Monday, August 2, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (01 Augustus 2010)

Die Eerste Boek van Samuel - 01 [1]

(Werp jou sorge op Jesus)

1. INLEIDING:

Ons gaan van vanoggend af kyk na die Eerste Boek van Samuel. Mense vra baie keer waarom ’n mens nog die Ou Testament lees en daaruit preek – die punt is dat die Christelike geloof gewortel is in die openbarings en die magtige dade van God in die lewens van werklike mense deur die eeue heen. Dit is dan een van die redes waarom dit so belangrik is dat die kerk van die Here Jesus óók die Ou Testament sal bestudeer.

1 Samuel is ’n boek wat hoofsaaklik handel oor twee manne, maar dit boekstaaf ook vir ons die tydperk van die Rigters, tot en met die tydperk van die teokratiese regeringsisteem in Israel. Teokrasie is natuurlik ’n monargie waar konings wat deur God aangewys word, namens God regeer. Die twee manne wat die “hoofrolle” speel in 1 Samuel, is Samuel die profeet, wat die konings namens God aanwys en Saul, die volk se keuse as koning.

Dit is betekenisvol om daarop te let, dat die verhaal wat in 1 Samuel ontvou, nie net polities of sosiaal van aard is nie, maar ook teologies, geestelik en eskatologies. Teologies, omdat dit handel oor God se gesag en voorskrifte t.o.v. Sy volk. Geestelik, omdat dit handel oor die geloof van diegene wie die Here lief het en wat hul lewens as dissipels aan Hom wy. Hierdie boek het egter ook eskatologiese waarde, omdat dit direk heenwys na die koms van God se Seun, Jesus Christus, wat as Messiaanse- en Middelaarskoning sal kom regeer totdat Hy al Sy vyande aan Hom onderwerp het (1Kor.15:25).

God se soewereiniteit en Sy geregtigheid word ook baie duidelik weerspieël in hierdie boek.

Die tydperk waarin hierdie verhaal afspeel, is nagenoeg 110 jaar wat strek van Samuel se geboorte in 1100 v.C., tot en met Saul se dood op Berg Gilboa in 1010 v.C.

2. SKRIFLESING:

1Sam.1:1-20 ~ Daar was ’n man uit Ramatajim, ’n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. 2 Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s’n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. 3 Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here. 4 Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5 Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6 Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7 So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8 Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” 9 Op ’n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10 Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. 11 Sy het ’n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” 12 Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13 Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk. 14 Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!” 15 Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16 Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” 17 Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18 En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19 Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20 By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ’n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

3. ELKANA EN SY GESIN:

1 Samuel begin met die verhaal van een bepaalde familie – ’n uitsonderlike familie – ’n Vader met die naam van Elkana wat ’n Leviet was en wat getroud was met twee vrouens, met die name Hanna en Peninna. Elkana en sy gesin het in die dorpie Ramatajim gewoon, wat beter aan ons bekend is as Arimathea (Matt.27:57).

Hanna het geen kinders gehad nie, terwyl Peninna wel kinders gehad het. Elkana was ’n goeie man wat die Here God lief gehad het en hy was ’n voorbeeldige vader vir sy kinders. Wanneer ons na Deut.21:15-17 kyk, sien ons dat veelwywery aan die orde van die dag onder die Israelitiese was, ten spyte van die feit dat dit teen God se geopenbaarde wil was (Gen.2:24). Nie net was hierdie ongehoorsaamheid van die volk ’n probleem en ’n aanduiding van die geestelike toestand van God se verbondsvolk nie, maar dit was ook die wortel van Elkana se gesinsprobleme. Elkana het dus kompromie gemaak met die sondige gebruike en -kultuur van die volk en dit behoort ook ’n waarskuwing vir ons te wees, dat ons nie ook kompromie maak met ons 21ste eeuse volkskultuur en –gebruike wat onaanvaarbaar en onbybels is nie.

Die hoogtepunt van Elkana en sy gesin se jaar, was wanneer hulle na die jaarlikse volksfees en offerande geleentheid in Silo gegaan het. Hierdie geestelike pelgrimstog van Elkana en sy gesin is ’n positiewe voorbeeld van hulle getrouheid en Goddelike lewenswyse. Dit het in skrille kontras gestaan met die priesters van daardie tyd, wat bekend was vir hulle skandalige en slegte lewens en voorbeeld wat hulle voorgeleef het (1Sam.2:12-17). Ons sal wel later in meer besonderheid kyk na die priesters en hul gewoontes maar die kollig val nou eers hier in hoofstuk 1 op Elkana en sy gesin en die ongelukkige verhouding wat daar tussen Hanna en Peninna bestaan het.

Ons het in ons Skriflesing gesien dat Peninna haar verlustig het in Hanna se verleentheid wanneer lg. net een porsie van die offervleis ontvang het, terwyl Peninna baie meer ontvang het – en die rede? Omdat Peninna kinders gehad het en Hanna kinderloos was – ’n groot verleentheid en skande in die kultuur van destyds. Peninna het dan ook die situasie uitgebuit en Hanna gereeld daaroor gespot. Die vrolikheid om die gesinstafel en Peninna se gespot moes elke keer vir Hanna soos ’n dolksteek in die hart gevoel het – hoe het sy nie gesmag na ’n kindjie nie! So gebeur dit dan ook dat Hanna meer male hartseer van die tafel af opgestaan en die vertrek verlaat het. Elkana het haar probeer troos, maar sonder sukses, want Hanna se verlange na ’n kind was allesoorheersend.

4. HANNA SE GEBED EN GELOFTE:

Met Hanna wat weer saam met die gesin in Silo vir die feesvieringe is en sy weer hartseer van die etenstafel gevlug het, lees ons in v.9 en 10 dat sy na die tempel is om daar te gaan bid. Sy was waarskynlik so ontsteld terwyl sy haar hart voor die Here uitgestort het in gebed, dat sy nie eers die priester Eli by die tempel se deur sien sit het nie. Hanna het vas geglo en geweet dat God haar Vader haar gebed sou hoor en verhoor en aan haar ’n seun sou gee. Sy het terselfdertyd belowe dat sy haar seun sou terug gee aan die Here.

Wanneer ons na Hanna se gebed kyk, sien ons dat daar geen sprake van verwyte was nie – sy het niemand verwyt oor haar kinderloosheid nie en veral nie die Here nie. Dit is dan ook een van die groot toetse waar voor ons ook in ons lewe te staan kom. Ons maak so maklik beswaar teenoor God se voorsiening – so asof ons iets beters verdien – so asof die Here beter moes geweet het toe Hy toegelaat het dat bepaalde beproewinge oor ons pad kom.

Hanna het egter as gelowige, geweet dat God se doel met haar lewe een van seën was – selfs te midde van swaarkry en allerlei beproewinge. Hanna het egter haar hart uitgestort teenoor die Here en soos in Ps.107:6, het Hy (haar) gered uit (haar) ellende.

Hanna was egter nie alleen ’n vrou wat in geloof gebid en God ten volle vertrou het nie – sy was ook ’n nederige vrou. Toe die swaksiende Eli haar sien bid het hy gedink dat sy dronk was en nadat hy haar daaroor berispe het, het sy hom op so sagte en nederige wyse geantwoord, sodat hy op sy beurt ’n ongehoorde ding gedoen het, deur haar te seën – iets wat ongehoord was vir ’n priester. Hierdie is dan ook die enigste getuienis in die Ou Testament van ’n priester wat ’n individu geseën het – Hy seën haar met hierdie woorde ~ Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het (v.17).

Ons sien dan in v.11 dat Hanna ’n gelofte afgelê het en vir die Here gesê het ~ Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie. Nie alleen belowe Hanna dat sy haar seun permanent terug sal gee aan die Here nie, maar sy belowe ook dat sy hare nie afgesny sou word nie. Hierdie gelofte was in ooreenstemming met die nasireërgelofte soos opgeteken in Num.6:1-5 ~ Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, ’n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, 3 moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. 4 Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of-doppe nie. 5 “Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is. Die verskil tussen die Num.6-nasireërs en Hanna se verwagte kind was dat die Num.6-nasireërs se toewyding ná ’n bepaalde tydperk verstryk het – maar nie Hanna se ongebore kind nie – ons lees in v.11 ~ ... ek (sal) hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie. Hanna offer dus haar ongebore kind as ’n lewenslange Nasireër wat eksklusief vir die Here se diens afgesonder sal word.

Nadat Hanna haar hart uitgestort het voor die Here het sy vrede gekry en kon sy weer eet en was sy nie meer bedruk nie (v.18).

As ons na die priesterlike gebruike in die ou Israel kyk, was dit nie so uitsonderlik vir Hanna om haar ongebore seun aan te bied vir diens in die Tabernakel nie, want ons moet in gedagte hou dat Elkana ’n Leviet was en dit het impliseer dat enige een van sy seuns ook as Leviet diens in die Tabernakel sou moes doen. Wat egter uitsonderlik van Hanna se gelofte was, was dat sy beloof het dat haar seun van sy vroegste jare af in die Tabernakel diens sou verrig en dat hy van die begin af ’n Nasireër sou wees. Om ’n lewenslange Nasireër te wees, was ’n teken van die mees intense vorm van toewyding en godvresenheid en daar was nie baie sulke Nasireërs nie – Simson is een voorbeeld van so ’n lewenslange Nasireër.

Vir hierdie eenvoudige plattelandse vrou wat desperaat was om ’n seun te kon hê, was hierdie gelofte dus van lewenslange diens aan die Here, ’n wyse om haar geloof in God en haar opregte dankbaarheid byvoorbaat te betoon.

Ons word ook deur die Woord van God aangemoedig om ons hartsbegeertes voor God te bring – Fil.4:6 is ’n voorbeeld hiervan ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Ons moet egter altyd in gedagte hou dat ons in ooreenstemming met God se wil moet bid. Ook is daar nêrens in die Skrif opdragte dat ons beloftes, of geloftes aan God moet maak wanneer ons Hom om iets vra nie, behalwe dat ons gehoorsaam sal wees aan Sy geopenbaarde wil soos in Sy Woord vervat. Indien ons egter ’n eed wil aflê t.o.v. bepaalde optrede wat ons in die toekoms sal onderneem, moet ons, onsself egter die volgende vrae afvra:

· Sal die gelofte bevorderlik wees vir ons geestelike lewe?

· Is dit ’n behoorlike uitdrukking van opregte godvrugtigheid.

· Is dit in ooreenstemming met die beginsels van die Woord.

· Is dit ’n uitdrukking van my dankbaarheid teenoor die Here, of is dit ’n poging om Sy “arm te draai”?

· Kan ek verwag om hierdie gelofte, met die hulp van die Here, uit te leef en te eerbiedig?

· Kan ek van God verwag om my hiermee te help?

Ons moet besef dat wanneer ons bid, ons op “heilige grond” staan en dat ons gebed tot verheerliking van God moet wees.

5. HANNA VIND VREDE:

Die seën wat Eli oor Hanna uitgespreek het, het vrede in Hanna se gemoed gebring en dit is presies wat gebeur het – Hanna het vrede gekry en die bewys daarvoor was die feit dat sy van die offervleis wat die priesters aan hulle gegee het tydens die fees in Silo, geëet het – iets wat sy nie in die verlede gedoen het nie. Sy eet nou hierdie vleis en dít terwyl haar seun nog nie eens verwek is nie. Maar God het haar gebed verhoor en sy het God se liefde en vrede in haar lewe ervaar. Dit is die vrug van alle gelowige gebede. En hierdie feit behoort tot gevolg te hê dat God se kinders innerlike én uiterlike vreugde behoort te ervaar.

Hanna se lewe is vir altyd verander. Die familie het huiswaarts gekeer en kort voor lank sou Hanna die lewe skenk aan ’n seun en hom Samuel noem – Samuel, wat volgens v.20 ~ ...van die Here het ek hom afgesmeek, beteken. Met hierdie naamgewing het Hanna, eer aan God gebring. Ps.113:9 was so waar van Hanna ook ~ Aan die kinderlose skenk Hy ’n huisgesin, sy word ’n gelukkige moeder van kinders. Prys die Here!

In ons dae word kinders so dikwels gesien as ’n las. Hanna se optrede daag egter alle ouers uit wat so voel, om weer te besin oor hul gesindheid. Hanna spreek moeders aan wat hul ongebore kinders laat aborteer. Hanna se lewe en haar dankbaarheid herinner ons aan Ps.127:3 wat sê ~ Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

God het aan Hanna gedink en Hanna het vergeet van die hartseer wat haar jare lank bykans vernietig het. Hierdie verhaal van Hanna bevestig aan ons die waarheid dat God nooit Sy gelowige kinders vergeet nie. As ons stukkend en hartseer voel; as ons deur een of ander vorm van beproewing gaan, of jy ervaar iets wat só ’n skadu oor jou lewe werp, dat die Lig en Liefde van Jesus Christus bykans onsigbaar is, dan moet jy saam met Hanna aan die woorde van Ps.55:22 vashou ~ Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.

Ons moet ook onthou dat die geboorte van Samuel die koms van die Here Jesus Christus, nog ’n stappie nader gebring het vir die Ou Testamentiese gelowiges wat op die koms van die Messias gewag het en ons kan weer terugkyk en weet dat Hy reeds vir ons gekom het – Hy wat al ons sorge op Hom geneem het. Hy wat in ons plek gesterf het, sodat genesing en redding ’n realiteit vir ons geword het. Hy nooi ons steeds uit om na Hom te kom en ons sorge aan Hom oor te laat, sodat ons rus kan kry. Hy roep ons steeds om in Hom te glo en op Sy Naam te vertrou, sodat ons die ewige lewe kan beërwe.



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 01 Augustus 2010