Sunday, May 13, 2012

Die Doring in My Vlees - 04 (My Verlede – Begrawe in die Verlede)

1.     INLEIDING:
       Almal van ons ken mense wat verkeerde besluite in hul lewens geneem het, net om die res van hulle lewe daaroor te kerm en te kla en alles en almal rondom hulle te verwyt, of gedurig daaroor te praat en op die ou einde ’n verbitterde ou man of vrou te raak. Aan die anderkant ken ons sekerlik ook mense wat verkeerde besluite geneem het in hul lewe, maar nie in ’n "gat van verbittering" bly sit nie, maar eerder die beste van ’n slegte situasie maak en uiteindelik ver bo sy of haar aanvanklike omstandighede uitstyg.

       Die vraag is, of ons gaan toelaat dat ons verlede ’n negatiewe of positiewe impak op ons lewe gaan hê. Die groot verskil tussen hierdie twee moontlikhede, is of ons in ons eie vlees en op sondige wyse, kies om in die modder te bly lê, of om te kies om ons beproewing met die hulp van God op te los en agter ons te sit, want sonder Hom kan ons dit nie alleen doen nie, omdat ons maar gedurig weer sal terug dink aan die verlede met sondige gedagtes.

       Verlede week het ons gesien hoe om ons beproewing – ons “dorings”, op ’n Bybelse wyse op te los en agter ons te plaas – ek wil egter net daarop wys, dat pyn en hartseer, nie  noodwendig in ’n oogwink soos mis voor die son sal verdwyn nie. Die verlede bly tog immers ’n realiteit en deel van ons langtermyn geheue, maar die belangrike is dat ons, ons verlede op ’n Bybelse wyse sal hanteer en sal toesien dat ons nié in die proses van beproewing, sondig nie.

       ’n Nog meer belangrike vraag is egter of ons toegerus en voorbereid is op toekomstige beproewing, ten einde dit reg te hanteer wanneer ons daarmee gekonfronteer word – dit is amper soos met mense wat sukkel om hul gewig op ’n aanvaarbare vlak te hou – “val” jy elke keer daarvoor om maar net weer ’n lekker vars gebakte wit broodrolletjie met turksvystroop te eet, al het jy al twee gehad, of het jy ’n “mental make-up” wat elke keer vir jou sê: Die tydelike genot om ’n derde rolletjie te neem is net nie die moeite werd wanneer dit opgeweeg word teen die langtermyn stryd om daardie ekstra kilogram of twee af te skud nie?  

       Ons moet in gedagte hou, dat :
·           Vandag se reaksie word môre se gewoonte;
·           Vandag se keuse word môre se invloed;
·           Vandag se woede word môre se bitterheid;
·           Vandag se gedagtes word môre se oortuigings;
·           Vandag se begeertes word môre se afgode en
·           Vandag se keuses word môre se gevolge.

       Salomo het in Spr.4:23 gesê ~ Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Wanneer jy jou reaksie op vandag se potensiële doring oorweeg, moet jy in die gewoonte kom, om altyd eers te vra: Wil ek regtig die gevolge van hierdie of daardie reaksie, in my hart ronddra?

       Paulus sê in 1 Kor.15:3-4 ~ Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Let op wat hy sê – hy sê ~ Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het... – die belangrikste...! Die O.A.V. sê ~ ...In die eerste plek.... Die E.S.V. sê ~ ...of first importance.... C.J. Mahaney is reg wanneer hy sê: Paul simply refused to be pulled away from the Gospel. The cross wasn’t merely one of Paul’s messages; it was the message. He taught other things as well, but whatever he taught was always derived from, and related to, the foundational reality that Jesus Christ died so that sinners would be reconciled to God. Presies dít moet ook ons uitgangspunt wees; presies dít moet ook ons denkpatrone wees; presies dít moet ook ons optrede wees – die kruis van Jesus Christus moet ook ons boodskap wees – moet die spilpunt wees waar rondom ons besluit hoe ons reageer op die “dorings” wat oor ons pad mag kom.

       Ons vind genadiglik verskeie beginsels in die Woord om ons te help om beproewing te hanteer en dan spesifiek ook daardie beproewinge wat oor ons pad kom waar ons nie die omstandighede oor onsself gebring het nie, maar waar ons nogtans verkeerd gereageer het – sulke verkeerde optrede kan óf reg hanteer word en ons in ’n nóg beter verhouding met Jesus te staan bring, óf ons kan só fokus op die seer van die verlede wat deur andere veroorsaak is, dat ons onbybels daarop reageer.


Onskuldig


Jou  Reaksie…

  




Jou  Reaksie…
Verkeerd

(Jy bring nie jou omstandighede oor jouself nie, maar jy reageer nogtans verkeerd)



       Wanneer ons na hierdie "blok" kyk, moet ons besef dat dit  nooit maklik is om jou foute of sonde te erken wanneer daar teen jou gesondig is nie – om egter op ’n punt te kom waar jy jou foute, sonde en tekortkominge erken, is ’n reuse stap vorentoe, want God gebruik juis dít om jou verhouding met Hom nog verder te ontwikkel – ons moet dus die vermoë ontwikkel om eerlik te erken wanneer ons gefaal het. Ons moet leer om ten minste ses vrae te vra oor hoe ek gereageer het op iemand se sondige optrede teenoor my:
·           Eerstens moet ek myself afvra of ek kwaad met kwaad vergeld het?
·           Tweedens, het ek bitterheid teenoor God ontwikkel?
·           Het ek ’n onbybelse siening van ander mense ontwikkel?
·           Het ek ’n onbybelse siening t.o.v. myself gevorm?
·           Moet ek die persoon konfronteer wat teen my gesondig het en indien wel, het ek?
·           Indien jy die ander persoon gekonfronteer het, wat teen jou gesondig het, het jy hom vergewe indien hy jou om vergifnis gevra het?

2.    KWAAD MET KWAAD VERGELD:
       Kom ons kyk na die eerste vraag hier, nl. het jy kwaad met kwaad vergeld en daarvoor wil ek hê ons moet na Rom.12:17-21 blaai ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
      
       Uit hierdie gedeelte is dit baie duidelik dat Paulus veronderstel dat ons deur andere benadeel sal word, maar die vraag is hoe ons dit gaan hanteer? Om kwaad met kwaad te vergeld is verkeerd, trouens Paulus sê net die teenoorgestelde, nl. dat ons goedgesind moet wees teenoor alle mense. Die mens se natuurlike reaksie is om iemand terug te betaal as hy te na gekom word – selfs al is dit net ’n kyk en erger nog, al is dit net wraak gedagtes, maar vergeld wil die mens vergeld! Die Woord is egter baie duidelik daaroor dat ons nooit mag vergeld nie – nooit nie! Ook nie deur handgebare of bose gedagtes wanneer ’n taxi skielik voor jou stop nie – nooit nie! Weerwraak is in die eerste plek ’n hartsgesindheid.

       Ons moet egter daarop let, dat dit nie beteken dat iemand wat teen jou gesondig het, in alle gevalle verontskuldig moet of hoef te word nie. Seksuele misbruik, moord, diefstal, oortreding van die landswette, ens. is bv. sake wat gevolge móét dra. Die sleutelvraag wat egter hier gevra moet word, is wat my motief met die aanmelding van so ’n misdaad is? Is dit ’n begeerte om God te behaag, of is dit ’n geval van ’n oog vir oog? Dit is waarom Paulus in v.18, hierdie woorde skryf ~ ... As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Dit maak m.a.w. nie saak wie wat doen nie, ons moet die vrede handhaaf deur nie op dieselfde wyse (of erger) op te tree as die ander persoon nie.

       In v.21 sê Paulus ~ Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Die woord "oorwin" is in die Grieks, νικάω (nikaō). Hierdie is ’n militêre uitdrukking en beteken letterlik om seëvierend te wees, of om in oorwinning te staan. God wil hê dat die bose oorwin sal word deur goeie dade. As jou vyand bv. honger is, moet jy hulle voed. As hy dors is, bied hom iets aan om te drink. Die probleem is dat die meeste van ons nie met welwillendheid reageer wanneer ons gekonfronteer word met onaangename, of bose optrede van ander nie.

       Indien jy nou sou sê dat dit nie maklik is om so op te tree nie, moet ons in gedagte hou dat Paulus in die eerste 11 hoofstukke van die Romeinebrief verduidelik dat a.g.v. die afgehandelde werk van Christus aan die kruis, dit moontlik gemaak is vir ons om vergifnis van God die Vader te ontvang en om een te word met Christus Jesus se dood en opstanding. Die klimaks van Paulus se verduideliking vind ons in vv.1-2 van Rom.12 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Die implikasie van hierdie verse is dat ons in Christus is en daarom beskik ons oor die krag om enige iets te doen wat die Woord van ons vereis, al is dit hoe  moeilik en dit impliseer dus dat ons nie op dieselfde wyse hoef te reageer as wat die wêreld op die bose, of teen mense wat ons te na kom, reageer nie.

3.    BITTERHEID TEENOOR GOD:
       Kom ons kyk na die tweede sondige optrede wat ons kan begaan wanneer daar teen ons opgetree word en ons sondig reageer en dit is bitterheid teenoor God.

Wat is bitterheid? ’n Kort definisie hiervoor sou kon wees: Bitterheid is woede wat na binne gekeer is. Sommige mense het bitterheid op hulle gesigte geskryf en wanneer hulle praat bevestig hulle woorde en gesigsuitdrukkings, dít wat in hulle harte leef! Hoe gebeur dit dat mense so raak? Ons kan maar net weer na die verhaal van Naomi verwys en spesifiek na haar bitterheid teenoor God wat by haar posgevat het na haar swaarkry in Moab – swaarkry wat sy nie oor haarself gebring het nie, maar wat sy verkeerd en sondig hanteer het – ons "tweede blokkie" het haar verlede geword, trouens dit het deel van haar totale wese geword.

A.W.Tozer het in sy boek "The Knowledge of the Holy", die volgende gesê: ...what comes into our minds when we think about God is the most important thing about us. Toe Naomi terug kom in Bethlehem het sy vir die vrouens wat haar herken het gesê ~ Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring (Rut 1:20-21). Naomi het gekies om bitterheid teenoor God te koester.

Die Hebreërskrywer sê in Hebr.12:15 ~ ...en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Gal. 5:19-21 is baie duidelik daaroor dat bitterheid, deel is van ’n sondige natuur en dan gaan Paulus voort in v.21b deur te sê ~ ...Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. Bitterheid is dus iets wat ons ernstige aandag verg en wat ons so gou as moontlik met wortel en tak uit ons lewe moet verwyder.

4.    ONBYBELSE SIENING VAN MENSE:
            Derdens moet ons onsself afvra of ons die korrekte siening van mense het – beskik ons oor ’n Bybelse siening van mense? Jesus sê ondubbelsinnig in Matt.23:37-40 dat ons, ons naaste moet liefhê – die probleem is dat sommige mense sukkel om diegene wat hulle te na gekom het, lief te hê. Byvoorbeeld, sommige vrouens wat deur hul mans mishandel is, se reaksie daarna is: Alle mans is so. A.g.v. hul ervaring, ervaar hulle probleme om op ’n normale wyse, interaksie met mans te hê. Om mense so oor dieselfde kam te skeer is sonde. Daarenteen moet ons kies om almal lief te hê (1Kor.13:1-4), al was jy mishandel, of finansieel "ingeloop", of wat ook al – God skenk aan Sy kinders die vermoë om lief te hê, as ons maar net vra daarom en dit in opregtheid najaag – m.a.w. as ons ernstig daaroor is om ons te bekeer, sal God ons help om ons naaste en ons vyande lief te hê.

5.    ONBYBELSE SIENING VAN JOUSELF:
Baie keer word afbrekende woorde oor ons, deur andere geuiter – Spr.18:21a sê ~ Die tong het mag oor dood en lewe. Ons kan nie ander mense se kommentaar oor ons beheer nie, maar ons kan kies om dit wat gesê word te glo en/of deel van ons lewe te maak en daarvolgens op te tree en derhalwe ’n onbybelse siening van onsself te ontwikkel, of ons kan kies om dit nié te glo nie en nié op dieselfde wyse oor onsself te dink nie.

Dit is wel so dat ons nie maar net die impak van sulke woorde teen ons kan negeer, of ontken nie – woorde soos toe ons dalk op skool gesukkel het en ’n onderwyser vir jou gesê het dat jy "stupid" is (ek kan onthou hoe my boekhou onderwyser eenkeer wat ek voor die skryfbord gestaan en sukkel het met ’n rekeningkundige probleem, my beenhare getrek het en terselfdertyd vir my gesê het: "Kom van der Waltjie, jou broer kon dit doen" – vandag, 45 jaar later onthou ek dit nog so helder soos daglig!). Ons moet egter leer om sulke (ook nou by nabaat) opmerkings te evalueer teen dit wat God van óns sê. Dit is wat Paulus bedoel het, toe hy in Rom.12:3 gesê het ~ Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. God kan en wil elkeen van ons help om onbybelse uitsprake oor ons en ook onbybelse denkpatrone t.o.v. onsself, te vervang met gedagtes wat waar en rein is - dink bv. maar net aan Gen.1:26-27 wat leer dat ons na die beeld van God geskape is! Laat dit jou nie in verwondering staan nie? Ek na die beeld van God geskape! Ons het die Heilige Gees as Trooster ontvang (Joh.14:16, 26). Luister net na hierdie pragtige waarheid ~ God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef.2:10) – en nog vele meer.
Gaan sit dus vir 'n verandering net bietjie stil en dink mooi na oor hoe God jou "deur die bloed van Jesus Christus" beskou - wie sien Hy? Wat sien Hy? Ons mag nie 'n verkeerde siening; 'n negatiewe; 'n afbrekende siening van onsself hê nie - dit is sonde!
6.    KONFRONTASIE VAN OORTREDER:
’n Baie belangrike vraag waarop ons ’n antwoord moet vind, is of ons diegene wie teen ons gesondig het, moet konfronteer daaroor al dan nie?

            Daar is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons hierdie vraag beantwoord.
·           Ons moet eerstens besef dat ons nie van volwassenes wat as kinders misbruik, afgetakel, verneder, of wat ook al was, kan verwag om soos volwasse gelowiges op te tree nie en daarom steek hierdie gebeure in ’n kind se gemoed vas en het dit ’n impak op sy lewe en kan so ’n kind nie altyd die "oortreder" konfronteer nie omdat dit te lank terug gebeur het, terwyl so ’n persoon eintlik gekonfronteer moet word.
·           Konfrontasie is ’n baie belangrike Bybelse beginsel. Die baie bekende Matt.18 is baie duidelik hieroor en dan spesifiek v.15 ~ As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Baie gelowiges reageer op sonde teen hulle, deur dit te ignoreer; of so ’n broer net af te sny; of oor so ’n persoon te begin skinder; ens. Sulke reaksies word "items" in ons "tweede blok" en dit raak al moeiliker (soos wat die tyd aanstap) om die oortreder te konfronteer.

       Dit is wel belangrik dat jy elke situasie biddend en individueel moet beoordeel ten einde te sien óf dit hanteer moet word en indien wel, hóé dit hanteer moet word. Dit is  ook belangrik dat die stappe in Matt.18 nagevolg sal word, wanneer jy iemand konfronteer en die persoon nie Bybels optree nie. Indien jy gewillig is om volgens Matt. 18 op te tree, kan jy met vertroue die woorde van Joh.7:17 vir jouself toe-eien ~ As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.

Wat doen jy as jy iemand nié kan konfronteer nie (bv. uit die verre verlede)? Jy moet die saak biddend voor die aangesig van die Here bring en vergifnis teenoor daardie persoon uitspreek en ook vergifnis vra vir jou (dalk jarelange) bitterheid en onvergenoegdheid en ongelukkigheid oor die persoon se optrede teenoor jou. Wanneer dit gedoen is, dank jy die Here vir die feit dat jy in Hom ’n nuwe skepsel is en nie meer die persoon wat jy was toe jy te na gekom is nie.

            ’n Ander vraag wat ons moet oorweeg, is wanneer ons wel iemand gekonfronteer het, maar wat nie vir ons om vergifnis gevra het nie. Daar is een kort antwoord op so ’n vraag: Ons gesindheid moet ten spyte van hul onbybelse optrede steeds een van vergifnis en liefde wees – ons moet vergewe al vra hul nie om vergifnis nie. Ons reaksie moet dus dié van Jesus wees toe Hy aan die kruis gehang het ~ Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk.23:34).

7.    HET EK VERGEWE INDIEN DAAROM GEVRA?
Jesus praat gereeld oor die belangrikheid daarvan om andere te vergewe – so sê Hy bv. in Luk.17:3-4 ~ Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”                 

Die laaste vraag wat jy, jouself dus moet afvra ten einde te weet hoe jy die verlede "op sy plek moet sit" – daardie verlede waar mense verkeerd teen jou opgetree het en waar jy ook verkeerd opgetree het, is om te vra of jy mense uit die verlede vergewe het wat jou om vergifnis gevra het? Indien jy nie bereid is om te vergewe nie, is jou voorland "blok 2" (sien diagram) en sal jou doring met jou wees tot jy bereid is om diegene wat om vergifnis gevra het, se belydenis te aanvaar – ons kan en mag net eenvoudig nie mense wat om vergifnis vra, se belydenis weier nie – hoe kan ons ooit verwag dat die Vader ons moet vergewe as ons nie bereid is om andere te vergewe nie? Mark.11:25 verskaf hier aan ons ’n baie duidelike antwoord ~ En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan  sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe. Die implikasie van hierdie vers, is dat ons vergifnis afhang van ons gewilligheid om andere te vergewe wat teen ons oortree! Hierdie feit behoort genoegsame rede vir ons te wees om seker te maak dat ons tweede blok "skoon gemaak sal word"!

8.    AFSLUITING:
Dit wat ek vandag met julle gedeel het, is voorwaar nie maklik nie, maar indien ons na die beeld van God geskape is en as ons onsself gelowiges noem wat hervorm is na die beeld van Christus, moet ons soos Christus optree. Paulus leer ons in Ef.4:24, dat ons ~ ...as nuwe mense (moet lewe) wat as die beeld van God geskep is: en daarom moet ons volkome volgens die wil van God (lewe) en heilig (wees).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag,  13 Mei 2012