Monday, October 19, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (18 Oktober 2009)

Die Brief aan die Efesiërs - 07 (Uit Genade Is Julle Gered) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.2:8-22 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. 11 Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14 Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15 Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16 Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17 Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18 Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. 19 Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20 Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21 In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

2. TEKSVERS:
Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

3. INLEIDING:
Ons teksvers vir vandag, is waarskynlik een van die bekendste teksverse onder gelowiges, indien nie dié bekendste nie. ’n Ander teksvers wat baie nou saamhang met hierdie een, is natuurlik Joh.3:16 wat basies dieselfde vir ons sê, nl. ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ons teksvers bestaan basies uit drie dele en ek wil dít graag vanoggend met u deel:
· Die eerste gedeelte verduidelik aan ons, hoe ons gered is – Dit is deur genade alleen dat ons gered is.
· Tweedens handel hierdie teks oor die kanaal waardeur hierdie genade van God na ons kom – Dit is deur geloof alleen
· Laastens hanteer hierdie teksgedeelte die hele kwessie van hoe God ons nié red nie en dit verduidelik terselfdertyd waarom dit so is – Dit is nie deur ons eie verdienste (of werke) nie, sodat nie een van ons kan spog of trots wees op onsself nie.

4. HOE GERED:
Eerstens dan: Hoe word ons gered? Paulus sê vir ons in geen onduidelike taal nie, dat ons uit genade alleen gered is. Wat beteken die uitdrukking “uit genade”? Of miskien moet ons eerder vra, “Wat beteken genade?” Ons kan genade in ’n baie kort definisie saamvat en dit dan as volg definieer: Genade is onverdiende guns. Of anders gestel, genade is God se liefde wat uitgestort word op persone wat dit glad nie verdien nie. Hierdie genade word dan ook baie nou verbind met die hele gedagte van vergifnis van sonde en redding en die ryke seën wat God aan onverdiende ontvangers van die genade, skenk.

Wanneer ons die openingswoorde van vers 9, nl. Julle is inderdaad uit genade gered, saam met die laaste woorde van vers 9 lees, nl. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, dan is dit baie duidelik dat Paulus die klem in hierdie teksvers op die gedagte van GRATIS genade plaas – ons betaal nie daarvoor nie – Hy skenk dit met ander woorde aan ons. Wanneer God in verhouding tree met die mens, doen Hy dit nie op grond van die mens se waardigheid, of wat die mens verdien nie, nee, Hy doen dit op grond van Sy goedheid en vrygewigheid.

Nog ’n eienskap wat saamgevat word in die uitdrukking, God se genade, is die hele gedagte van oordadigheid.

Genade word vir ons o.a. beskryf in Eks.34:6 ~ Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Genade is dus een van God se karaktereienskappe en spruit voort uit Sy liefde.

Nog ’n pragtige beskrywing van God se genade vind ons in Titus 3:3-5 ~ Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Ons kan dus ook sê dat God se “werksetiek” gekenmerk word deur genade en hierdie genade behoort altyd dankbaarheid en liefde by die onverdiende ontvanger van hierdie genade tot gevolg hê – bv. 1Kor.15:57 ~ Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

’n Verdere belangrike aspek van God se genade is dat dit dinamies is, m.a.w. dit red nie alleen nie, maar dit transformeer, of verander en dit blaas nuwe lewe in die ontvanger van God se genade. Waarskynlik die mees dramatiese illustrasie in die Woord van hierdie transformerende en lewe-gewende genade van God, is die voorbeeld van ’n man wat eens Saulus genoem was en uiteindelik Paulus geword het – die skrywer van hierdie brief aan die Efesiërs. Hoor wat het hy in 1Kor.15:10 gesê ~ Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. Ons sien dus hier dat Paulus nie net God se genade beperk tot sy redding nie, maar hy gee ook erkenning aan God, vir genade uitgestort op hom deur die loop van sy hele lewe, asook in sy bediening.

Ter wille van volledigheid moet ons ook net vlugtig kyk na al die vorme van God se genade. Genade word hoofsaaklik in twee groepe verdeel:
· Eerstens kry ons algemene genade. In kort, is God se algemene genade, daardie genade wat Hy oor gelowige en ongelowige uitstort. ’n Bekende teksverwysing in hierdie verband is Matt.5:45 ~ ... Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.
· Tweedens kry ons toegespitste- of spesiale genade. Toegespitste genade is daardie genade wat God skenk t.o.v. ons redding, heiligmaking en verheerliking. Hierdie toegespitste genade kan egter weer verder onderverdeel word en wel as volg:
o Eerstens vind ons effektiewe- of doeltreffende genade. Alles wat God beplan en doen word doeltreffend en volkome en volmaak volvoer of deurgevoer, dit is waarom Jesus in Joh.6:37 gesê het ~ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom.... En vers 39 ~ En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan....
o Tweedens, genoegsame genade. Dit is van hierdie genoegsame genade waarvan Paulus hier in Ef.2 skryf. God se genade is genoeg of voldoende om ons volkome te vergewe, te red en aanvaarbaar te maak vir God. Dit is waarom die Hebreërsskrywer in Hebr.7:25 sê dat God volkome red.

Ons sien dus dat God ons uit genade red.

5. DIE KANAAL VIR GENADE:
Paulus spreek egter hier in ons teksvers, ’n tweede saak aan, nl. die wyse waarop, of die kanaal waarlangs hierdie genade, van God na ons kom – vers 8 ~ Julle is inderdaad uit genade gered en dan hierdie woorde ~ deur geloof. God se genade kom dus na ons, deur geloof. Indien daar dus geen geloof is nie, is daar geen genade en geen redding nie. Hand.16:31 sê ~ ... Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.... En Joh.1:12 ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. En Hand.13:38-39 ~ ...die vergewing van sondes (is) deur Hóm (dit is Christus), en elkeen wat glo, (word) deur Hom vrygespreek van alle sondes.

Wat dan is geloof? Wanneer ons hierdie vraag wil beantwoord moet ons eers vir mekaar sê wat geloof nié is nie.

Geloof is nié subjektiewe gevoelens nie. Daar is baie mense wat bv. nie glo in Christus se opstanding nie. Of, hulle glo nie dat Christus, die Seun van God is nie. Of, hulle glo nie dat Hy uit die maagd Maria gebore is nie, ens. en wanneer jy hulle daarmee konfronteer dat dit nie Christenskap is nie, dan sal so ’n persoon steeds vir jou onomwonde sê dat hy ’n Christen is, maar sy oortuiging dat hy ’n Christen is, berus op subjektiewe gevoelens en nie op wat die Woord vir ons leer nie. Sulke persone se geloof is dus niks anders as ’n diep “gut feeling” nie (maaggevoel), maar dit is nie gegrond op die stewige fondasie van God se Woord nie.

Verder is geloof nié goedgelowigheid nie (“credulity”). M.a.w. dit is mense wat iets sal glo al kan dit nie bewys word nie, bloot net omdat hy opreg wens en hoop dat dit waar is. Dit is ook nie die geloof waarvan die Woord praat nie.

Optimisme is ook nie Bybelse geloof nie. Optimisme is ’n lewenshouding wat alles van die ligte kant beskou en wanneer dit by geloof kom, is ’n optimis hoopvol dat hy gered sal word.

Geloof is ook nié positiewe denke nie. Baie mense het ’n positiewe gesindheid t.o.v. iets wat tot gevolg het dat so ’n persoon so sterk daaraan glo dat hy dit geloof noem – “positive confession” van die “Charismate” is deel hiervan. Ja, ’n positiewe gesindheid oor die algemeen is goed en reg – bv. ’n positiewe gesindheid jeens jou werk, maar dít is nié Bybelse geloof nie.

Ware geloof word dus nie gebaseer op die mens se individuele gevoelens en gesindhede nie. Nee, Bybelse geloof is betroubaar en daarom vas en seker, want dit is ’n geloof in ’n betroubare God wat Homself keer op keer as betroubaar aan ons openbaar.

Bybelse geloof, waaroor dit dan hier in Efesiërs gaan, het drie elemente, nl.: Kennis; ’n Hartsreaksie- of gesindheid en toewyding.

· Eerstens dan kennis. Hierdie element van geloof moet uiteraard altyd, eerste teenwoordig wees, want geen mens kan in enige iets glo as hy dit nie ken nie – ons moet dus weet wát ons glo. Hierdie kennis van dít wat ons moet glo, is kennis oor die Evangelie. Dit is daardie dinge waaroor Paulus in Efesiërs 2 geskryf het en waaroor ons o.a. verlede week met mekaar gedeel het, nl. dat ons geestelik almal morsdood was en ter helle verdoen was a.g.v. die erfsonde, MAAR God het uit genade na ons uitgereik en ons uitverkies en Christus Jesus as Offerlam vir ons geskenk, sodat ons regverdig verklaar kon word deur God.

· Tweedens behels geloof, ’n hartsreaksie. Geloof is nie bloot net intellektuele instemming tot en goedkeuring van bepaalde waarhede nie. Dit gaan ook oor die een wat glo, se reaksie – sy hartsreaksie op hierdie kennis waarvan ons so pas gepraat het. Dit impliseer dus dat die kennis, waarvan ons so pas gepraat het, nou uitgestort sal word in ons harte – ons kan amper ook sê dat die kennis in ons harte “ingespuit” moet word. Die Woord van God word nie deur geloof ingeneem as dit net in die verstand bly en nie ook wortelskiet in die dieptes van ons harte nie. Daar is en moet dus emosie ook by geloof betrokke wees, maar emosie wat geordend en onder beheer staan van die eise van die Woord. Ons wil en ons motivering om God in gehoorsaamheid te wil dien en om die vyand teen te staan, spruit nié net voort uit die verstand nie, maar dit kom ook uit die hart uit, want as ons harte nie daarin is nie, sal ons nie volhard nie.

· Die laaste element van Bybelse geloof, is toewyding, of as u wil, vertroue. Dit sê wat Tomas gesê het in Joh.20:28 ~ My Here en my God! Dit beteken dus dat jy jouself aan Christus sal gee – sal oorgee. En dit beteken dat jy op Sy beloftes sal steun en Sy afgehandelde werk aan die kruis vir jou sal aanvaar.

Die huwelik as Goddelike instelling is iets wat die afgelope tyd en weer hierdie afgelope naweek baie sterk na vore getree het in ons gesinsopset en ek dink dat die huwelik vir ons ’n baie goeie illustrasie is van wat geloof werklik is, want die huwelik is die kulminasie of hoogtepunt van ’n uitgebreide proses daarvan om iemand beter te leer ken; om te reageer op die ander persoon en om dan uiteindelik ’n permanente verbintenis (“commitment”) met daardie persoon aan te gaan.

Die “saamwees” (“sleep”) gedeelte van die verhouding kan vergelyk word met die “kennis” element van geloof. Gedurende hierdie tydperk leer jy die ander persoon beter ken en kom jy agter of die ander persoon oor al die eienskappe beskik wat jy voel reg sal wees om ’n goeie huwelik te maak – is die ander persoon dus “troumateriaal” of nie. Hierdie is ’n baie belangrike fase, want indien die ander persoon nie oor die nodige eienskappe beskik nie, kan dit later tydens ’n huwelik, groot probleme tot gevolg hê.

Dan kom die volgende fase in ’n verhouding tussen ’n jongman en –meisie en dit kan vergelyk word met die tweede element van geloof. Die hart kom nou onder die vergrootglas, want nou begin die jongman en –meisie verlief raak op mekaar en word hulle lief vir mekaar en dit is ’n baie belangrike fase, veral met die oog op selfs nog meer en dieper kennis van mekaar.

Laastens kom daar ’n punt waar die jongman en die jong dame tydens die huwelik ’n verbond voor God met mekaar sluit om trou aan mekaar te bly ten spyte van wat ook al. Net so wy ons ook ons lewens toe aan Christus en beloof ons om Hom vir tyd en ewigheid te dien en na te volg.

6. HOE GOD ONS NIE RED NIE:
Ten slotte wil ek net vlugtig kyk na hoe God ons nié red nie. As ons na ons teksvers kyk, staan daar ~ Julle is inderdaad uit genade gered... (en dan vers 9) ...Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Die O.A.V. vertaal die woorde in vers 9 ~ nie deur julle eie verdienste nie, met ~ nie uit die werke nie.

Hierdie uitdrukking “ nie uit die werke nie”, maak geloof dan totaal anders as ’n werk. Geloof is wel die kanaal waardeur God se reddingsgenade na ons vloei, maar dit is nie ’n gebeurtenis wat enige aksie of gesindheid van ons vereis nie. As ons net weer na vers 8 kyk, sien ons dat selfs die geloof wat oënskynlik van ons kant moet kom ten einde gered te word, ’n geskenk van God is en dus nie uit onsself kom nie ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Dit is dus baie duidelik, dat ons geen – hoegenaamd geen bydrae lewer in ons redding nie. God red ons dus nié op grond van hoe ons glo en of ons enigsins glo nie – nee, Hy red ons soewerein – op Sy eie – eensydig!

As ons dink dat daar nog iets is (hoe klein ook al) wat ons kan doen of bydra om ons redding te verseker, slaan ons die bal ver mis en vertrou ons nog steeds meer op onsself as op Christus. Redding geskied deur genade alleen!

Die Woord het baie te sê oor “werke”. So praat dit van “werke van die wet” wat goed is, maar wat ’n mens nie kan red nie (Gal.2:16). Dit praat oor “dooie werke” (Hebr.6:1) en ook van “werke van die duisternis” (Rom.13:12; Gal.5:19-21; Ef.5:11). Al hierdie werke word in die mens se eie krag verrig en het absoluut niks met ons redding te doen nie.

Die goue reël wat ons in hierdie verband kan onthou, is: Voor ons enige goeie werk vir die Here kan doen, moet Hy eers ’n goeie werk in ons doen. Deur God se genade word ons deur Christus herskep tot werktuie vir goeie werke. God red ons dus in en deur Christus Jesus sodat ons lewens van goeie werke kan leef, maar ook dít is werke wat uitgevoer word deur Sy krag en genade vir en tot Sy eer.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 18 Oktober 2009