Tuesday, May 29, 2012



OPE BRIEF AAN BROERS IN DIE N.G. KERK

 2012-05-04
Geagte Broeder

Na baie gebed en besinning rig ek hierdie brief aan u en ’n klompie ander broeders in die N.G. Kerk en vra dat u hierdie brief biddend sal lees en met ’n oop gemoed daarna sal kyk.

Ek is tans ’n predikant in die Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente en het teologie studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. Voor ek voltyds in die bediening betrokke geraak het, was ek baie lank ’n onderwyser waarvan 12 jaar as skoolhoof. Ek en my vrou was ook baie jare lidmaat van die N.G. Kerk, maar is in 1984, toe die N.G. Kerk nog gestaan het op hul belydenisskrifte, onder sensuur geplaas en afgesny van ’n N.G.-gemeente in Ermelo omdat ons, nadat ons waarlik tot wedergeboorte gekom het, oortuig geraak het van die doop van gelowiges (die kredodoop) en ons laat doop het. Ons het deur die jare heen hegte vriendskapsbande met N.G.-lidmate gehad (en het nog steeds) – lidmate wat waarlik die Here Jesus Christus as Saligmaker navolg (beide "kredo- en paedodopers").

Ek glo met 'n gebroke hart dat 'n skokkende groot deel van die institusionele kerk van ons dag grootliks koers verloor het, in sekere gevalle selfs reddende geloof versaak het, en dringend nodig het om onverwyld en met hartstog terug te keer na die fundamentele geloofsvertrekpunte van die Reformasie: die Skrif alleen, genade alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen. Ek onderskryf die histories-gerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis - soos meeste reformatoriese (gereformeerde) Baptiste oor die wêreld heen, asook die Belydenisskrif en Kernwaardes van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes en gelowiges in (tans) agt lande in Suider-Afrika

Waarom rig ek hierdie brief aan u? Die afgelope jaar of drie, maar veral die afgelope jaar het ek intens bewus geraak van ernstige dwaalleer wat posgevat het in die N.G. Kerk en ek is intens besorg oor broers en susters in die Here Jesus Christus wat in die N.G. Kerk is. Ek kry van tyd tot tyd te doen met predikante in u denominasie en ek ervaar intense bekommernis en selfs verwarring by van hulle (veral jongeres).

Ek het ook bevriend geraak met heelwat N.G.-lidmate en ’n paar predikante op "Facebook" en kon ek sommige van die debatte wat gevoer word tussen regsinnige lidmate en –predikante aan die eenkant en "nuwe hervormers"/"verligtes"/"liberales"/"vrydenkers" aan die anderkant. My simpatie met die "behoudendes" aan die eenkant en my skok en ontnugtering in predikante wat in my oë bykans niks meer van die Woord van God glo nie, het a.g.v. hierdie debatte, net nog verder verdiep.

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die N.G. Kerk oënskynlik die wil en vermoë verloor het om op te tree teen teoloë, ampsdraers en predikante wat nie meer volgens die Belydenisskrifte en die Woord van God optree nie en derhalwe in my oë dwaalleraars geword het (Openb.2:14-15; 1 Tes.5:14; 2 Tim.4:2-5; Deut.13:5; 1 Kor.5:11, 13; Titus 1:9; e.a.). In die lig van Ferdie Mulder se boek, asook dit wat ek in die pers, persoonlike Blogs en "Facebook" lees, kan ek nie anders as om te dink dat die gesagstrukture van die N.G. Kerk reeds deur die "nuwe hervormers" gekaap is en daarom dat niks gedoen word aan persone/lidmate wat die Kerk van die Here Jesus Christus intens skade berokken nie.

Ek kan bv. nie verstaan hoe ’n persoon soos Jean Oosthuizen steeds maar net toegelaat word in sy posisie by die Kerkbode, terwyl hy blatant voortgaan om mense (insluitende myself) te belaster, te beledig, te verkleineer en geen standpunt inneem teen dwaalleer nie – hy maak ’n openlike bespotting van God Drie-Enig, ens. (Titus 1:16; e.a.). Hy gebruik baie dikwels kru taal teenoor mense wat opgevoede heidene nie eens sal gebruik nie (’n voorbeeld van een van die "Facebook" drade wat hierdie feite bevestig kan op versoek verskaf word) en dan praat ek nie eens van sy persoonlike "Facebook-muur" nie! Christene wat sterk van hom op Facebook verskil, word summier geblok, maar ateïste word ‘n vry hand gegee om God te laster. Dit lyk na ‘n eensydige skending van spraakvryheid.



Ek staan verstom en geskok oor sommige predikante se uitsprake oor die hel (wat kwansuis nie bestaan nie – Matt.5:22; Mark.9:47-48; 1 Tim.1:19-20; e.a.); die feit dat Satan nie ’n werklikheid is nie (Jak.4:7; 1 Pet.5:8; e.a.); geen sondeval nie (Gen.3; 1 Joh.1:6, 8; e.a.); dat Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie (Matt.1:18; Luk.1:34; e.a.); die feit dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie (Luk.24:36; Joh.20:27; e.a.); dat Jesus Christus nie aan die regterhand van God die Vader sit nie (Mark.16:19; e.a.); die skepping; Jona en Noag wat mitologiese verhale is; uitsprake wat positief is oor die "emergent church", panenteïsme, homoseksualitiet, ens. ens. My vraag is, hoe die N.G. Kerk steeds kan toelaat dat die gewone lidmaat (geredde en soekendes) wat op soek is na ’n ware en intieme verhouding met Jesus Christus en groei in heiligmaking, blootgestel kan word aan sulke predikante en selfs ’n moderator? Manne soos Nelus Niemandt; ’n Albert Cruywagen; Gerhard Bothma; Ben du Toit en talle teologiese professore en andere? Ek wil nie eers kommentaar lewer op sommige sinodale besluite nie.

Ek wil nie eers kommentaar lewer op sommige werklik-ontstellende Algemene Sinode- besluite nie.

Aan die begin van hierdie jaar, toe ek ook Ferdie Mulder se boek "Opgestaan" gelees het, is dit wat ek ervaar, gehoor, gelees en vermoed het, opnuut bevestig en het ek net nog meer intens bewus geraak van wat in die N.G.K. aan die gang is en wat sommige van u as predikante, studente en talle lidmate moet ervaar. My hart het al meer begin pyn vir regsinnige (gereformeerde) broers en susters in die N.G. Kerk en het ek net nog dieper bewus geraak van die nood; die paniek; die verwarring; die pyn; ens. wat besig is om pos te vat by diesulkes. Ek is veral ook intens bekommerd oor "onskuldige" kinders wat "losgelaat" word in van die teologiese fakulteite waar N.G. predikante opgelei word.

Ek en ons gemeente is tans deel van "SOLA 5", ’n assosiasie van Evangeliese Christene in Suidelike Afrika en ek dien ook tans op die hoofbestuur van "SOLA 5". Die meeste van die predikante wat deel uitmaak van "SOLA 5" is Engelssprekende broers in die Here en hulle wil gedurig van my weet wat aan die gang is in Afrikaanse kerklike geledere en hoe ek dit sien. Ek self vra my daagliks die vraag af: Wat gaan hier aan? Wat kan ons doen – wat kan ek doen? Dit gaan tog immers hier oor die eer van God en die waarheid!

Die Skrif roep ons ernstig op om te waak teen dwaalleer, omdat dit mense weglei van die geopenbaarde waarhede. Dit is nie ‘n saak wat enige Christen by hom kan laat verbygaan nie (2 Pet.2:1-2; Titus 1:7-11; 2 Tes.2:15; e.a.).   

My broeder in Christus, ek is intens bekommerd oor die Kerk in Suid-Afrika in die algemeen en dan spesifiek oor wat aan die gang is in die N.G. Kerk en ek bid dat die Here sal ingryp en Sy eer sal herstel. Ek wens so dat ek hande kon vat met u in hierdie stryd op vergaderings, forums, sinodes, ens., maar omdat ek nie lidmaat van die NGK is nie, kan ek nie en kan ek u maar net verseker van my voorbidding en dat ek waar moontlik my bydrae sal lewer.

Sterkte in die stryd – ek dink aan u!

U broeder in Christus Jesus.


Kobus van der Walt