met opregte harte en sekerheid van redding, in Sy teenwoordigheid te leef. In v.23 vind ons ’n tweede oproep wat volg op die eerste en dit is dat ons moet vashou aan die hoop wat ons bely.

       Voor ons egter aan "hoop kan vashou" en dit bely soos v.23 sê, moet ons sekerlik eers verstaan wat hierdie hoop is. Ons het reeds in 4:14 ’n verwysing gekry na hierdie woord "hoop" ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Ons hoop bestaan dus daarin dat ons verlossing uiteindelik en finaal afgehandel sal word met die tweede koms van ons Here Jesus Christus – daardie dag wanneer ons finaal geregverdig sal word en onbevlek voor God in die hemelse Koninkryk sal staan ~ Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word (Gal.5:5).

       Net mense wat hierdie verwagting van Gal.5:5 kan koester, kan in opregtheid aan die hoop van uiteindelike redding vashou en die Hebreërskrywer sê in v.23 dat ons aan hierdie hoop kán vashou, omdat God getrou is en Hy doen wat Hy beloof het. Hierdie hoop moet ons vertroetel; ons moet ons verheug daarin en ons moet die vyand daaraan herinner, voor ons ons "ore uitleen" aan hom.

5.    DERDE OPROEP:
       Ten einde hierdie perikoop waarna ons vanoggend kyk, af te sluit, kom die skrywer en nadat hy eerstens ’n oproep tot ons gerig het t.o.v. geloof en toe t.o.v. hoop, rig hy nou ’n derde oproep tot ons en wel om twee dinge te doen:
·           In die eerste plek sê hy dat ons ...na mekaar (moet) omsien. Waarom sou hy hierdie oproep tot sy destydse lesers gerig het? Waarskynlik omdat daar tekens was van afval onder van die lede van die liggaam en waarskynlik ook ’n laksheid om liefde teenoor mekaar te toon. Die probleem met so ’n situasie waar lidmate nie meer omgee vir die welsyn van die liggaam nie, is simptomaties van mense wat in sonde is – sonde van egoïsme (soos wat ’n goeie vriend van my altyd daarna verwys: "die onheilige drie-eenheid – ek, my en myself"). Die probleem met selfsug of egoïsme, is dat selfsug en skeurmakery altyd hand-aan-hand gaan, want selfliefde kweek gewoonlik ’n gees van afsondering en isolasie. Daarteenoor sê die Here Jesus in 1 Joh.4:7-12 ~ Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. 11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

       Ons moet onsself en mekaar se liefde en omgee vir mekaar dus voortdurend onder die loep neem en kyk waar ons staan t.o.v. hierdie oproep van die Hebreërskrywer en ons moet t.w.v. onsself en van mekaar, maar allereers t.w.v. die eer van die Here, in mekaar se lewens inspreek as ons bemerk dat daar ’n agteruitgang in onderlinge liefde is en daarom moet ons n.a.v. v.24, ...omsien (na) mekaar, (deur mekaar) aan te spoor tot liefde en goeie dade.
·           Tweedens sê die Apostel dat ons nie ...van die samekomste van die gemeente af (moet) wegbly soos party se gewoonte is nie.... En dan gaan hy voort deur aan te sluit by sy vorige opdrag, nl. om na mekaar om te sien, wanneer hy sê dat ons mekaar moet aanmoedig om die onderlinge byeenkomste by te woon. Waarom is dit so belangrik? Want dit sal ons help om in die lig van v.23, styf vas te hou aan die hoop. Hoeveel keer sien ’n mens dit nie, dat mense wat onbetrokke is, die eerstes is wat terugval.

       Ons moet so gereeld moontlik met ons broers en susters byeen kom ter wille daarvan dat ons opgebou kan word in die allerheiligste geloof en dat ons mekaar kan bemoedig en aanspoor en ons moet dit doen, want sê die Hebreërskrywer, die oordeelsdag kom nader. Omdat die einde elke dag een dag nader is, behoort ons elke nuwe dag ernstiger te wees met ons verhouding met die Here Jesus, as die vorige dag.

6.    SLOTSOM:
       Die Apostel maak dit baie duidelik in hierdie gedeelte, dat dit nie genoeg is om bloot net die Waarheid te ken nie – nee, die gewenste en toepaslike reaksie moet voortspruit uit ons kennis van die Waarheid en die regte reaksie, soos wat hy verduidelik het, is ’n onbeskaamde Christusgesentreerde lewe wat gekenmerk word deur gebed, gemeenskap met gelowiges, groeiende ywer, besorgdheid oor medegelowiges en ’n onophoudelike verwagting dat Jesus gaan kom.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Junie 2013.