Sunday, May 27, 2012


Die Doring in My Vlees - 05
(My Verlede – My Vergifnis)

1.    INLEIDING:
       Tot nou het ons veral gekyk na hoe ons die verlede moet hanteer waar mense teen ons gesondig het – eerstens het ons gekyk na geleenthede waar daar op sondige wyse teen ons opgetree is, maar wat ons reg hanteer het, deur die oortreders te vergewe. Tweedens het ons gekyk na geleenthede waar daar verkeerd teen ons opgetree is en waar ons in reaksie ook verkeerd opgetree het. Ons het ook gesien dat ons daardie sondes moes bely en dat ons eerder op ons posisie in Christus Jesus moes begin fokus, as op ons verlede.

       Dit is belangrik dat ons moet besef wie ons na ons wedergeboorte, in Christus Jesus is. Ons het o.a. gesien dat ons nuwe skepsele in Christus is en dat die ou mens nie meer bestaan nie (2 Kor.5:17). Hierdie is ’n baie interessante studie wat julle gerus kan onderneem, nl. wat my en jou identiteit as nuwe skepsele in Christus is (ek het al meer as 100 sulke teksverse opgespoor – bv. Joh.1:12 – Ek is God se kind; Fil.3:20 – ek is ’n burger van die hemel; Ef.1:4 – ek is heilig en onberispelik; Ef.2:10 – ek is ’n maaksel/skepsel van God; 2Kor.6:1 – ek is God se medewerker; Ef.4:32 – ek kan andere vergewe; ens. – Net in Ef.1-6 [2] alleen, kon ek al 46 sulke beloftes vind van wie ek in Christus is). Wanneer ons nie besef wie ons in Christus Jesus is nie, word ons geloof belemmer; kan ons nie die volheid van ons geloof uitleef nie en begin ons twyfel in ons geloof en ons sekerheid van saligheid. Die bose is voltyds besig om in gelowiges se lewens te werk ten einde hulle onwaardig te laat voel; om hulle oorwinning in Christus in die wiele te ry en in plaas daarvan om soos die charismate te begin om die satan om elke hoek en draai te bestraf en te verjaag, moet ons meer en meer begin leef volgens dít wat die Woord vir ons leer van wie ons in Christus Jesus is.

       Jeremia gee egter aan ons ’n verdere perspektief en dit is waar ons uiteindelik by moet uitkom, nl. dat ons, wanneer ons besef wie en wat ons in Christus is, ons oë op God sal rig en sal besef dat Hý al hierdie dinge vir ons moontlik gemaak het en wat meer is, dat Hý dit uit genade aan ons geskenk het. Dit is alles gedoen en moontlik gemaak op grond van die feit dat Jesus Christus volkome mens geword het, maar soos ons in Hebr.4:15 kan sien, het Hy volkome mens geword, deurdat Hy ...in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp (was), maar Hy het nie gesondig nie. Dit beteken natuurlik glad nie dat Jesus hier op aarde geleer het om op te hou om ongehoorsaam te wees nie. Ook beteken dit nié dat Hy met verloop van tyd ontslae geraak het van tekortkominge nie. Nee, dit beteken dat Hy met elke nuwe versoeking en stukkie beproewing geleer het wat dit beteken om gehoorsaam te wees en het Hy met elke versoeking en beproewing meer en meer die volmaakte geregtigheid vervul, wat nodig was om ons te red en in ’n nuwe posisie met die Vader te plaas. Die punt is, dat indien die Seun van God (Jesus Christus) vanaf Sy geboorte tot en met Sy kruisiging, geen versoeking en beproewing en pyn  ervaar het, ten einde Sy volmaakte geregtigheid te toets nie, Hy nie ’n geskikte Redder en volmaakte offer wat God tevrede sou stel, gewees het nie. Sy lyding het nie alleen tot gevolg gehad dat God se wraak op Hom gefokus is nie, maar dit het ook Sy volmaakte en ware Mensheid vervul, sodat Hy ons voortaan Sy broers en susters kon noem (Hebr.2:17).  

       Kom ons kyk dan na wat Jeremia vir ons wil sê.

2.    SKRIFLESING:
Jer.33:1-9 ~ Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. 2So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: 3Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. 4So sê die Here die God van Israel oor die huise in hierdie stad en oor die konings van Juda se paleise wat afgebreek is, en oor die beleëringswalle en oor die wapens 5waarmee die Galdeërs teen julle kom veg het, die huise wat deur die Galdeërs vol gemaak is met die lyke van die mense wat Ek in my gloeiende toorn om die lewe wou bring toe Ek nie meer vir hierdie stad omgegee het nie omdat hy so baie sonde gedoen het: 6Ek sal hom heeltemal gesond maak en sy inwoners genees; Ek sal vir hulle ’n sterk veilige vesting bou. 7Ek sal die lot van Juda en Israel verander en vir hulle kinders gee soos vroeër. 8Ek sal hulle reinig van al die sondes waarmee hulle teen My oortree het en al hulle sondes vergewe waarmee hulle teen My oortree het, en in opstand gekom het. 9Dit sal my Naam groot maak en aan My blydskap verskaf, aan My lof en eer gee voor al die nasies van die aarde wanneer hulle hoor van al die goeie wat Ek vir my volk gedoen het. Die nasies sal bang wees en My dien oor al die goeie wat Ek doen en oor die vrede wat Ek vir Jerusalem gee.

3.    DIE VREUGDE VAN VERGIFNIS:
       As ons na hierdie Skrifgedeelte kyk, sien ons dat ons gereinig is van ons sonde. Dit is nog ’n eienskap van wie ons in Christus is. Rom.5:1 sê dat God ons ~ ...vrygespreek (het) deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Ef.1:7 sê dat ons ~ ...Deur die bloed van (God se) Seun verlos (is) en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God. Hoor net wat sê Paulus in 2 Kor.5:21 ~ Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (O.A.V.) – ons is God se geregtigheid! Dit beteken o.a. dat die "aanklaer van die broeders" (die satan – Openb.12:10) en daarmee saam alle mense en ook my negatiewe gedagtes, my maar kan aankla oor wat in die verlede gebeur het en dit kan niks aan my doen nie, want God het my regverdig verklaar, m.a.w. Hy het my onskuldig verklaar!

       Wanneer ons dit wat ek tot nou gesê het, in gedagte hou, moet ons dit ook toepas op ons derde "blokkie", nl. daardie geleenthede waar ek skuldig was oor wat ek gedoen het, maar wat ek reg hanteer het, nl. om restitusie te gedoen het en om my sonde voor God te bely en my te bekeer:



Skuldig

Jou Reaksie

Reg
  


(Jy sondig, maar jy tree reg op)





       Die Evangelie van Jesus Christus is nie net vir nuwe bekeerlinge nie – dit was ook nie net vir ons bedoel, die dag toe ons gered is nie. Nee, die wonderbare Evangelie van Jesus Christus is ’n gebeurtenis wat elke dag in ons lewe, ’n realiteit moet wees – ons moet meer gereeld Jesus se Plaasvervangende werk, of te wel Sy soenoffer aan die kruis, in herinnering roep en Hom dank daarvoor, in plaas daarvan dat ons, onsself gedurig kruisig oor sonde en gruweldade van die verlede waarvoor ons reeds vergifnis gevra en ontvang het. As ons gedurig "gaan visvang in daardie duistere poele van die verlede", glo ons nie in God se vergifnis deur Jesus nie en is ons besig om God te negeer tot ’n menslike god wat nie regtig daartoe in staat is om ons te vergewe nie!

       Ons moet 1 Joh.1:9 uit ons koppe leer en dit van harte glo ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.  Geliefdes, ons moet minder tyd spandeer op negatiewe gedagtes oor of ons nou vergewe is of nie en die Woord glo (soos wat ons baie gou en maklik bely) – ons moet die Woord begin glo en eerder ons tyd spandeer deur o.a. verwonderd te staan oor God se liefde en Sy genade – ja, oor al Sy karaktereienskappe. Ons moet meer en meer saam met Miga uitroep ~ Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde (Miga 7:18). Die O.A.V. stel dit vir my nog mooier ~ Wie is ’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? En dan veral hierdie woorde:  Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid. Ons fokus moet meer en meer wees op dit wat Christus vir ons gedoen het

4.    NEEM MY GEDAGTES GEVANGE:
            Jy sê dalk nou vir jouself, ja maar ek kan net nie help om gedurig aan my verlede te dink nie en al het ek "reg opgetree" deur dit te bely en om vergifnis daarvoor te gevra het, bly ek steeds gedurig daaraan dink. Om so te redeneer is natuurlik nie korrek nie, want God het ons geskape met die vermoë om te kies wat ons wíl dink en wat nié en in Christus kan ons, ons gedagtes oefen om gedagtes te wees wat ’n "aangename reukwerk" voor God sal wees. Wat ek sê word deur die Woord bevestig – dink aan Skrifgedeeltes soos die volgende: Ef.4:23 ~ Julle gees en gedagtes moet nuut word; Fil.4:8 ~ Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig; en 1 Pet.1:13 ~ Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus (die O.A.V. sê ~ ...omgord die lendene van julle verstand).  

       Daar is hoofsaaklik vier redes waarom ’n gelowige gedurig terugkeer na sy sonde van die verlede – daardie sonde wat reeds vergewe is en ons moet besef dat God dit in ’n baie ernstige lig beskou:
·           ’n Gebrek aan ware bekering;
·           Vrees vir mense;
·           ’n Onwilligheid om sonde te versaak;
·           Om ons ontsag vir God se genadige vergifnis te verloor.

5.    ’N GEBREK AAN WARE BEKERING:
       Kom ons kyk na die eerste moontlike rede. In 2 Kor.7 sê die apostel Paulus dat daar ’n wesentlike verskil is tussen, aan die een kant, wêreldse berou ("worldy sorrow") en aan die anderkant, droefheid en berou wat volgens die wil van God in ’n gelowige gewerk is ("godly sorrow"). Verse 9-10 is baie duidelik hieroor ~ Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, 10want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood. Die woord inkeer hier (in die O.A.V. is dit "bekering" en in Engels "repent"), is in die Grieks, μετάνοια (metanoia) en beteken letterlik om, om te draai; om in die teenoorgestelde rigting in jou verstand en jou optrede te beweeg. Dit beteken m.a.w. om jouself geheel en al weg te draai van sonde en in die teenoorgestelde rigting, na geregtigheid te beweeg. Die teenoorgestelde hiervan is natuurlik wêreldse berou, of anders gestel, om spyt te wees oor iets – jy is jammer daaroor, maar dit maak nie regtig saak nie – sulke mense "vang weer en weer vis in die poele van die verlede". Nee, ons moet radikaal omdraai; ons vergifnis in dank aanvaar en weg beweeg van daardie sonde, deur ons voortdurend te bekeer en ons denke (O.A.V. – gedagtes) te vernuwe.

       Die vraag wat jy vir jouself moet afvra, is of jy weer dieselfde sonde sal doen, as dit oor jou pad kom? Indien jou antwoord "ja" is, het ware bekering volgens die wil van God nie plaasgevind nie. Dit was die probleem met die mense in die gemeente in Korinte – hulle het baie en van die beste lering ontvang en hulle het geroem in hul goeie werke, maar daar was ’n oppervlakkigheid t.o.v. hulle geloof wat gelei het tot vleeslike optrede, gebroke verhoudinge en ’n kragtelose bediening.

As ons nie volgens die wil van God, ware berou – ware μετάνοια (metanoia) oor ons sonde het nie, kan ons nie ons "derde blokkie" afsluit nie, want ten diepste herdink en bedink ons daardie sonde, omdat ons ten diepste daardie sonde weer wil begaan.

6.    VREES VIR MENSE:
       ’n Tweede moontlike rede waarom ons nie afsluiting kan vind van sonde waarvoor ons vergifnis ontvang het nie, is ’n vrees vir mense. Die meeste van ons hier, het al in een of ander Bybelstudie in die verlede, deur óf "The Fear Factor" van Wayne Mack, of "When People are Big and God is Small" van Ed Welch, gewerk en is redelik bekend met die uitdrukking "vrees vir mense", maar ek wil tog net sê, dat baie mense die sondige verlede (waarvoor daar al om vergifnis gevra is) baie moeilik afskud, omdat hulle bang is dat mense rondom hulle mag uitvind wat hulle gedoen het – dit is dus een van daardie, menslik gesproke "geraamtes in die kas" van iemand. Spr.29:25 is baie leersaam in hierdie verband ~ As jy vir mense bang is, kan jy in ’n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig. Die kruks van hierdie vers is dat wanneer jy vergifnis vir ’n bepaalde sonde ontvang het en jy die betrokke persoon/persone om vergifnis gevra het (waar moontlik natuurlik), jy sal ophou om gedurig oor jou skouer te loer ten einde te probeer uitvind, wie weet wat jy gedoen het. In plaas daarvan moet jy jou oë op God gevestig hou wat jou op grond van Jesus Christus, uit genade vergewe het. Geen sonde is te groot vir God om te vergewe nie – GEEN SONDE NIE! Paulus sê in Rom.5:20b ~ ...hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. God het jou vergewe, wat maak dit dan saak wat mense dink!

       Die probleem met baie gelowiges is dat hulle toelaat dat die goedkeuring van ander mense ’n kragtige afgod in hul harte word en ons moet baie ernstig daarteen waak, want dit is baie maklik om in daardie strik te trap. Indien jy hiermee sukkel, wil ek jou aanmoedig om werk daarvan te maak ten einde ontslae te raak van hierdie geweldige las – jy moet nie toelaat dat ’n vrees dat mense dalk mag uitvind van jou sondige verlede, jou lewe dikteer nie, want Rom.8:31b sê so duidelik ~ ...(As) God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Paulus sluit hoofstuk 8 af met hierdie woorde ~ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of  magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom.8:37-39).

7.    VERSAAK SONDE NIE:
       Spr.28:13 is ’n sleutelvers om ons te help verstaan waarom ons soms ons sonde uit die verlede herroep en dit weer "vertroetel" ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang. Ware berou oor en belydenis van sonde het nog nie plaasgevind, as ons nie maatreëls in plek plaas om te verhoed dat ons weer dieselfde sonde in die toekoms begaan nie.  Die woorde hier in Spr.28:13 ... en daarvan afsien, is woorde waaraan ons, ons só dikwels nie steur nie – ons verstaan die eerste gedeelte van hierdie vers en ons stem daarmee saam, maar die vers bestaan nie net uit die eerste gedeelte wat sê dat ons nie ons sonde moet wegsteek nie en dat ons dit moet bely – die vers gaan voort deur te sê dat ons ook moet ophou om daardie sonde te begaan – ons moet daarvan afsien. Die O.A.V. sê dit sommer in goeie en gewone Afrikaans, dat ons dit moet laat staan.

       As ons die verlede op sy plek wil sit en verlos wil raak van geraamtes in ons kas, moet ons die beginsel van ware bekering verstaan én dit toepas. Jesus was baie ernstig hieroor, daarom dat Hy in Matt.5:29-30 amper oordryf het toe Hy hierdie baie bekende gelykenis vir ons gegee het ~ As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland. Jesus se gelykenis is baie duidelik hier – indien jy los wil kom van jou sonde van die verlede, moet jy maatreëls in plek plaas om soortgelyke sonde in die toekoms te vermy.

       Om ’n praktiese voorbeeld te gebruik: Indien pornografie jou probleem in die verlede was en jy dit as sonde bely het, moet jy alles wat jou weer na pornografie kan lei, uit jou lewe verwyder (TV, Internet, tydskrifte, ens.). Ek het nou die dag iets kosbaars gehoor, toe Don Carson gesê het: You worship your way into porn, therefore you must worship your way out of porn.

8.    VERLOOR ONTSAG VIR GENADE:
       Ons het al gesien hoe dat Rooms Katolieke teen trappe opkruip ten einde boete te doen vir hulle sonde (en selfs vir die sonde van afgestorwe familielede – dink maar aan die rolprent oor Martin Luther se lewe). Baie van ons wat daarop roem dat ons Evangeliese; Protestantse; Gereformeerde gelowiges is, tree presies dieselfde op – nie dat ons letterik teen trappe opkruip nie, maar ons sal ons voortdurend onderwerp aan selfkastyding oor sonde wat lankal in Christus vergewe is. Dit is so asof ons dink dat ons ook iets van ons kant moet doen ten einde vergifnis te ontvang en in die proses verloor ons geheel en al perspektief én ontsag t.o.v. God se genade. Ons moet ons verbly in God se genade en erkenning aan Hom daarvoor gee (1 Tim.1:12-17) en ons moet soos Paulus in Fil.3:10 sê,  ons span ons in om ~ ...Hom (te) kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word.

9.    AFSLUITING:  
Ten einde verlos te word van ’n skuldige verlede, maar ’n verlede waar jy reg gereageer het deurdat jy jou sonde bely het, maar tog van tyd tot tyd nie vergewe "voel" nie, moet jy kies om God se belofte soos in 1 Joh.1:9 vervat, te glo en daarop te staan ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Ons kan nie die lewende water wat Jesus aan ons bied, ten volle geniet, as ons nie ons eie gebrokenheid verstaan en erken nie. Dit is wat God van Israel in Jer.2:13 gesê het ~ My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. Hierdie lewende water is die Here Jesus Christus self – om volkome in Jesus Christus te glo, is om die lewende water te besit, daardie water wat tot gevolg het dat ons nooit weer dors sal word nie; daardie water wat aan ons vrymaking skenk en wat aan ons onuitspreeklike vreugde verskaf.

Ons moet glo dat Christus se offer wat Hy aan die kruis vir ons sonde gebring het, voldoende was en wanneer ons dit glo en toepas op elkeen van daardie sondes uit die verlede wat voortdurend by ons opkom, sál ons uiteindelik bevryding van ons verlede ontvang!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag,  27 Mei 2012
[2]  Ef.1:1, 3, 4, 5, 7, 8, 9, 11, 12, 13, 18; 2:5, 6, 7, 10, 13, 14, 18, 19, 20, 21, 22, 3:6, 7, , 12, 13, 18, 19, 21, 4:1, 2, 15, 17, 21-32, 5:8, 9, 17, 20, 21, 22-33, 6:4, 10, 13 en vele meer.