Thursday, October 15, 2009

Openbaring Ontsluit - 14 (Die Lam Open die Seëls - vervolg) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het die vorige keer na die eerste vyf seëls gekyk wat die Lam van God geopen het – vanaand gaan ons na die sesde seël kyk.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
· Openb.6:12-17 ~ Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het ’n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. 13 Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van ’n vyeboom afval as dit deur ’n sterk wind geruk word. 14 Die hemel self het verdwyn soos ’n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. 15 Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 16 Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 17 Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

Ons sien hier, hoe dat Johannes iets van ’n kosmiese chaos beleef wanneer die Lam die sesde seël oopmaak. ’n Ontsaglike aardbewing tref die aarde – so erg dat die aarde wankel in sy baan. Meteens staan die geskiedenis van die aarde stil – doodstil voor God! Op een sekere dag van die tyd gryp God in Sy skepping in. Die son word swart, die maan rooi, die sterre val soos “laatvye” in ’n stormwind.

Mense kan dalk vra hoe dit moontlik is? Punt is net, dat as die mens met die hulp van die wetenskap ’n atoombom kan maak en met die druk van ’n knoppie (in enkele sekondes dus) ’n groot stad met ’n paar miljoen inwoners kan uitwis, hoe moontlik is dit tog nie vir die almagtige God, om hierdie verskriklike natuurverskynsels wat Johannes nou sien, te kan bewerkstellig nie – Hy wat met die enkele spreek van ’n woord, die heelal tot stand gebring het, kan tog immers die heelal weer vernietig ook.

Nie alleen vind hierdie geweldige aardbewing plaas nie – daar vind ook ’n “hemelbewing” plaas – die ganse heelal word dus geruk en geskud. Soos wat ’n mens ’n koerant sou oprol, so gebeur dit met die blou koepel om die aarde – berge en eilande verskuif. Berg Everest is nie meer op sy plek nie en die Drakensberge word verskuif.

Wat het hier gebeur? Wat is die betekenis van hierdie verskriklike visioen wat Johannes sien? Ons vind die antwoord in vers 17a ~ Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek. Al die profesieë van die Ou Testament wat nog nie tot vervulling gekom het nie, word op hierdie dag vervul. Jesus se eie profetiese rede word ook op hierdie dag bevestig. Dit wat die apostel Petrus op Pinksterdag in sy preek gesê het, word op hierdie dag finaal deur God uitgevoer.

Dit gaan dus hier oor God se toorn. Joël die profeet kondig dit aan en op die laaste bladsy van die Ou Testament vertel Maleagi dit aan ons – Die dag van die Here het aangebreek – Die dag kom en hy brand soos ’n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ’n wortel, nie ’n tak oorbly nie (Mal.4:1a).

Wat is hierdie Dag van die Here? In kort, dit is die dag waarop Christus weer op die wolke gaan verskyn en waarop Hy die aarde gaan verwoes en ’n einde maak aan die menslike geskiedenis. So erg gaan alles wees, dat groot en klein, skuiling gaan soek in die grotte en onder die kranse van die berge (v.15).

Daar is geen rede om te glo dat al hierdie dinge wat Johannes gesien het, figuurlik gesproke is nie, inteendeel, alles dui daarop dat hierdie, letterlike gebeure gaan wees op die dag dat Christus gaan kom. Dit is die gesamentlike getuienis en profesie van die Woord van God. Ons lees op verskeie plekke daarvan en ons vind veral vier “padaanwysers” in die Woord wat na hierdie gebeure, soos in Openbaring beskryf, lei en onomwonde dus daarop dui dat hierdie Dag van die Here ’n letterlike gebeurtenis gaan wees:

· Eerstens vind ons dit in die aankondiging van Joël. Sy hele profesie draai om hierdie laaste dag van die geskiedenis van die wêreld. Hierdie gebeure rondom die laaste dag, is deel van die belofte oor die Pinksterdag, nl. dat die Heilige Gees uitgestort sou word ná Jesus se hemelvaart. Alreeds eeue voor Jesus se geboorte verkondig God deur Sy profeet aan die kerk, dat Hy Sy Gees sal uitgiet op alle vlees (Joël 2:28), maar saam met hierdie belofte van die Heilige Gees profeteer Joël ook oor die laaste dag – die dag van oordeel. Kom ons lees dit in Joël 2:28-31 ~ Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. 29 In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. 30 Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. 31 Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. Ses eeue voor die koms van Christus weet Israel alreeds van die tekens in die skepping, van die donker son en die rooi maan van God se oordeel – en ons? Ses-en-twintig eeue gelede is dit reeds vir ons aangekondig.

· Tweedens kom Jesus en Hy profeteer van hierdie dag. Hy preek dit in Sy profetiese rede in Matt.24:29 ~ Kort na die verdrukking van daardie tyd (m.a.w. die martelaarskap aan die einde van die tyd) sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

· Die derde padwyser vind ons in Petrus se prediking op Pinksterdag. In Handelinge 2 lees ons van daardie geweldige, onbeskryflike ding wat gaan plaasvind: Die Heilige Gees word aan Christus se kerk gegee. Die volke van die wêreld word betrek en dinamiese magte word ontketen en die Evangelie van die kruis word op aarde verkondig. Die Messias het gekom om God se kinders uit alle volke te verlos. Die apostel Petrus preek op hierdie dag en sy teks kom uit die profesie van Joël. Weereens is dit die belofte van die Heilige Gees, maar die oordeelsdag word direk aan Pinksterdag verbind: Wonders bo in die hemel, tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son word donker en die maan word bloed voordat daardie vreeslike Dag van die Here kom!

· Maar Simon Petrus is nog nie klaar met hierdie dag van God se toorn nie en kom hy met die vierde padwyser. Petrus skryf sy brief aan die kerk en hy vermaan ons – so staan dit in 2Pet.3:1 en 10 ~ Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skrywe. In albei het ek geprobeer om julle weer helder te laat dink deur julle te herinner aan 2 die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is, asook aan die gebod van die Here en Verlosser wat deur julle apostels aan julle oorgedra is. En dan gaan hy verder en sê hy in vers 10 ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

Al hierdie profesieë – dié van Joël en van Jesus en van Petrus, kom almal bymekaar uit in die oopbreek van die sesde seël hier in Openb.6 – selfs ook dié van Haggai in Hag.2:6 ~ So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe.

Presies hoe alles gaan plaasvind – in watter volgorde; wanneer, ens. is nie aan ons geopenbaar nie, maar wat ons wel weet is dat Die Dag van die Here gaan aanbreek, met geweldige gevolge.

Wanneer ons van al hierdie verskriklike dinge lees is die logiese vraag: Moet ons hierdie “tekens” en gebeure as letterlike “tekens” en gebeure interpreteer. Dit is wel so dat talle beskrywings en gebeure in Openbaring figuurlik geneem moet word, maar daar is egter geen ander uitweg as om hierdie spesifieke gebeure wat gepaard gaan met die sesde seël, as letterlik te interpreteer nie. Die getuienis van verskeie ander Skrifgedeeltes bevestig dit.
Ou Testamentiese Getuienis:
· Joël 2:10-11 ~ Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans. 11 Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit. Sy leër is ontsaglik groot, dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk. Die dag van die Here is ’n groot dag, ’n verskriklike dag; wie is daarteen bestand?
· Joël 2:30-31 ~ Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. 31 Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. 32 Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.
· Sef.1:14-18 ~ Die groot dag van die Here is naby, baie naby, dit kom gou. Luister hoe bitter, hoe skril klink die geskreeu van die soldate dié dag! 15 Dié dag is ’n dag van toorn, ’n dag van nood en benoudheid, ’n dag van storms en verwoesting, ’n dag van donkerte, van duisternis, ’n dag van wolke, van swaar onweer, 16 ’n dag waarop die ramshoring sal blaas en die krygsgeskreeu sal klink teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings. 17 Ek laat angs die mense pak sodat hulle soos blindes loop, want hulle het teen My gesondig. Hulle bloed sal vergiet word asof dit so min werd is as stof, asof hulle liggame niks meer as uitwerpsel is nie. 18 Nóg hulle silwer nóg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land.
· Hag.2:6-7 ~ So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7 Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige.

Nuwe Testamentiese Getuienis:
· Matt.24:29-31 ~ Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 30 Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31 Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.
· 2Pet.3:7 ~ Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.
· 2Pet.3:10-13 ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. 11 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. 12 Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. 13 Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.

Ons kan dus duidelik hieruit sien dat die gebeure wat gepaard gaan met die sesde seël, letterlike gebeure is.

Ons kan onmiddellik ook vra: Nou wat van die aardbewings ens. wat nou in ons tyd (en vroeër reeds) plaasvind? Wat van natuurrampe soos Tsunami’s, tifone, ens? Ons lees reeds in die Nuwe Testament van allerlei onnatuurlike natuurverskynsels. So lees ons bv. in Matt.27:50-53a van ’n aardbewing en allerlei ander “onnatuurlike verskynsels” ~ Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. 51 Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52 Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Ook in die geval van Paulus en Silas lees ons iets soortgelyks in Hand.16:26 ~ Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.

Sonsverduisterings was ook nie iets vreemds in die Nuwe Testamentiese tyd nie. En later in 1872 het sterrekundiges bv. binne twee ure meer as 10 000 verskietende sterre (meteore) getel. Dit is ook nie snaaks om van tyd tot tyd, berge te sien ontplof en heeltemal verdwyn nie – selfs eilande verdwyn vandag nog onder die see.

Wat is die punt egter van al hierdie verskynsels wat nou reeds plaasvind, maar waarvan die sesde seël ook praat en wat op ’n baie spesifieke en gegewe tyd gaan plaasvind? Dit wat nou en ook in die verlede, van tyd tot tyd voorgekom het, is tydige en vroeë waarskuwings deur God aan die mensdom van Sy komende oordeel. Dit word nou reeds deur God gewil om mense tot bekering te bring en dit vind plaas, sodat ons maar net elke keer opnuut kan besef dat daar geen sekuriteit in die sg. mensgemaakte sekuriteite hier op aarde is nie. Die wêreld met alles daarop is bestem om vernietig te word. Ons moet net besef dat hierdie “mini-oordele” (as ons dit so in groot piëteit mag noem) hoegenaamd nie vergelyk kan word met Die Dag van die Here nie.

Vers 15 sê vir ons dat alle mense blootgestel gaan word aan Die Dag van die Here. Hierdie “alle mense” verteenwoordig alle goddelose mense – van ryk tot arm; van gesiene tot onaansienlike; van belangrik tot onbelangrik; helde tot onbekendes. Hulle almal sal bymekaar gemaak word. En die rede? Omdat hulle Jesus Christus verwerp het.

Hierdie drie verse (15-17) is waarskynlik die drie verskriklikste verse in die ganse Bybel. Al die mense in vers 15 probeer God se oordele ontkom – so erg is dit dat hulle sal verkies dat ’n berg met al sy rotse hulle eerder moet toeval en vergruis, eerder as wat hulle blootgestel word aan die oordele van God.

Die effekte van die sesde seël se oordele wat losbars oor die mensdom, het presies dieselfde effek op die aarde en die hemele. Die wêreld – ja die ganse heelal, het meteens te doen met die toorn van die Lam.

Die toorn van die Lam is natuurlik die toorn van die gekruisigde Christus. Nou is Hy nie meer die magtelose aan die kruis op Golgota nie. Nou bid Hy nie meer “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dieselfde Evangelie wat letterlik die Blye Boodskap beteken, word nou ’n verskriklike verskrikking. Dieselfde Jesus, die Lam van liefde en barmhartigheid, word nou vir hulle wat Hom verwerp het, die Regter wat Sy vonnis van straf voltrek.

Alles wat op die oordeelsdag (Die Dag van die Here) gebeur, is reeds voorspel in die beeldspraak van die Ou Testamentiese profesie. Die “bloed” en “duisternis” kry ons alreeds by die eerste- en negende plae in Egipte (Eks.10). Dit is die straf van God op die ongelowige mensdom. Dit is een van die tekens van Sy toorn wanneer Hy die eksodus vir Sy volk uit die heidendom na die Beloofde Land voorberei. Diegene wat God verwerp word gestraf deur God. Diegene in Egipte wat die bloed van die Paaslam aan die hout van hul deurkosyne geverf het, word gered en beleef nie die duisternis en doodslag nie – inteendeel, hulle word bevry; hulle word uitgelei – weggelei van hierdie verskriklike duisternis en doodslag en oordele wat oor Egipte losbrand, na die Beloofde Land – die Land van Melk en Heuning, nl. die aardse Kanaän. Net so word diegene wat Christus verwerp, op Die Dag van die Here in duisternis gedompel en word hulle getref deur die oordele van God. Diegene wie skoongewas is deur die Bloed van die volmaakte Paaslam, Jesus Christus wat aan die kruishout gestort is, sal net so op Die Dag van die Here, bevry word en weggelei word met ’n volgende eksodus na die Beloofde Hemelse Kanaän.

Die boodskap van die sesde seël vir ons mense vandag is baie duidelik: Glo in die Here Jesus Christus en jy sál gered word. Maar as jy volhard om nie te glo nie, gaan jou son ook meteens pikswart word en die maan soos bloed raak en sal jy ook op Die Dag van die Here, ...in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip, en sal jy ook vir die berge en die kranse uitskreeu: Val op (my) en bedek (my) vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 11 Oktober 2009