Thursday, October 15, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (11 Oktober 2009)

Die Brief aan die Efesiërs - 06 (Van Gramskap tot Genade) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.2:1-7 ~ Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2 wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. 3 So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

2. INLEIDING:

In hierdie paar verse skets Paulus die toestand waarin alle gelowiges verkeer het vóór hul wedergeboorte en hy doen dit juis om aan ons, die kragtige en wonderbare genadewerking van die Here God, wat Hy in ons lewens bewerkstellig het, te illustreer en Paulus sit dit dan ook vir mooi uiteen in die tweede gedeelte van ons Skriflesing.

3. GOD SE GRAMSKAP:
Paulus raak drie geweldige stellings kwyt in hierdie eerste drie teksverse. In vers 1 sê hy, dat die Efesiërs, dood was. Tweedens sê hy in vers 2, dat hulle slawe was van die “vors van die onsigbare magte” (dit is die satan). En derdens sê hy in vers 3, dat hulle die fokus van God se straf en toorn was.

Natuurlik moet ons ook besef dat hierdie selfde etiket om die nekke geplaas kan word van alle mense wat nie in Jesus Christus ingeplant is nie – en dat óns ook eens daar was.

Kom ons kyk dan na Paulus se eerste stelling, nl. dat ons “dood was”.

Paulus begin die Efesiërs se toestand ontleed, deur vir hulle daaraan te herinner, dat hulle op ’n stadium lewend was vir die verlokking van die sonde, maar dat hulle morsdood was vir God. Die gedagte waarmee Paulus hier speel, is dat die Efesiërs, as gevolg van hulle doodsheid, vervreemd was van God. Die Efesiërs en daarom ook ons, was nie dood omdat ons sonde gepleeg het nie, maar omdat ons in sonde was – omdat ons deel was van hierdie bose wêreld rondom ons. Die satan het ons denke en ons emosies, ons begeertes, ons wil, ens. onder sy beheer gehad Ons het gedoen wat hy vir ons gesê het om te doen. Ons was soos marionette wat aan toue verbind is.

Die toestand van die wêreld en sy inwoners kan vergelyk word met ’n begraafplaas en elke graf se grafsteen het presies dieselfde inskripsie, nl.: “Dood weens sonde”. Die uitkomste van hierdie dood, sien ons daagliks rondom ons, in die vorm van die morele verval van die samelewing; misdaad; geestelike blindheid en ’n onverskilligheid teenoor die dinge van die Here – inteendeel, lg. raak al meer en meer ’n openlike en uitdagende en selfs militante weerstand en weersin teen die dinge van die Here – ons sien dit bv. die afgelope tyd waar ene Prof. George Claassen, voorsitter van “Skepties Suid-Afrika”, formeel begin het om skole te monitor, om diegene wat Bybellees en gebed in klastye toelaat, strafregtelik te laat vervolg!

As die Woord dan praat van die mens wat dood is in sy sonde, dan word dit in ’n letterlike sin bedoel, want almal wat ongered is, is voorwaar dood – geestelik morsdood en is daar geen lewe in hulle nie. Hulle sien nie die heerlikheid van Christus raak nie en hulle is doof vir die influistering van die Heilige Gees. Hulle het geen liefde vir God nie en hulle verlang glad nie na gemeenskap met gelowiges nie.

Paulus sê in verse 1 tot 3 dat diegene wat dood is onder die heerskappy van hierdie wêreld, in die satan en die vlees verkeer. Ons was dus slawe van hierdie wêreld; die satan en die vlees.

· Paulus sê dat ons gelewe het soos hierdie wêreld. Ons was slawe van hierdie wêreld. Die woord “wêreld” wat hier gebruik word, is "kosmos" en dit word meer as 180 keer in die Nuwe Testament gebruik en bykans elke keer het dit ’n bose konnotasie en wanneer dit, soos hier in Ef.2:2 saam met die woorde, “die loop” (in Grieks is dit "aion") gebruik word, dui dit op “hierdie huidige bose tyd”, of hierdie goddelose wêreld waarvan Gal.1:4 ook praat.

Diegene wat dus sonder Christus in hierdie lewe verkeer, is deel van hierdie goddelose wêreld en is derhalwe gevangenis van die sosiale- en waardesisteme van hierdie huidige bose tyd waarin ons lewe. En hierdie huidige bose tyd, soos ons reeds gesê het, is vyandiggesind jeens Christus. Almal wat sonder Christus is, is dus vyande van Christus en derhalwe verlore.
· Paulus sê tweedens dat ons slawe van die vors van die onsigbare magte is (of te wel die satan). Hierdie onsigbare magte waarvan Paulus praat, is die demone of gevalle engele wat saam met die satan uit die hemel neergewerp is.

Matt.9:34 verwys dan ook na hierdie vors van die demone, wanneer dit sê ~ Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf. Om dus, soos Paulus dit stel, gelei te word deur die vors van die onsigbare magte, is om te dink en te lewe volgens die vooronderstellings; die ideologieë, en die standaarde waaroor die satan en sy demone, beheer uitoefen – in kort, hulle is ongehoorsaam aan God en Sy Woord (v.3). Calvyn het dit as volg gestel: The devil rules our thoughts, all our affections, and all our desires, that possesses us, and that we are all wholly his bondslaves. In a word, we cannot stir one finger, we cannot once move, we cannot think one thought, but the devil is at our elbow and draws us in such a way that we utterly become deadly enemies to God.

Ons moet onthou dat die satan se doel met die sondaars, nie altyd net is om hulle die ooglopende en bose dinge te laat doen soos in Gal.5:19-21 beskryf word nie, nl.: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Nee, die satan is uitgeslape genoeg om diegene wat geestelik dood is, te laat dink en ook daardie dinge te laat doen, wat oënskynlik goed en reg lyk, maar wat steeds teen die wil van God is en wat God nie behaag nie. Geen wonder dat 2Kor.11:14 praat van die satan wat homself voordoen as ’n engel van die lig nie!

Paulus herinner die Efesiërs dan daaraan, dat hulle soos hierdie wêreld gelewe het en dat hulle slawe was van die satan en deur hom en sy demone gedomineer is.

· Paulus gaan egter verder en sê vir die Efesiërs, dat hulle nie net van buite beheer was deur die wêreld en die satan nie, maar dat hulle ook van binne beheer was deur hulle vlees – hulle was salwe van hul eie vlees dus. Hy sê in vers 3 ~ So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Hierdie sondige begeertes waarna Paulus verwys, is allerlei soorte sondige gedagtes en begeertes wat verbied word en is dít waarna Rom.8:7 verwys, nl. ~ Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou. Dit is daardie dinge wat vyandskap teen God is – daardie dinge wat hulle daarvan weerhou om in gehoorsaamheid aan die Wet van God te leef.

Nadat Paulus dit aan die Efesiërs uitgespel het, wie en hoe hulle was, kom hy in vers 3b en sê hy aan hulle wat die gevolg is vir mense wat in daardie toestand vasgevang bly en wát met hulle sou gebeur – Hy sê ~ Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Die E.S.V. vertaal hierdie sinsnede (deur God gestraf) met, by nature children of wrath. Ons is dus van nature – van geboorte af, mense wat onder God se toorn, of Sy gramskap staan. Dit is ook presies wat die oorspronklike vertaling vir ons sê, met die woord "orge" wat hier gebruik word.

Omdat die mensdom onder God se toorn verkeer, impliseer dit dat alle mense verdoem is. Dit beteken dus dat alle mense op grond van hulle sondige natuur, onder God se toorn staan en derhalwe verdoem is – of gevonnis is om vir tyd en ewigheid in die hel deur te bring (die erfsonde).

4. GENADE:
Menslik gesproke kan daar dus niks aan die saak gedoen word nie, want die sondaar kan homself nie red nie. Ook kan geen ander mens wat God se reddende genade ervaar het, ander mense red nie. Die mens se toestand is dus ’n hopelose toestand.

MAAR, wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik! En dit is presies wat Paulus vir die Efesiërs in die volgende paar verse wil sê.

Vers vier begin pragtig (en ek is so dankbaar dat die N.A.V. nie hier afgewyk het van die oorspronklike teks nie) met die woorde ~ Maar God... (But God...). Hierdie twee woordjies is die twee skarniere waarop die ganse Evangelie rus - Maar God.... Hierdie twee woorde vertel aan ons presies wát God gedoen het aan die mens se hopelose toestand, maar ook hóé God

tussenbeide getree het ten einde hierdie hopelose situasie van die mens reg te stel.

· Wie is hierdie God?
Wie is hierdie God van wie Paulus hier praat? Wat het hierdie God gedoen? Waarom het Hy dit gedoen? En laastens, wat moet ons doen?

Ons moet besef dat die God van wie Paulus hier praat, nie ’n aardse of mensgemaakte god is nie. Ook is hierdie God nie die God van die Bybel, maar wat verkleinneer en afgebreek word tot ’n god wat die mens se emosies en denke en voorkeure pas nie. Nee, Hy is die almagtige God, Skepper van hemel en aarde. Hy is die God van ons Here Jesus Christus. Hy is die God wat Paulus reeds in hoofstuk een so wonderlik beskryf het. Wie is hierdie God dan?
- Eerstens is hierdie God waarvan Paulus sê, Maar God..., ’n soewereine God. Indien God nie ’n soewereine God is nie, is Hy nie God nie. Om soewerein te wees impliseer o.a. om te regeer – God regeer dus oor Sy ganse skepping. Hy het dit gemaak en Hy beheer dit. Niks gebeur sonder Sy goedkeuring nie. Niks kan Hom verras nie. Dít wat God van die begin af verordineer het (besluit/beveel), dít gebeur presies net so. Hy weet presies ook wat in die toekoms gaan gebeur en hierdie toekoms is vas en seker, omdat hierdie soewereine God dit bepaal het.
- Tweedens is hierdie God heilig. Wanneer ons na Paulus se briewe kyk sien ons gedurig hoe sterk hy die klem op God se heiligheid laat val wanneer hy praat oor God, maar ook wanneer hy praat oor God se reddingsplan vir die mensdom. In kort kom dit daarop neer: Omdat God ’n heilige God is, haat Hy sonde. Geregtigheid sal dus geskied.
- Derdens: Omdat God ’n heilige God is en Hy sonde haat, laat Hy sonde nie ongestraf nie. Dit is waarom Paulus in 2:1 sê ~ Julle (is) dood as gevolg van julle oortredings en sondes. Dit is waarom die mensdom se situasie so benard is – inteendeel, dit is ’n vreesaanjaende situasie. Ons moet altyd in gedagte hou: God is God en ons is mense. God is heilig – ons is sondaars. Ons kan dus op niks, absoluut niks, aanspraak maak nie. Dit is dus baie duidelik dat die mensdom God nodig het – net Hy kan iets aan die mensdom se situasie doen.

· Wat het God gedoen?
En volgens Paulus hét God iets aan die situasie gedoen, dít is waarom hy sê ~ Maar God.... God het nie die mensdom maar net so gelaat nie. Nee, Hy het Hom ontferm oor die mens. Hy het diegene wat Hy reeds lank voor die grondlegging van die aarde uitverkies het, gered. Hy het die Efesiërs en elkeen van ons wat in Hom uitverkies is, gered uit ’n benarde situasie – ’n situasie waaraan geen mens enige iets kon doen nie. Waarom gebruik Paulus die woord dood in vers 1? Juis om aan ons te toon dat ons niks, absoluut niks aan ons hopelose toestand kan doen nie – ’n lyk kan tog nie iets doen nie. Maar God... het uitgereik na ons ten einde ons te red – en juis dít is die wonder van die Evangelie – God het in Sy groot genade, deur Sy Seun, Christus Jesus, uitgereik na ons ten einde ons te red.

Net soos in die geval van Lasarus wat dood was en reeds ter ruste gelê was in die rotsgraf in Joh.11:43, het God ook vir elkeen van ons wat gered is, gesê, ...Lasarus, kom uit!

· Waarom het God dit gedoen?
Maar waarom het God dit alles gedoen? Daar is maar net een antwoord – Genade! Paulus gaan egter verder en hy beskryf hierdie daad van genade met vier woorde:
- Die eerste woord waarmee Paulus hierdie genade van God omskryf is liefde. Vers 4b ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. God stort dus Sy genade oor ons uit, bloot net omdat Hy besluit het dat Hy ons liefhet.
- Tweedens beskryf Paulus God se genade met ’n woord wat uit liefde voortvloei, nl. barmhartigheid. Vers 4a ~ Maar God is ryk in barmhartigheid...(mercy). Barmhartigheid is egter ’n woord wat gebruik word om ’n daad of optrede te beskryf wat uitgeoefen word op iets of iemand wat daardie
bepaalde daad níé verdien nie – in hierdie geval dus, God se reddende genade.
- In vers 5 gebruik Paulus die kernwoord van sy beredenering, nl. genade ~ Uit genade (sê hy), is julle gered. Hy herhaal hierdie woord weer en weer in sy briewe, maar dan spesifiek ook weer hier in verse 8 en 9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.
- In vers 7 gebruik Paulus die woord, goedheid om genade verder te omskryf. Ons vind hierdie uitdrukking “die goedheid van God”, op verskillende plekke in die Woord, maar dit word die meeste kere gebruik wanneer daar oor die Kruisiging van Christus geskryf word en dui dus daarop, dat Christus se kruisiging, goed genoeg was om versoening tussen ons en God te bewerkstellig.

Ons was eens dood en kon onsself nie red nie: dit was slegs God se genade wat ons kon red. Ons het almal onder God se toorn verkeer – net liefde kon oor hierdie toorn triomfeer. Ons het niks anders as God se oordeel en straf verdien, maar slegs genade kon ons daarvan red. Waarom het God dit gedoen? Hy het dit enkel en alleen uit Sy onmeetbare liefde en barmhartigheid en genade en goedheid gedoen – meer nog, verse 6-7 ~ (Ons is) in Christus Jesus saam met Hom opgewek uit die dood en (Hy het) ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God (ons) ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

· Wat moet ons doen?
Laastens, wat moet óns doen? Ons is gered deur genade alleen, maar omdat ons, wat eens verlore was, nou uit genade gered is en werklik besef wat ons redding alles behels, behoort ons – nee, móét ons Hom wat Sy genade onverdiend oor ons uitgestort het, met ons hele lewe dien en aanbid – in opregtheid en met oorgawe.

5. SLOT:
My liewe vriend en vriendin, jy wat nie weet of jy deur hierdie genadige God gered is nie, vra jouself die volgende vraag n.a.v. Rom.6:16 af – Kom ek lees net eers vers 16 ~ Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Wie dien jy? Dien jy Christus met jou hele hart? Indien nie, het jy die antwoord op jou vraag hier in vers 16 – bekeer jou dus; glo in Jesus Christus en stel jou oop vir Christus se liefde en genade en barmhartigheid en goedheid.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 11 Oktober 2009