Sunday, August 15, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (15 Augustus 2010)

“God Laat Alles Ten Goede Meewerk”[1]


Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit


1. SKRIFLESING:

Rom.8:18-30 ~ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19 Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20 Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21 die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22 Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23 En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24 Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25 Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. 26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

2. TEKSVERS:

Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

3. INLEIDING:

Ons het verlede week gesê dat ons meer moet maak van God se beloftes in Sy Woord en dat ons dit meer vir onsself moet toe eien. Ons het ook gesien dat Paulus vir die gemeente in Kolosse gebid het en vir die Here gevra het om die gelowiges in Kolosse te seën met geduld – ...geduld om op God te wag in die uitwerking van Sy doel met hulle lewe. En waarom? Omdat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.

Hierdie belofte, wat ons ook vir onsself moet toe eien, is waarskynlik dié mees vertroostende en versterkende belofte in die ganse Woord van God, want dit omvat sekerlik alles wat ’n gelowige se lewe maar kan omvat.

4. VIR WIE IS HIERDIE BELOFTE BEDOEL?

Vir wie dan is hierdie belofte? Vers 28 sê dat dit vir ons is. Wie is hierdie “ons” van wie Paulus hier praat? Ons vind die antwoord in vv.29-30 en ek sê dit op grond van die feit dat hierdie verse begin met die woordjie “want” in die O.A.V. Verse 29-30 sê dus vir ons vir wie die belofte van v.28 bedoel is. Hierdie kan ons dan ook in ’n kettingvorm voorstel en in die teologie praat ons van “Romeine 8 se Onbreekbare Ketting”. Paulus stel dit dus in vv.29-30 ondubbelsinnig dat God die Een is wat mense red. Hy bied dus nie net redding aan nie, Hy skenk dit. Van die begin tot die einde is Hý die beslissende en onfeilbare Een wat só optree, dat nie een van Sy uitverkorenes verlore sal gaan nie. Die punt is dus dat hierdie ketting onbreekbaar is – wat God begin, voleindig Hy. Almal wat God dus vantevore geken het (sien O.A.V.), of anders gestel, wat Hy voor Hy oorgegaan het tot aksie, besluit het om te red – hulle op wie Hy Sy hart gesit het; hulle is uitverkies en elkeen van hierdie uitverkorenes is geroep; en almal wat geroep is, is vrygespreek, of geregverdig (O.A.V.) en almal wat vrygespreek is, word verheerlik. Elke persoon in hierdie ketting, sál dus sy eindbestemming bereik – sonder uitsondering!

Elkeen vir wie hierdie belofte in v.28 bedoel is, is dus diegene wat reeds voor die grondlegging van die aarde, uitverkies en bestem is, om geroep te word – uiterlik geroep deur die Evangelieboodskap en innerlik geroep deur die Heilige Gees om gered te word en vrygespreek is deur Jesus Christus se soendood en wat uiteindelik verheerlik sal word wanneer ons, in die woorde van Matt.25:21, ingaan en deel in Christus se vreugde!

Die toppunt van die belofte in v.28, is dus die uiteindelike eenwording met Christus in die ewige hiernamaals.

Dit is dus baie duidelik dat hierdie belofte nié vir alle mense is nie, maar slegs vir diegene wat in Christus uitverkies is. Ons uitverkiesing en redding se oorsprong is dus God self.

Gelowiges is nog nooit en sal ook nooit in die toekoms, geroep en gered word op grond van hulle goeie werke nie. Hebr.11 is hieroor baie duidelik, wanneer dit sê dat die enigste wyse waarop ons gered kan word, op grond van ons geloof is. Gelowiges word dus nie gered op grond van wie of wat hulle is nie en ook nie op grond van wat hulle doen nie, maar alleenlik op grond van wie God is en wat God gedoen het – 2Tim.1:9 stel dit pragtig ~ Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.

Later in Romeine gebruik Paulus die voorbeeld van Jakob en Esau om God se effektiewe roeping te verduidelik – Rom.9:11-13 ~ Toe haar kinders (dit is Rebekka) nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

Alhoewel die mens se geloof noodsaaklik is vir redding, is God se uitverkiesende genade, nog meer noodsaaklik vir redding, dit is waarom Jesus in Joh.6:65 sê ~ Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.

Redding vind dus op God se inisiatief plaas, maar gaan altyd gepaard met geloof. Dit is daarom onmoontlik om gered te wees sonder dat jy dit weet – geen persoon word dus gered sonder ’n bewustelike keuse wat aan sy kant gemaak word nie.

Hierdie belofte in v.28 is dus bedoel vir ons wat volgens Sy besluit geroep is (v.28c).

Paulus heg egter ’n tweede kwalifikasie aan vir die “ons” in v.28, vir wie hierdie belofte bedoel is – hy sê aan die begin van v.28c ~ ...vir dié wat Hom liefhet. Verloste mense het die genadige God wat hulle gered het, innig lief. Die Nuwe Testament is baie duidelik hieroor ~ Maar as iemand God liefhet, ken God hom (1Kor.8:3). Jakobus sê in Jak.1:12 ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. En Paulus sê van gelowiges in Ef.6:24 ~ Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.

Natuurlik het ons Christus nie lief soos wat ons Hom lief behoort te hê nie, omdat ons nog steeds onvolmaak is en besoedel word deur die sondige oorblyfsels van die Oumens. Dit is waarom Paulus vir die Filippense in Fil.1:9 gebid het ~ Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Hulle liefde vir Christus was opreg, maar dit was nog nie volmaak nie.

As Paulus dan sê dat die belofte in Rom.8:28 slegs vir diegene is wat volgens God se besluit geroep is, maar dan ook slegs vir hulle wat God lief het en ons sê aan die anderkant dat ons liefde onvolmaak is, moet ons sekerlik vasstel wat die Woord bedoel, wanneer dit praat van opregte liefde vir God.

· Eerstens het Goddelike liefde, ’n behoefte aan en verlange na gemeenskap en kommunikasie met God. Dit was hierdie begeerte wat die Psalmdigter daartoe gedryf het om bv. Ps.42 te skryf ~ Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. 3 Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? (vv.2-3).

· Tweedens – Opregte liefde, het tot gevolg dat die gelowige glo en vertrou dat God hom (sy kind) se gebede hoor – Ps.31:23b ~ U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het.

· Derdens – Opregte liefde ervaar Goddelike vrede ~ Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie (O.A.V. Ps.119:165).

· In die vierde plek is iemand wat God hartlik lief het, sensitief vir Sy wil en Sy eer (Ps.69:9).

· Vyfdens het opregte liefde, lief wat God lief het en ons kan weet waarvoor Hy lief is, omdat dit geopenbaar is in Sy Woord. Die ganse Ps.119 is vol daarvan dat die Psalmskrywer, God se Woord lief het en daarom moet ons ook Sy Woord lief hê.

· Opregte liefde vir God, het opregte liefde vir God se kinders tot gevolg ~ ...ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood (1Joh.3:14b).

· In die sewende plek sal opregte liefde vir God, ook haat wat God haat, nl. die sonde. Gelowiges sal pyn oor hul eie sonde, maar ook oor die sonde in andere se lewens. Toe die gekraai van die haan, Petrus herinner aan die Here Jesus se voorspelling, het hy bitterlik gehuil oor sy sonde (Matt.26:75).

· Opregte liefde het tot gevolg dat gelowiges sal uitsien na die wederkoms van Christus. Paulus het uitgesien na die ewigheid, want hy het geweet wat op hom wag (hy het m.a.w. ook geglo in en vasgehou aan hierdie belofte) – 2Tim.4:8 ~ Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

· Laastens is die alles oorheersende kenmerk van opregte liefde vir God, gehoorsaamheid. Joh.14:21 ~ Wie my opdragte het en dit uitvoer-dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.

Soos met wedergeboorte en gehoorsaamheid en soveel ander dinge in die Skrif, is opregte liefde ook nie iets wat onsself kan “opklits” nie. Al is dit ’n opdrag van God om jou medemens opreg lief te hê, moet ons dit nog steeds afsmeek van God. Johannes verduidelik dit vir ons baie mooi in 1Joh.4:7, 10 ~ Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God....Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. En v.19 ~ Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

Ons sien dus dat hierdie belofte, nl. dat God alles ten goede laat meewerk, vir diegene is wat Hom opreg lief het en wie volgens God se voorneme uitverkies is.

5. ALLES WERK TEN GOEDE MEE:

Daar is egter een laaste ding wat ons vir onsself sal moet uitmaak: Wat beteken dit as hierdie belofte praat van alles wat ten goede meewerk? Wat is alles? En hoe kan alles “goed” wees – hoe kan alles in die haak wees? Hoe kan dit in die haak wees as my een kind nie gered is nie? Hoe kan dit in die haak wees as ’n pragtige babatjie wat die enigste kind van ’n egpaar is, menslik gesproke, ontydig sterf? Hoe kan dit “goed” wees as ek my werk verloor? Is dít wat Paulus hier bedoel as hy sê dat alles ten goede meewerk? Beteken dit dat alles wat oënskynlik sleg is, op die ou einde vir my goed is? Wel, die antwoord is ja en nee.

Eerstens moet ons besef dat Paulus nié hier vir ons direk sê wat hy presies bedoel nie. Dan met ons ook gaan kyk na die betekenis van die woord “meewerk” in die Grieks.

Die Grieks vir “meewerk” in hierdie vers, is sunergew (“sunergeo”). Die letterlike betekenis hiervan is om dinge saam te laat werk. Watter dinge? Dinge soos hartseer en seerkry en vervolging en geluk en sukses, ens.? Ten einde dit te antwoord, moet ons na die konteks kyk. Waaroor gaan dit primêr hier? Dit gaan oor die sekerheid van regverdigmaking en heiligmaking, want in verse 18-27 bespreek Paulus die doel met ons regverdigmaking en die doel is ons uiteindelike verheerliking. Daar mag m.a.w. goeie dinge in ons lewe gebeur en daar mag allerlei onaangename dinge met ons gebeur, maar God gebruik al hierdie dinge en laat dit saamwerk om uiteindelik die goeie tot gevolg te hê, nl. ons verheerliking.

God se doel is dus om al hierdie dinge, of soos Paulus dit stel – alles, te gebruik, met een doel voor oë en dit is om ons as gelowiges, te laat groei in ons heiligmaking en ons uiteindelik, wanneer Hy ons kom haal in die woorde van Ef.5:27, ...in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Of in die woorde van Kol.1:22 ~ Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.

Wanneer ons deur beproewing gaan, of wanneer ons gebuk gaan onder struikeling, moet ons God se einddoel, met ons as Sy uitverkorenes, in gedagte hou, en wel in die woorde van Judas 24 ~ Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou.

Die Vader het ons voor die grondlegging van die aarde uitverkies en Hy het Jesus Christus Sy Seun gestuur om vir ons die volmaakte offer te bring, ten einde ons vlekkeloos voor God te laat staan – en let op, Jesus se kruisiging, al was dit hoe swaar vir Hom (Matt.26:39), was alreeds deel van die Vader se belofte om alles ten goede te laat meewerk vir ons wat deur Hom geroep is. En nou, terwyl ons in hierdie lewe is, gebruik Hy al hierdie dinge wat in ons lewe gebeur en laat Hy dit alles saamwerk, sodat ons uiteindelik in ons verheerlikte staat, ...heilig en onberispelik voor Hom (sal wees) (Ef.5:27).

Dit gaan dus nie primêr oor die hier en die nou nie. Dit gaan nie primêr oor ons swaarkry en nie-swaarkry nie – dit gaan uiteindelik oor ons eindbestemming. God se ewige wil “sit” dus agter hierdie belofte in Rom.8:28.

6. AFSLUITING:

Ons moet weet geliefdes, dat ons swaarkry, nie ongesiens by God die Vader verbygaan nie – v.26 gee aan ons die versekering, dat ons swaarkry en beproewing gehoor en gesien word. Daarvoor sorg God self, want God die Heilige Gees wat in elkeen van Sy kinders woon, pleit by die Vader vir ons (Rom.8:26-27).

Ons kan moed skep, want God weet presies wat ons omstandighede is, maar ons moet in gedagte hou, dat God nie altyd aan ons gee wat ons begeer in ons omstandighede nie, maar wat ons nodig het, want Hy wéét wat ons nodig het. En omdat ons kinders van God is, kan ons volle vertroue daarin hê, dat alles wat in ons lewens gebeur, onder God se sorg is en daarom kan dit nie anders as om tot ons eie beswil mee te werk nie. Wat ons beswil is, moet ons nie meet aan ons eie menslike verwagtings en begeertes nie. Ons beswil is God se genadewerk in ons lewe, wat uiteindelik daarop uitloop dat ons in ooreenstemming met Rom.8:30, in God se heerlikheid deel gaan hê.

Werk ek en jy saam met die Heilige Gees in hierdie proses van geestelike groei, te midde van en ten spyte van geluk of beproewing? Besef ons elke keer wanneer dit goed óf sleg gaan, dat God dit gebruik om ons voor te berei vir ons ewige bestemming? Ons moet ons nie blindstaar teen die hier en die nou se omstandighede nie. Nee, die Vader het ons verkies en bestem en geroep vir ’n ewige en verheerlikte lewe saam met God, en Jesus Christus het aan die kruis kom sterf vir elkeen van God se uitverkorenes, sodat ons wat ter dood gevonnis was a.g.v. die erfsonde, vrygespreek kan word en nou in hierdie lewe, voorberei kan word vir hierdie ewige en verheerlikte bestemming.


[1]Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 15 Augustus 2010