Tuesday, August 24, 2010

My Toewyding aan God n.a.v. Psalm 16 [1]

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram

(bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING: Ps.16:1-11 ~ ’n Gedig van Dawid. Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U. 2 Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. 3 Die afgode in die land, so aantreklik vir baie-met hulle wil ek niks te doen hê nie. 4 Mag elkeen wat ’n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” 5 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 6 ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. 7 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.8 Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. 9 Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. 10 U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. 11 U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

2. INLEIDING:

Ons hoor dikwels die uitdrukking: “Om geheel en al toegewyd te leef aan God”. Die vraag is: Wat beteken dit regtig? Wat beteken dit om toegewyd aan God te leef?

Wanneer ons hierdie uitdrukking hoor, sidder die meeste van ons by die aanhoor daarvan, want wie leef nou werklik volkome toegewyd aan God? Baie van ons sit dalk in die diepste dieptes van ellende vasgevang, omdat ons vir onsself sê, dat ons nie toegewyd genoeg aan God leef nie.

Waarom gebeur dit? Een rede kan wees omdat ons dit nog nooit regtig vir onsself uitgemaak het, wat hierdie uitdrukking regtig beteken nie – wat sê die Woord van God regtig hieroor?

“Om toegewyd aan God te leef” – Beteken dit dat ek sondeloos moet wees? Beteken dit dat ek die een Bybelvers na die ander moet memoriseer? Beteken dit dat ek net volkome toegewyd lewe, indien ek in “voltydse diens” vir die Here staan? Wat beteken dit regtig?

Ek dink dat ons gelese Psalm ‘n uitstaande voorbeeld vir ons is, ten einde te sien wat dit is om so ’n toegewyde lewe te leef. Deur hierdie pragtige Psalm van Dawid gaan ons nege eienskappe vir ’n toegewyde lewe identifiseer.

3. NEGE EIENSKAPPE:

* Hierdie Psalm begin met ’n versoek – die enigste versoek wat Dawid aan God rig in hierdie hele Psalm. Vers 1 dan ~ Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U. Die O.A.V. lees ~ Bewaar my, o God, want by U skuil ek.

Wanneer ons na vers 10 kyk, nl. ~ U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie, dan wil dit lyk asof Dawid die dood in die gesig gestaar het, toe hy hierdie Psalm geskryf het en dat hy hiermee vir God wil sê, dat as dit Sy wil is, Hy nie graag ’n ontydige dood sal wil sterf nie. Wat egter opmerklik is, is dat hier geensins sprake van vrees vir die dood in Dawid teenwoordig is nie. Hier is ook nie sprake van rebellie oor die moontlikheid van die dood nie, ook nie hartseer nie, en ook ontken hy nie die gedagte aan die dood nie.

Waarom is Dawid so kalm en rustig, terwyl hy in die skadu van die dood hier skryf? Wel, die rede hiervoor, is dat hy iemand is, wat toegewyd aan die Here leef en hy homself in God se soewereiniteit verlustig.

Hy vrees nie, want in vers 1b sê hy ~ ...o God; ek soek skuiling by U. Wat beteken dit as ek sê, dat ek skuiling by God soek? Beteken dit dat ek “skuiling vind” of dan my sekuriteit vind in daardie dinge wat God aan my gee – my salaris wat Hy aan my gee; my huis; my gesin ens? Nee, of ten minste nie in die eerste plek nie. Nee, ek vind my “skuiling by God”. Iemand het dit eenkeer so beskryf: Wanneer donderweer opsteek en daar is geweldig baie blitse en donderslae, sal ’n volwassene skuiling soek. ’n Kind daarenteen, sal na sy Ma en/of Pa toe hardloop en by hulle skuiling soek. Vir ’n kind beteken “skuiling” nie ’n dak of ’n bed nie, maar ’n persoon. En dit is presies hoe dit met ons Hemelse Vader ook moet wees. Ek moet my skuiling by Hom soek en nie in die dinge wat Hy aan my voorsien nie.

Dawid se toewyding is dus gesetel in die feit dat hy homself verheug in die feit dat God ’n soewereine God is. Hiermee saam moet ons egter vers 2a lees , nl. ~ “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. Ek aanvaar dus God se soewereiniteit ten alle tye en níé net wanneer dit goed gaan met my nie. Ek glo dus dat Hy voorwaar Adonai is – Here en Meester van my lewe. Ons moet dus te alle tye saam met Paulus in alle opregtheid sê ~ Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe (Fil.1:20). Wat is die implikasies daarvan, dat ek “Adonia” in lewe en in sterwe sal verheerlik? Die antwoord lê opgesluit in Luk.6:46 ~ “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?

* Wanneer iemand die dood in die gesig staar, sal hy baie met homself praat (hard of sag) en dit is presies wat Dawid ook hier doen. Wat sê hy? Vers 2 ~ Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. Hy sê dus weer vir die Here, dat hy aan Hom behoort en dat hy nie roem is sy eie verdienstelikheid nie, nee hy sê bloot, dat hy homself volkome aan die Here gewy het. Waarom? Omdat daar niks goeds in enige iets of iemand anders is nie.

Waarom kan gelowiges nie altyd die aanslae van hierdie lewe deurstaan nie? Waarom is God net God vir hulle wanneer dit sleg gaan. Maar wanneer dit weer goed gaan, is God ver op die agtergrond geskuif? Waarom? Omdat hulle, hulself nie deurgaans verheug in die goedheid en soewereiniteit van God nie.

Iemand het eenkeer gesê dat wanneer dit kom by allerlei “goed” en “ons goed” ens., ons die woord “goed” moet neem en die “g” moet verander na ’n hoofletter “G” en ons moet die “e” bloot net weggooi = “God”. Wat beteken al ons “goed” vir ons, as dit oornag weggeneem kan word, óf as ons oornag weggeneem kan word! Dink aan die man in Luk.12 en hoor wat het God vir hom in vers 20 gesê ~ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?

Ons tweede eienskap dan vir volkome toewyding aan God, is om onsself te verheug in die goedheid van God.

* Ons vind ’n derde eienskap in vers 3. Ongelukkig is die N.A.V. hier gladnie ’n goeie vertaling nie en lees ek graag die O.A.V. hier – daar staan ~ Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.

Die mens is ‘n sosiale wese en het nodig om deel uit te maak van sosiale strukture. Toe die dissipels weggegaan het van Jesus, het hulle nie, soos Judas, Christus verloën en geassosieer met Jesus se opponente nie, nee hulle het bymekaar gekom, omdat hulle een gemeenskaplike geloof bely het en daarom het hulle mekaar se broederskap opgesoek. Die implikasie van o.a. die “Mekaar-tekste” asook talle ander tekste, is juis om vir ons daarop te wys dat ons die gemeenskap van die gelowiges moet opsoek.

Ons as gelowiges het mekaar nodig, daarom dat die Hebreërskrywer in Hebr.3:13 skryf ~ Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Nog ‘n teken dus, van ware toewyding aan God, is om jou rug te draai op die wêreld en gemeenskap met medegelowiges te soek.

* Ons lees in vers 4 ~ Mag elkeen wat ’n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” Dawid was gefokus op Jahweh en hy weier om hom op te hou met afgode. Hy het selfs geweier om die name van daardie gode te uiter.

Waarom weier Dawid om hierdie afgode aan te hang? Hy sê hier in vers 4, dat die aanhangers van hierdie vreemde gode, menigvuldige smarte sal beleef.

Ons vind in talle Ou Testamentiese Skrifgedeeltes, die rede waarom rampspoed wag op afgodedienaars onder die volk, so bv. is Num.25:1-5 vir ons ’n goeie voorbeeld hiervan ~ Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad. 2 Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid. 3 So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam 4 en Hy het vir Moses gesê: “Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie.” 5 Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.”

Hoe is hierdie Skrifgedeelte vandag op ons van toepassing, want ek is seker dat nie een van ons die afgelope tyd, Baäl-Peor aanbid het nie. Die probleem is egter dat ons afgode in hierdie dae, nie in tempels aangetref word nie, maar in ons harte. Dit is waarom Jesus gesê het, dat ons nie twee here kan aanbid nie – Matt.6:24 (O.A.V.) ~ Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! Ons hang dus nie allerlei gode soos Baäl en Zeus en Bacchus ens. aan nie, maar afgode soos geld, sukses, sport, plesier ens. ens. Ons aanbid die afgod, “bevordering” of die afgod “besigheidsukses” en talle ander. Ja, ons aanbid ander afgode as in Dawid se tyd, maar ons het presies dieselfde probleem en presies dieselfde smarte kom oor ons wanneer ons hierdie gode aanbid.

Ons vierde eienskap dan. Iemand wat in totale toewyding aan God leef, sal hom nie verheug in afgode nie, maar in die Persoon van Jesus Christus.

* Ons vind ons vyfde eienskap in verse 5 & 6 ~ Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 6 ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Wanneer ek volkome toegewyd leef aan God, verheug ek my eerder in God wat voorsien, eerder as in dít wat Hy voorsien.

In die Ou Testamentiese kultuur, was alles gekoppel aan die besit van grond. Wanneer jy grond besit het, kon jy lewe en so ook jou nageslag, want eiendom het van die een geslag na ’n ander oorgegaan, maar as jy nie grond besit het nie, was jy ’n armlastige wat moes bedel om aan die lewe te bly.

Die enigste mense wat nie grond kon besit nie, was die priesters en die Leviete. Num.18:20 ~ Die Here het vir Aäron gesê: “Jy ontvang nie ’n deel van die Israeliete se land as besitting nie, jy kry nie ’n deel saam met hulle nie. Jou deel en jou besitting onder die Israeliete ontvang jy uit wat My toekom. Deut.10:9 ~ Daarom het die Leviete nie ’n eie grondgebied tussen hulle volksgenote gekry nie, want Levi ontvang van wat die Here self toekom, soos die Here jou God hom beloof het. Dawid het homself beskou as deel van die “koninkryk van priesters” in Israel (Eks.19:6) en daarom sien hy homself as iemand met geen besittings nie. Maar, Dawid kla nie daaroor nie, trouens baie jare later ego Paulus sy woorde in verse vier en vyf van Fil.3:7-8, gesê het ~ Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry, asook Fil.1:21 ~ ...want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

Beide Paulus en Dawid was volkome tevrede en vergenoeg in die Here.

As jy in volkome toewyding aan God wil leef, moet jy hierdie selfde gesindheid as Dawid en Paulus openbaar, nl. om jou te verlustig in die God wat gee en voorsien.

* Vers 7 lees ~ Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. As jy nie na God se Woord gaan vir raad nie, leef jy nie volledig toegewyd aan God nie. As jy nie jou teologie baseer op God se Woord nie, kan jy nie volkome toegewyd leef aan God nie. Wie is jou Raadsman? Na wie gaan jy met jou probleme – na God, of na Dr. Phil toe? Na Salomo of Freud? Na die Woord of die “Financial Mail”?

Om toegewyd aan God te leef, impliseer dat jy jou sal verheug in God se Woord. Hoor wat sê Dawid in Ps.19:10b-11 oor die Woord van God ~ Die bepalings van die Here (die Woord) is reg: elkeen van hulle is regverdig. 11 Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

* Ons sewende eienskap vind ons in verse 8 en 9 en ook hier lees ek eerder vir u uit die O.A.V. ~ Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. 9 Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon. Ek stel die Here altyddeur voor my... Wat beteken dit? Baie eenvoudig gestel: Hy is altyd voorop in jou gedagtes. Jou gedagtes is voortdurend op Hom gefokus. Al draai ’n roekelose bestuurder voor jou in; al ry jy met jou splinternuwe bande deur ’n slaggat; al loop jou vennoot jou in; al sien jy hoe hooggeplaastes omkoopgeld ontvang en omdat jy weier om mee te doen, die tender aan jou konkurrente toegestaan word; al word jou rugbyspan verswak deur politieke keuses; al vind daar soveel moorde en verkragtings en inbrake plaas; al is daar... – as jy volkome toegewyd aan God leef, sal jy Hom voortdurend vertrou vir en verheug in die veiligheid wat Hy jou bied.

Dink daagliks aan God se attribute/eienskappe. Ontwikkel voortdurend ’n ewigheidsperspektief. Oordink Sy Woord voortdurend en wanneer ons dit doen kan ons, ons verheug daarin dat onse God, ’n God is wat beskerm.

* Ons vind nie veel verwysings in die Ou Testament na die opstanding nie, maar in vers 10 van ons Skrifgedeelte, vind ons wel so ‘n teksvers ~ U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. Jes.26:19, is nog so ‘n teksvers ~ Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.

Dawid het geweet dat wanneer hy sterf hy nie maar net sal vergaan nie, nee, hy’t geweet dat hy weer gaan opstaan. Om ‘n vaste wete te hê dat hy weer gaan opstaan, is dus nog ‘n eienskap van iemand wat aan God toegewyd lewe. Dawid vrees nie die dood nie.

Paulus en Petrus het beide gesê dat Dawid hier in vers 10, eintlik geprofeteer het oor Christus se opstanding uit die dood (Handelinge). Hoe dit ook al sy: Dawid glo dat wat met Christus gaan gebeur, ook met hom gaan gebeur en daarom verheug hy hom in die feit dat hy nie in ‘n graf vasgevang gaan word nie, maar dat daar ‘n ewige lewe op hom wag.

* Ons lees in vers 11 van Ps.16 ~ U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is. Dawid verheug hom in die feit dat daar ‘n pad is wat lei na die ewige lewe. Daardie pad wat Christus Jesus kom oopbreek het vir hulle wat in Hom glo en, ‘n pad wat Hy oopgebreek het deur Sy dood en opstanding. En hierdie pad lei uiteindelik na die teenwoordigheid van God self.

Plaas jou volkome vertroue in Christus, want Hy sal hierdie pad vir jou aandui – hierdie pad wat jou sal lei tot onuitspreeklike vreugde wat vir ewig sal duur. Hierdie lewe se vreugde en plesier is blote illusies wat net vir ‘n wyle ervaar sal word – dit vergaan saam met die dood; tewens dit vergaan reeds voor die dood. Maar die vreugde van die opstandingsgeloof duur vir ewig.

Verheug jou voortdurend in die ewige lewe wat vir my en jou voorbestem is. Laat die woorde van Matt. 25, voortdurend in jou ore weerklink: “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie” (vers 13), asook vers 21 ~ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ en verse 31-34 ~ “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. 33 Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. 34 “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

4. AFSLUITING:

Wat beteken dit dan om geheel en al toegewyd te wees aan Christus?

* Jy sal jou verheug in die soewereiniteit van God

* Jy sal jou verheug in God se goedheid

* Jy sal jou verheug in God se kinders en hulle geselskap voortdurend opsoek

* Jy sal jou verheug in die Persoon van Christus Jesus

* Jy sal jou verheug in die God wat voorsien

* Jy sal jou verheug in die Woord van God

* Jy sal jou verheug in God se beskerming

* Jy sal jou verheug in die opstanding

* Jy sal jou verheug in die vaste sekerheid van 'n ewige lewe.

My Toewyding aan God aan die hand van Psalm 16” – Antipas Gemeente (22 Augustus 2010)