Sunday, August 11, 2013

Die Boodskap van Daniël - 06 (Die Vuurproef)


1.    SKRIFLESING:
       Die vorige hoofstuk van Daniël het afgesluit met Daniël wat baie geskenke ontvang het en as hoof van al die koninklike raadgewers aangestel is en op sy versoek ...het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

       Daniël 3:1-30 ~ Koning Nebukadnesar het ’n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel. 2Toe het hy opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaar moes kom vir die wyding van die beeld wat die koning laat oprig het. 3So het al die hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan. 4’n Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word beveel: 5Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid. 6Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in ’n brandende oond gegooi word.” 7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid. 8Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het. 9Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe! 10U het ’n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in ’n brandende oond gegooi word. 12Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.” 13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14en Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 15Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ’n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?” 16Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” 19Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. 23Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval. 24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” 25Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ’n hemelwese!” 26Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom. 27Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie. 28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid. 29Daarom vaardig ek ’n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis ’n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.” 30Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.

2.    DIE GOUE BEELD:
       Waarskynlik steeds onder die indruk van die droom wat koning Nebukadneser gedroom het, sien ons in v.1 dat hy ’n reuse beeld in die Duradal laat oprig. Die naam van die beeld word nie in Daniël bekend gemaak nie, maar was wel ’n verteenwoordiging van Nebukadneser, of van sy god of gode. Wat egter duidelik was, is dat hierdie beeld deur die grote Nebukadneser opgerig was – ons sien dit kort-kort in hierdie hoofstuk, nl. dat die mense se aandag daarop gevestig word, dat dit hy is wat die beeld laat oprig het (vv.1-3, 5, 7, 12, 15, 18). Al was die beeld dan verteenwoordigend van een van Babilon se gode, was daar geen twyfel wie agter die oprigting daarvan gesit het nie – Nebukadneser!  

       Die verskil tussen hierdie beeld en die beeld van sy drome, was dat hierdie beeld in totaliteit van goud gemaak was en sy motivering hiervoor was waarskynlik om as teenvoeter te dien vir die beeld waarvan hy gedroom het – ’n standpunt waarin hy wou verklaar dat daar in teenstelling met die beeld van sy droom en die uitleg daarvan, geen einde aan sý koninkryk sal kom nie en dat sý heerlikheid; sý grootsheid ook vir altyd sal voortduur.

       Die Duradal waar die beeld opgerig was, is dieselfde dal waar die Toring van Babel gebou was (Gen.11:2). Die motivering vir die bou van die Toring van Babel, was tweeledig van aard en dit is veelseggend dat die oprigting van Nebukadneser se beeld, op presies dieselfde motivering gegrond was, nl.:
·           Om ’n blywende naam en indruk te maak vir die oprigters daarvan, sodat daar altyd aan hulle gedink kan word – is dit nie maar presies dieselfde as wat die wêreld tans poog om met Mandela te doen nie – om dit in Engels uit te druk, "to create a lasting legacy to his glory"!

       Nebukadneser wou ook sy naam verewig in die anale van die wêreldgeskiedenis – daarom dat hy opdrag gee aan al die ...amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste (en) al die hoofamptenare om die wyding van die beeld by te woon (v.3). Hierdie uitgelese groep mense was verteenwoordigend van die volke van die wêreld.
·           Om te verhoed dat die mense/nasies deur die wêreld heen sal versprei – lynreg teen God se opdrag in Gen.9:7 (OAV) ~ Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop. In Gen.11:4b word hierdie motivering vir die bou van die Toring ook geïmpliseer ~ Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie. Nebukadneser wou almal verenig onder die Babiloniese koninkryk en hy doen dit deur opdrag te gee dat almal in die land die beeld moet aanbid – ’n opdrag wat hy, indien nodig, met die dood sou afdwing (v.6). Ons sien dan ook in die geskiedenis, dat hierdie Babiloniese Ryk inderdaad bestaan het, maar tragies, net soos in die geval van Babel, het Nebukadneser se Babiloniese Ryk ook nie lank bestaan nie – slegs vir 86 jaar – die kortste van al die groot Ryke!

       In v.4 gee Nebukadneser opdrag aan ...alle volke, nasies en taalgroepe, om die beeld te aanbid wanneer hulle ...die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, (en) ander blaas- of musiekinstrument(e).

       Uit hierdie gebeure blyk twee dinge baie duidelik:
·           Nebukadneser het oor geweldige mag beskik: Onthou dat God hierdie mag aan hom gegee het (2:37), maar hy het dit misbruik; hy het dit gebruik om die aandag op hom te vestig in plaas daarvan dat hy sy mag gebruik het om eer aan God te bring – Nebukadneser verplaas die lewende God van hemel en aarde, met ’n magtelose, dooie en verganklike afgod! Hy tree in die woorde van 4:27 sondig en in ongeregtigheid op, in plaas daarvan dat hy vanuit sy rykdom, barmhartigheid bewys aan dié wat in nood is, maar hy gebruik sy skatte om eer aan ’n beeld te bring en ten diepste word Nebukadneser die objek van aanbidding, i.p.v. God – sy sonde is niks anders as Godslastering nie – Paulus waarsku ook in Rom.1:25 hierteen, wanneer hy sê ~ Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig.

       Ons moet onsself afvra, of ons altyd regtig so ver verhewe is bo hierdie sonde van Nebukadneser? Is daar nie maar ook iewers iets, of selfs iemand in ons lewe wat ’n objek van aanbidding vir ons is, in plaas van God nie? Trouens Godslastering is ten diepste die "moedersonde" van alle sonde – dit is die mees natuurlike begeerte in die mens se hart en manifesteer meestal baie subtiel in ons lewe en dit vind meestal in die "geheim" plaas – daar waar mense nie sien nie en waar ons gerieflikheidshalwe vergeet dat God dit wel kan sien. Die vraag is of ons God beroof van Sy eer en heerlikheid deur ons aanbidding van die self en ander dinge of mense?

       Daar is egter ’n tweede rooilig wat vir ons deur hierdie gebeurtenis in die Duradal flikker – dit is dat ons ook soos die Babiloniërs mag dink, nl. dat aanbidding ’n estetiese effek moet hê, m.a.w. dat daar ’n behoorlik afgerigte orkes en koor moet wees, dat daar (soos in sommige kerke) selfs flikkerligte (of is dit nou diskoteekligte?) moet wees en allerlei ander bykomstighede en by-effekte! Die "Duradal-aanbiddingsgeleentheid" was gekenmerk deur die estetiese – trompette, fluite, liere, harpe, ens. (v.4).

       Hoe wil God hê dat ons Hom moet loof en aanbid? Joh.4:23 (OAV) ~ God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die fokus moet op Hom gevestig wees en nie op die "band" (orkes) en alles wat daarmee gepaard gaan nie.
 
·           Nebukadneser was godsdienstig, maar sonder ware bekering en aanbidding van die lewende God: Nadat Daniël die droom aan Nebukadneser uitgelê het, het hy wat Nebukadneser is, diep voor Daniël gebuig (2:46) en verklaar dat God die grootste van alle gode is (2:47). Hy het dus geweet dat hy in die teenwoordigheid van "die God van alle gode" is – hy het egter net vir ’n wyle – op daardie oomblik, afgewyk van sy selfverheerliking, want hier in hoofstuk 3 is hy maar net weer waar hy was – Hy die grote koning. In plaas daarvan dat hy ’n nuwe hart ontvang, kies hy om steeds die hart van vlees te behou (Eseg.36:26). Op die oog af het hy verander, maar in sy hart was daar geen verandering nie. Dit laat ’n mens dink aan die woorde van die Here Jesus in Mark.4:19 ~ ...maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Van die woorde van Paulus in Gal.5:22-25, was daar ook geen sprake nie ~ Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

3.    DIE VUURPROEF:
       Ons lees in vv.8-12 dat sekere Galdeërs vir die koning gaan vertel het dat Daniël se vriende, Nebukadneser se opdrag ignoreer om die beeld te dien en te aanbid en hulle herinner hom daaraan dat diesulkes in ’n vuuroond gegooi moes word. By die aanhoor van hierdie nuus het Nebukadneser woedend geword en nadat hy die driemanskap gekonfronteer het en hulle nog ’n kans gegee het om die beeld te aanbid, antwoord hulle hom deur vir hom te sê dat hulle, hul God aanbid – wat meer is, hulle daag hom uit, deur vir hom te sê dat húlle God hulle uit die brandende oond sal red, asook uit die mag van Nebukadneser.

       Nadat die jongmanne dit vir hom gesê het, het die koning woedend geword en opdrag gegee dat die oond nog warmer gemaak moes word en dat Sadrag, Mesag en Abednego daarin gegooi moes word.

       Geen gebeurtenis in die Bybel illustreer die opdrag van die latere apostels mooier as juis hierdie gebeurtenis nie – die apostels het in Hand.5:29 gesê ~ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! – Hierdie manne was meer gehoorsaam aan God. Toe hulle gekonfronteer word met die keuse om te buig of te brand, het hulle nie ’n oomblik geweifel nie, maar vir die koning gesê, "...ons is eerder aan God gehoorsaam as aan jou."

       Wat opmerklik hier is, is dat Daniël se naam nie in hierdie gedeelte van die verhaal vermeld word nie en ons weet nie regtig waarom nie – die enigste moontlike verklaring hiervoor is dat Daniël dalk op daardie stadium in ’n ander deel van die koninkryk besig was met een of ander opdrag en dat hy nie naby die beeld gesien was en derhalwe verkla kon word nie. Daar bestaan egter geen twyfel daaroor dat Daniël saam met sy vriende sou weier om die knie voor die beeld te buig.

       Iets wat vir ons uit hierdie gedeelte konfronteer is die woorde van Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God en dan ook die "minder bekende" woorde van Titus 3:1 ~ Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Het Daniël se vriende in hierdie verhaal, kontra hierdie opdragte opgetree? Wat staan ons te doen in ’n soortgelyke situasie?

       Is daar nie ’n teenstrydigheid hier tussen Rom.13:1 en Titus 3:1 aan die eenkant en Hand.5:29 aan die anderkant nie? Dit is so dat ons die staat moet gehoorsaam, omdat dit die gesag is wat vir die oomblik deur God daargestel is om oor ons te heers, máár die feit dat hulle deur God daargestel is, impliseer nié dat hulle absoluut outonoom, m.a.w. los van God, kan doen wat hulle wil nie – hulle beskik nie oor onbeperkte magte en regte nie, want hulle is verantwoording verskuldig teenoor Hom wat hulle daargestel het en hulle moet in afhanklikheid aan Hom regeer – of hulle Hom erken of nie. Dit het tot gevolg dat gelowiges die staat aan hulle verantwoordelikheid voor God moet herinner en daarom moet ons as gelowiges dit in woord en daad doen en as die staat nie binne God se ordes optree nie, kan en moet ons gehoor gee aan Hand.13:1, nl. dat ons ...eerder aan God gehoorsaam (moet) wees as aan mense.

       Wat het dit vir Sadrag, Mesag en Abednego moontlik gemaak om vas te staan, sodat hulle vir die koning kon sê ~ Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie? Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle het geweet dat hulle God soewerein is: Uit hierdie mans se reaksie op die koning se dreigement, het dit glashelder geblyk dat hulle onverskrokke in God se soewereiniteit geglo het ~ Ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag (v.16). Hulle het onwrikbaar geglo dat God soewerein is en daarom het hulle, hul totale lewens aan Hom toevertrou – wat ook al mag gebeur. Is ek en jy op dieselfde plek my broer en suster? Is ons op ’n plek waar ons so onwrikbaar vashou aan God se soewereine beheer oor ons lewe, dat ons bereid sal wees om enige beproewing wat God oor ons pad bring te aanvaar as Sy wil vir ons lewe? Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle het die Woord geken: Omdat hulle die Woord geken het, het hulle geweet dat God afgodediens verbied en daarom het hulle geweier om toe te gee aan die koning se eise. Dit is die rede waarom ons ook die Woord moet ken, want alles is nie swart-wit aangeleenthede waar ons dadelik kan weet of ons mag of nie en of ons moet of nie – daarvoor het ons kennis van die Woord nodig, sodat ons kan beoordeel of ons, ons moet onderwerp aan die owerhede, of aan God – die enigste betroubare bron om ons in sulke situasies te help, is die Woord van God – ons het Woensdag gekyk na die hele saak van surrogaatmoederskap – as ons nie kennis van die Woord het nie kan ons nie ’n ingeligte besluit en standpunt inneem daarvoor of daarteen nie. Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle was bereid om te sterf vir hul geloof en oortuigings: Hierdie is ’n baie belangrike punt, want ons kan glo dat God soewerein is en ons kan oor al die kennis van die Skrif beskik, maar as ons nie bereid is om kompromieloos "ons staan te staan" nie, kan ons nie saam met Paulus sê ~ As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).

       Nadat die drie jongmanne vasgestaan het en geweier om die knie voor Nebukadneser en sy beeld te buig, gee hy opdrag dat hulle in die vuur gegooi moet word. Dit is so ironies dat die lyfwagte wat die koning se opdragte uitvoer, sterf as hulle Daniël se vriende in die vuur gooi, maar hulle wat nié die koning se opdrag uitgevoer het nie, kom niks oor nie (vv.22) – wat ’n pragtige illustrasie van wat Jesus in Matt.16:25 vir ons leer ~ ...want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

       Behalwe vir die feit dat die drie manne ongeskonde in die vuuroond rondloop, sonder dat hulle klere eers brand, gebeur daar egter nog iets meer indrukwekkend – toe Nebukadneser by die oond inkyk, sien hy vier figure in die vuur – een meer as wat ingegooi is! Wie was dit? Ons weet nie - wat ons egter wel weet, is dat dit ’n duidelike teken van God se teenwoordigheid by hulle was. Wat hier gebeur het, was ’n vervulling van wat die Here vir Sy volk, bykans 200 jaar vantevore gesê het deur Sy profeet Jesaja ~ As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder (Jes.43:2-3a).

       Wat vir ons hier belangrik is om van kennis te neem, is dat God nie gesê het dat Hy Sy volk óm die waters en óm die vuur sal lei nie, maar dat Hy bý hulle sal wees wanneer hulle deur die water of die vuur gaan! Dit laat my weer dink aan die woorde van J.C. Ryle wat ek so ’n week of wat gelede hier op die muur vertoon het: "Trials are intended to make us think, to wean is from the world, to send us to the Bible, to drive us to our knees." Beproewing sal altyd deel wees van God se kinders ~ Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê (Hand.14:22). Petrus sê in 1 Pet1:6-7 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Die troos en bemoediging wat ons egter het, is die belofte van Jes.43:2-3 waarin God sê dat Hy saam met ons deur die water en die vuur sal gaan.

       Hierdie belofte van God dat Hy altyd by ons sal wees, het sy vervulling bereik met die koms van die Here Jesus Christus – in Hom het die Emmanuel-belofte ("God met ons"), vlees geword en het Hy in hierdie lewe ervaar wat ons ervaar en nog meer, sodat Hy nou vir ons die Trooster kan wees; dié Een wat vir ons intree by die Vader. Hy het ook gekom, sodat Sy Koninkryk op aarde gevestig kon word en dat ons deel daaraan kan hê ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).

       Wat die Toring van Babel en Nebukadneser wou vermag, maar wat jammerlik misluk het, was om ’n ewige naam vir hulself te maak en die nasies van die wêreld onder een koninkryk te vestig. Jesus Christus het dit egter vermag ~ Op sy klere, by sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers (Openb.19:16). Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande (Openb.7:9).

       Die drie jongmanne het ongeskonde deur die vuurproef gegaan omdat God by hulle was en Nebukadneser was so stomgeslaan toe hy dit sien, dat hy na hulle roep en sê dat hulle uit die vuur moes kom. Hy is só beïndruk met die jong Judeërs se God dat hy uitroep ~ Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid (v.28) en in v.29b sê hy ~ ... Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie. Hy gee terselfdertyd opdrag dat niemand minagtend van die Judeërs se God mag praat nie en die ~ ...koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel (v.30b) – hierna sal ons nie weer van Sadrag, Mesag en Abednego hoor nie, want dit gaan nie in hierdie verhaal oor mense nie, maar oor God en Sy heerskappy. Hierdie drie manne maak deel uit van die naamlose geloofshelde van Hebr.11, maar die fokus in Daniël is op God gevestig. Hierdie drie manne maak deel uit van die naamlose geloofshelde van Hebr.11, maar die fokus in Daniël is op God gevestig.
      
       Ons moet ons nie laat mislei deur hierdie uitspraak van Nebukadneser waarin hy lof en erkenning aan God bring nie, want dit dui nie noodwendig op ’n opregte bekering aan sy kant nie. Ons sien op verskeie plekke in die Woord dat mense eer aan God bring, sonder opregtheid en baie dikwels het hulle dit gedoen omdat hulle gedwing was om God se soewereiniteit te erken (bv. Jos.7:19; 1 Sam.6:5; 1 Pet.2:12 en ander). Ons het ook reeds in Dan.2 gesien dat Nebukadneser God se soewereiniteit erken, maar dat dit net tydelik van aard was. Die bewys van ware en opregte bekering word gesien in die vrug wat so ’n persoon dra (Matt.12:33).

            Dit is so ironies dat Nebukadneser dieselfde dreigement rig tot sy onderdane as wat hy tot hulle gerig het met die onthulling van sy beeld – as jy nie eer bring aan die Judeërs se God nie, gaan jy ~ ...in stukke gekap word en van jou huis sal ’n puinhoop gemaak word (v.29). Mense het hulle nie aan sy eerste opdrag gesteur nie – hulle sou hulle ook nie aan sy tweede opdrag steur nie – trouens, selfs Nebukadneser sou hom nie daaraan steur nie, want die Here God was nog steeds nie die God van Nebukadneser nie. Net soos vandag, is daar baie mense wat beïndruk is met mense se geloof, maar self dien hulle nie die Here nie.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 11 Augustus 2013