Sunday, May 13, 2012

Die Doring in My Vlees - 02 (My Verlede – My Goeie Vriend)


1.    INLEIDING:
Ons het verlede Sondag gekyk na vier voorbeelde uit die Skrif van mense wat op verskillende wyses, terug verwys het na hul verlede en dat ons ook die vrymoedigheid kan neem om ons harte oop te maak teenoor die Here oor ons verlede – ons mag ook vrae vra aan die Here; ons mag ook ons lot teenoor Hom bekla.

Ons verlede kan baie maklik ons grootste vyand in hierdie lewe wees – ’n vyand wat ons lewensloop verander; wat ons persoonlikheid baie keer radikaal beïnvloed en selfs rig; wat sonde in ons lewe laat wortel skiet; wat ons bitter kan maak. Ons het egter ook gesien dat ons verlede nie noodwendig ons grootste vyand in hierdie lewe hoef te wees nie.

Die vier persone na wie ons gekyk het, was Paulus wat met ’n doring in sy vlees geswoeg het, maar daardie doring het hom nie gepootjie nie, trouens daardie doring het hom juis nader aan die Here laat lewe. Paulus was waarskynlik nie self die oorsaak van die doring in sy vlees nie – hy was dus onskuldig, maar hy het ook nie a.g.v. daarvan gesondig nie – sy reaksie was welgevallig voor God.  

Dan was daar Naomi wat nie regtig self verantwoordelik was haar omstandighede, nie, maar sy het dit heeltemal verkeerd hanteer deurdat sy bitter teenoor die Here geraak het daaroor.

Derdens het ons gekyk na Saggeus wat verantwoordelik was vir sy eie sondige optrede, deurdat hy o.a. geld wat vir andere bedoel was, vir homself gehou het, maar Saggeus het korrek opgetree, deurdat hy die helfte van sy goed vir die armes gegee het, en waar hy iets van iemand afgepers het, het hy dit vierdubbel terug gegee (Luk.19:8).

Laastens het ons gekyk na Jona wat ook self verantwoordelik was vir sy situasie, deurdat hy gesondig het,  maar hy het dit nie reggestel nie. Nee, hy het voortgegaan en net nog verder gesondig.

Laastens het ons gekyk na hoe ons verlede, ons grootste vyand kan wees en ons het na ses verskillende fasette van die verlede gekyk wat ons kan kniehalter in ons lewe vandag en in die toekoms – hulle was:
·           Onbeantwoorde Vrae uit my verlede.
·           Onafgehandelde Pyn uit my verlede.
·           Onopgeloste Probleme uit my verlede.
·           Onwyse Keuses uit my verlede.
·           Onbelyde Sondes uit my verlede.
·           Lesse nog nie Geleer uit my verlede nie.

       Wanneer ons, ons verlede in oënskou neem en spesifiek aan die hand van bg. lys, dan is dit baie maklik om te vra of dit nie makliker en baie beter sou gewees het, as ons net in staat kon wees om ons verlede net geheel en al uit te wis uit ons gedagtes nie? Die probleem is egter dat dit nie so eenvoudig is nie – ons kan nie maar net die verlede begrawe, asof dit nooit bestaan het nie, trouens dit hét gebeur en daarom is dit deel van ons lewe, máár die Woord van God verskaf aan ons verskeie maniere waarop ons verlede, ’n "goeie vriend" van ons kan word. Die sleutel hier is egter in kort, dat ons nie op die verlede sal fokus nie, maar dat ons op God sal fokus en op wat Hy vir ons gedoen het. Anders gestel, ons moet vir onsself afvra of ons gaan toelaat dat ons slawe van ons verlede gaan wees, of gaan ons toesien dat ons verlede ons dienskneg gaan word en ons dit op só ’n wyse sal doen, dat ons dié mens sal wees wat God wil hê ons moet wees.

2.    SKRIFLESING:           
       1Sam.17:1-33 ~ Ek gaan nie vanoggend hierdie hele gedeelte lees nie, maar wel net na enkele verse in hierdie gedeelte verwys.

       Julle is waarskynlik almal goed bekend met die verhaal van Dawid en Goliat. In hierdie geskiedkundige gebeurtenis in die lewe van Israel, het God se volk te staan gekom voor hulle aartsvyande, nl. die Filistyne. Elke oggend en aand het ’n reuse soldaat, genaamd Goliat van die Filistyne gekom en die Israeliete gespot, deur hulle uit te daag om enige soldaat te stuur om teen hom persoonlik te kom veg en dan sê hy in v.9 ~ As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk. Vers 11 vertel egter vir ons dat die Israeliete geskrik het en baie bang geword het. Is hierdie situasie nie presies dieselfde as wat so dikwels met ons ook maar gebeur nie? Ons kom baie dikwels voor situasies te staan wat net eenvoudig ’n "Goliat" vir ons is – dit lyk vir ons onhanteerbaar en ons skrik en raak ook bang daarvoor, of daar is situasies wat in ons verlede gebeur het (pyn, sonde, verkeerde keuses, ens.) wat vandag nog vir ons ’n Goliat is.

       Die situasie in die Israelse kamp verander egter skielik toe ’n jong seun met die naam van Dawid op die toneel verskyn. Dawid se pa stuur hom na sy broers (vv.17-19) met kos en in v.23 sien ons dat Dawid, met God se perfekte voorsienigheid, presies op die tyd dat Goliat weer ’n uitdaging rig tot die Israeliete, by sy broers aankom en hy hoor hierdie gekoggel van die reus. Ons sien in v.24 dat die manskappe weer bang geword het en gevlug het, waarop Dawid vir hulle in v.26 vra ~ Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer? Die soldate sê toe vir Dawid, wat een van die manskappe net vantevore gesê het (v.25), nl. dat die koning die man wat die reus doodmaak, baie ryk sal maak en dat hy op die koop toe nog met die koning se dogter ook kan trou!

       Dawid se oudste broer, Eliab was waarskynlik verleë dat sy klein broertjie so "rammetjie uitnek" optree en hy trap Dawid uit deur vir hom te sê ~ Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk? (v.28), waarop Dawid vir hom in vv.29-30 sê ~ “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?” 30Dawid het van hom af weggedraai na ’n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste. Selfs koning Saul het in vv.33-36 vir Dawid gesê ~ Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy ’n vegter van kindsbeen af.” Dink vir julleself in hoe Dawid op hierdie stadium kon gevoel het. Hy hoor wat die reus sê en almal rondom hom sidder en beef vir die reus; sy broer verneder hom en jaag hom terug huis toe en selfs die koning sê vir hom dat hy te jonk is, maar Dawid laat hom nie van stryk bring nie en hy antwoord koning Saul soos volg (vv.34-37) ~ As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ’n leeu of ’n beer en dra ’n lam weg uit die kudde, 35gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.

3.    DAWID EN JOB:
       Dawid het doelbewus en met ’n bepaalde doel voor oë, God se seën uit die verlede, opgehaal. Dawid het krag en moed geput uit sy herinneringe van vroeëre oorwinnings wat God aan hom geskenk het. Dawid het dus geleer om in die regte verhouding met sy verlede te staan! Hoe het Dawid dit reg gekry? Wanneer ’n mens sy Psalms lees dan besef jy dat deel van die geheim is, om gereeld terug te dink aan God se seën in jou lewe, veral in situasies wat traumaties of skadelik was – hy het derhalwe eerder na die positiewe in daardie situasies gesoek en daarop gefokus, eerder as op die negatiewe. Vir Dawid was sy verlede, sy goeie vriend.

       ’n Ander Bybelfiguur wat voordeel geput het uit sy verlede, was Job. Job wat op ’n stadium ’n baie ryk man was en geseën was met sewe seuns en drie dogters en 11 000 stuks vee, kleinvee en kamele en baie slawe – hy verloor op ’n stadium alles, insluitende al sy kinders; hy word getref met pynlike swere; sy vriende ontmoedig hom – en tog; tog staan Job se geloof vas en stewig – geloof wat God aan hom geskenk het – hoor wat sê Job in Job1:21-22 ~ Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here... en dan v.22 ~ ...Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.  

       Net soos die geval met Dawid, het ook Job op God se seën in die verlede gefokus, daarom dat hy in 2:10 vir sy vrou sê ~ Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand (sy het hom aangemoedig om God te vervloek en te sterf, sodat sy swaarkry iets van die verlede kan wees). As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie? En dan lees ons hierdie laaste woorde in v.10 ~ ...Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

       Deur na die verlede te kyk, het dit Job gehelp om sy huidige omstandighede vierkant in die gesig te staar en sy kop omhoog te hou. Trouens, hy was nog in staat om ook sy vrou met bemoediging te bedien en te seën toe sy, sy geestelike leierskap en krag en liefde, nodig gehad het.

       Beide Dawid en Job het ’n gedissiplineerde gewoonte ontwikkel om gereeld erkenning te gee aan God vir Sy seën en goedheid en hulle het dit by die naam genoem en sodoende ’n reservoir van herinneringe en lesse, opgebou waaruit hulle gereeld kon put. Dit is waarom Paulus ook in Fil.4:4 sê ~ Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (O.A.V.) en dan gaan hy voort in v.6b en hy sê dat ons op hierdie wyse kán leef (in blydskap), indien ons al ons ...begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend maak. Danksegging waarvoor? Danksegging vir God se seën en goedheid in die verlede.

4.    VERGIFNIS:
       Die wyse waarop ons, ons verlede hanteer, sal ook ’n direkte effek hê op die wyse waarop ons vergewe. Behalwe dat ons verplig is om ander gelowiges wat teen ons sondig, te vergewe, het Jesus dit in Matt.18 vir ons baie mooi en duidelik gestel hoe ons dit moet hanteer wanneer ’n medegelowige sondig en die doel daarmee is om die ander persoon wat gesondig het te restoureer en die verhouding tussen jou en hom reg te stel.
      
       Ons gewilligheid om medegelowiges te vergewe hang ook af van hoe ons die verlede hanteer en in hierdie geval hoe ons God se vergifnis in en deur Jesus Christus se kruisdood, in herinnering roep en wat ons daarmee maak. Moontlik was dit een van die redes waarom Jesus Sy volgelinge aangemoedig het om die Nagmaal gereeld te vier, want elke keer dat ons bymekaar is om die Nagmaal te vier, word ons herinner aan dít wat Jesus vir ons gedoen het en dit lei weer na ’n behoorlike waardering en herinnering en viering van die opstanding van Christus ten einde ons kindskap vas te maak. Die onbeskryflike liefde van die Vader en die betekenis en implikasie van Jesus se kruisdood en opstanding vervaag egter wanneer ons dit nie gereeld in herinnering roep nie.

       Wanneer ons gereeld terug dink aan wat Jesus vir ons gedoen het, vervaag die pyn en selfverwyte van die verlede en verkry ons nuwe vrymakende perspektiewe op ons sonde uit die verlede. As ons nie gereeld aan Jesus se soenoffer dink nie en dit gedenk nie, is ons geneig om meer en meer oor ons foute en ons sonde van die verlede te dink en dit is dan dat ons begin "wakker lê in die nag."

       Wat ons egter in gedagte moet hou, is die feit dat ons nie sonder God enige vordering kan maak ten einde ons verlede "op sy plek te sit nie" – die Hebreërskrywer bevestig hierdie feit wanneer hy in Hebr.11:6 sê ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

       Rom.3:23 is baie duidelik daaroor dat alle mense in sonde ontvang en gebore word ~ Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Jesaja sê ~ Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie (Jes.59:2 – sien ook Rom.6:23; 1 Tim.2:5).

       Die goeie nuus is egter dat God gekies het om Sy uitverkore kinders lief te hê, ten spyte van ons sondige toestand; ten spyte van die feit dat daar (soos Jesaja sê) skeiding tussen ons en God gekom het en om dit te demonstreer, het God Sy Seun gestuur om in ons te plek te sterf (Joh.3:16; Ef.5:8; 2 Kor.5:21). God het die prys ten volle aanvaar, wat Jesus namens ons betaal het en om dit te bewys, het die Vader, Jesus uit die dood opgewek (1 Kor.15:3-4). Dit beteken dat enige persoon, ongeag sy verlede; ongeag sy sonde van die verlede; ongeag sy verkeerde keuses in die verlede; ens., ’n kind van God kan word, deur sy sonde te bely en hom te bekeer en Sy vertroue in Jesus Christus as Redder en Here te plaas (Rom.10:9-10, 13). Dit beteken egter ook dat enige kind van God verlos kan raak van sy verlede, op grond van Jesus se soendood.

       ’n Deel van die wonder van redding en wedergeboorte, is dat ons sekerheid van geloof kan hê – ons kan verseker weet dat ons gered en vergewe is – en hoe kan ons dit weet?  Johannes skryf in 1 Joh.5:13 ~ Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

       ’n Ander voordeel daarvan om Christus te ken, is die feit dat ons die Heilige Gees ontvang het – Hy wat in die hart van elke gelowige woon (1 Kor.6:19-20). Die Heilige Gees is gereed om elkeen van ons te leer en te lei en ons lewe te beheer en Sy vrug in ons lewe te laat groei.
      
       Daar is dus niks van my verlede wat ek nie kan oorkom nie; daar is geen sonde of enige gebeurtenis wat nie "op sy plek gesit kan word" en wat nie finaal afgesluit kan word nie – alles in my verlede wat my daarvan weerhou om in oorwinning te leef kán dus uitgesorteer en opgelos word!

       Ons het nie "self-help boeke" of kursusse nodig om dit te doen nie – ons het ’n Redder nodig. Ons het nie allerlei truuks en foefies nodig nie – ons het dood en opstanding en die lewensveranderende waarheid van die Evangelie nodig – en ons het dit nie net aan die begin van ons geestelike lewe, of te wel eenkeer nodig nie; ons het dit elke dag en elke oomblik van elke dag nodig.

       Om in Christus Jesus te wees, impliseer dat ons tot ’n simpatieke Hoë Priester kan nader – hoor wat sê Hebr.4:15 ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Ons kan dus soos v.16 sê ~ ...met vrymoedigheid na die genadetroon (gaan), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Namate Jesus Christus ’n groter realiteit in jou lewe raak, dermate sal jou verlede al minder en minder intimiderend wees, m.a.w. niks uit ons verlede hoef dus meer gevrees, of geïgnoreer; of verskoon te word nie, want as jy ín Christus is, is die verlede iets van die verlede.

5.    DIE EERSTE STAP:
       Jy sê egter vir my dat dit nie so eenvoudig is nie. Ja, ek hoor en dit is gedeeltelik waar, maar wat belangrik is voor ons prakties na ’n Bybelse oplossing vir jou probleem gaan kyk, is dat ons aan hierdie waarhede wat ek vanoggend met jou gedeel het, sal vashou; dat jy solank met ons Hoë Priester sal praat hieroor en dat jy jou vertroue in die Here God sal plaas om jou verlede "op sy plek te sit – om jou doring in jou vlees te verwyder.

       Dit is nou hier waar ons prakties gaan raak. Kom ons kyk na die eerste stap wat ons kan volg om hierdie saak te hanteer en een van die eerste stappe is om die verskillende gebeurtenisse of sonde wat "my nie wil laat los nie", Bybels te kategoriseer. Ten einde dit te doen, moet jy jouself twee baie belangrike vrae vra t.o.v. hierdie gebeurtenisse:
1.    Was dit (en doen dit met elkeen van die gebeurtenisse/sonde uit jou verlede wat jy wil hanteer) ’n gebeurtenis waar iemand direk teen jou gesondig het (bv. jy is deur iemand verkrag; of iemand het jou in die rug gesteek, ens.), m.a.w. was jy onskuldig?
2.    Was dit ’n situasie waar jy gesondig het (jy het bv. iemand in die rug gesteek, of jy het van iemand gesteel), m.a.w. jy is die skuldige party voor God?

       Kom ons noem die eerste geval, jou "onskuldige verlede" – jy was dus nie die inisieerder van jou "doring" nie. Ons noem die tweede geval, jou "skuldige verlede". Wat jy dus moet doen, is om al daardie gebeurtenisse uit die verlede, biddend en met absolute eerlikheid in die regte kolom neer te skryf.

       Voor jy egter begin skryf, moet jy ook biddend en o.l.v. die Gees duidelikheid daaroor kry, hoe jy hierdie situasies hanteer het, of steeds hanteer – m.a.w., hoe het jy gereageer? Wat jou "onskuldige verlede betref, moet jy vir jouself die vraag afvra, of jy reg opgetree het? Het jy op ’n Godwelgevallige wyse opgetree (soos Paulus bv.)? Of het jy verkeerd op daardie "onskuldige" gebeurtenis gereageer? Het jy m.a.w. op ’n God-onterende wyse opgetree (soos Naomi bv.)?

       Jy moet nou dieselfde doen t.o.v. jou "skuldige" verlede. Skryf die dinge neer wat jy verkeerd gedoen het – daardie dinge waaroor jy skuldig voor God staan, maar onderverdeeldit ook. Skryf in kolom 3 daardie dinge neer waar jy gesondig het, maar wat jy reggestel het, of wat jy reg hanteer het (soos Saggeus bv.). Skryf daardie verkeerde dinge in kolom 4, neer waaroor jy skuldig staan voor God én wat jy, óf verkeerd hanteer het, óf nog glad nie hanteer het nie (soos Jona bv.). Jou kolomme gaan dus as volg daaruit sien:

Reg
Onskuldig
Skuldig
Jou  Reaksie….

Œ       


(Jou reaksie was welgevallig voor God)
Ž     


(Jy sondig, maar jy het dit reg hanteer)

Verkeerd
     

(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )
        


(Jy sondig, maar jy hanteer dit  ook swak – en selfs met bykomende sonde)

6.    AFSLUITING:
       Dit is weliswaar so dat die Bybel nie vir ons die hantering van ons verlede op hierdie wyse leer nie, of hierdie vier kategorieë so rigied en absoluut uitstippel, soos wat hier gedoen is nie, maar hierdie tabel sal ons help om dít wat met my in die verlede gebeur het, of daardie dinge wat ek verkeerd gedoen het, neer te pen en daarop te reageer.

       As ons erns maak met ons geestelike wandel en ons verhouding met Jesus Christus, sal ons hierdie week biddend en met die nodige erns, aandag skenk aan hierdie tabel, trouens ek wil julle ernstig aanmoedig om dit te gaan doen, indien jy nog nie heeltemal vry is van jou verlede nie.

       As die Here wil, sal ons volgende Sondag dan verder na hierdie saak kyk en sal ons kyk hoe dat die Woord van God, ons kan help om vry te kom van ons verlede.
      
7.    SEËNGROET:
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Ef.3:18-19).


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondagoggend  29 April 2012