Monday, August 26, 2013

Postmillennialisme en die Datering van Openbaring


1.         INLEIDING:
Ons het die vorige keer gesien hoe dat God in Eseg.3 vir Esegiël gesê het dat hy ’n “boekrol moes eet”, waarop hy in vers 3 gesê het ~ Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.  Wat daarop gevolg het was o.a. en veral, die val van Jerusalem slegs 6 jaar later in die jaar 586 v.C.

Ons het toe ook gesien dat Johannes in Openb.10:8-9 ’n soortgelyke opdrag ontvang het en is ons toe gekonfronteer met die vraag hoe Johannes se “ervaring” geïnterpreteer moes word.  Ons het gesien dat die A-Millennialiste se verklaring baie wollerig is en dit het daartoe gelei dat ons moes gaan kyk na wat die Post-millennialiste (of die Preteriste) se interpretasie is.

Ons het o.a. ook gesê dat ons sal moet kyk na die datering van die boek Openbaring.  Benewens hierdie vraag, het ons ook gesê dat die volgende belangrik is:
o    Ons moet kortliks kyk na die literêre genre van die boek Openbaring.
o    Dan moet ons ook kyk na die historiese konteks van die boek.
o    Dit is ook baie belangrik dat ons moet terug gaan na Openb.1:1 en kyk na wat daar staan, nl. ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak.  Ons het daarop die vraag gevra:  Wat gaan binnekort gebeur? 
o    As ons na al hierdie dinge gekyk het, moet ons terugkeer na 10:9-10.

2.         LITERÊRE GENRE:
Ons moet besef dat die literêre genre van Openbaring, Apokalipties van aard is en dit word voortdurend gebou op die Ou Testamentiese beelde.  Apokalips beteken inligting wat geopenbaar word t.o.v. hemelse geheime of gebeure wat in die toekoms (nabye of verre) plaasvind. 

Die rede vir die Apokaliptiese taal in Openbaring is dat dit verskuil kon wees vir die teenstanders van die gelowiges in daardie dae (amper iets soos ’n geheime taal).  Deur hierdie skryfstyl word die gelowiges wat gebuk gegaan het onder geweldige vervolging, bemoedig, deur vir hulle te laat verstaan dat hulle moet volhard, want Christus is die Oorwinnaar.  Hierdie skryfstyl was dus nie vreemd vir die gelowiges nie (omdat hulle die Ou Testament goed geken het).

Bykans al die simbole in Openbaring, is gebaseer op die Ou Testament.  Enkele voorbeelde:  Daniël praat bv. van Die Bees – die finale bees is Babilon, Mede Persië en Griekeland en uiteindelik die Romeinse Ryk.  Die Romeine is bv. by die see en as die Romeinse Ryk opstaan teen die gelowiges kom hulle van die see af – hy kom op uit die see (bv. Openb.13:1).  Hy het tien krone  (bv. Openb.13:1).  ’n Koning dra ’n kroon.  Rome het 10 koninkryke gehad, waarvan Israel een was en Israel se “kroon” was Herodes.  Uiteindelik sal daar ’n Rots kom om die koninkryk te verpletter – dit is Jesus se hemelvaart en derhalwe word Sy koninkryk hier op aarde gevestig – die Rots vernietig dus Rome.

Nero het die Keiserlike aanbidding ingestel (net soos die Farao’s van destyds) – Nero rig regoor die Romeinse koninkryk, beelde van homself op (hierdie beelde het soos ’n Bees gelyk). Hy het ook bekend gestaan as “die Bees” – hy het dikwels ’n vel met die kop en horings van ’n bees oor hom gehang en dan het hy in nakende gelowiges ingehardloop en hulle in die ingewande gegaffel. 

Wanneer ons na die beelde in Openbaring kyk, moet ons terselfdertyd na die Ou Testamentiese beelde kyk ten einde Openbaring se beelde beter te verstaan.

3.         HISTORIESE KONTEKS:
Tweedens moet ons na die historiese konteks kyk.  Sewe gemeentes ontvang briewe in hul besondere omstandighede en omtrent almal ervaar vervolging en hierdie briewe word dan juis geskryf om hierdie gemeentes te bemoedig en/of te berispe, ten einde hulle geestelik voor te berei om weerbaar te wees, maar ook om vir hulle goeie moed te gee dat die “swaarkrytyd” amper verby is (Paulus word bv. onthoof deur Nero).  Volharding kom deur hoop en daarom sê Openbaring hoop kom deur twee gebeurtenisse en daarom moet hulle volhard .  Eerstens gaan die Tempel in 70 n.C. verwoes word (Openb.11 – Johannes kry opdrag om die Tempel op te meet).  Hierdie verwoesting van die tempel is baie belangrik, want daardeur kom die Ou Testamentiese wyse van aanbidding tot ’n einde.  Hierdie is maar een rede waarom ons kan sê dat Openbaring nie na 95 n.C. geskryf is nie.  En dit is belangrik om die datering van Openbaring reg te kry, omdat baie mense wat nie wil aanvaar dat die Sewe Briewe werklike briewe was ten einde die gemeentes voor te berei op die val van Jerusalem en die uitkoms wat daardeur gegee sal word nie – indien hulle die boek na 95 n.C. dateer ontglip hulle dus hierdie realiteit.  ’n Bietjie later meer hieroor.

Ons moet dus altyd na die historiese konteks kyk wanneer ons die Woord verklaar en daarom kan ons tereg ook die vraag vra, hoe ons nié die boek van Openbaring op ons toepasbaar moet of kan maak nie ?  Ons kan bv. nié na die Aandnuus op TV kyk en sê:  “Wow dit lyk soos die skerpioene in Openb. en daarom is hier nou ’n vervulling van bepaalde profesieë nie.”  Dit kan sommer net “koerant eksegese” genoem word.  Enige iets wat rondom ons gebeur kan dan sommer na goeddunke of op eie gevoel gekoppel word aan Openbaring – Ons vind dit veral onder die Dispensasionaliste (Charismatiese- en Pinkstergroepe) maar ook onder die A-Millennialiste – weliswaar in ’n baie mindere mate.  Sulke interpretasies en eksegese is nie alleen strydig met die reëls vir eksegese en die omgaan met die Woord nie, maar dit word, en dit is, net eenvoudig te wollerig om die Woord op so ’n wyse te verklaar.  Hierdie feit het my persoonlik tot nadenke gestem en het die Postmillennialistiese (of Preteristiese) standpunt en wyse van benadering tot die verklaring van Openbaring, vir my al meer en meer aanneemlik geraak en algaande meer en meer oopgegaan.

Net so terloops:  Om Openbaring bloot te stel aan “koerant-eksegese” is baie gewild, omdat dit so beeldryk en avontuurlustig lyk en klink en skrywers soos Hal Lindsey,  Lester Sumrall, Frank Peretti, Rebecca Brown, e.a. maak miljoene uit boeke wat hul op hierdie wyse skryf (bv. Planet Earth – 2000: Will Mankind Survive; I Predict 2000, This Present Darkness, ens.).  Verder is hierdie wyse van omgaan met Openbaring deur die eeue heen gevestig, omdat baie teoloë geglo het dat die Pous die Antichris is en sodoende is Openbaring op so ’n wyse ingespan dat hierdie oortuiging t.o.v. die Pous gemotiveer kan word (ek verklaar nie met hierdie opmerking die Pous “heilig” en onskuldig nie).

Hoe moet Openbaring wel geïnterpreteer word?  Ons moet voortdurend terugkeer na die tema van die boek, nl. Die Oorwinning van Christus oor die wêreld, ens. (oor Nero; vervolging ens.).  Net soos wat Jesus die oorwinning oor Nero behaal het, net so gaan Hy die uiteindelike oorwinning vir ons behaal.  Neem die basiese tema van Openbaring en pas dit as volg toe op ons situasie vandag:  Christus het toe die oorwinning behaal.  Is Christus vandag steeds die Oorwinnaar?  Die antwoord is ’n onomwonde “Ja” en daarom sal Hy ook oorwin ter wille van my en jou en ons uiteindelik finaal verlos.

Jesus Christus word dus ook voortdurend deur Openbaring gepreek soos in al die ander boeke van die Bybel.  Ons moet dus elke keer dat ons in Openbaring lees (soos met al die ander boeke van die Bybel) vir onsself die vraag afvra:  Wat leer hierdie gedeelte vir my van Jesus Christus.  Wanneer ons so na Openbaring begin kyk, sal ons vind dat Openbaring, ’n boek van Hoop is.

Dwarsdeur die boek is daar geweldig baie geskryf oor aanbidding en dit is die reaksie wat dit by ons behoort te ontketen wanneer ons Openbaring lees.  Christus is die Oorwinnaar en dit is genoeg rede vir ons om Hom te aanbid en daarna te strewe om elke dag van ons lewe “in Sy voetspore” te volg.

4.         PRETERISME:
Ek het tot nou ’n paar keer verwys na Preterisme, deur dit tussen hakies agter die naam Postmillennialisme te skryf.  Net ’n woord of twee daaroor:
-        Die woord Preterisme beteken “in die verlede”.  Wanneer Preteriste dus praat oor Openbaring sê hulle dat die meeste van die profesieë daarin rééds vervul is.  Dit impliseer dus dat, toe die profesieë gegee is, daar vooruit gekyk is na die gebeure waaroor geprofeteer is – soos met alle profesieë dus. Maar vanuit ons oogpunt, word daar terug gekyk na hierdie profesieë en sien ons dat dit reeds vervulde profesieë is – of sommige ten minste (netnou meer hieroor). 
-        Ons kry “Vol-Preteriste” of “Hiper-Preteriste”.  Hulle glo dat alle profesieë reeds tot vervulling gekom het, insluitende die tweede koms van Christus, die algemene opstanding van die dooies, asook die finale oordeel.  Die Hiper-Preteriste sê dan ook dat al hierdie profesieë reeds voor 70 n.C. vervul is.  Hulle sê dat die meeste van hierdie profesieë se vervulling, geestelik van aard is. So ’n standpunt (Hiper-Preterisme) is nie ’n regsinnige of Gereformeerde uitganspunt nie, want die regsinnige Christendom het nog altyd geglo dat die wederkoms, die algemene opstanding van die dooies en die laaste oordeel, fisiese, liggaamlike, sigbare en letterlike gebeure sal wees en daarom kon dit nog nie plaasgevind het nie.

Ek het nou onlangs ’n vraag aan ’n Hiper-Preteris in Amerika gevra, nl. hoe dit moontlik is dat geeneen van die “agtergeblewenes” na die wegraping iets daarvan gemeld het nie – dit moes tog uiters nuuswaardig gewees het, want sommige manne sou hulle vrouens en van hulle kinders vermis het, net om te hoor dat sy buurman en sy werkgewer en sy oom en sy...... ook hulle vrouens en van hulle kinders en van hul familie vermis.  Hierdie Hiper-Preteris se antwoord was dat niemand dit agtergekom het nie, want onthou, dit was ’n geestelike wederkoms en –wegraping.  Om die minste te sê:  Dít is ’n belaglike wyse om, om te gaan met die Woord.
-        “Gedeeltelike-Preterisme” of “Gematigde-Preterisme” (voortaan genoem Preterisme) leer egter dat Openbaring; die “Olyfberggesprek” (Matt.24); en verskeie Ou Testamentiese profesieë (bv. Daniël se 70-weke, Sagaria 12, ens.) reeds vervul was teen 70 n.C., maar hulle glo egter ook dat sekere gedeeltes nog vervul moet word, soos bv. die wederkoms, die algemene opstanding van die dooies en die laaste oordeel.
-        Postmillennialiste (Pretersite) glo ook dat sekere gedeeltes van Openbaring en die Olyfberggesprek wel te doen het met Christus se tweede koms wat nog in die toekoms lê en dit is in ooreenstemming met Skrifgedeeltes soos bv. 1Tes.4:13-18; Hand.1:10-11; ens. – dit handel dus ook oor onvervulde profesieë, of toekomstige gebeurtenisse.
-        Bekende hedendaagse Preteriste is manne soos R.C. Sproul, Kennith Gentry, Keith Mathison, Gary de Mar. Hank Hanegraaff en Douglas Wilson.

5.         DATERING VAN OPENBARING:
Soos reeds gesê, is dit belangrik dat ons sal vasstel of Openbaring vóór of ná 70 n.C. geskryf is, want dit bepaal tot ’n groot mate, die interpretasie en daarom ook die betekenis van die boek Openbaring.  Ons sien dat Openb.1:1 sê ~ ...oor wat binnekort moet gebeur... en dit is net hier waar die A-Millennialiste (en die Dispensasionaliste) en die Post-Millennialiste se eksegetiese paaie skei. 

Ter aanvang is dit belangrik dat ons in gedagte sal hou, dat Openbaring geskryf is terwyl die kerk van die Here Jesus Christus, fel vervolg is

Daar is talle teoloë wat beweer dat hierdie openbaring eers ná 70n.C. ontvang is.  EN almal van hulle beweer dat dit ook die standpunt van die vroeë Kerkvaders was.  Dit is egter nie die volle waarheid nie, inteendeel, die standpunt wat sedert die vroegste tye gehandhaaf was, was juis dié van ’n vóór 70 n.C. datering.  Dit was eers ná die laat 1800’s dat ander stemme begin opgaan het.

Een van die vroegste Kerkvaders by name Clement van Alexandrië (150 – 230 n.C.) skryf dat Johannes na “die dood van die Tiran” van die eiland van Patmos verskuif is.  In Openb.1:9 sien ons dat Johannes die openbaring ontvang het, terwyl hy op Patmos was.  Wat ons nou te doen staan is om te bepaal wie die tiran was, want dan kan ons vasstel gedurende watter keiser se regering Johannes die profesie ontvang het.

Ter aanvang kan net vermeld word, dat die keiser wat gedurende 81 – 96 N.C. regeer het, Domitianus was en sy regeringstydperk was gekenmerk deur vrede en voorspoed – hy kon dus nie die tiran gewees het nie.

Keiser Nero was egter so ’n tiran en Christen sowel as heiden het hom gevrees.  Baie mense het hom die “Verdelger van die mensdom” genoem, asook die “gif van
die wêreld”.  Talle vroeë skrywers het na Nero verwys as “die Tiran”.

’n Volgende en baie belangrike persoon na wie daar gekyk moet word is Irenaeus en hier moet ons so bietjie tegnies raak.  Iranaeus skryf in sy geskrif, “Against Heresies” (geskryf, iewers tussen 180 en 190 n.C.) die volgende:  We will not, however, incur the risk of pronouncing positively as to the name of Antichrist; for if it was neccessary that this name should be distinctly revealed in this preset time, it would have been announced by him who beheld the apocalyptic vision (Johannes m.a.w.).  For that was seen no very long times since, but almost in our day, towards the end of Domitian’s reign.  Wanneer ’n mens hierdie aanhaling lees kan dit maklik klink asof Openbaring ná 95 gedateer moet word – in Domitianus se regeringstyd dus.

Die uitdrukking “that was seen” word algemeen aanvaar, is ’n terugverwysing na die Apokalips (Openbaring).  Die “na-90’ers” interpreteer hierdie uitdrukking as volg:  Die Apokaliptiese visioen was aan Johannes geopenbaar tydens die laat regeringsjare van Domitianus.  Daar bestaan egter ook ’n ander aanvaarbare vertolking van hierdie uitdrukking “that was seen”, nl. dat die ontvanger van hierdie profesie by name Johannes, laat in die regeringstyd van Domitianus gesien is.  Beide hierdie vertolkings kan as goeie taalkundige vertalings uit die Grieks gesien word en ons weet dat Johannes diep in die 90 jaar oud geword het.

Dit impliseer dus dat Irenaeus een van twee dinge kon sê:
-        Dat Johannes die visioen aan die einde van Domitianus se regeringstydperk ontvang het, of
-        Dat Johannes aan die einde van Domitianus se regeringstydperk gesien is.

Kom ons kyk kortliks na die logika van beide interpretasies.  T.o.v.. die eerste vertolking sê Irenaeus dus, “Dit is nie nodig vir my om die naam van die Antichris openbaar te maak nie, omdat die Openbaring teen einde van Domitianus se regeringstydperk geskryf is.  Die vraag is nou, dat indien Openbaring aan die einde van Domitianus se regeringstydperk geskryf is, waarom is dit nie nodig is vir Irenaeus om die naam van die Antichris bekend te maak nie?

Aan die anderkant, volgens die tweede interpretasies sê Irenaeus:  Dit is nie vir my nodig om die naam van die Antichris openbaar te maak nie, want Johannes, wat oorspronklik oor die Antichris geskryf het, was lewend gesien teen die einde van Domitianus se regeringstydperk.  Dit maak dus baie meer sin dat, indien Johannes nie so lank terug gesien is nie en hy dit nie nodig geag het om die naam van die Antichris bekend te maak nie, dit ook nie vir Irenaeus nodig was om die naam van die Antichris bekend te maak nie.  

Dit maak dus baie meer sin, dat Johannes in die middel 90’s gesien is, eerder as wat hy die Openbaring in die laat 90’s ontvang het.

Al die teoloë wat ’n “laat-90’s datum” aangehang het en steeds aanhang, grond al hulle redenasies op Irenaeus se geskrif en om dit te doen is, soos ons gesien het, uiters wankelrig.  Dit is soos wat in die jare sestig gebeur het, toe wetenskaplikes bevind het dat botter uiters sleg is vir die mens en dat geel-margarine gesond is (en skielik word geel margarine bemark).  Al die wetenskapliks daarna, het hulle navorsing verder gebaseer op hierdie eerste wetenskaplikes se bevindinge. Totdat daar in die 1990’s bevind is dat dit juis andersom is – margarine is “gif” en botter is gesond – toe val al die “ooms met die dikbrille” se teorieë in mekaar, want die een het voortgebou op die vorige een se verkeerde teorie, ens. 

Om dus ’n teorie op grond van een skrywer se teorie te bou is uiters gevaarlik en dit is presies wat gebeur het met die “laat-90’s teorie”.  Wat meer is, Irenaeus is ook glad nie so ’n betroubare Navorser nie, want hy het ondermeer Jesus se ouderdom op ouer as 50 gestel toe Hy gekruisig is en geen ernstige Bybelstudent sal dit onderskryf nie, inteendeel almal is eenstemmig daaroor dat Jesus jonger as 33 was toe Hy gekruisig is.

Ons lees in 2Tim.3:16-17 die volgende ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.  Indien ons dus wil vasstel wat die datum van die skrywe van Openbaring is, moet ons na die Woord self gaan kyk.  Ons moet onthou dat Irenaeus nie onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het nie, maar Johannes wel – kom ons gaan kyk dus wat Johannes gesê het (net so terloops:  dit is maar onlangs dat teoloë begin kyk het na wat Openbaring self sê oor die datering).

Dit is belangrik dat ons sal kyk na bepaalde tydsfaktore in Openbaring – woorde soos:  “binnekort”, “gou”, “op hande”, ens.  Indien die profesie na 95 n.C. geskryf is, sal ons baie moeilik enige gebeure vind wat binnekort, of gou daarna tot vervulling gekom het en wat klop met die profesie.  Groot gebeurtenisse wat dalk gekoppel kan word aan die profesie, is die Eerste Wêreldoorlog en dit het bykans 1900 jaar ná die “laat datum” plaasgevind – dit stem dus beslis nie ooreen met uitdrukkings soos “binnekort”, ens. nie.  “Binnekort” is tog enige iets tussen nou-nou en binne die volgende paar jaar.  Indien Johannes geskryf het om sy lesers te bemoedig met die oog op die oordeel wat geslagte van etlike eeue later sou moes verduur, maak tog net nie sin nie.

Die ganse profesie van Openbaring moet binne die tydsraamwerk van Openb.1:1-3 gesien word (Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. 2 Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het. 3 Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin  geskrywe staan, want die eindtyd is naby); 22:6-7, 10 en 12 (Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.” 7 Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.” ...... Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. ...... Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het).  Dit is dus asof Johannes wil sê:  Moenie dit mis nie- hierdie dinge gaan binnekort plaasvind!   Ongelukkig is dit so dat baie dit gemis het en steeds mis (en amper ek ook!).

Dit blyk ook duidelik uit Johannes se woorde, dat daar ’n ernstige bedreiging vanuit Joodse geledere teen sy lesers bestaan.  Hy skryf bv. aan beide die gemeentes in Smirna en Filadelfia van die “Sinagoge van die satan” (Openb.2:9; 3:9). Ons het alreeds gesien dat hierdie uitdrukking, Johannes se verwysing was na die Jode wat Jesus Christus verwerp het.  Hierdie naam is egter ook gebruik om ’n onderskeid te tref tussen die ware Jode (hulle wie Christus ontvang het) en die vals Jode (hulle wie Christus verwerp het).  Met die lees van die Woord is dit ook duidelik dat die ware kerk, baie Joods was, maar hierdie situasie stem egter net ooreen met die tyd vóór die val van Jerusalem in 70 n.C.  Nadat die Tempel verwoes is, is die Evangelie tot aan die uiteindes van die wêreld versprei en Judaïsme as nie meer ’n bedreiging nie.  Voor 70 n.C. was Judaïsme en die Christendom baie na aan mekaar verwant, maar na 70 n.C. was dit glad nie meer die geval nie.  Openbaring se Joodse bedreiging kon dus net voor 70 n.C. ’n realiteit gewees het en nie na 95 n.C. nie. 

Die feit dat die Tempel in Openb.11 vermeld word, is ’n verdere interne aanduiding van ’n “vroeë datum”.  Indien Johannes na 90 n.C. geskryf het, sou dit vreemd wees dat hy nie na die herboude Tempel verwys het nie.  Dit sou egter ewe vreemd gewees het as hy nie na die verwoeste Tempel verwys het nie, terwyl die Tempel ’n baie belangrike onderwerp in Openbaring is (dit word nie minder as 16 keer vermeld).  Ons kan dus die afleiding maak dat die oorspronklike Tempel nog gestaan het toe Johannes Openbaring geskryf het.  Weereens dus ’n duidelike bewys van ’n “vroeë datering”.

Die sewe konings van wie daar in Openb.17:10 gepraat is, is verdere bewys van ’n “vroeëre datering”.  Toe Johannes geskryf het, was 5 konings (of keisers of “Caesar”) reeds gestorwe (Julius, Augustus, Tiberius, Caligula, Claudius) – Nero was die een wat toe regeer het en ons het reeds gesien dat Domitianus se regeringstydperk, gekenmerk was deur vrede en voorspoed en hy het regeer tydens 81 – 96 n.C.

Ons kan dus ’n baie goeie saak daarvoor uitmaak dat die politieke bees van Openbaring (13:1-10), Rome onder die heerskappy van Nero was en aangesien Openbaring ’n profesie was, moes dit geskryf gewees het voor die dood van Nero op 9 Junie 68 n.C.

Die oorweldigende interne getuienis dui dus daarop dat Openbaring voor die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. geskied het, wat dan verder daarop dui dat meeste van die profesie in Openbaring reeds tot vervulling gekom het voor 70 n.C.