Monday, July 26, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (25 Julie 2010)

Die Sentraliteit van God se Woord in ’n Volk se Restourasie [1]


Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Elke land in die wêreld waar die Evangelie op een of ander stadium ’n inpak gemaak het, het die Here baie dikwels ’n bepaalde man of groep mense gebruik in die vestiging van die Evangelie in daardie land. So weet ons bv. dat die Franse Hugenote ’n geweldige rol gespeel het in die vestiging van die Evangelie van Jesus Christus in Suid-Afrika. Wanneer jy vir die Evangeliese Christene in Zambië vra wie die grootste invloed gehad het op die geweldige uitbreiding van die Evangelie in Zambië, sal hulle vir jou sê dat dit ongetwyfeld David Livingstone was. So was daar ook mense soos Hudson Taylor (Sjina), of Adoniram Judson (Burma), of Christian David (Groenland) en vele ander wat God kragtig gebruik het in die lewe van individue, maar ook in die lewe van volke en lande.

Die Franse Hugenote het egter nie alleen na die suidpunt van Afrika gekom om die Evangelie te verkondig nie, maar hulle het ook hulle merk kom maak wat bv. die landbou betref – dink maar net aan die druiwe en wynproduksie van ons land.

Baie jare voor die Hugenote of Livingstone of Taylor, was daar egter ’n ander man wat ’n geweldige inpak op die geestelike welsyn van ’n volk gehad het. Om die waarheid te sê, hierdie man het reeds in die jaar 445 v.C. en ’n klompie jare daarna opgetree en nie alleen ’n stad se fisiese mure opgebou nie, maar ook die geestelike mure van die volk Israel gerestoureer.

2. SKRIFLESING:

Neh.8:1-11 ~ Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. 2 Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3 Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4 Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek. 5 Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. 6 Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7 Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8 Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9 Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word. 10 Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet. 11 Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.

3. AGTERGROND:

Soos die geval met ’n Livingstone, of die Franse Hugenote wat ’n spesifieke roeping van God ontvang het, het ook Nehemia ’n bepaalde opdrag van God ontvang, nl. om die verwoeste stadsmure van Jerusalem te gaan herbou.

T.w.v. agtergrond, moet ons net vlugtig gaan kyk waarom die stadsmure herbou moes word. Nadat koning Nebukadneser van Babilon, Jerusalem vir 70 jaar beset het, het hulle die stad in 586 n.C. verlaat, maar hulle het ’n verlate en verwoeste stad agtergelaat. Die indrukwekkende tempel van Salomo wat ongeveer 400 jaar vantevore gebou is, was geheel en al verwoes, maar so ook die stadspoorte en die muur rondom die stad. Net die armste inwoners het agtergebly in die stad, terwyl die res weggevoer is deur die Babiloniërs. Van die bekendste onder hierdie bannelinge was Daniël (van leeukuil-faam) en sy drie vriende. Vyftig jaar later gee Kores toestemming dat die bannelinge mag terugkeer na hul vaderland. In die boek Esra kan gelees word van hoe die Israeliete terug gekeer het na hul vaderland en ook hoe dat Jesua en Serubbabel en hul helpers, die tempel weer opgebou het (Esra 3). Ook in Esra 4 sien ons dat die Judeërs die stadsmure begin herbou het. Eers het die priesters begin en daarna het elke stam ’n gedeelte van die muur herbou. Een van die leiers, wat dan ook gesagvoerder oor Bet-Sur was, was Nehemia en sy stamlede het ook hul deel herbou.

4. NEHEMIA SE GODSBESKOUING:

Ons lees dan in Neh.8:1-2 van ’n baie interessante gebeurtenis ~ Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. 2 Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.

Die stadsmuur se herstel was voltooi en nou kom die Israeliete van oral byeen op die stadsplein om na die Woord van God te kom luister. Dit was die eerste keer in baie jare dat die volk weer so byeen kom. Waarom het hulle bymekaar gekom?” Waarom het hulle nie al vroeër byeen gekom nie? Die antwoord vind ons in die eerste gedeelte van v.1 ~ Toe die sewende maand aanbreek. Wat gebeur gedurende die sewende maand? Ons vind die verklaring hiervoor in Lev.23:1-2 ~ Die Here het vir Moses gesê: 2 “Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste... En dan gaan Hy voort om te sê watter feeste gehou moet word en dan vanaf vv.24-44 gee God opdrag dat die laaste drie van die sewe jaarlikse feeste gedurende die sewende maand van die jaar gevier moes word en dit was die Fees van die Trompette, die Groot Versoendag en die Loofhuttefees. Dit was die rede waarom die volk in Jerusalem byeen gekom het. Gedurende hierdie samekoms word Esra gevra om voor te lees uit die Skrif, nl. die Wet van Moses.

Alhoewel Esra op ’n verhoog gestaan en voorgelees het, het die Leviete ’n baie belangrike rol vervul, deurdat hulle die Woord verder verklaar en van toepassing gemaak het – hulle was dus die eintlike leraars van die Woord, sodat die volk in staat kon wees om die Woord te kon verstaan (8:12). Dit is ook noemenswaardig én merkwaardig om te sien dat, alhoewel Nehemia nie ’n priester of Leviet was nie, hy saam met die priester en Leviete, die volk geleer het ~ Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie” (Neh.8:10).

Nehemia het ’n baie prominente geestelike rol in die volk se herstel ná die ballingskap gespeel (8:9-12; 9:38-10:1; 12:38). Nehemia se Godsbeskouing wat hy gegrond het op die Woord van God en die feit dat hy onwrikbaar vasgehou het aan God se beloftes in die Woord, het daartoe bygedra dat hy nie toegelaat het dat omstandighede sy vertoue en geloof in die heilige en almagtige God ondermyn het nie. Hierdie standpunt en geloof in God se Woord, was een van die uitstaande kenmerke van Nehemia se bediening en dit het die volk gehelp om op ’n pad van herstel te kom ná dekades se beproewing:

· Die volk het hul vertroue in God verloor nadat hulle, hul politieke vryheid verloor het, maar om geestelik te herstel, was dit nodig dat Nehemia die volk aan God se onveranderlikheid herinner. Neh.9:32 ~ En nou, ons God, grote God, magtig en ontsagwekkend, U wat die verbond en die troue liefde in stand hou, moet tog nie al dié ellende gering ag nie, die ellende wat ons, ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons profete, ons voorvaders, u hele volk, getref het van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe. 33 In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.

· In 9:6 sê Nehemia ~ Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U. Hy getuig dus van God se soewereiniteit. En hy getuig dan ook daarvan, dat slegs God die vloek wat oor die volk gehang het, kan verander in ’n onmeetlike seën ~ Dit was omdat hulle nie brood en water aan die Israeliete wou gee nie en vir Bileam gehuur het om ’n vloek oor Israel uit te spreek. Ons God het die vloek in seën laat verander (Neh.13:2).

· In Neh.1:5 sê Nehemia ~ Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Hy getuig dus van God se betroubaarheid en getrouheid.

· Die begin van herstel – van restourasie vir enige persoon of volk, is nie in die eerste plek om van die oorsaak van die beproewing verlos te word nie, maar om ewige vergifnis van sonde te ontvang. Die kruks is dus om te besef dat God heilig is en dat Hy geen sonde duld nie. Nehemia het dit ook besef, daarom dat hy in Neh.1:3-7, belydenis doen namens die volk.

· Nehemia het ook onwrikbaar geglo dat God ’n genadige God is, wat ook begrip het vir ons tekortkominge. Nehemia herinner God aan hierdie faset in Neh.1:8-9, toe hy gebid en gesê het ~ Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, 9 maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon. Die Israeliete het God keer op keer teleurgestel, maar telkens het God genade aan hulle betoon. God is dus letterlik ’n God van vergifnis ~ Hulle het geweier om te luister, hulle het nie die wonderdade onthou wat U vir hulle gedoen het nie. Hulle koppe was hard, hulle het in verset gekom en wou in hulle koppigheid terug na hulle slawerny. Maar U is ’n God wat vergewe, genadig, barmhartig, lankmoedig, vol liefde. U het hulle nie verlaat nie (Neh.9:17).

· Nehemia het nie ’n oomblik daaraan getwyfel dat God sy volk uit ballingskap kon red nie, want die Skrif het hom daaraan herinner dat God die heelal geskape het; dat God aan ’n kinderlose en bejaarde Abraham en Sara, ’n kind kon skenk en ’n verbond met sy nageslag gesluit het. Nehemia het onwrikbaar geglo dat God almagtig is. Hoor wat sê hy in Neh.9:6-7 ~ Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U. 7 U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy naam Abraham gemaak het.

· God is ’n alomteenwoordige God wat by al Sy kinders oral teenwoordig is (2:8).

· Nehemia en sy medevolksgenote is oor eeue heen te na gekom, maar hy het geweet en geglo dat God ’n regverdige God is en dat God se oordele op een of ander stadium sal losbars oor sy vyande (9:33).

5. DIE VOLK SE GESINDHEID T.O.V. DIE WOORD:

Hierdie Woordgefundeerde oortuigings van Nehemia en die feit dat God se Woord sentraal gestaan het in sy lewe, het hy prakties in sy lewe gedemonstreer en dit het dan ook bygedra tot die volk se gesindheid t.o.v. die prediking van die Woord op die stadsplein gedurende die sewende maand.

Die volk sou beswaarlik gerestoureer kon word na hul dekade lange beproewing, as hul nie die regte gesindheid t.o.v. die Woord en die prediking van die Woord geopenbaar het nie en daarom moet ons ook kyk na hulle reaksie:

· Eerstens was die volk eensgesind. Ons sien in 8:2 dat die hele volk soos een man bymekaargekom (het) op die plein. Al was hulle persoonlikhede en hul sosiale stand en hul werk, uiteenlopend van aard, was hulle eensgesind in hul ywer en entoesiasme om na die Woord te luister.

· Waarskynlik die mees uitstaande kenmerk van die volk se samekoms op die plein was hulle entoesiasme. Dit was op hulle aandrang dat die byeenkoms plaasgevind het ~ Die hele volk......het vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring (8:2). Die volk het verwag en geglo dat God met hulle sou praat deur die Woord en hulle kon nie wag om na Hom te luister soos wat Hy Homself deur die Woord aan hulle openbaar.

· Die volk het aandagtig na die Woord geluister.  Hy het daaruit voorgelees......(en)......die aandag van die hele gemeente was by die wetboek (8:4). Dit was duidelik – die volk het verwag dat God met hulle sou praat, net soos wat God eeue tevore met Moses gepraat het.

· Ons lees in 8:6 ~ Toe (Esra die boek) oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. Die Israeliete was gevul met eerbied en ontsag by die aanhoor van God se Woord.

· Die volk het nie net opgestaan uit eerbied vir die Woord nie, maar ons sien ook in 8:7 dat hulle gekniel en diep gebuig het voor die Here, toe Esra die Here geprys het. Deur hierdie gebaar van onderdanigheid, het die volk getoon dat hulle nie die Woord aanbid en verheerlik nie, máár die God van die Woord.

· Die volk het geweet dat die Woord wat God aan Moses gegee het, nie net van toepassing was op die volk van destyds nie, maar dat dit steeds toepaslik was op hulle – dat die Woord steeds relevant is vir hulle en dat God steeds met hulle deur die Woord spreek. Die Woord het dus nie verouderd en irrelevant geraak vir ’n nuwe geslag nie. Die volk wat uit ballingskap teruggekeer het, het dus ’n leerbare gees openbaar, omdat hulle gewillig was om te leer en te luister – 8:8 ~ Die Leviete... het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan.

6. STAPPE TOT RESTOURASIE:

Hierdie byeenkoms van die volk op die plein voor die Waterpoort dien as pragtige voorbeeld vir ons wanneer ons herlewing en restourasie in ons persoonlike lewe, of in die lewe van ons gemeente, of herlewing in ons land begeer.

Die Woord van God en die prediking van God het sentraal gestaan in hierdie restourasie proses van die volk, maar kom ons kyk net kortliks na die voorbeeld wat die Israeliete vir ons hier in Nehemia 8 gestel het:

· Esra het die byeenkoms begin met gebed. Ons lees in 8:7 ~ Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. Geen geestelike samekoms waar mense die Here God wil hoor praat met hulle, maar ook geen restourasie proses, kan plaasvind sonder gebed nie. Esra se gebed het twee dinge bereik:

- Die lees van die Woord en die gepaardgaande prediking was nie maar net iets meganies (gewoonte of tradisie) nie – die volk was intens bewus van die feit dat die voorlesing van God se Woord met die nodige respek en eerbied gepaard moet gaan, want dit was God wat tot hulle gespreek het.

- Ons sien ook dat Esra se gebed die volk se afwagting op wat God vir hulle gaan sê, aangewakker het.

· Die tweede stap in die volk se restourasieproses vind ons in 8:3a ~ Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Baie is gedoen om die Woord van God uit te lig en prominensie te gee in die helingsproses van die volk of gemeente. Gebed soos wat ons gesien het, was deel daarvan, maar ons sien ook ’n verdere beklemtoning van die sentraliteit van God se Woord in 8:5-6 ~ Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was....... 6 Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Die volk het die lees van die Woord van God gerespekteer en dit met ontsag bejeën – so veel so, dat hulle opgestaan het terwyl Esra daaruit gelees het (iets wat vandag nog in sommige Skotse kerke gedoen word). Ons moet daarop let dat hierdie gebaar nie dui op ’n verering vir die Boek self nie, maar dit was eerbied wat getoon was teenoor wat die Woord van God werklik is, nl. dat dit die woorde van God is. Dit was respek wat getoon was teenoor die spreke van die heilige God en ’n voorbereiding van hul harte op wat die Here vir hulle gaan sê.

· Die derde stap in die herstelproses van die volk was die verklaring en verduideliking van die Woord van God (8:8). Tydens die byeenkoms op die plein, het die Leviete en Nehemia deel geneem aan die verduideliking en verklaring van die gelese Woord (of eintlik moet ons sê: die Gesproke Woord van God).

Hierdie optrede is maar net weer bewys van die belangrikheid en sentraliteit van die gepredikte Woord van God tydens die erediens, maar ook in die herstelproses, of restourasieproses van ’n individu; ’n gemeente, of ’n volk. Ons kan nooit restourasie verwag sonder dat die Woord van God sentraal staan in die hele proses nie. Natuurlik moet ons besef dat die prediking nie die primêre rol speel in herstel nie, maar wel die werk van God in elke individu – herlewing is God se werk, maar God werk middellik en daarom staan Sy Woord sentraal in die proses.

· Ons sien dus dat gebed, die lees van God se Woord en derdens, die verklaring van God se Woord, noodsaaklike elemente in die helingsproses van individue. Daar is egter ’n vierde aspek wat dien as bevestiging dat God herlewing gebring het en dit is berou oor sonde. Ons lees die volgende in Neh.8:10 ~ Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet. Die volk het onder intense sondebesef gekom by die aanhoor van God se Woord.

7. AFSLUITING:

Die uiteinde van die byeenkoms op die plein voor die Waterpoort, was dat die volk fees gaan vier het, want hulle was verlos en bevry – hulle was herstel en gerestoureer. Hulle sou nooit weer dieselfde gewees het nie.

As ons herstel in ons lewe nodig het, moet ons ook doen wat die Israeliete gedoen het – ons moet God se Woord met entoesiasme, met toewyding en met aandag lees en bestudeer en daaruit leer en ons oë op Jesus Christus gevestig hou vir vergifnis van ons sonde en as ons in die woorde van Nehemia aan die volk in 8:10, die Here met blydskap dien, ...... sal Hy (ons) beskerm!



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 25 Julie 2010