Monday, August 2, 2010

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 01 Augustus 2010

Openbaring Ontsluit - 23 [1]

(“Die Oop Boekie”)

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Openb. 10 is net soos Openb.7, ’n kernhoofstuk in die profesie van Openbaring Die oordele wat in Openbaring beskryf word, begin in hoofstuk 6, met die opening van die eerste ses seëls. Openb.7 vorm iets van ’n tussenpouse in afwagting op die opening van die sewende seël. Die sewende seël was in Openb.8:1 oopgebreek, waartydens doodse stilte vir ’n halfuur geduur het.

Op dieselfde wyse het ons in Openb.8:6-9:21 gelees van die eerste ses trompette, daarom kan ons verwag om die geskal van die sewende trompet hier in Openb.10 te hoor, maar ook hier sal die trompet steeds stil wees, want ons vind in Openb.10 weer ’n tussenpouse, soos in Openb.7 en ons sal die sewende trompet eers in Openb.11 hoor. Na die sewende trompet sal ons van die sewe bakke van oordeel lees, maar tussen hierdie sewende trompet en die bakke, sien Johannes sewe donderslae-oordele, maar hy word verbied om meer besonderhede daaroor weer te gee.

Openb.10 is verder belangrik, omdat dit ons by die einde bring van die fokus wat geval het op die verwoesting van die stad Jerusalem. Van Openb.11 af en verder, val die primêre fokus meer op die verwoesting van die Tempel, alhoewel daar van tyd tot tyd tog na die val van die stad verwys word, maar dit is nie meer die primêre fokus nie.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

· Openb.10:1 ~ Toe het ek ’n ander engel, ’n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het ’n wolk om hom gehad en ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare.  Die engel word hier in groot detail beskryf.

Die Engel wat hier beskryf word is Jesus Christus en ek sê dit omdat ons ’n soortgelyke beskrywing in Openb.1:12-16 vind waar die gedeelte ’n onteenseglike beskrywing van Christus is ~ Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13 en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra. 14 Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. 15 Sy voete was soos geelkoper wat in ’n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ’n groot watermassa. 16 In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.

Die stelling dat hier van Jesus Christus gepraat word en dat hierdie ’n beskrywing van Hom is, word ondersteun deur ander Skrifgedeeltes: In Openb.1:14 word gesê dat Jesus se oë soos vuur gevlam het. In Openb.10 word gesê dat die Magtige Engel se gesig soos die son is en Sy bene is soos vuurpilare en dat Hy ’n reënboog oor Sy kop gehad. Ook word Jesus se voete vergelyk met geelkoper wat in ’n smeltoond gloei. Openb.4:3 ~ Om die troon was daar ’n reënboog (sien Eseg.1:27-28). In Openb.10 word Hy beskryf as die magtige Engel. Openb.1:7 sê dat Jesus op die wolke gaan kom. In kort sien ons dus dat beide Openb.1 en Openb.10 na Jesus Christus verwys en nie maar net na ’n engel nie. ’n Beswaar hierteen is dat daar nêrens anders in die Nuwe Testament van Jesus as engel gepraat word nie, maar daar word telkens in die Ou Testament verwys na Jesus as die “Engel van die Here” (Gen.16:7-13; 22:15-18;Eks.3:1-4; ens.).

· Openb.10:2 ~ 2 In sy hand het hy ’n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan. Die eerste keer dat Openbaring praat oor ’n “boek” was in Openb.5:1-9. Daar het Johannes geween, omdat niemand gevind kon word wat waardig genoeg was om die boek te kon lees nie. Maar dan het die Lam van God egter gekom en Hy het die sewe seëls kom breek, wat geweldige oordele oor Jerusalem bloot gelê het. Indien ons konsekwent in ons interpretasie met Openbaring wil wees, moet ons aanvaar dat die twee boeke waarvan daar in Openb.5 en Openb.10 gepraat word, een en dieselfde boek is. Die enigste verskil is egter dat daar nou gepraat word van ’n “oop boekie”. Die vraag is of dit nou werklik betekenisvol is of veronderstel is om te wees? Waarom is hierdie boek in hierdie hoofstuk “klein”? Die waarskynlikste verklaring hiervoor, is dat die meeste van die oordele oor Jerusalem reeds ontsluit en openbaar gemaak is. Die sewe seëls is gebreek en ses van die sewe trompette het reeds geblaas en daarom is dit nou ’n “boekie”, hoewel dit steeds dieselfde boek is. Die res van die boekie handel oor die verbond, wat ingestel is, maar wat eers wettig van krag sal word met die vernietiging van die Tempel en die Judaïstiese aanbiddingsisteem.

Toe die Engel met die boekie in Sy hand, vanuit die hemel neergedaal het, het Hy met Sy regtervoet op die see gaan staan en met Sy linkervoet op die land. Ons het al vantevore gesien dat die see en die land die ganse bewoonde aarde verteenwoordig. Dit is egter ook moontlik dat die verwysing hier in Openb.10 na die land, ’n verwysing na Israel is (soos wat die geval al meer male in Openbaring was), terwyl die see ’n moontlike verwysing na die heidennasies is (Openb.17:5). Die punt wat hier gemaak word is dat die Magtige Engel (Christus), in beheer is van alles wat op land en op die see gebeur. Of anders gestel ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt.28:18).

Die beeld van Christus as soewereine God was betekenisvol op daardie stadium van die Wêreldgeskiedenis, want Hy moet en sal gesien word as soewerein oor alle volke – ook sal hulle (Israel) wat Hom verwerp het dit sien wanneer die Tempel en Jerusalem verwoes word. Dit sal dus duidelik word dat Hy Heerser en finale Gesag oor alle mense en volke is.

In teenstelling met die Ou Testamentiese verbond, sluit Christus se Nuwe Verbond alle mense in (gekwalifiseerd) – beide Jood en heiden. Openbaring gaan dan ook oor die Groot Opdrag, want dit is dan ook een rede (indien nie die belangrikste) waarom ons hier op aarde gehou word. Voor die Groot Opdrag egter van stapel gestuur kan word, moet die Ou Verbond eers verwyder word.

Christus sê in Openb.1:8 vir Johannes ~ Ek is die Alfa en die Omega, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige en dan gaan Hy voort in v.11 en sê vir Johannes ~ Skrywe wat jy sien in ’n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.

· Openb.10:3-4 ~ En (die engel het) met ’n harde stem uitgeroep soos ’n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. 4 En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het ’n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.”  Die Leeu van die stam van Juda het nou die oordele oor ’n verbond verbrekende volk “uitgebrul”! Tesame met die “Leeu” se gebrul word sewe donderslae ook gehoor. Soos ook reeds vantevore gesien, word die aankondiging van God se oordele dikwels in profetiese literatuur, aangekondig deur die gebrul van ’n leeu.

Donderslae word in Openbaring gebruik om God se soewereine oordele aan te kondig. Toe die Leeu brul, het die donderslae hul onderwerp aan Sy gebrul. Weereens is die getal sewe betekenisvol. Ons moet onthou, dat die oordele in Openbaring, altyd in die lig van die verbond gesien moet word. M.a.w., die oordele het gekom, omdat die toenmalige volk van God geweier het om die verbond wat hulle met God aangegaan het, in stand te hou en daarom kom God se verbond ook in vervulling, nl. om hulle te straf vir hul ongehoorsaamheid aan die verskillende verbond oordele waarteen Israel gewaarsku is in Lev.26, asook Deut.28. Wat van belang is, is dat God by vier geleenthede, ’n sewevoudige oordeel oor die volk belowe, indien hulle, hulle nie hou by die verbond nie (Lev.26:18 ~ As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes. En dan weer in vv.21, 24, 28). Die getal “sewe” word 54 keer in Openbaring gebruik en staan dikwels in direkte verband met God se verbond oordele wat belowe word aan diegene wat hulle nie sou hou by die Ou Verbond nie.

In die lig van hierdie opdrag wat Johannes hier ontvang het, is dit dus belangrik dat ons Openb.10:4 teen hierdie agtergrond moet lees. Hier in v.4 sê Christus vir Joannes ~ Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie. Later in Open.22:10 sal ons egter sien dat Christus vir Johannes keer om nie nou alles te skryf nie, want Hy sê ~ Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. Waarom sê Hy in 22:10 nou anders? Omdat die eindtyd – die tyd van vervulling op hande was – daarom moet Johannes wel openbaar maak wat hy gesien het, maar dit wat Hy eksplisiet verbied word om openbaar te maak, moet hy verswyg (sien ook Dan.12:4 ~ En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry).

Ons kan dus op hierdie stadium net wonder wat hierdie donderslae se betekenis is. Sommige spekuleer dat dit in verband gebring moet word met Matt.24:22 ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Dit is egter blote bespiegeling en daarom mag ons nie verder aandag aan sulke bespiegelings gee nie en wil die Here ook nie hê dat ons verder hieroor “wakker lê” nie, omdat dit nie belangrik vir ons is om te weet nie en daarom moet ons rus in God se woorde in Deut.29:29 sê ~ Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. Die kern van hierdie saak is, dat indien God wou hê dat ons moet weet wat hierdie oordele behels, Hy dit aan ons sou openbaar. Wat ons wel weet is dat hierdie donderslae bepaalde oordele impliseer en dit is genoeg dat ons dit weet en niks meer nie.

As daar een ding is wat ons vanuit hierdie vers kan leer, is dit dat die Woord swyg oor baie dinge wat ons graag meer van sou wou weet. Ons moet egter weet – en die Woord verseker ons daarvan – dat Jesus in volkome en volmaakte beheer van alles is – dat Hy Here van alles is en daarom moet ons Hom vertrou met die uitrol van alles hier op aarde en ons moet maar net ons verantwoordelikheid nakom en dit is om Hom te gehoorsaam in alles.

· Openb.10:5-7 ~ 5 Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig 6 en ’n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met ’n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. 7 Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.” Ons het gehoor van die opdrag dat Johannes niks mag neerskryf oor die sewe donderslae nie. Hier in v.5-7 kom die engel wat op die see en die land gestaan het en hy lê ’n eed af. Met hierdie eedaflegging, sien ons ’n tipiese Ou Testamentiese beeld, nl. dié van ’n regterhand wat opgesteek word wanneer ’n eed afgelê word – baie interessant word hierdie gebruik vandag nog steeds o.a. in ons howe toegepas (ek wonder hoeveel mense wat betrokke is by eedafleggings in o.a. die howe, is bewus van hierdie feit?). Ons lees bv. in Gen.14:22-24 van so ’n situasie waar Abraham ’n eed afgelê het om niks van die koning van Sodom te neem nie ~ Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.” 22 Maar Abram het hom geantwoord: “Ek het my hand opgelig en ’n eed afgelê voor die Here, voor God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, 23 dat ek niks van jou sal vat nie, nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie, sodat jy nie kan sê: ‘Ek het vir Abram ryk gemaak’ nie. 24 Afgesien van wat my manskappe geëet het, kan jy my buite rekening laat. Maar die manne wat saam met my gegaan het, Aner, Eskol en Mamre, hulle moet hulle deel kry.”

As ons terugkeer na ons verse onder bespreking en in gedagte hou dat ons by die bespreking van 10:1 gesê het dat die Engel wat hier onder bespreking is, na Jesus Christus verwys, is daar mense wat dit in twyfel trek of Jesus ’n eed sou aflê. Ek kan egter nie sien waarom dit nie die geval moet of kan wees nie, want God het self ’n eed afgelê teenoor Abraham ~ Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam (Gen.22:16-18). Indien God die Vader ’n eed kon aflê, waarom nie Jesus Christus die Seun nie? Natuurlik is hierdie voorbeeld uit Gen.22 ook nie die enigste getuienis van God wat ’n eed aflê nie – sien gerus ook Eks.6:8 en Deut.32:39-40. Toe Jesus geweier het om die Hoë Priester te antwoord in Matt.26:63-64a het die Hoë Priester die volgende gesê ~ Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” 63 Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” 64 Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.... Dit is dus duidelik dat argumente dat die Engel van Openb.10:5 nie Jesus kan wees nie, op grond van die feit dat Jesus nie ’n eed sal aflê nie, dus ongegrond.

Wat behels die eed wat Jesus dan hier aflê? Hy sê ~ Daar is geen tyd meer oor nie (v.6). Wat Hy dus letterlik hier sê, is dat daar geen uitstel meer sal wees nie. Nog eenvoudiger gestel: Die verwoesting van die Tempel en daarom die uitrol en begin van die Nuwe Verbond is op hande – dit gaan binnekort plaasvind!

In Openb.6:9-11 het die martelare uitgeroep ~ Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde? En die antwoord was ~ ...nog ’n klein rukkie.... Hierdie “rukkie” is nou bykans verby, want die profesie van hoofstuk 6 gaan binnekort volbring word. Dit is dan ook in die volgende hoofstuk van Openbaring, dat ons begin lees van die verwoesting van die Tempel ~ Toe is daar vir my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. 2 Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap (Openb.11:1-2).

Ons lees in v.7 hierdie woorde ~ Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word... Wat word bedoel met die woorde, God se verborge bedoeling (in Engels: the mystery of God)? Laat die Woord hierdie vraag vir ons beantwoord – Ef.3:1-7 ~ Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus. 2 Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3 Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4 en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5 Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6 En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. 7 Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. Die geheimenis van Christus, sê Paulus dus vir ons, is dat ook heidene voortaan mede-erfgename van dieselfde Liggaam gaan wees en deelgenote in dieselfde belofte van die Evangelie.

Die geheimenis van God, of die verborge bedoeling van God (v.7) was dus dat Jood en heiden, in een liggaam saamgevoeg sou word – rasse skeiding sou dus nie meer in Christus se Liggaam bestaan nie. Waarom sê ek dit? Omdat daar deur die eeue aanvaar is (met enkele uitsonderings – dink bv. aan Rut) dat slegs God se Verbondsvolk (die Jode/Israeliete) deel uitgemaak het van Christus se Liggaam. Hierdie feit sou nog duideliker word ná die verwoesting van die Tempel en dan sal God se geheimenis ten volle opgeklaar wees.

Jay Adams skryf: The predominantly Jewish nature of the church was to be ended by the destruction of the Temple, the distinctive feature in which it centered. David Chilton som God se bedoeling as volg op: Dit is die eenwording, sonder uitsondering, van Joodse- en heidense gelowiges in een kerk. Ten einde hierdie eenwording te bewerkstellig, moet die grootste hindernis tot eenwording, eers verwyder word, nl. Judaïsme en die Tempel. Eers wanneer die Tempel afgebreek en Judaïsme vernietig is, sal dit duidelik wees dat heiden en Jood deel is van dieselfde Liggaam.

Die skrywer van die Hebreërbrief dring daarop aan dat sy Joodse lesers daarteen moet waak om nie weer in Judaïsme te verval nie. Joodse Christene moet dus daarteen waak dat hulle nie hul Christenskap sal verruil vir Judaïsme nie, maar om Christus te omhels as die vervulling van Bybelse Judaïsme. Joodse gelowiges moet hulleself dus distansieer van die Judaïstiese rituale, want al daardie rituele gaan met die val van die Tempel beëindig word en die Joodse vervolging van die kerk sal terselfdertyd eindig en al die Joodse-gelowiges sal dan sien dat die heidense gelowiges ook nou deel uitmaak van die kerk van die Here Jesus. Dit is interessant om te sien dat die Romeinse historikus, wat oor daardie dae geskryf het, gesê het dat die verwoesting van die Tempel ook die vernietiging van die Christendom sou beteken, want vir die Romeine was die Christendom niks anders as ’n Joodse sekte nie. Wat ’n verrassing (of dalk eerder skok?) moes dit nie vir die Romeine gewees het, toe hulle sien hoe dat die Christendom met rasse skrede uitbrei na 70n.C. nie!

Die Magtige Engel het dan gesê dat die geheimenis opgeklaar sou word met die blaas van die sewende trompet – en dit is presies wat gebeur het – Openb.11:15 ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die Nuwe Verbond is amptelik ingelei met Christus se kruisiging. Die stort van Jesus se bloed het die Nuwe Verbond wettig bekragtig en almal uit alle volke en tale wie God uitverkies het, het hiermee die versekering ontvang dat hulle verlos is. Hierdie verbond sou egter eers ten volle en formeel geïmplementeer word wanneer Judaïsme wat ’n bedreiging vir die Christendom was, verwyder is. Die Evangelie van Christus kon nou vrylik verkondig word en versprei oor die aarde.

Jesus het Sy reputasie op die spel geplaas toe Hy in Matt.24:34-35 die val van Jerusalem voorsien het (Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit”), maar Jesus het ’n belofte gemaak aan Sy dissipels dat Hy die oorwinning sou behaal en trou aan Sy Goddelike karakter, het Hy woord gehou, want Hy het inderdaad oorwin!

· Openb.10:8-11 ~ 8 Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” 9 Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” 10 Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. 11 Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.” Dit mag komies voorkom, maar daar was niks snaaks verbonde aan Johannes se ervaring toe hy die boekie moes eet nie. Soos reeds genoem het die boekie die oorblywende oordele van God bevat wat moes plaasvind voor die volledige en finale implementering van die Nuwe Verbond. Die Engel gee opdrag aan Johannes om die boekie te eet en sê daarmee saam dat dit sy maag bitter sou maak, maar sy mond sal soet wees. Toe Johannes gehoorsaam en die boekie eet, was dit presies soos wat dit vir hom gesê is.

Die Ou Testamentiese agtergrond is hier baie interessant. In Eseg.2:8-3:14 ontvang die profeet presies dieselfde visioen. Beide hierdie visioene het essensieel dieselfde betekenis. In Esegiël se geval, het dit gegaan oor die val van Jerusalem en die tempel deur Nebukadneser en die Babiloniërs. In Johannes se geval gaan dit oor die val van Jerusalem en die tempel in 70 n.C. onder die hand van Titus die Romeinse bevelvoerder. Hoe kan ons nog twyfel oor hierdie verklaring en allerlei ander verklarings vir Openb.10 en Matt.24 verskaf as hierdie gedeelte so pragtig ooreenstem met Esegiël se visioen – waaroor daar geen verskille oor die verklaring bestaan nie!

Beide profete het gemengde gevoelens gekoester oor hierdie visioene. Beide was bly (soet) oor die verbond verbrekende volk wat geoordeel word deur ’n regverdige God, en beide was hartseer (bitter) oor die dood en verwoesting wat sou plaasvind tydens die uitvoering van hierdie oordele.

Hierdie bitter/soet situasie van hierdie visioene is vandag nog net so ’n realiteit (veral vir predikers) wanneer gesien kan word hoe dat die Woord gepreek word (soet) aan ’n gemeente, maar dat daar van die gemeentelede, baie keer nie die Woord van God ter harte neem nie (bitter).

Ten spyte van hierdie donker en bitter prentjie wat vir Johannes geskilder word, ontvang hy ’n wonderlike opdrag ~ Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig (v.11). Ons moet onthou dat Johannes ’n gevangene op Patmos was toe hy hierdie visioen ontvang het, maar nou weet hy dat hy nie daar sou sterf nie – hy sou vrygelaat word ten einde sy bediening voort te sit.

Net soos Johannes (en Esegiël) sal die Groot Opdrag, waarby elkeen van ons betrokke moet wees, ook vol, beide soet en bitter momente wees – hulle wat die Evangelie van verlossing aanvaar en hulle wat hul rug daarop keer – soveel te meer met ons eie kinders en familie.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 18 Julie & 01 Augustus 2010