Monday, October 5, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (04 Oktober 2009)

Die Brief aan die Efesiërs – 05 (Paulus se Gebed vir die Efesiërs) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Die eerste hoofstuk van Paulus se brief aan die Efesiërs kan in twee dele verdeel word, nl.:
· Die eerste gedeelte wat ons ’n seënbede kan noem en ons vind dit in verse 3-14 waar Paulus God loof en prys vir genade en redding en vergifnis;
· Die tweede gedeelte vind ons in verse 15-23 waar hy in gebed intree vir die gemeente in Efese. Dit is dan na hierdie voorbidding van Paulus waarna ons vanoggend gaan kyk.

Wat opvallend is van beide hierdie twee gedeeltes, is dat beide Trinitaries van aard is, m.a.w. al drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid word hier aangespreek.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:15-23 ~  Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17 bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

3. PAULUS SE GEBED:
Paulus bid vir die gemeente in Efese en in hierdie wonderlike gebed van hom sien ons drie elemente waarvoor hy voorbidding doen:
· Eerstens bid hy in vers 17a, dat ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan (hulle) wysheid (sal) gee. Hy bid dus vir wysheid.
· Waarom bid hy vir wysheid? Waarom vra hy vir wysheid? Sodat, in die tweede plek en volgens vers 17b, die Efesiërs, Christus werklik kan leer ken. En hierdie kennis behels drie aspekte, nl.
- Kennis oor die verlede (18a);
- Kennis oor die toekoms (18b);
- Kennis oor die hede (19-23).

4. WYSHEID:
Eerstens sien ons dan dat Paulus bid dat die Efesiërs geseën sal word met wysheid om bepaalde kennis te kan bekom. Hierdie is ’n gebed wat hy ook vir die gemeente in Kolosse gebid het, toe hy in Kol.1:9b gevra het, dat ...God deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, (hulle) Sy wil duidelik sal laat ken.

Ons moet verstaan dat geen kennis groter of hoër of dieper kan wees as kennis van God nie en ons kan nie oor hierdie kennis van God beskik, as dit nie aan ons onthul, of geopenbaar word nie. Geen boek en geen geleerde kan dit vir ons leer nie, dit kan slegs aan ons geopenbaar word deur die Heilige Gees. Hierdie feit word o.a. vir ons mooi beskryf en beklemtoon in Eks.31:3 ~ Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen. En Jes.11:2 beskryf dit ook pragtig vir ons ~ Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

Indien ons dus kennis van God wil bekom, moet ons saam met die Psalmdigter sê ~ Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet (Ps.119:18 – O.A.V.). Indien ons God dus beter wil leer ken, moet ons bid dat die Heilige Gees ons verstandsoë sal verlig, sodat ons Hom beter kan leer ken.

Ek wil nie nou hier op ’n syspoor spring en afwyk van ons teksgedeelte nie, maar ons moet besef, dat indien ons die Gees van God wil bid om ons te bedien met kennis van God, moet ons besef dat ons eers klaar moet maak met sonde in ons lewe, want die Heilige Gees sal ons nie bedien met kennis en insig en wysheid as daar terselfdertyd sonde in ons lewe vertroetel word nie.

5. KENNIS:
Wat behels hierdie kennis waarvoor Paulus hier bid? Ons sien dat dit kennis behels wat spruit uit die verlede (18b), die toekoms (18c) en die hede (19-23), m.a.w. dit is kennis oor die verlede, waaroor ons nou hier in die hede moet beskik, ter wille van die toekoms.

· Die eerste gedeelte dan van hierdie kennis behels kennis oor die verlede. Vers 18b sê vir ons ~ Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou – watter hoop sy roeping inhou. Hierdie “roeping” neem ons terug na die begin van ons geestelike lewens en selfs nog verder terug as dit – terug tot lank voor die grondlegging van die aarde – Rom.8:30 praat daarvan ~ Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Paulus bid dat die Efesiërs (en daarom ook ons) sal insien watter hoop ons roeping vir ons inhou.

Die vraag is nou: Waarvoor is ons geroep? God se roeping op ons lewens was tog nie doelloos en sonder betekenis nie. Hy het ’n baie spesifieke doel daarmee in gedagte gehad. Hy het ’n baie spesifieke doel in gedagte gehad, toe Hy jou en my geroep het. Hy het ons geroep om iets te wees en iets te doen. Dit is hierdie doel – “om iets te wees en iets te doen” wat Paulus dus hiervoor bid. En hierdie “iets” is dat elkeen van ons presies sal weet waarom God ons geroep het. Waarom Hy ons uitverkies het. Waarom Hy ons gered het. In Ef.4:4 praat Paulus dan ook weer van hierdie hoop van ons roeping wanneer hy sê ~ Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Ons is geroep om in gemeenskap met Christus Jesus te leef, juis omdat Hy die enigste Een is in wie ons hoop gesetel kan wees – m.a.w. buite Christus kan ons geen hoop hê nie.

· En wat is hierdie hoop wat ons kan en mag hê wanneer ons in gemeenskap met Christus leef? Dit lei ons na die derde gedeelte van vers 18 waar daar na kennis oor die toekoms verwys word ~ ... Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het. Die hoop en kennis waaroor ons dus kan beskik, is die hoop en vaste wete van ’n heerlike erfenis waarvoor God elkeen van Sy uitverkorenes bestem het. Paulus se woorde aan Titus in Tit.1:1b-2 stel dit pragtig ~ Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God 2 en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. Ons hoop is dus die vaste versekering wat ons nou kan hê op dít wat in die toekoms lê, nl. die sekuriteit van ’n ewige lewe saam met Christus.

Hierdie sekuriteit waaroor ons dus nou kan beskik, word gegrond op dit wat in die verlede gebeur het, nl. ons uitverkiesing en Paulus bid dat ons dit werklik sal verstaan en besef.

· Derdens toon vers 19-23 aan ons wat die kennis t.o.v. die hede behels, nl. kennis van die geweldige groot krag wat God volgens vers 19a in ons uitoefen. Paulus gebruik drie voorbeelde om vir ons hierdie krag te beskryf en weer kom hy en beskryf hy dit vanuit die verlede, die toekoms en die hede.

Paulus sê in verse 18a en 19a ~ ...Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet ...19...hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Hierdie woord “krag” wat Paulus hier van praat is in die Grieks "dunamis" en dui op ’n geestelik dinamiese en lewende krag. En dit is hierdie geestelik, dinamiese en lewende krag wat tot ons as gelowiges se beskikking gestel word.

Paulus gaan egter voort en omskryf hierdie krag verder deur drie bykomende woorde te gebruik – in vers 19 & 20 omskryf hy dit deur te verwys na God se kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het. Kom ons kyk net kortliks na die afsonderlike woorde in hierdie vers wat God se krag omskryf: - Eerstens dan “kragtige werking”. Letterlik dui hierdie woord op geweldige energie wat in werking gestel word ("energeia").
- Paulus omskryf hierdie krag verder met ’n tweede woord of uitdrukking, nl. “van Sy mag”. Die Griekse woord wat hier gebruik word is "kratos" en dit dui op ’n krag wat alle weerstand oorkom.
- En derdens beskryf hy God se krag met die woorde ...wat Hy uitgeoefen het. Die Griekse woord wat hier gebruik word is dieselfde as dié wat in Ef.6:10 gebruik word, waar Paulus praat oor “die Wapenrusting van die gelowige” en hy die volgende woorde gebruik ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Die woord “mag” wat hier in die Grieks gebruik word is "ischys" en dit beskryf vir ons ’n volkomenheid en omvattendheid van mag wat beskikbaar gestel word ten einde iets volkome te oorkom of te oorwin.

Paulus gaan egter verder en hy omskryf hierdie krag in nog meer detail, deur vir sy lesers nog drie verdere manifestasies van hierdie krag wat in Christus teenwoordig is, weer te gee:
- Eerstens was hierdie energieke krag aangewend in Christus se opstanding uit die dood en Hy aan God se Regterhand in die hemel geplaas is (v.20) – verhef bo alle nie-Goddelike magte in die ganse heelal (die verlede dus). En volgens Ef.2:6 word hierdie selfde krag gebruik om ons uit ons geestelike dood op te wek ~ ...in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee. Fil.3:10-11 sê dat hierdie selfde krag tot alle gelowiges se beskikking gestel word om ons uit die dood op te wek ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

- Tweedens sê Paulus in vers 22a ~ ...aan Hom (dit is Christus) het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef. Die meeste Engelse vertalings vertaal hierdie gedeelte met ~ ...and he put all things under his feet. Hierdie uitspraak is ook in ooreenstemming met Ef.1:10b ~ Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Tydens die sondeval het die eerste Adam sy hoofskap oor die skepping verloor, maar deur God se krag, is hierdie hoofskap nóú aan die Tweede Adam, nl. Jesus Christus toegeken (1Kor.15:27).

- ’n Derde manifestasie van God se krag in Christus word vir ons in v.22b beskryf ~ ...(God het) Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Christus se Hoofskap oor die ganse heelal lê nog in die toekoms, maar Sy Hoofskap van die Kerk (alle gelowiges) is in die hier en die nou gesetel. Kol.1:18 sê ~ Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

Wat is die implikasies van Christus se Hoofskap vir ons as kerk (in die hede dus)? In kort beteken dit dat Christus....:
- ...deur Sy wederbarende krag, ons deel gemaak het van Sy liggaam.
- Ons word deur die Heilige Gees aan die wêreld voorgehou as beeld van Christus – m.a.w. wanneer die wêreld na ons kyk, moet hulle Christus Jesus in ons sien.
- Deur die kerk vul Christus ons as gelowiges, m.a.w. Hy bemagtig ons met Sy krag, om getuies vir Hom te wees
- Deur die Kerk rus Hy ons toe om God beter te leer ken.

6. TOEPASSING:
Hierdie geweldige energie en krag wat alle weerstand, volkome kan oorkom; hierdie Goddelike krag wat Jesus kon opwek uit die dood en Hom verhef tot in die Hemel waar Hy aan die regterhand van God sit en waar Hy uiteindelik die Hoof van alles in die ganse heelal gaan word; daardie krag wat Hom aangestel het as Hoof van die Kerk – daardie krag is aan ons as gelowiges beskikbaar gestel. Die vraag is egter: Om wat mee te doen?

Ons moet onthou dat hierdie perikoop begin het met Paulus se gebed waar hy bid dat ons waarlik God sal leer ken en hierdie kennis het dan o.a. kennis van Sy krag ingesluit. Maar waarom moet ons oor kennis van God se krag beskik?

Ons moet besef dat ons geen kennis van God kan bekom as dit nie geskied deur die kragtige werking van die Heilige Gees nie – daardie selfde krag wat Christus o.a. uit die dood opgewek het.

As jy dalk twyfel of dit ooit moontlik sal wees dat jy God sal kan leer ken – onthou, God is almagtig! As jy weet dat jou kennis van God verhinder word deur sonde in jou lewe ... weet dat God ook magtig genoeg is om daardie skeidsmuur uit die weg te ruim, sodat jy Hom beter kan leer ken. Bid om, en vertrou in, die kragtige werking van die Heilige Gees.

Ons as gemeente moet ook weet en besef dat die kerk van die Here Jesus ’n transformerende krag in die lewe van mense buite die gemeente moet wees en dit kan alleenlik gebeur deur die teenwoordigheid van die opgestane Christus in elkeen van ons. Ons moet besef dat elkeen van ons wat aan die kerk van die Here Jesus Christus behoort, veranderde mense is – as die krag van die Here Jesus Christus nie in ons teenwoordig is nie, behoort ons nie aan Hom nie – anders gestel: As ons aan Hom behoort, beskik ons oor daardie krag. Ons moet dus deur die krag van die Here Jesus, in hierdie wêreld werk – ons mag nie passief wees nie – ons moet met die kennis van God en in Sy krag uittree en die wêreld daarbuite verander.

Ons moet as veranderde en nuwe mense in Christus, die wêreld met die kragtige, vrymakende kennis van Christus Jesus penetreer en verander.

7. AFSLUITING:
Paulus se gebed wat hy in hoofstuk een vir die Efesiërs gebid het, kom dan hier tot ’n einde. Nadat hy aan die gelowiges getoon het dat hulle oor al die geestelike seëninge beskik (1:3-14), het hy in v.15-23 gebid dat die gelowiges God intiem sal leer ken sodat hulle drie feite sal ken:
· Eerstens die feit wat uit die verlede spruit, nl. hulle roeping tot redding wat hoop tot gevolg het (v.18);
· Tweedens hul toekomstige erfenis wat God vir elke gelowige belowe (v.18) en,
· Die huidige en teenswoordige krag wat tot beskikking van alle gelowiges is – daardie krag wat in die verlede gemanifesteer het in Christus se opstanding; wat in die toekoms sal manifesteer wanneer Christus as Hoof oor die ganse skepping sal heers en daardie krag wat in die teenswoordige tot uiting kom in Christus se hoofskap van die kerk.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 04 Oktober 2009