Die Heilige Nagmaal - 04 (Die Liggaam van Christus) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Iemand het een keer gesê dat die beste manier om te leer hoe belangrik dit is om iets ordentlik en reg te doen, is om die gevolge te sien, wanneer dit verkeerd gedoen word. Dit is baie dikwels dan ook die manier wat gebruik word om mense te motiveer om dinge eerder van die begin af reg te doen, omdat hulle die gevolge kan sien indien dit verkeerd gedoen word. So word daar bv. ’n ent voor ’n gevaarlike plek op die pad, waar daar gewoonlik baie ongelukke plaasvind, ’n motorwrak langs die pad geplaas,.
Op dieselfde wyse toon die Woord van God vir ons die gevolge van die sonde. Dit word nie gedoen om ons depressief te maak nie, maar juis om ons te motiveer om heilige lewens na te jaag. Juis na aanleiding hiervan, kan ons baie leer uit die Korintiërs se gedrag tydens hulle gebruik van die Nagmaal.
2. SKRIFLESING:
1Kor.11:23-34 ~ Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. 33 Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.
Die rede waarom Paulus vir die Korintiërs skryf en aan hulle verduidelik hoe die Nagmaal gevier moet word, het gespruit uit die feit dat hulle dit op ’n onwaardige wyse gebruik het, daarom dat Paulus hulle in vers 27 waarsku, deur aan hulle te sê ~ Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Hy sê dus aan hulle dat dit God bedroef wanneer hulle die Nagmaal op onvanpaste wyse gebruik, omdat dit effektief, die ware betekenis van Christus se kruisdood en die doel met die Nagmaal, misken. In plaas daarvan dat hulle só optree dat hulle God se seën kan ontvang, tree hulle juis só op dat hulle God se oordele gaan ontvang.
Hierdie gedeelte is dan ook spesifiek in die Woord opgeneem, ten einde aan ons te toon hoe ons dus nié moet optree nie. Daarom is dit baie belangrik dat ons ter harte sal neem wat die Here hier vir ons wil leer. Ek wil dan spesifiek vanoggend fokus op drie aspekte:
· Die uitdrukking, die liggaam van die Here, soos wat ons aantref in vers 29;
· Waarom die Here die gemeente in Korinte getugtig en geoordeel het (verse 30-32);
· Hoe ons die Nagmaaltafel behoort te benader (verse 33-34).
3. DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS:
Vers 29 dan ~ ...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. Hierdie aanklag van Paulus is, om die minste te sê, ontstellend. Paulus sê dat dit die liggaam van Christus is wat geëet en gedrink word en tweedens sê hy dat indien ons dit nie besef nie, daar bepaalde gevolge is wat gedra moet word.
Hier is dus onderskeiding ter sprake. Die meeste Engelse vertalings praat van “discern” ~ For anyone who eats and drinks without discerning the body.... Die Griekse woord wat hier gebruik word is "diakrino". Dit beteken om behoorlik te skei en in hierdie geval dan, om te oordeel tussen wat reg is en wat nie reg is nie. As ons dit dan toepas op die Nagmaal, is dit om ’n behoorlike onderskeid te tref tussen die sakramentele gebruik van die voedsel op die Nagmaaltafel (die brood en die wyn) en die gebruik van dieselfde kos (die brood en wyn) vir alledaagse gebruik.
Ons moet besef dat die Nagmaal nie maar net nog ’n maaltyd is nie. Die Nagmaal is ’n baie spesiale en unieke maaltyd. Dit het niks te doen met voedsel vir die maag nie, maar dit het alles te doen met voedsel vir die siel. Dit het alles te doen met Jesus Christus; die Kruis en die Opstanding; die Evangelie en die weg tot saligheid.
Die brood en die wyn wat in die sakrament van die Nagmaal gebruik word, is dus simbole om te toon wat Christus gedoen het; wat Hy steeds doen en wat Hy nóg gaan doen vir Sy kinders. Dit is dus sigbare tekens van die onsigbare genade wat voortgevloei het uit die volmaakte en volkome offer wat Christus aan die kruis gebring het.
Om dus die Liggaam van Christus tydens die Nagmaal te onderskei, of soos vers 29 dit stel, te besef dat die brood die liggaam van Christus is, is om te verstaan en te besef wat die Nagmaal simboliseer en leer – dit is om enersyds te besef hoe dat opregte en getroue deelnemers geseën word, wanneer hulle aan die Nagmaal deelneem. Maar aan die anderkant moet ons ook besef dat ons op eerbiedwaardige en nederige wyse ons aan die Nagmaal moet onderwerp. Die Here Jesus skenk dus seën aan waardige deelnemers aan die Nagmaal.
Om op eerbiedige en nederige wyse deel te neem aan die Nagmaal, impliseer ook dat daar aan die anderkant, op oneerbiedige wyse aan die Nagmaaltafel aangesit kan word en dit is presies wat vers 27 aanspreek ~ Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.
Wanneer ons dan op ’n ongepaste wyse van die brood eet en van die wyn drink, eet en drink ons ’n oordeel oor onsself. Hierdie is ’n tipiese negatiewe opmerking, maar met ’n positiewe motief. Die eerste vraag is waarskynlik waarom Paulus hierdie saak so sterk gestel het? Is dit nie ’n mindere saak nie? Waarom sou die Here so sterk hieroor voel? Ten einde dit te beantwoord moet ons na die betekenis van Bybelse simbole kyk.
’n Voorbeeld van die ongepaste gebruik of misbruik van simbole in die Ou Testament, vind ons bv. in Daniël 5. Ons lees hiervan van vers 1 af ~ Koning Belsasar het ’n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2 Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3 Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5 Meteens verskyn daar toe ’n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6 Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik.
Hierna het koning Belsasar voorspellers, sterrekykers en besweerders ingebring om vir hom te verklaar wat dit alles beteken het. Daniël het egter uiteindelik in vers 23 – 30 die volgende vir Belsasar gesê ~ U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24 Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. 25 “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ 26 En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak. 27 ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28 ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” 29 Daniël is toe op bevel van Belsasar ’n koninklike kleed aangetrek en ’n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. En dan hierdie woorde: 30 Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.
Belsasar het die Tempelsimbole misbruik en hy het met sy lewe daarvoor geboet – die misbruik van Bybelse simbole is dus ’n baie ernstige saak. Om egter die Nagmaal te misbruik is meer as bloot net die agtelosige gebruik van die brood en wyn. Dit sê presies wat jy dink en hoeveel jy omgee vir dit wat Jesus gedoen het. Dit is gelykstaande aan die skuld wat Stefanus in Hand.7:52 voor die deur van diegene gelê het, wat Jesus gekruisig het – Hy het gesê dat hulle, verraaiers en moordenaars is. Dit is verder ook gelykstaande aan die onbelyde sonde van die verlorenes in die hel, want soos die Hebreërskrywer in Hebr.6:6 sê, ...kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.
4. WAAROM GOD DIE KORINTIËRS OORDEEL:
Die Korintiërs het nie gedink dat hulle Christus tot ’n bespotting gemaak het nie, maar dit was nodig dat Paulus hulle op hul sonde wys, sodat hulle hulself kon bekeer en waardig aan hulle roeping as gelowiges kon optree. Hulle moes sien en hoor, hoedat sommige van hulle na die Nagmaaltafel gestrompel het in hul beskonke toestand, of hoe dat hulle aangesit het aan die tafel, terwyl hulle in hul harte, hul broers wat saam met hulle in dieselfde gemeente was, verag het.
Ons sien in vers 30, dat die Korintiërs reeds God se oordeel ervaar het en in vers 31 verduidelik hy aan hulle, hoe hulle hierdie oordeel van God kan afweer en in vers 32 verduidelik hy aan hulle wat hulle te doen staan om nie verder te oortree nie.
Paulus sê in vers 30 vir die Korintiërs ~ Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. Paulus praat dus hier van die realiteit van God se oordeel en straf. Ons moet verstaan dat siektes nie altyd God se straf op sonde is nie, want alle mense – sondaars, sowel as Godvresendes word op een of ander tyd siek. Siekte is wel die gevolg van die sondeval. Dit is waarom Prediker in hoofstuk 9 vers 2-3 sê ~ Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan met die een wat ’n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om ’n eed af te lê. 3 Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.
Ek het gesê dat siektes nie altyd die gevolg van sonde is nie, máár dit is egter wel so dat siekte óók die gevolg van sonde kan wees. Ons vind wel sulke voorbeelde in die Woord – bv. in Num.12, waar Moses met ’n Kussitiese vrou getrou het en in plaas daarvan dat Aäron en Mirjam, Moses direk oor sy sonde aanspreek, het hulle met ompaaie gekom en die gevolg hiervan was dat die Here, beide Aäron en Mirjam met melaatsheid gestraf het.
Ons sien in Hand.12 dat Herodes nie eer aan God gebring het nie en as gevolg daarvan sien ons in vers 23b, dat Herodes deur wurms verteer (is), en (dat hy) gesterwe (het).
Ons fokus moet egter nie daarop wees om te probeer vasstel of ons siekte die gevolg van sonde is of nie. Nee, ons fokus moet gedurende beproewing en daarom ook siekte, voortdurend op ons behoefte aan Christus wees.
Maar terug by die Korintiërs – hulle het wel God se straf op hul sonde, fisies ervaar in die vorm van siektes en selfs die dood in hul midde. Hierdie was presies soos wat 1Pet.4:17a dan ook sê ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. Die Korintiërs kon egter hierdie oordeel en straf vrygespring het, as hulle maar net, soos vers 29 dit stel, besef (het) dat dit die liggaam van die Here is, dan sou hulle nie ’n oordeel oor hulleself geëet en gedrink het nie.
Wat is Paulus se oplossing hier vir hulle? Vers 32 ~ As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Die Korintiërs sou hulleself baie ellende en verdriet gespaar het, as hulle maar net kon onderskei tussen hulle eie sondige gesindhede en optrede en aan die anderkant, wat die regte optrede by die Nagmaalstafel moes wees.
5. BENADERING VAN DIE NAGMAALTAFEL:
Wanneer ons na bv. ’n Presidensiëlefunksie uitgenooi sou word, sal ons baie seker maak presies wat van ons verwag word om bv. aan te trek. Ons verstaan dus die belangrikheid van so ’n funksie. Wanneer ons egter uitgenooi word om by die Nagmaaltafel aan te sit, word ons genooi om saam met die Hemelse Koning fees te vier. Hoeveel te meer moet ons nie dan voorbereid en met die regte ingesteldheid en kennis na die maaltyd toe gaan nie! Die Nagmaal is nie maar net ’n rituele gebeurtenis in die kerk nie, of selfs ’n wêreldse funksie nie, Nee, Christus is die Koning van konings en die Here van here. Hy is die Verlosser van hierdie wêreld! Hoeveel te meer moet ons, onsself derhalwe nie voorberei vir hierdie Maaltyd nie!
Wat moet óns gesindheid dan wees? Vers 33~ Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. Hier het Paulus verwys na die gesamentlike maaltyd wat plaasgevind het op die Sondag waarop die Nagmaal gevier is en waar ryk en arm saam geëet het. Die doel hiermee was om onderlinge eenheid te demonstreer. Die wyse waarop hulle dit egter gedoen het, het juis die teenoorgestelde versinnebeeld, omdat die rykes vroeg opgedaag het en al die kos opgeëet het en teen die tyd dat arm lidmate daar opgedaag het, was daar nie meer kos om te eet nie. Hierdie selfde gesindheid het dan oorgespoel na die Nagmaal en het hulle daardeur verdeeldheid en oneerbiedigheid teenoor Christus gedemonstreer. Wat gewone etes dus aan betref, sê Paulus dus vir hulle, dat hulle moet wag totdat almal daar is, voor hulle begin eet, anders was dit niks anders as ’n Bacchusfees, of ’n swelgparty nie.
Getroue deelname aan die Nagmaaltafel vereis dus op soortgelyke wyse, deeglike voorbereiding en die hele gemeente moet saamkom om dit saam te geniet en daardeur eenheid in Christus Jesus te demonstreer.
Paulus gaan verder en hy sê in vers 34a ~ As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die punt wat Paulus hier wil maak is dat hulle nie na een van die maaltye moet kom net omdat hulle honger is nie, want dan moet hulle eerder by die huis bly. Nee, die primêre doel met hierdie maaltye was om eenheid en gemeenskap te demonstreer. Derhalwe moes hulle ook nie die Nagmaal of die liefdesmaal bloot net as gewone maaltye beskou het nie.
6. AFSLUITING:
Die Korintiërs moes dus beide hierdie maaltye met erns en toewyding bejeën het. Hulle moes hulleself deeglik ondersoek het, ten einde vas te stel of hul motiewe suiwer is, alvorens hulle aan die Nagmaaltafel aangesit het, maar hulle moes ook hul uiterste bes gedoen het om hierdie maaltye by te woon, want daardeur het hulle eenheid met Christus gedemonstreer, maar ook eenheid met die Liggaam van Christus – hul broers en susters.
Daarom is dit geen ligtelike saak om deel te neem aan die Nagmaal nie, maar ek glo dat dit ook geen ligtelike saak is om deel te neem aan ons maandelikse Gemeente-ete na die Nagmaal nie. Al vind ons maandelikse gemeente-ete nie soos destyds ter gelykertyd met die Nagmaal plaas nie, dink ek steeds dat dit ’n pragtige voortsetting is van ’n Bybelse gebruik uit die vroeë kerk en deur ook dit by te woon, betoon ons as gemeente, onderlinge eenheid.
[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 30 Augustus 2009