1.
INLEIDING:
Ons het almal huiswerk gehad om te
doen en ek vertrou van harte dat julle elkeen die huiswerk biddend en ernstig benader
het én dat julle dit gedoen het. Ek glo ook dat indien julle dit met die nodige
erns benader het, julle (soos ek) sou besef dat daar van die
"dorings" uit julle verlede, dalk meer kompleks is as wat julle
gedink het. So het ek bv. besef dat ek ’n bepaalde "doring" uit my
verlede het, wat maar nog steeds my aandag van tyd tot tyd vra en wat meer is,
ek kon dit in elkeen van die vier blokke skryf, want daar was fasette van die
situasie waar ek onskuldig was en wat ek reg hanteer het, maar terselfdertyd
was daar fasette in die gebeurtenis waar ek onskuldig was, maar wat ek nie reg
hanteer het nie, trouens waar ek selfs gesondig het. Daar het dit egter nie geëindig
nie, want ek het ook besef dat daar fasette was waar ek die skuldige party was
– waar bepaalde optredes van my ongevraagd en verkeerd was – ek was dus skuldig,
maar het met die genade van die Here dit kon uitsorteer en vergifnis daarvoor
vra en ontvang, maar helaas was daar ook situasies rondom hierdie een
"groot doring" uit my verlede waar ek nie alleen skuldig was nie,
maar waar ek dit ook nie reggestel het nie.
Onskuldig
|
Skuldig
|
||||
|
|
(Jou reaksie was
welgevallig voor God)
|
(Jy sondig, maar jy
het dit reg hanteer)
|
||
|
(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie,
maar jy het nogtans verkeerd reageer )
|
(Jy sondig, maar jy
hanteer dit ook swak – en selfs met
bykomende sonde)
|
In die proses van selfondersoek het ek
ook aan situasies gedink wat ek eintlik al van vergeet het, maar wat steeds ’n negatiewe
invloed op my lewe uitoefen en wat ek nou skielik weer onthou het en ek eer die
Here dat Hy dit vir my uitgewys het, sodat ek dit nou kan hanteer en dat dit reg
gestel kan word.
Ons sien dus dat sommige van ons
"dorings" baie meer kompleks is as wat ons dalk aanvanklik besef het,
maar genadiglik is die woorde van Ef.3:18-19, só waar, nl. dat dit vir ons
bykans onmoontlik is om te besef hoe ~ ... wyd en ver en hoog en diep die
liefde van Christus strek...
en dat ons wel Christus se liefde kán ervaar ~ ... liefde wat ons verstand te bowe
gaan... én dat ons
vervul kán word met die volheid van God!
Paulus skryf in Rom.15:13 hierdie
pragtige woorde ~ Mag
God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede
vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige
Gees! Is dit nie
wonderlik om te weet dat God na Homself verwys as, die Bron van hoop nie? Dit
is hierdie God van hoop wat jou en my wil en kan verlos van ons verlede – ons kán
dus oor hoop op verlossing en bevryding beskik!
Wat ons verlede betref, waar ons
"nie die oorsaak" was vir ons omstandighede nie en waar ons
welgevallig opgetree het in die oë van die Here, is daar verskeie
Skrifgedeeltes wat as bemoediging en as raad dien en waaruit ons hulp kan put
om verlos te kom van daardie situasies wat ons maar net nie alleen wil laat nie
en waaraan ons gedurig terug dink en wat ons dalk nog steeds pla ook. Een so ’n
Skrifgedeelte is Ps.73 en ’n ander is 2 Kor.1. Hierdie Skrifgedeeltes help ons
om te hoor hoe werklike lyding klink en hoe dit werklik voel en daaruitsien.
2. SKRIFLESING:
Psalm 73:1-28 ~ ’n Psalm van Asaf. God is vir Israel baie goed, vir
dié wat rein van hart is. 2Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het
byna koers verloor, 3want ek het die hooghartige goddeloses met
afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. 4Hulle het geen
kwellings nie, hulle is sterk en gesond, 5hulle het nie sorge soos
ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie
6Daarom hang die trots aan hulle soos ’n halssnoer en
kleef geweld aan hulle soos ’n kleed. 7In die weelde van hulle
voorspoed matig hulle hulle enigiets aan; 8smalend stook hulle
kwaad, hooghartig dreig hulle met geweld. 9Hulle laster teen die
hemel en beledig links en regs op die aarde. 10Tog hang die volk
hulle aan en drink gretig hulle woorde in. 11Hulle vra: “Hoe sal
God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?” 12Dit is hoe
die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voor om rykdom op te hoop! 13Dat
ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks
gehelp nie, 14want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en
elke nuwe môre straf. 15Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié
verloën wat aan U behoort. 16Daarom het ek diep nagedink om dit te
verstaan en was dit vir my bitter moeilik 17totdat ek in die
heiligdom van God Ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses
is. 18U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur
hulle eie geknoei. 19In ’n oogwink word hulle iets afgrysliks,
gaan hulle te gronde, tref ’n verskriklike einde hulle. 20Net
soos ’n droom wat ophou as ’n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U
ingryp. 21Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, 22was
ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23Tog
was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24U lei my met
u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. 25Daar is
niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26Al
is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir
altyd. 27Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié
wat aan U ontrou is. 28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om
naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al
u werke bly vertel.
3. WEES OPENLIK EN EERLIK:
’n Vraag wat moontlik by jou kon opkom
t.o.v. ons eerste blokkie, is waarom gebeurtenisse wat daar hoort, jou steeds
pla. Daar is verskeie redes waarom dit die geval kan wees.
Onskuldig
|
|||||
|
|
(Jou reaksie was
welgevallig voor God)
|
|||
Een van die hoofredes is dat ons in ons
kultuur geleer
word
dat ’n mens die verlede moet begrawe en dit moet ignoreer en selfs ontken, wanneer ons daaraan
herinner word. Veral ons ouer geslag is van kleinsaf geleer dat "manne nie
huil nie".
Nog ’n rede kan wees dat ons net
eenvoudig nie kan glo dat die Here ons kan en wil verlos van ons verlede nie;
of ons gee die Here net eenvoudig nie die kans om dit te doen nie – dit is
amper asof ons maar eerder self daarmee wil stoei en dit self probeer oplos en
in die proses word baie mense "smartvrate" en is dit asof hulle dit
geniet om swaar te kry oor die swaar verlede!
Ons as gelowiges moet egter weet en besef
dat die Woord van God vir ons ’n dramaties teenoorgestelde benadering verskaf
en ons moet maar net kyk na die lewe en optrede van baie van die Bybelfigure –
mans en vrouens wat openlik en eerlik was oor wat met en in en rondom hulle
gebeur het.
Asaf,
die skrywer van die Psalm wat ons saam gelees het, is uiters deursigtig en
eerlik oor hoe moeilik en kompleks die lewe kan wees. Hy sê bv. in v.2 ~ Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers
verloor. In 2 Kor.1:4
praat Paulus op dieselfde wyse wanneer hy aan sy broers en susters skryf oor ...elke moeilikheid, of
soos die O.A.V. dit uitdruk, ...al
ons verdrukking en Paulus
gaan in v.5 voort en hy praat van ons (gelowiges) se oorvloed van lyding. In v.8 sê Paulus vir die gemeente in
Korinte ~ Ons wil hê, broers, dat julle moet
weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar
wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om
te bly lewe, laat vaar het.
Hierdie
benadering van beide Asaf en Paulus is só anders as waaraan ons gewoond geraak
het oor die jare heen in ons bepaalde kultuur. Ek moet egter onmiddellik
hiermee saam sê dat hierdie benadering nie impliseer dat ons nou maar
onophoudelik moet en kan begin kla teenoor almal wat wil luister en selfs ook
teenoor diegene wat nie wil hoor nie. Wat Asaf en Paulus vir ons hier
demonstreer is dat ons in tye van swaarkry openlik en in eerlikheid ons
swaarkry en selfs vertwyfeling en verwarring moet erken en uitspreek.
Asaf
maak geen geheim daarvan waarom hy amper gestruikel het nie. Hy erken dat hy die hooghartige goddeloses met afguns bejeën (het)
toe (hy) hulle voorspoed sien
(v.3).
Asaf het egter nie net volhard in afguns en bitterheid nie – nee, hy het volgens
v.16 ~ ...diep nagedink om dit te verstaan.
Paulus
het die doring in sy vlees op dieselfde wyse hanteer toe hy in 2 Kor.12:8 gesê
het ~ Drie maal het ek die Here gebid dat
dit van my af weggeneem moet word.
Paulus was ’n geharde man wat swaarkry kon hanteer – hy was bv. volgens 2
Kor.6:5 ~ ...geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland;
het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely, maar hy was ook mans genoeg om te
huil en tot God te roep as hy dinge wat in sy lewe gebeur het, nie verstaan het
nie.
Dawid
is nog ’n voorbeeld van ’n man wat sy probleme en die vrae in sy gemoed openlik
en eerlik in die gesig gestaar het ~ Hoor
tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. 3Ver uit die
vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ’n rots waar ek veilig
sal wees. 4U is vir my ’n toevlug, ’n sterk vesting buite bereik
van die vyand. 5Laat my by U ’n blywende tuiste vind. Laat my
skuil onder u vleuels. Sela 6U, o God,
hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat u Naam eer (Ps.61:1-4).
As
gelowiges word ons aangemoedig en selfs verplig om ons pyn uit die verlede na
Christus Jesus te bring, want Hy is ons Hoë Priester wat kan en wil simpatiseer
met ons swakhede en seerkry. Hebr.4:15 stel dit pragtig ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen
medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons
aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Die Hebreërskrywer gaan voort in
v.16 en sê ~ Kom
ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en
genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Ons
kan slegs in en deur God volkome bevryding ontvang van ons sorge; ons probleme;
ons worstelinge – waarom sal ons dan nie gebruik maak daarvan nie?
4. "TREK JOU EERSTE DORING UIT":
Vir
Asaf het die deurbraak en bevryding in v.17 gekom, toe hy ~ ...in die heiligdom van God ingegaan... het. Ten einde vry te kom van ons
verlede en dan spesifiek van daardie dinge wat met ons gebeur het en waaraan
ons geen aandeel gehad het nie, moet ons ook ~ ... in die heiligdom van God ingaan....
Ons moet ons verlede Bybels hanteer – dit is die enigste wyse waarop ons vry
kan kom van ons verlede en ons hoop kan vestig op die toekoms en dit is waarom
Paulus in Rom.15:4 skryf ~ Alles wat
vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons
deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan
wees en Dawid sê in
Ps119:71 ~ Dit is vir my
goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.
Daar
is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons "in God se
heiligdom ingaan", ten einde bevry te raak van ons verlede en ons
toekomstige "dorings" te hanteer:
·
Erken
en besef dat pyn en lyding, of te wel "dorings", onontkombaar (inescapable)
deel is van die lewe. God
se Woord is baie duidelik daaroor dat beproewing deel van hierdie lewe is. Petrus
waarsku ons in 1 Pet.4:12-13, wanneer hy sê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp
word nie. Dit is nie iets
vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees
liewer bly hoe meer julle
in die lyding van Christus deel,
want dan sal julle ook oorloop van
vreugde by sy wederkoms in
heerlikheid.
·
Besef
dat daar nie altyd ’n direkte verband tussen lyding en sonde is nie. Een ding
wat gereeld by baie gelowiges opkom is dat wanneer hy deur beproewing gaan, dit
as gevolg is van sonde in sy lewe. Dit is presies wat Job se eerste drie
vriende veronderstel het, maar God antwoord hulle in Job 42:7 ~ Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas
die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie
die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Dieselfde het gebeur toe sommige van
Jesus se volgelinge vir Hom gevra het wie se sonde die oorsaak was van die man
wat van geboorte af blind was – die blinde man of die ouers s’n, waarop Jesus
in Joh.9:3 hulle antwoord ~ Dit
is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind
sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.
Ja, dit is so dat sonde gevolge in ons lewe het en ons kan "met
blindheid geslaan word" a.g.v. sonde (Spr.28:13;
Gal.6:7; Hebr.12:7-11),
maar dit wat met jou gebeur is nie noodwendig, of altyd die gevolg van sonde in
jou lewe nie en as jy jou hart in alle eerlikheid en opregtheid voor die Here
ondersoek het en jy kan geen verband sien met sonde nie, dan moet jy aanvaar
dat jou "doring" nie is as gevolg van sonde nie (daarom
dat ons hier na ons eerste kolom kyk).
·
God
voorsien iets veel beter as blote regverdigheid. Ons hoor baie dikwels dat
mense sê dat God onregverdig is – veral wanneer iets onaangenaams hulle tref;
wanneer hulle gepla word met ’n "doring in die vlees". Tot ’n sekere
mate is hulle natuurlik reg, want indien God regverdig was, sou ons dood gebore
gewees het, omdat nie een van ons verdien om te lewe nie a.g.v. die erfsonde (Ps.51:5;
Rom.5:12-21) – omdat,
soos Rom.6:23a dit stel ~ Die
loon wat die sonde gee, is die dood....
Ons moet dus elke keer dat ons dink dat God nie regverdig is nie, vir onsself
sê: Ek is so bly en dankbaar dat God nie
regtig regverdig is nie, want ek het ’n genadige; geduldige en liefdevolle God nodig om te kan lewe.
Wat God egter in ruil vir regverdigheid aan ons bied, is Sy
goedgunstige soewereiniteit. Hy belowe om elke liewe omstandigheid en
gebeurtenis in jou lewe, te gebruik tot ons eie geestelike voordeel, ten einde
ons na die beeld van Christus te vorm – Rom.8:28-29 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié
wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy
lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld
van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. As dit dus swaar gaan met jou, weet
dat God besig is om dit te gebruik om jou meer en meer na Christus se beeld te
vorm.
·
Sien
toe dat jou "doring" ’n veel nouer verhouding met God tot gevolg het.
Die ou Puritein, Richard Baxter het gesê: Suffering
so unbolts the door of the heart, that the Word has easier entrance. Een
van die wyses waarop ons ontslae kan raak van die doring(s) uit ons verlede, wat
ons nie oor onsself gebring het nie, is om toe te laat dat elkeen daarvan ons nader
aan God sal bring. Oordink ’n bietjie die volgende verse wanneer beproewing jou
teister:
~ Die
doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God
nie dink nie (Ps.9:18);
~ My
loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien (Ps.22:26);
~ Dit
is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou (Ps.119:50);
~ Laat
daar geen skindertong in die land wees nie, laat onheil dié wat geweld pleeg,
elke keer weer tref! (Ps.140:12);
~ Die
Here is goed vir sy volk, Hy kroon die hulpeloses met oorwinning (Ps.149:4);
·
Staar
jou "doring" hoopvol in die gesig. Baie van ons probeer eerder ons
"dorings" uit die verlede te ignoreer, of selfs die bestaan daarvan
te ontken, omdat ons baie keer die gevolge daarvan vrees. Die probleem met so
’n gesindheid is dat ons God nie vertrou nie, of selfs nie glo dat Hy ons in ’n
beter posisie in ons verhouding met Hom wil bring nie. Ons moet dus op ’n plek
in ons lewe kom dat ons God sal vertrou en sal weet dat Hy ons wil laat groei
in heiligmaking – ons moet dus hoopvol wees en weet dat God alles ten goede
laat meewerk in ons lewe (Rom.8:28).
·
Jou
beproewing sal nooit so erg wees dat jy dit nie sal kan verduur nie. Ons kan
Paulus maar glo wanneer hy sê dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie (1
Kor.10:13 – O.A.V.), want
hy het waarskynlik baie erger dinge gedurende sy lewe ervaar as wat enige een
van ons ooit sal ervaar (dink bv. weer aan 2 Kor.6:5 ~ Ons
is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk,
nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely).
·
In
die sewende plek moet jy weet dat jou Redder gereed staan om jou te vertroos en
te versterk. Paulus gee hierdie versekering vir ons in 2 Kor.1:4 ~ In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom
kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle
bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. Die Griekse woord vir bemoedig, is παρακαλέω (parakaleō) en beteken letterlik om langs iemand
te staan ten einde hom te ondersteun en te bemoedig wanneer hy geweldige
beproewing ervaar. Dit is presies wat ons hemelse Vader gereed is om te doen –
Hy wil ons bystaan, vertroos en versterk.
·
Wanneer
ons deur beproewing gaan, ontvang ons die geleentheid om ons harte te ondersoek
en vas te stel wat ons diepste motiewe en begeertes is – is ons in sulke tye,
selfgerig of Godgesentreerd? Ons moet in sulke situasies, daarop fokus dat God
se eer ons primêre fokus sal wees. Ons
fokus moet wees om in die proses nader aan Christus te kom. Ons moet daarop
ingestel wees om ons vervolgers te seën in die proses. Ons moet dus die
geleentheid van beproewing gebruik, om ons harte te reinig.
·
Sien
jou beproewing deur die lens van die ewigheid. Waarskynlik die grootste hoop
wat ons kan hê t.o.v. die "doring(s)" in ons vlees, is die feit dat
dit nie vir altyd sal aanhou nie. 1 Pet.1:6-9 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie
bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid
van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud,
goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die
egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en
eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom
het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien
julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van
julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike
blydskap.
·
Beide
Asaf en Paulus het uitgesien na die dag dat hulle beproewing kon dien as kanaal
vir troos en bemoediging vir andere. Hoor wat sê Asaf in Ps.73:28 ~ Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God
te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke
bly vertel (sien
ook 2 Kor.1:6-7).
5. AFSLUITING:
Ons het tot nou gesien hoe ons situasies
van beproewing wat oor ons lewenspad kom en waar ons nie die oorsaak daarvan is
nie, moet hanteer en indien ons dit nie so hanteer het in die verlede nie, moet
ons nou tyd maak om elkeen van hierdie situasies wat ons in ons eerste kolom
neergeskryf het, biddend te benader en elkeen van daardie gevalle aan die hand
van gemelde tien punte te beskou; daaroor te bid en dit af te handel. Die
Hebreërskrywer gee in Hebr.9:14 vir ons hierdie wonderlike belofte (en
hierop moet ons staan!) ~
...die bloed van Christus (sal) ons
gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende
God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die
ewige Gees aan God geoffer.
[1]Boodskap
gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton)
- Sondagoggend 06 Mei 2012