Sunday, July 21, 2013

Die Boodskap van Daniël - 04 (Daniël se Vaste Vertroue)


1.    SKRIFLESING:
       Daniël 2 is ’n baie lang hoofstuk en ons behoort dit eintlik in een sitting deur te lees, maar t.w.v. tyd gaan ons vanoggend net kyk na die eerste 23 verse.

       Daniël 2:1-23 ~ In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy ’n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie. 2Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan 3en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor ’n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.” 4Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.” 5Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. 6Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.” 7Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.” 8Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit 9dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my ’n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.” 10Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. 11Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.” 12Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. 13Daar is toe ’n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word. 14Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak. 15Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. 16Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee. 17Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is 18en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. 19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, 21Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, 22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. 23Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” bly.

2.    INLEIDING:
       Hierdie gebeurtenis speel homself af in die tweede regeringsjaar van koning Nebukadneser. Daniël en sy vriende het hulle opleiding voltooi en word nou in Nebukadneser se paleis ontplooi om in die koning se diens te staan. Hierdie oorgang van die jongmanne se opleiding na dienswerk in die paleis laat ons egter met ’n probleem.

       In Nebukadneser se eerste jaar as koning (Dan.1:1) het Daniël en sy vriende met hul drie jaar lange opleiding begin (Dan.1:18), maar nou sien ons hier in hoofstuk 2 dat Daniël en sy vriende reeds in Nebukadneser se tweede regeringsjaar hul opleiding voltooi het – hoe moet ons dit verklaar? Kan dit wees dat hulle, hul drie jaar opleiding in twee jaar se tyd voltooi het (het hulle dus ’n jaar "gespring", soos sommige skrander kinders in die ou dae hul standerds "gespring" het?). Die mees algemene en aanvaarbare verklaring is dat hierdie drie jaar tydperk nie 3 maal 12 kalendermaande tydperke was nie, maar bloot net drie periodes wat, of kursusse, of semester tydperke was, wat in twee jaar se tyd afgehandel is – ons kan selfs ook sê dat dit 3 keer 8 maande periodes, of -kursusse was.

       Ons vind ’n tweede interessantheid in v.4, nl. dat die sterrekykers, of te wel die Chaldeërs, die koning in Aramees geantwoord het – Aramees was die taal van die dag – ’n internasionale taal en hoofstukke 2-7 was dan ook in Aramees geskryf, terwyl hoofstuk 1 en hoofstukke 8-12 in Hebreeus geskryf was – waarom was die boek dan in twee tale geskryf? Die verduideliking hiervoor is in kort dat die Hebreeuse gedeelte (1 en 8-12) handel oor die geskiedenis van die Hebreërs as nasie en God se baie spesifieke betrokkenheid by hulle as uitverkore volk, terwyl die middelste gedeelte (2-7) die doel van God met die wêreldgeskiedenis omskryf en hoe Hy Sy wil en doel met die wêreld bereik.

       Die beelde en simboliese taal wat in hierdie middelste gedeelte gebruik word, dui vir ons die koms en val van groot Ryke aan (bv. die Romeinse Ryk, ens.). Dit blyk dus duidelik uit hierdie gedeeltes, dat God nie Sy Koninkryk vestig op mistiese wyse en in ’n "buitewêreldse" sfeer nie, maar Hy vestig Sy Koninkryk deur mense van vlees en bloed en op hierdie aarde. God gebruik dan ook die drome van Nebukadneser om vir ons Sy wonderlike doel en wil te openbaar – ja selfs deur die heidense Nebukadneser.
      
3.    NEBUKADNESER SE DROOM:
       In. v.1 sien ons dat Nebukadneser ’n droom gehad het wat hom baie ontstel het en hy roep die hulp van al ...die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers (v.2) in om sy droom vir hom uit te lê. Nebukadneser is egter uiters onredelik, deurdat hy van hulle verwag om nie alleen die droom uit te lê nie, maar ook vir hom te sê wat hy gedroom het – waarskynlik was hy ontstemd deur die droom, maar soos wat dit maar dikwels ook met ons gebeur, kon hy nie regtig die detail van die droom onthou nie, maar aan die anderkant het hy dalk juis die detail van die droom onthou, maar wou hy vasstel of die klomp voorspellers regtig insig en kennis het. Hoe dit ook al sy, hierdie grote koning was in sy hart van harte net so onseker soos ’n kind.

       Uiteraard kon nie een van hierdie ...die towenaars, en voorspellers, en goëlaars en sterrekykers, die koning help nie. Trouens hulle reaksie is verstommend, want hulle waag dit om vir die koning te sê dat ...daar geen mens op aarde (is) wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie (v.10). Wat hulle eintlik vir Nebukadneser gesê het, was dat hy van hulle verwag wat net God kan openbaar en dat hulle maar net mense is en nie God nie.

       Die koning is woedend en hy gee opdrag dat al sy raadgewers om die lewe gebring moet word (v.12) – natuurlik sou dit ook Daniël-hulle ingesluit het (v.13), maar voor ons daarby kom, is dit baie interessant om te sien, dat Nebukadneser twee eienskappe in sy optrede openbaar wat ons tot vandag toe nog by mense aantref – mense wat God nie dien nie, nl.:
·           Onsekerheid: Nebukadneser het beskik oor alles wat die hart begeer: rykdom; mag; status; ens., maar ’n eenvoudige en gewoonlik onsinnige droom, laat hierdie magtige man onseker en angstig. Die rede hiervoor was dat hy vir die hier en die nou geleef het en waarmee hy nie rekening gehou het nie, is dat hierdie lewe met al sy projekte en doelwitte en uitdagings, altyd aan die verander is, trouens dit was blootgestel aan die uiteindelike verdorwenheid van hierdie lewe, soos wat die Prediker in Pred.2:11 sê ~ Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie. Die Here Jesus het in Mark.4:19 self ook gesê ~ ...maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug – presies dít was Nebukadneser se probleem en daarom was hy onseker en onvergenoegd.

       Solank as wat Nebukadneser sy sekuriteit en sy hoop gebou het op hierdie aardse dinge, sou hy teleurgestel word en sal hy voortleef in onsekerheid en dit is presies wat vandag nog met die mens gebeur.
·           Ongenaakbaarheid en Vyandigheid: Tweedens sien ons ’n ongenaakbaarheid en ’n vyandige gesindheid in Nebukadneser se optrede. Toe die raadgewers nie vir hom kon vertel wat hy gedroom het nie – praat hy nie eens van die interpretasie daarvan nie en gee hy opdrag dat hulle dood gemaak moet word (v.12).

       Ons sien hier ’n bose kringloop in aksie - as die mens in onvrede met die wêreld leef, kan hy nie vrede in homself hê nie en wanneer hy nie vrede in homself het nie, sal hy vyandiggesind wees jeens die wêreld. Trouens as jy nie vrede in jou self het nie, sal jy kwaad wees vir God en dit is presies wat ook hier met Nebukadneser gebeur, want die raadgewers sê vir hom dat dit wat hy van hulle verwag, net die gode kan doen en natuurlik weet ons dat dit net God Almagtig is wat dit kan doen (v.11) en wat is die reaksie by Nebukadneser? Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring (v.12). Nebukadneser bal sy vuis in die gesig van God Almagtig, omdat hy nie sy sin kan kry nie, omdat hy steeds in onsekerheid verkeer; omdat hy sy vertroue in die wêreld vestig; omdat hy ongenaakbaar en vyandiggesind is.

4.    DANIËL SE REAKSIE:
       Daniël kom gou te hore wat hulle lot gaan wees en as ons in gedagte hou dat hy en baie van sy volksgenote minder as drie jaar vantevore op hardhandige, en traumatiese wyse uit hul vaderland weggevoer is, kan ’n mens maar net dink hoe hierdie jongman skielik met angs vervul kon gewees het, maar Daniël tree, in teenstelling met hoe die wêreld sou reageer, vinnig op en hy tree in wysheid en met geloof in God op. Hy rig ’n versoek tot Nebukadneser om die voltrekking van die vonnis uit te stel, omdat hy die koning se droom sal uitlê. Voor hy egter dadelik met ’n uitleg vorendag kom, wend hy homself eers tot Sy hemelse Vader vir genade en leiding om die droom te kan uitlê. Hier is geen sprake van arrogansie en grootdoenerigheid by Daniël te bespeur nie. Nee, hy maak sy absolute afhanklikheid van God Almagtig bekend en hy bid saam met sy vriende tot die Here om hulp – en die uitkoms?

       Wat hier opval, is dat Daniël se smeek om genade (v.18), ’n ego is van Salomo se gebed tydens die toewyding van die Tempel in 1 Kon.8:50 en dat dieselfde Hebreeuse woord in beide gevalle gebruik word, nl. rahamim en die betekenis van beide hierdie gebede is ’n versoek; ’n smeking, dat God getrou aan Sy Woord en beloftes sal wees en hulle in hul oomblik van nood, uit die hand van hul vyand sal red. Net soos Salomo, het ook Daniël en sy vriende, God onvoorwaardelik geglo en vertrou dat Hy hulle wel sou verlos.

       Die Here openbaar Sy almag, deur Nebukadneser se hart sag te maak vir Daniël se versoek om uitstel, want toe die wêreldse raadgewers, "gespeel" het vir tyd het Nebukadneser woedend geword, maar nou gee hy toe en verleen uitstel aan Daniël.

       Die Here toon verder Sy liefde en genade vir Sy kind, deur alles aan Daniël te openbaar wat nodig is om die koning tevrede te stel en om hom en sy vriende se lewens te spaar. Wat Daniël natuurlik nog nie geweet het nie, is dat hierdie gebeure die begin was van baie groter dinge wat op hom en sy vriende gewag het (vv.19-23).   

5.    DANIËL BESING GOD SE KARAKTER:
       Nadat die Here die geheim van Nebukadneser se droom aan Daniël geopenbaar het, het Daniël in vv.19-23, God geloof vir Sy mag en wysheid.

       Ons moet verstaan en Daniël het verstaan, dat God en net God alleen oor die mag beskik om wêreldgebeure te beheer. Die toekoms van Babel het nie in die hande van die Babiloniese afgode gelê nie – daardie gode wat nie oor die vermoë beskik om te seën, óf te vervloek nie, trouens daar is geen aardse god wat vergelyk kan word met die lewende en ewige Skepper God nie, trouens Hy sê self in Jes.46:5-10 ~ Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan ’n vergelyking met My deurstaan? 6Mense gooi goud uit hulle geldsak uit en weeg silwer op ’n skaal af; hulle huur ’n goudsmid, en hy maak daarvan ’n afgodsbeeld. Dan buig hulle voor hom en aanbid hom. 7Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom, hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar, hy kan nie van daardie plek af padgee nie. As iemand na hom roep, antwoord hy nie, hy help hom nie uit sy nood nie. 8Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. 9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. Daniël het geweet dat daar geen ander god soos die lewende God is nie en daarom het hy homself in die eerste plek na Hom gewend en nou loof en prys hy die enigste ware God vir Sy verlossing.

       Ek het gesê dat God wêreldgebeure beheer, maar Hy openbaar dit ook aan Sy diensknegte. Hy skenk wysheid  aan die wat dit nodig het en Hy openbaar dit wat nodig is t.o.v. die toekoms aan Sy kinders, soos in Daniël se geval. Hierdie feit staan so in skrille kontras met dít wat die Babiloniese raadgewers vir Nebukadneser gesê het, toe hulle in v.11 gesê het ~ Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie... "behalwe die gode" – en hulle woon nie onder mense nie, m.a.w. hulle gode is so ver verwyder van hulle af, dat hulle nie eers met die mens kan praat nie. Daniël se God lewe egter en Hy kán met Sy kinders praat en Hy doen dit inderdaad ook. Daar ís maar net een God en niemand is soos Hy nie.

       Hierdie is nie ’n feit wat net gegeld het vir Daniël en sy vriende nie – hierdie is ’n waarheid wat ons in ons dag ook moet vashou wanneer ons na antwoorde en oplossings soek, want daar is soveel stemme; soveel wêreldse wysheid en krag wat ons denke en ons fokus – ons geloof, so maklik kan verduister en besoedel. Soms kom dit in die vorm van mense wat God openlik verag en verwerp; soms in die vorm van vroom godsdienstigheid; of waar gesê word dat die seisoen van die Woord en prediking verby is en daar nou op mistiese en "New Age-wyse" gemediteer word en jou innerlike self verlig kan word deur te teer op allerlei Oosterse geloofservarings en metodes. Soms is dit in die vorm van wêreldse seminare en "quick-fix" planne wat aan ons opgedring word; in "postive confession", ens. Die wêreld se wysheid en oplossings lyk baie dikwels so mooi; so goed; so aantreklik; so eenvoudig, dat ons maklik "val" daarvoor – veral as bekendes en vooraanstaandes en selfs teoloë aan bekende universiteite dit propageer.

       Wat hierdie mense vergeet, is dat hul planne en "wysheid" en pogings, gegrond word op presies dieselfde verganklike idees as dié waarop Nebukadneser en sy sterrewiggelaars hul planne en "wysheid" gegrond het – dit kom alles tot niks! Hoe kan dit tot enige iets kom as hulle die bestaan en die soewereiniteit van God Almagtig ontken en ignoreer – Hy wat alles geskep het en alles beheer ~ Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (Spr.1:7).

       Daniël loof en prys die Here egter ook vir die feit dat God dié Een is wat ...tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel (v.21a). Daniël het hierdie feit geken, nl. dat konings kom en gaan, omdat hy die woorde van die profesie van Jesaja goed moes geken het en daarom loof hy die Here vir Sy soewereiniteit ~ God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek, oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. 23Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. 25Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige (Jes.40:22-25). God is in beheer van alles en almal – ook die alledaagse, maar ook van ’n regering wat ons, in ons dag moontlik mag frustreer ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. (En dan hierdie woorde) – Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Rom.13:1).

       Daniël het egter nie net God se almag besing nie – in v.22 besing hy ook die feit dat God alwetend is. Daniël loof die Here omdat Hy, ...ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is. Verborge en ondeurgrondelike dinge soos die mens (ons) gedagtes wat weggesteek kan word vir andere, maar nie vir God nie. Hieroor sê Dawid in Ps.139:4-6, o.a. die volgende ~ Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
      
       Nebukadneser het gedink dat hy sy droom geheim gehou het vir selfs die waarsêers, maar hy het nie rekening gehou met die alwyse en alwetende God nie!

       Die besef dat ons Here alwetend en alwys is, behoort vir ons geweldig vertroostend en versterkend te wees, want wanneer ons nie herwaarts of derwaarts weet nie, sal Hy ons lei, want Hy weet wat Sy wil vir ons is. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons dat Hy die toekoms in Sy hande hou.

       Ons moet egter ook terselfdertyd besef dat God te alle tye die duistere dinge in óns lewe raaksien en daarom moet ons o.a. Paulus se oproep in Kol.3:8-10 baie ernstig opneem ~ Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.

       In v.23 sien ons dat die Here reageer op Daniël se gebedsversoek en sy lofuitinge en Hy het nie alleen die inhoud van die droom aan Daniël geopenbaar nie, maar Hy gee ook die uitleg van die droom aan Daniël en daarvoor loof en prys Daniël Hom.

       Hoe openbaar God Homself aan ons in hierdie dae? Deur Sy Woord en die vraag is: Wat maak ons met God se openbarings aan ons? Vertrou ons dit? Glo ons dit? Eer ons Sy Naam daarvoor? Pas ons dit toe in ons lewe? 

6.    AFSLUITING:
       Nog iets wat ons uit hierdie optrede van Daniël kan en moet leer, is dat hy die oomblik toe hy gekonfronteer was met ’n krisis in sy lewe, hy nie gedoen het wat ons so dikwels doen nie – nee, hy het heel eerste na Sy Hemelse Vader gegaan. Vir hom was die aanhaling van Jonathan Edwards ’n absolute waarheid en realiteit: Lord, stamp eternity on my eye-balls".

       Ons is so geneig om altyd eers die heel ergste in die situasie te sien en allerlei nagmerries oor die uitkoms van die situasie te sien en te bedink. Of ons maak gou ons eie plannetjies en neem besluite, sonder om ons Hoë Priester eers daaroor te raadpleeg. Ons mors ure en dae en weke en maande en soms selfs jare om ongelukkig te wees; bitter te wees; tyd te mors op wêreldse dinge wat nie is nie en wat nooit sal wees nie (’n beter werk; "potholes"; korrupsie; mense wat my teleurstel; ens., ens.). In werklikheid bal ons ook die vuis teen God soos wat Nebukadneser gedoen het, in plaas daarvan om alles teen die agtergrond van die ewigheid te sien en ons te onderwerp aan God se soewereine wil en plan met ons lewe en Sy eer in die proses te soek.

       Ons moet ten alle tye, ongeag hoe groot of hoe klein ons krisis is; of die besluit wat ons moet neem, heel eerste na ons Voorspraak en Hoë Priester, Jesus Christus gaan.

       As ons, ons harte en ons gedrag, of optrede wil laat beïnvloed en verander deur die Evangelie, is dit belangrik dat ons, ons gevoelens en gedagtes en emosies, op die regte wyse sal hanteer – ons moet ons gedagtes rig op God se ordes – op Sy Woord met ander woorde. Ongelukkig mis ons so baie, want ons het in ’n groef verval deur maar sommer alles net gou-gou self uit te sorteer en/of ons emosies die loop te laat neem oor die situasie. C.J. Mahaney som dit baie mooi op as hy sê: "We let our feelings tell us what is true, instead of letting the Truth transform our feelings." Wanneer ons, ons gevoelens en eie idees oor ons omstandighede vertroetel gee ons ’n groter prioriteit daaraan as aan die geskrewe Woord.

       Die opneem van my kruis BEGIN waar ek my gevoelens; my emosies; my onsekerhede en my worstelinge, onderdanig maak aan God en Hom vra en vertrou dat Hy Sy Woord en wat Hy sê, my sal laat beheer  en nie sal toelaat dat my eie gedagtes en gevoelens dit  doen nie.

       Laat ons die Psalmdigter se woorde in Ps.42:12 ons eie maak ~ Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! Kom ons bid ook die woorde van Dawid in Ps.43:3-5 gereeld vir onsself en vir mekaar ~ Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! 4Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God! 5Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 21 Julie 2013