Monday, August 30, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 11 [1]

(Ons Reaksie op God se Seën)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:

1Pet.3:8-12 ~ Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. 9 Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. 10 Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. 11 Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! 12 Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”

2. INLEIDING:

Petrus skryf hierdie brief ten einde medegelowiges voor te berei op fel vervolging wat gaan volg. Die feit dat Petrus in hierdie perikoop sê, “ten slotte”, impliseer nie dat hy nou sy brief afsluit met wat hy nou gaan sê nie. As u reg sal onthou, het ons ’n hele ruk gelede gekyk na ’n paar onderwerpe wat Petrus aangespreek het in die vorige gedeeltes van hierdie brief en al hierdie onderwerpe het gehandel oor verhoudings en onderwerping ín hierdie verhoudings. Ons noem hierdie onderwerpe, die Bybelse “Huistafels”. Ons het vantevore al na vier van hierdie onderwerpe, of dan verhoudings, of “Huistafels” gekyk – die eerste het gehandel oor burgers van ’n land; tweedens het ons gekyk na diensknegte, of te wel werknemers. Toe het ons gekyk na die vrou en vierdens het ons gekyk na die man. Ons kom dan vandag by die vyfde en laaste van hierdie “Huistafels” en dit is waarom Petrus sê, “laastens’, of “ten slotte”.

In verse 8 tot 9 som Petrus op wat hy vantevore reeds gesê het en berei hy die grond voor vir dit wat gaan volg.

’n Kenmerk van Petrus se skrywes, is dat hy altyd begin met wat God gedoen het. Ons sien in v.9 dat God ons roep om erfgename van Sy seën te wees – ’n erfenis waarin slegs ons wat Sy kinders is, kan deel hê. Hierdie seën impliseer nié dat ons gevrywaar word van probleme en beproewing in hierdie lewe nie. Ons word dus nie verhef bo die mense van hierdie wêreld nie, trouens ons word opgeroep om juis diegene wat ons met afsku bejeën, te seën. Hierdie erfenis gaan egter oor ons ewige erfenis en die seën wat daarmee gepaard gaan. Die seën wat ons dus moet uitleef teenoor andere, is ’n direkte gevolg van die genade wat ons van God ontvang het.

3. VYF EIENSKAPPE:

Petrus noem dan vir ons vyf eienskappe van ’n lewe wat hierdie seën weerspieël, nl.: eensgesindheid, medelye, liefde, goedhartigheid (wat ek eerder wil vertaal met “ontferming” – netnou meer daaroor), en nederigheid, of liewer vriendelikheid (ook netnou meer daaroor). Hierdie vyf eienskappe is nie bloot net blindweg gekies nie. Nee, dit is soos ons vingers wat ’n voortsetting van die hand is. Hierdie eienskappe spruit almal voort uit die lering en voorbeeld wat Jesus Christus aan ons gegee en gestel het en wat die basis vir die Apostels se lering gevorm het. Die sleutel of basis van al vyf hierdie eienskappe, is die liefde van God se genade.

· Kom ons kyk dan na die eerste eienskap wat van ons as gelowiges verwag word om uit te leef, nl. eensgesindheid. Om eensgesind te wees impliseer nié dat ons perfekte duplikate van mekaar moet wees nie, want dit sal tog nooit kan wees nie, bloot net omdat ons so uiteenlopend van aard is. Dit beteken egter dat ons almal dieselfde visie moet hê; dat ons saam moet werk in eensgesindheid. Gelowiges mag verskil van hóé iets gedoen moet word, maar hulle mag nooit verskil van wát gedoen moet word en wáárom dit gedoen moet word nie. Gelowiges is eensgesind omdat hulle dieselfde Bron gebruik om hulle te rig en te lei, nl. die Woord van God.

Ons moet Christusgesentreerd optree en soos Christus dink. Petrus het lank voordat hy hierdie brief geskryf het, in dieselfde slagyster as baie gelowiges getrap, nl. om nie Christusgesentreerd te dink en op te tree nie. Petrus het vir Jesus gesê dat hy nie sou toelaat dat Jesus gekruisig word nie – lynreg teen God se wil met ander woorde en hoor net wat het Jesus daarop vir hom gesê ~ Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Matt.16:23).

Wanneer ons hierdie eienskap van eensgesindheid wil openbaar, moet ons net Jesus navolg wat betref Sy nederigheid en liefdevolle gesindheid. Wanneer ons gewillig is om nederig en liefdevol te wees en ons, onsself neerlê vir mekaar, soos Christus dit vir ons gedoen het, sal dit nie moeilik wees om eensgesind te wees nie. Vra jou altyd self die vraag af: “Is hierdie saak iets waarvoor ek sal sterf of nie?” Indien nie, moet ek dit eerder laat en die minste wees. Dit is nooit die moeite werd om te verskil van mekaar oor iets waarvoor ek nie bereid is om te sterf nie.

· Tweedens sê Petrus, dat ons medelye met mekaar moet hê. Wat Petrus dus hier sê, is dat ons, onsself só met medegelowiges se gevoelens moet identifiseer, dat dit vir ons voel asof dit óns is wat die bepaalde emosies van die betrokke broer of suster ervaar. Hierdie emosies kan natuurlik beide hartseer of vreugde wees. As gelowiges moet ons tot so ’n mate in mekaar se lewens belangstel, dat dit in skrille kontras moet staan met dié van ongelowiges – ongelowiges wat gewoonlik gedryf word deur hul eie belange en selfsug.

Ook hier moet ons identifiseer met Christus en Sy voorbeeld navolg. Die Hebreërskrywer beskryf Christus as die Hoë Priester wat simpatie en medelye met ons swakhede het (Hebr.4:15). Ons moet dus sensitief wees vir andere se behoeftes. Ons mag nie hardvogtig wees teenoor mekaar nie. Die rede hiervoor, is dat ons deel uitmaak van dieselfde gesin.

In 1Kor.12:26 vergelyk Paulus die Liggaam van Christus met dié van die menslike liggaam en sê hy dat as die een lid van die liggaam ly, dan ly die hele liggaam en daarom moet gelowiges identifiseer met mekaar se vreugde en hartseer en mekaar se behoeftes en lyding. Ons moet dieselfde gesindheid as Paulus hê en op dieselfde wyse met mekaar identifiseer soos wat hy in 2Kor.11:29 dit beskryf ~ As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. Genade gaan dus nie daaroor om ’n broer of suster wat struikel, te veroordeel nie, maar om by hom of haar te gaan sit en saam met hulle oor hul sonde te treur. Hierdie is dan juis ook ’n kenmerk van gelowiges wat al ’n “lang pad loop”. Rom.15:1-2 sê ~ Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2 elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. En Gal.6:1 ~ Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom – dít is medelye.

· Petrus sê dat ons gelowiges is wat God se genade en seën ervaar en daarom moet liefde in en deur ons lewe weerspieël word. Liefde vorm tog ook die basis vir eensgesindheid en medelye wat ons so pas van gehoor het. Ons het ’n spreukwoord in Afrikaans wat sê dat “bloed dikker is as water”, wat impliseer dat familielede eerder bymekaar sal staan en mekaar sal ondersteun, as wat hulle vriende of vreemdelinge sal steun. Dieselfde beginsel geld vir gelowiges, want presies dieselfde bloed vloei deur ons are – die bloed van Jesus Christus. Deur God se genade is ons broers en susters van die familie van God. God het ons só lief gehad, dat Hy Sy Seun, Jesus Christus vir ons gegee het as volmaakte offer – net so moet ons ook ons broers en susters op dieselfde wyse lief hê.

Petrus sê egter dat ons liefdevol moet wees – dit impliseer dus dat ons nie net liefde teenoor ons broers en susters moet uitleef nie, maar teenoor alle mense, trouens Jesus sê in Matt.5:44 ~ Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg. Ons as gelowiges kan op een van drie maniere leef:

- Ons kan sleg met sleg vergeld, maar dit is die manier waarop die bose te werk gaan

- Of ons kan die goeie met die goeie beloon én die kwaad met kwaad – dit is egter die wêreldse manier van optree.

- Of ons kan Christus se voorbeeld navolg en dit is wat Petrus dan ook in hierdie gedeelte sê ons moet doen. Ons moet teenoor andere met genade as dryfveer optree.

Voor Paulus se bekering het hy die kerk met die swaard vervolg, maar na sy bekering het hy nooit weer mense- wapens gebruik om God se gevegte te veg nie – Rom.12:17-21 ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Toe Petrus en die ander Apostels vervolg was vir hul geloof, het hulle staatgemaak op gebed en God se krag, in plaas van hul eie wysheid en krag (Hand.4:23-24).

Ons moet ons voortdurend herinner aan ons roeping as gelowiges, want dit sal ons help om ons vyande ook lief te hê en goed aan hulle te doen, al behandel hulle ons sleg.

Ons moet altyd in gedagte hou dat dinge wat vir die wêreld sleg is, vir ’n gelowige goed kan inhou en ons kan daarin slaag, indien ons voldoen aan die volgende vereistes:

- Ons moet eerstens doelbewus besluit om, soos Petrus in v.10 van ons gelese gedeelte sê, die lewe lief te hê – dit is ’n wilsbesluit wat ons moet neem; dit is ’n geloofsbelsuit wat ek moet neem. Dit is m.a.w. die teenoorgestelde van die pessimistiese uitkyk waarvan Pred.2:17 praat ~ Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur het, het vir my sleg afgeloop. Alles kom tot niks, dit is ’n gejaag na wind. Ons kan besluit om die lewe te verduur en sodoende word die lewe vir ons ’n las; of ons kan ontvlug uit hierdie lewe; of ons kan die lewe begin geniet, omdat ons weet dat God in beheer is – natuurlik geskied hierdie genot binne die raamwerk van die Woord en Sy wil. Ons moet dus elke geleentheid wat God aan ons bied, ten volle aangryp en die meeste en beste daarvan maak.

- Tweedens sê Petrus in v.10 dat ons, ons tonge moet beheer. Baie van die probleme wat ons in die lewe ervaar, spruit voort uit die verkeerde dinge wat ons sê en die verkeerde motiewe waarmee ons dinge sê. Ons behoort Jak.3 elke dag te lees, asook Ps.141:3 ~ Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.

- Derdens sê Petrus in v.11 ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Ons moet nie net sonde vermy nie, maar ons moet sonde haat.

Maar terug na die eienskappe wat Petrus in v.8 aanspreek:

· Die vierde eienskap is ontferming. Sekerlik die mees uitnemende voorbeeld van ontferming, vind ons in God se liefde jeens ons toe Hy Sy enigste Seun gegee het as offer vir ons sonde. Paulus druk dit op ons harte in Ef.4:32, dat ons ...goedgesind en hartlik teenoor mekaar (moet wees), en (mekaar moet) vergewe soos God (ons) ook in Christus vergewe het. Die wortelbetekenis van hierdie woord “ontferming” [in die Grieks is dit eusplagcnoõ (eusplagchnos)] verwys letterlik na ons inwendige organe en daarom na ons gevoelens – ons emosies. Die antieke Grieke het die mens se inwendige organe geassosieer met durf. In die Woord van God word ons inwendige organe egter geassosieer met genade en besorgdheid. Die profeet Jesaja gebruik hierdie uitdrukking wanneer hy genade afsmeek van die Here in Jes.63:15 ~ Kyk van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning! Waar is u ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het hulle jeens my ingehou (O.A.V.). Letterlik sê Jesaja hier, dat God Sy genade en ontferming terughou en nie aan hom wat Jesaja is, skenk nie.

Die Evangelies praat van dieselfde ontferming en dieselfde Griekse woord word hier gebruik, as dit bv. in Matt.9:36 sê ~ Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. En Luk.7:13 ~ Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Jesus beskryf Sy eie ontferming wanneer Hy die gelykenis van die verlore seun vertel. Jesus kontrasteer ook die ontferming van die goeie Samaritaan met die ongeërgdheid van die priester en die Leviet. Die Samaritaan het ontferming bewys jeens die kritiek beseerde man. Die priester en die Leviet was as die beseerde man se naastes beskou en niemand sou die Samaritaan verantwoordelik gehou het vir die versorging van die beseerde man nie – en tog is dit juis die Samaritaan wat ongedwonge liefde en ontferming teenoor die man uitleef – hy maak hom dus self ’n “naaste” wat liefde en ontferming bewys.

Hierdie selfde hartsversugting van ons Here Jesus in Sy lering, is dieselfde las en versugting wat Petrus in sy brief weerspieël. Ons het hierdie selfde, gratis en genadige ontferming van Jesus ontvang. Hy het ons sonde op Hom geneem; Hy het namens ons gely en Hy het geregtigheid vir ons geword en daarom is die liefde wat Hy nou van ons verwag, presies dieselfde opofferende-, onselfsugtige- en nie-wettisistiese liefde. Ons gesindheid moet deurentyd een wees wat pynlik bewus is van ons ewige erfenis in Christus en daarom moet ons uit diepe dankbaarheid vir Sy genade werking in ons lewens, dieselfde liefde en ontferming uitleef teenoor andere – ons moet uitdelers van gratis genade en ontferming word.

Ons moet egter altyd bewus wees daarvan en daarom voortdurend daarom vra, nl. dat slegs die Heilige Gees. God se liefde in ons harte kan deponeer, ten einde ons te verander en te motiveer en te beweeg om hierdie liefde en genade en ontferming teenoor ons naaste uit te leef.

· Die laaste eienskap wat Petrus hier aanspreek, is volgens die N.A.V., nederigheid. Dit is egter baie moeilik om hierdie woord te vertaal. Die O.A.V. vertaal dit met “vriendelikheid”; die K.J.V. met “courteous”; die E.S.V. met “humble mind”. Die Grieks is filofjrwn (philophron) en direk vertaal uit die Grieks, sou ek eerder sê dat die O.A.V. se gebruik van vriendelikheid, die beste en korrekte vertaling van die Grieks is.

Gal.5:22 leer ons dat een van die vrugte van die Gees, vriendelikheid is en Paulus sê in 2Kor.6:6, dat onberispelike gedrag van ons as gelowiges verwag word en dan gaan hy voort en sê o.a. dat deel van onberispelike gedrag is om vriendelik te wees. Hy sê ook in 2Tim.2:25, dat ons, ons teenstanders met vriendelikheid tereg moet wys, want sê hy: ...Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.

Dit is dus duidelik dat ons lewe gekenmerk moet word deur vriendelikheid – ons moet vriendelik wees teenoor ons broers en susters, maar ons moet ook vriendelik wees teenoor vreemdelinge en selfs ons vyande! En natuurlik spruit hierdie vriendelikheid voort uit ’n opregte liefdevolle hart.

4. VREDESOEKERS:

In v.11 gebruik Petrus woorde wat herinner aan die woorde van Jesus in Matt.5:9, nl. ~ Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Wanneer Petrus in v.11 sê ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!, beteken dit nié dat ons vrede ten alle koste moet soek nie, want geregtigheid moet te alle tye die basis wees vir vrede. Dit is waarom Paulus in Rom.12:18 sê ~ As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Dit is m.a.w. nie altyd moontlik om vrede na te streef nie en soms is dit selfs onmoontlik – spesifiek waar die waarheid aangetas word, maar Paulus sê ook in Rom.14:19, Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. Ons moet dus baie hard werk daaraan om vrede te bewerkstellig en te handhaaf. En wanneer ons “vyande” ons ondergang soek, moet ons God steeds vertrou om ons te beskerm en ons vyande te verslaan (Rom.12:17-21).

5. AFSLUITING:

Petrus sluit hierdie perikoop af met woorde wat enersyds as waarskuwing vir ons moet dien, maar andersyds as wonderlike bemoediging ~ Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen. Die O.A.V. sê ~ Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed (v.12a). Die feit dat die Here se oë op ons is, behoort genoeg rede vir ons te wees om twee keer te dink voor ons mense provokeer en nie vrede soek met hulle nie, maar die klem in hierdie vers val veral op die gedeelte wat sê dat die Here na ons hulpgeroep, of ons gebede luister.

Wat ’n wonderlike belofte kry ons nie uit hierdie paar woorde van Petrus nie – die Here luister na ons gebede. Hierdie is ’n belofte wat ons vir onsself moet toe-eien en daarop staan wanneer ons tot die Here in gebed gaan – wat ’n geloofsversterker is dit nie! Glo ek en jy dat die Here na ons gebede luister, wanneer ons bid? Kom laat ons met oorgawe bid wanneer ons bid, want die Here Jesus het self in Luk.11:12 gesê ~ Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis?  Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee-die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagaand 29 Augustus 2010