Monday, September 14, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 13 September2009

Openbaring Ontsluit - 13 (Die Lam Open die Seëls) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Na die vorige twee hoofstukke, is ons uiteindelik by die groot oomblik – Christus gaan die Boekrol se seëls oopmaak! En Hy gaan hierdie seëls een vir een oopmaak. Die simboliek wat saamgaan met die oopmaak van hierdie seëls, is dat daar met elkeen van hierdie geopende seëls, iets van God se doel met die geskiedenis van die mensdom geopenbaar word. Elke keer wat die Lam van God ’n seël oopmaak, hoor Johannes een van die vier lewende wesens se stem soos ’n donderslag wat roep: “Kom kyk!” Hulle wat die skepping verteenwoordig laat hulle stem hoor namate die ou skepping, wat deur die sonde bederf is, begin om te tuimel onder God se oordele. God breek af, maar Hy bou ook weer op. Uit die oordele kom Sy herskepping van die hemel en die aarde, want daar sal ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wees – Openb.21:1 ~ Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

Dit is ook interessant om te weet dat die boek Openbaring uit vier, “sewetalle” bestaan: die sewe kerke; die sewe seëls; die sewe trompette en die sewe skottels vol van God se oordeel. Die trompette roep om God se skielike en spoedige uitvoering van Sy dade. Die skottels wat uitgegooi word, vertel weer van die omvang van die toorn wat die mensdom en die skepping tref.

Dit is belangrik dat ons nie hierdie reekse van die seëls, die trompette en die skottels in ’n tydsorde ná mekaar moet sien nie – dit is dieselfde oordele wat elke keer van die begin tot die einde loop. Elke keer word dieselfde proses van ’n ander kant af beskryf. Byvoorbeeld: ’n Groot ongeluk word deur verskillende mense op verskillende wyses beskryf.

Met die oopbreek van die eerste vier seëls, sien Johannes vier perde met verskillende kleure: wit, rooi, swart en vaal.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
· Openb.6:1-2 ~ Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van ’n donderslag: “Gaan uit! 2 Ek het gesien: daar was ’n wit perd. Sy ruiter het ’n pyl en boog gehad. ’n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin” Met die oopbreek dan van die eerste seël, sien Johannes ’n wit perd met ’n ruiter op die rug. In die Bybel is die perd altyd ’n oorlogsdier. In Israel is dit nooit as ’n ry- of trekdier gebruik nie, maar uitsluitlik vir oorlogdoeleindes. Vir ry- en trekdoeleindes het hulle altyd donkies en osse gebruik. In Job 39:24 & 26 word hierdie oorlogsdier beskryf ~ Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in. ....26 In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son.

Die kleur van hierdie perd is wit. Wit is die kleur van oorwinning. Ons lees hier dat hierdie wit perd uitgaan as die oorwinnaar, om te oorwin. Die ruiter van die perd, ontvang ’n oorwinnaarskroon en dit dui op oorwinning van die Evangelie. Let ook daarop dat die ruiter ’n boog vashou. Vanselfsprekend skiet hy dan ook pyle met hierdie boog. Só gaan die Evangelie van die Here Jesus Christus ná Pinkster seëvierend uit oor die aarde totdat die prediking voleindig is. Jesus sê self in Matt.24:14 dat hierdie Evangelie eers in die hele wêreld verkondig sal word en dan eers sal die einde kom en sal Hy terug kom.

Die doel van die ruiter sien ons dan, is om te oorwin. Met sy swaard slaan hy ver en wyd. Hierdie ruiter is nie soos baie mense beweer, Christus nie, want waarom sal die ruiter op die wit perd, ’n werklike of letterlike Persoon wees, terwyl die ruiters op die drie ander perde net fiktiewe persone is? Nee, hierdie perderuiters is die verpersoonliking van óf die goeie, óf die bose.

Die spoed van die pyl in teenstelling met die swaard is ’n aanduiding van die doeltreffendheid van die Evangelie se verspreiding oor die wêreld heen. Volgens Jes.55:11 sien ons dat hierdie sukses reeds bekroon word, nog voor dit selfs gelanseer is ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Hierdie is dan ook ’n baie duidelike verwysing na die uitverkiesing – God weet reeds “byvoorbaat” wie gered gaan word en Hy sien dus vooruit en sien die Evangelie-sukses wat reeds verseker is.

Ons kan dan verseker weet dat die “wit perd” reeds ’n land besoek het, indien die Evangelie daar verkondig is.

· Openb.6:3-4 ~ Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” 4 Daar het ’n ander perd, ’n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. ’n Groot swaard is aan hom gegee. Die wit perd is nie afgesonder van die ander perde nie. Onmiddellik op die galop van die wit perd met die Evangelie, volg ’n vuurrooi perd. Die rooi kleur versinnebeeld vir ons wraak en bloedvergieting en dood. Weereens kry ons dus hier die perd – die oorlogsperd. En die swaard wat deur hierdie ruiter gedra word, dui vir ons op een wat gereed is vir ’n slagting.

Die vrede op aarde word weggeneem! Dit is die teenoorgestelde boodskap as by die geboorte van Jesus die Koning in die Kersnag, toe daar deur die Engele uitgeroep is: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! (Luk.2:14). Hier in Openbaring word uitgeroep: “Oorlog op aarde! Die vrede word weggeneem.” Weereens vind ons die verklaring op hierdie gebeure in die Ou Testament – Lev.26:25 ~ Ek sal ’n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee. God se verbondswraak vind uiting oor Sy ongehoorsame volk! Verbondswraak is wraak oor God se volk vanweë hulle sonde. Dit is ook wraak oor die kerk! Hiervan wil talle gelowiges niks weet nie, want vir hulle is Jesus slegs die “Sagte Lam”. Of hulle bly by die wiegelied van die Hallelujaboek: “Ek hoor ’n kindjie wenend, verlangend na sy rus... Kind Jesus, sluimer soet...” Nee, Christus sluimer of slaap nooit nie en Hy kom om wraak uit te oefen.

Dit is dus duidelik dat hierdie tweede perderuiter daarop uit is om die vrede weg te neem en om konflik en ongeluk hier op aarde te vestig. Matt.24:6-7 ~ Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 7 Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Dit is dan ook presies wat ons die afgelope bykans tweeduisend jaar na Pinksterdag hier op aarde ervaar – oorloë en onvrede.

Dit is dus baie duidelik dat die wêreld haarself weerhou van vrede en voorspoed, omdat sy die Evangelie en die werk van die Heilige Gees weerstaan. Slegs hulle wat ’n nuwe hart ontvang het, sal vrede ervaar en vrede behou. Maar hierdie vrede is ’n innerlike vrede, want die wêreld sal juis hulle haat en vurige pyle op die gelowiges rig, maar in God se genadige voorsienigheid word hierdie haat en vervolging kort geknip ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort (Matt.24:22). Ons moet besef dat hierdie haat en bloedvergieting nie bloot toeval is, of net alleen die gevolg van afvalligheid is nie, maar dit is ook die gevolg van die swaard wat in die hand van die ruiter op die rooi perd is.

· Openb.6:5-6 ~ Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” Ek het gesien: daar was ’n swart perd. Sy ruiter het ’n skaal in sy hand gehad. 6 Toe het ek iets soos ’n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir ’n dagloon en net drie skeppies gars vir ’n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.” Al hierdie ellende is egter maar net ’n voorloper van nog ellende wat aan die kom is, want kort op die hakke van die vuurrooi perd, nadat die derde seël oopgemaak is, volg ’n swart perd – swart is die keur van dood en hartseer. Hierdie perd se galop het verskikking en paniek en verwoesting tot gevolg.

Hier kry ons nou te doen met o.a. hongersnood waarvan Jesus in Matt.24 gepraat het. Ook het die perderuiter ten doel om o.a. die ekonomie te knak en ekonomiese onrus te ontketen. In sulke moeilike tye sal werkers se inkomste skaars genoeg wees om in hul daaglikse behoeftes te voorsien. Honger is van die sondeval af een van die grootste bedreigings vir mens en dier. Om kos te kry is een van die mens se hardste stryde en ek wil nie “profeet” speel nie, maar ek is oortuig daarvan dat die derde wêreldoorlog baie maklik oor ’n tekort aan kos en water mag uitbreek. Hierdie stryd is deel van die vrug van die sondeval, daarom dat God in Gen.3:17-19 vir Adam gesê het, dat hy (sy lewe lank) met swaarkry ’n bestaan (uit die aarde sal moet maak). Hierdie is dan ook een van die tekens van die tye.

Ons sien ook hier in vers 5, dat die ruiter op die swart perd ’n skaal in sy hand hou. Kos word met hierdie skaal afgeweeg en ons sien dat die mense selfs minderwaardige gars eet, by gebrek aan koring.

Sonder Jesus Christus sal daar altyd hongersnood wees.

As Hy by twee geleenthede, skares van duisende voed, dan is dit ’n prediking van Sy Evangelie, ’n profesie van die Nuwe Jerusalem waar geen honger meer sal wees nie – Joh.6:35 ~ Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Hierdie hongersnode van verse 5 en 6 is dan teken van Christus se koms – die hongersnood word erger by die dag en die koms van Christus kom dag vir dag nader. Die vraag is wat gaan ons, die kerk doen? Daar is maar slegs één antwoord en dit is – Vlug na Christus Jesus, die Brood van die Lewe; die ware Wyn en die Lewende Water!

· Openb.6:7-8 ~ Toe Hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” 8 Ek het gesien: daar was ’n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde. Johannes word vir die vierde keer met ’n stem uit die hemel geroep om te kom kyk. ’n Perd wat vaal van kleur is – vaal, ’n kleur wat ’n spoor van siekte en dood verteenwoordig. Die ruiter se naam is “Dood” en hy is persoonlik verantwoordelik vir die doodslag. As die rooi perd klaar oorlog gevoer het en die swart perd die mensdom met ellende en hongersnood getref het, kom die vaal perd om dood te maak.

As ons maar net dink aan die twee wêreld oorloë en talle ander oorloë het ons gesien hoe daar reeds massas mense gedood is en dit is nié die einde nie. Hierdie ruiter, genaamd Dood wat verteenwoordigend is van die dood en die hel, gebruik vier maniere om te dood, nl. met die swaard (dit verteenwoordig moord en oorlog); honger (dodelik hongersnood), dood (of pes) en dood deur die ongediertes van die aarde – hierdie is in ooreenstemming met Eseg.14:21 ~ So sê die Here my God: “Selfs wanneer Ek my vier swaar strawwe teen Jerusalem stuur, oorlog, hongersnood, ongediertes en pes om mens en dier daar uit te roei.

Die Here is egter genadig en Hy gee streng opdrag dat slegs ’n kwart van die aarde geneem mag word – hierdie mag moontlik wees om mense-aanwas in toom te hou, want selfs bevolkingsgroei word deur God gereël. Die realiteit is egter dat dood die mens vanuit elke hoek en kant bekruip en daarom is een van die mensdom se primêre fokuspunte, juis om dood te voorkom of te ontduik en hieraan word baie tyd en energie en geld spandeer. En tog, op een of ander stadium sal die doodsengel ’n draai by elke mens maak, omdat dit die vrug van die sondeval is en dit maak nie saak in watter vorm dit oor die mens se pad kom nie, synde dit moord, of motorongelukke, of siekte, of vulkaniese uitbarstings, of aardbewings, of ’n tsunami, of oorlog is. En wanneer die dood toegeslaan het, is die doderyk (die plek van ewige pyniging) die eindbestemming vir diegene wat Christus verwerp het – die plek vanwaar niemand kan ontsnap nie – nooit nie! Fisiese dood, moet ons besef, is nie die einde nie!

Ten spyte van die feit dat hierdie vaalperd ons almal agtervolg, is daar twee ligpunte:
- Selfs die dood en die doderyk is onderworpe aan dien diensknegte van Christus. Vers 8 stel dit duidelik dat hul gesag en krag, deur God aan hulle gegee is en daarom hoef die “kinders van Sion” geen bedreiging van die helse magte en die doderyk self, vrees nie, want hulle God regeer! Onthou: Daar was ’n eerste perd – die wit perd wat aan die voorpunt gery het! Hierdie wit perd se ruiter is dié een met die boog en die kroon van oorwinning. Dit is die Evangelie van Jesus Christus wat vooruit jaag oor die aarde. Dit is die prediking van die Woord wat nie sal rus voordat dit die verste uithoeke van die aarde en nasies bereik het nie. Die ander perde is die agterryers van die Evangelie.

Elke keer as daar gepreek word, al is dit in die eensaamheid vir ’n klein groepie mense in ’n klein geboutjie of in die veld vir enkelinge, word aar geweldige magte ontketen. God se oordele oor die ongelowige mensdom word voltrek. Die sewe seëls word oopgebreek. En wat ’n wonderlike voorreg dat ons dit vandag kan hoor.

- Tweedens, Slegs ’n kwart van die aarde word bedreig deur die dood. God spaar die res van ons se lewens met ’n doel. Het jy al vasgestel wat die roeping is waartoe God jou geroep en waarvoor Hy jou steeds asem gee om te leef?

· Openb.6:9-11 ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10 Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11 Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. I.p.v. nog ’n perd, sien Johannes met die breek van die vyfde seël, siele – die siele van die afgestorwe martelare – hulle wat gedood is vir hulle geloof.

Hy sien hierdie siele onder die altaar. Ons moet besef dat die altaar ’n baie belangrike rol speel in die boek Openbaring. Dit kom in vyf verskillende hoofstukke voor en hier in hoofstuk 6 kom dit die eerste keer voor. Die beeld van die altaar is ’n beeld wat uit die Ou Testamentiese tempeldiens kom. In Eksodus en Levitikus lees ons op verskeie plekke hoe dat bloed wat van die offerdiere oorgebly het, onder die altaar gegooi is (Eks.29:12; Lev.4:7; 8:15). Hier in Openbaring word dit nou ’n beeld van die martelare van Christus. Deur hulle bloedstorting is hulle onder die altaar.

Hierdie visioen van die martelare in die hemel onder die altaar, is ’n onderbreking van die reeks oordele wat op die aarde voltrek word. Dit is amper iets soos ’n intermezzo (’n tussenspel) in ’n groot musiekdrama. Die eerste vier seëls sê elke keer: Kyk na die krisis op aarde en so roep ook die sesde en sewende seël. Maar die vyfde sê: Kyk na die krisis in die hemel! Kyk na daardie mense wat op aarde hul bloed t.w.v. die Evangelie gestort het.

Die oopbreek van elke seël begin met ’n donderslag in die hemel. Klaarblyklik het hierdie donderslae die siele onder die altaar aktief gemaak. Dit is amper onbegryplik dat hierdie siele nog steeds in die hemel ly, maar dit is oënskynlik omdat God nog nie die stort van hul bloed op aarde gewreek het nie en daarom bid hulle om wraak in vers 10. En die gevolge van die stort van Christus se bloed? Geen wonder dat ongelowiges hel toe gaan nie!

As ons net weer ’n oomblik na die martelare kan kyk wat “onder die altaar” is. Ons moet nie die indruk kry dat hul siele opeengehoop onder die altaar lê nie. Die siele van die martelare is kosbaar in die oë van die Here – ons sien dit uitgespel in Ps.116:15 ~ Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie. Hulle siele-status is ’n verhewe status (onthou hulle is nog sonder liggame op hierdie stadium – tot en met die opstanding). Onthou verder dat hierdie martelare deel uitmaak van die 24 ouderlinge wat op die trone na aan God sit (Openb.4:4; 7:13-15). En in vers 24 word daar ook nog vir hulle gesê dat hulle nog ’n bietjie moet rus. Hulle rus is ’n volmaakte en volkome rus. Maar soos wat ons wat nog in die lewe is, uitsien na hierdie rus, sien hierdie gelowiges ook uit na iets – hulle sien uit na die dag dat hul verheerlikte liggame verenig gaan word met hul siele.

Soos met al die ander visioene oor die altaar, is die altaar ook hier die sentrum van gebed en hier hoor ons ’n geroep om oordeel. Hulle doen dit op ’n besondere manier. Hulle roep God nie aan in die algemene sin van die woord deur Hom “Here” (kurios) te noem nie. Nee, hulle is baie spesifiek, deur Hom aan te roep as heilige en getroue Heerser. Die Griekse woord is despoot, d.w.s. alleen heerser. Ons moet besef dat God se heerskappy geen demokrasie is nie, d.w.s. die volk of die mense se regering nie – Hy is Alleenheerser.

Die geroep wat van onder die altaar kom is ’n oproep wat gerig word tot God ten einde Sy heiligheid en geregtigheid in werking te stel, maar God antwoord hulle ~ ...nog ’n klein rukkie, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is (v.11).

Wat sê hierdie teksvers vir ons – Baie eenvoudig: Daar moet nog baie gelowiges vir hulle geloof sterf. Die vraag is of dit dalk ons of ons kinders gaan wees? En, is ons gereed daarvoor? Die Here Jesus het in Openb.2:10 aan Smirna die volgende geskryf en let op – dit is ook op ons van toepassing ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 13 September 2009